In repliek op Dan Roodt se opmerkings in Naspers, ons IG Farben?, dit is inderdaad so dat ek Afrikaans grootgeword het, na ‘n oorspronklike Afrikaanse universiteit toe gegaan het en in Engels klas gekry het en verlief geraak het op iemand wat nie bruin of wit was nie en nie Afrikaans of Engels in hul huis praat nie. Hiervoor sal ek nooit ooit om verskoning vra nie!
Dit is ook so dat ek die trotse pa van ‘n drie-jarige is en dat ons huistaal vir praktiese redes Engels is. Bogenoemde maak my nie minder Afrikaans nie en beteken geensins dat ek nie by die debat vir of oor Afrikaans kan betrokke wees nie. Ek sal my nie laat voorskryf deur enigeen wat die vereistes vir my deelname moet wees nie. Ek gaan vir geeneen toestemming vra om my moedertaal te bevorder nie. My Afrikaansheid word nie bepaal deur my seun of my vrou nie, dit word bepaal deur my kultuur en identiteit en hoe ek grootgemaak is.
Dit is so dat my seun Engels en Xhosa kan praat en dat ons hom tans Afrikaans leer en meer en meer aan Afrikaans blootstel sodat hy ook Afrikaans onder die knie kan kry en ek is seker dat wanneer hy ses jaar oud word, hy genoeg Afrikaans sal praat om in te pas by enige Afrikaanse skool.
Indien julle fout vind met wat ek doen, laat dit daaroor gaan. Moenie my familie hierby betrek. As julle geen fout vind met my “credentials”, moenie my kind as diskwalifikasie ophaal nie.
