Wanneer die vet in die vuur is, word die onderskeid tussen staatsmanskap en opportunistiese politiekery duidelik.
Met die moord op die AWB-leier het die vet skouspelagtig in die Suid-Afrikaanse vuur geval. Dit het soos ‘n onverwagse hersieningstoets voor ‘n belangrike eksamen vir Suid-Afrika gekom, en die uitslag van hierdie toets gaan wys wie is staatsmanne en wie is opportuniste.
Bykans alles wat kon saamspeel om hiervan ‘n omvattende toets te maak, het saamgespeel.
Plaasmoorde, wat teen ‘n hoë koers voorkom, het ‘n eskalasie getoon sedert die ANC se heethoofdige jeugleier, Julius Malema begin sing het die Boere moet geskiet word. Die ANC het bont gepraat oor die nasionalisering van landbougrond. Peilings toon nie net ‘n hoë vlak van polarisasie nie, maar kom te midde van hoë werkloosheid, en terwyl meer en meer mense begin kennis neem dat Suid-Afrika die boonste sport van lande bereik het waar inkomstegapings gemeet word.
Die naderende wêreldbeker-sokkertoernooi verseker boonop dat die oë van die wêreld op die land gerig is. In Suid-Afrika kan breedweg onderskei word tussen diegene wat bloot begerig is dat die toernooi ‘n reuse sukses moet wees, en diegene wat bekommerd is dat sake soos slegte paaie, misdaad en politieke blapse die geleentheid in ‘n verleentheid kan omskep – wat ‘n langtermyn sleureffek op almal sal hê.
Die land het die moord op Terre’Blanche so nodig gehad soos dwelmverwante bendebedrywighede. Dit is egter ‘n gegewe, en die land word skielik met ‘n hersieningstoets in die vorm van ‘n karaktertoets gekonfronteer.
Voorlopige aanduidings oor hoe die land se politici vaar is gemengd.
Op 6 April, meer as 350 jaar na Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het, was dit nodig dat die polisie ‘n rol doringdraad tussen wit en swart mense voor die hof uitrol toe Terre’Blanche se moordverdagtes verskyn het. Hierdie doringdraad kon kwalik ‘n groter verdeling van persepsies en sentimente simboliseer.
Op dieselfde dag het die polisie ‘n betoger tydens onluste oor munisipale dienslewering doodgeskiet, net om te herinner dat die land se probleme op meer vlakke lê as net wit / swart.
Die feit dat dit Terre’Blanche is wat vermoor is, het boonop die buitelandse media in hul argiewe laat blaai, en as Afrikaners gedink het die kwessie sal net vir die regering ‘n verleentheid wees, is die bal ver misgeslaan. Ook die Afrikaner is uit die inkpotte van die argiewe weer ‘n slag met die teerkwas bygedam.
Niemand was wenners nie – die ganse land was verloorders.
Daar was vlugge tekens van staatsmanskap. Staatsmanskap met voete van klei, het dit geblyk toe die Malema-fenomeen nie beslis en deeglik vasgevat is nie.
Jare gelede het die destydse president van die RGN, dr. Tjaart van der Walt, die stelling gemaak dat geen grondwet, nie eens die beste in die wêreld, sal werk as die land se mense mekaar nie ken en vertrou nie.
Hierdie sentiment is juis ook nou ge-eggo toe die regter wat ‘n tussentydse interdik teen die sing van “Skiet die Boere” gesê het die polarisasie kan nie met ‘n hofbevel besweer word nie, net in die harte van mense.
Dit is waar staatsmanskap van politieke opportunisme onderskei word. Die staatsman tree strategies in belang van die land op, van al die land se mense, al is dit nie oral gewild nie. Die staatsman lei met visie, en nie op grond van politieke impulse wat by die uur verander nie.
Die staatsman is ‘n bouer, nie ‘n sloper nie. Daarom duld hy ook nie slopers in eie geledere nie.
Die staatsman betrek adviseurs wat met kundigheid adviseer, nie met dit wat die staatsman graag wil hoor nie.
Die staatsman se brandstof is respek, nie populariteit nie. Populariteit is bloot ‘n bonus. Malema verteenwoordig die anti-pool hiervan, en dit is ‘n tragedie dat hy ‘n breë persepsie van ‘n groot deel van die land se jeug verwoord.
‘n Staatsman stel die voorbeeld met integriteit en ‘n sin vir geregtigheid, al moet hy ongewilde keuses maak. Ideologiese verknogtheid staan nie bo realiteite nie.
Wanneer die plofbare situasie in die land deur staatsmanskap oor die spektrum, maar veral in die regerende party gestabiliseer het, sal die klimaat vir gewone politieke aktiwiteite – dit wil sê aktiwiteite akkommodeerbaar binne die ruim grondwet en vry van bloedvergieting, funksioneer soos ‘n demokrasie veronderstel is om te funksioneer.
As die hersieningstoets aan die lig bring dat die grondwet volgens moderne vereistes soos dié van die Europese grondwet aangepas moet word, dan moet dit ernstig opgeneem word en nie net ideologies van die tafel gevee word nie.
Die eksamen vir die land durf nie dieselfde debakel as die land se matriekeksamens oplewer nie.
casino freeалександр лобановский харьков класс