Wêreld Ekonomiese Forum vir Afrika in Kaapstad begin

Meer as 1200 wêreldleiers, politici en sakelui sal van Donderdag af die 25ste Wêreld Ekonomiese Forum oor Afrika in Kaapstad bywoon.

Die konferensie sal deur verteenwoordigers uit 75 lande bygewoon word.

Vanjaar se konferensie, in die Kaapstadse internasionale konferensiesentrum, sal onder meer immigrasie, die ekonomiese impak van terreur en die ontwikkeling van Afrika se informele ekonomie fokus.

Afgevaardigdes het hul kommer uitgespreek oor die onlangse xenofobiese aanvalle in die land, sowel as nuwe visumregulasies.

Sommige sê hulle oorweeg sakegeleenthede elders in Afrika ondanks die feit dat Suid-Afrika die top sakebestemming op die vasteland is.

Nuwe regulasies is glo ‘n bron van frustrasie.

Hoërskool leer tieners oor ouerskap

Riverside College in Kaapstad stel nie soveel daarin belang om leerlinge aan Wiskunde of Wetenskap bloot te stel nie. Die skool meen leerlinge moet meer te wete kom oor ouerskap op ‘n jong ouderdom.

Die skool het tegnologie vir tien dae lank ingespan waartydens die leerlinge geleer is oor die verantwoordelikhede van ouerskap.

Die hoërskool het hul leerlinge gevra om ‘n “baba” rond te dra vir dié tydperk.

Nie net is van die leerlinge verwag om die “baba” rond te dra van 2.5kg waar hulle gaan nie, maar hulle het digitale aanmanings per selfoon ontvang oor hul opvoedingstaak.

Elke leerling het verskeie kere per dag ‘n boodskap ontvang wat hom of haar herinner dat die “ouer” die “baba” moet voed, winde moet uitvryf, doeke moet ruil, moet bad en kwaliteit aandag aan hul “kinders” moet gee.

Suid-Afrika worstel reeds met ‘n buitensporige aantal tienerswangerskappe wat deur staatstoelae aangemoedig word.

Anti-Rhodes-aktivis kla UK oor rassisme aan

Chumani Maxwele, die student wat die Cecil John Rhodes-standbeeld met menslike ontlasting gegooi het, sê sy skorsing van die Universiteit van Kaapstad is polities gemotiveer.

Hy het aan News24 gesê dit handel oor ‘n politieke probleem by die UK: “Ons is besig met transformasie … [en] hulle wil ons intimideer.”
 
Maxwele is deel van die Rhodes-moet-val-beweging wat die Rhodes-standbeeld verwyder wou sien.
 
Hy beskuldig die universiteit dat hulle administratiewe reëls inspan om politieke probleme op te los.
 
Die universiteit het nie bevestig dat Maxwele geskors is nie. ‘n Woordvoerder het gesê die instelling beskou dissiplinêre aangeleenthede as vertroulik.
 
Hy het intussen ‘n klag van rassisme teen die UK ingedien. Maxwele beskryf ‘n insident met die betrokke dosent wat hy beskuldig as ‘n “baie traumatiese voorval”.
 
In sy verklaring het Maxwele verduidelik wat op 1 Mei by die wiskundegebou gebeur het.

Volgens hom was die badkamers daar gesluit, want dit was ‘n openbare vakansiedag. Die dosent het hom toe vergesel om hom te wys dit is gesluit.
 
Die dosent het hom toe vertel wat met haar gebeur het in die verlede en dat sy aangeval is deur ‘n “barbaarse swart student wat toe nie ‘n student was nie” en dat ‘n “hoof van die departement vermoor is deur ‘n wrede en barbaarse swart student”.
 
“En sy het gesê dat al hierdie gebeure het veroorsaak dat dit nie meer so ‘n veilige omgewing by die universiteit en nog meer so by die departement is nie. Ek het haar gevra hoe hierdie gebeure iets met my te doene het? Uit die bloute sy het baie kwaad vir my geword en geskree “As jy my treiter, sal ek jou vra om die gebou te verlaat of ek sal die sekuriteit bel om jou uit te neem …”

Hy het hom teëgesit en die dosent uitgedaag om die sekuriteit te roep.
 
Maxwele het gesê hy is geskok en ontsteld omdat sy regte as ‘n student misken is. Hy sê in sy verklaring dat hy gepolisieer is, as ‘n krimineel behandel is en dat swartes in die wit wêreld as kriminele voorgehou word wat almal om hulle bedreig.
 

Kaapse brande glo doelbewus gestig sê ondersoeker

Brande wat groot verwoesting gesaai het in die Kaapse Skiereiland en die lewe van ‘n brandbestryder geëis het, is glo doelbewus gestig.

Twee van die drie brande in Maart is kwaadwillig gestig en die derde een, die grootste van die drie by Houtbaai, is moontlik per ongeluk deur bergies gestig.

‘n Forensiese ondersoek deur dr. David Klatzow, ‘n forensiese ondersoekbeampte, het glo aangetoon dat bergies die vuur aangesteek het.

Hy sê daar is geen moontlike elektriese oorsake vir die ander twee brande nie. Meer as 3 000 hektaar en huise het in die slag gebly.

Die brande kan die belastingbetaler tussen R20 miljoen en R40 miljoen uit die sak jaag, alhoewel nog geen amptelike beraming van die skade gedoen is nie.

Tweede tiener wou by ISIS aansluit

Die minister van staatsveiligheid, David Mahlobo het bevestig dat ‘n tweede tiener van Kaapstad gekeer is voordat sy by die Islamitiese Staat kon aansluit.

Die hoërskool-leerder van Grassy Park op die Kaapse Vlakte is ná ‘n wenk by die Kaapstadse Internasionale Lughawe aangekeer, berig RSG.

Mahlobo sê sekere gemeenskappe in die land word deur die ISIS-militante geteiken.

Die veiligheidsdienste het na bewering gereageer op grond van inligting wat deur die eerste Kaapse meisie verskaf wat by die ISIS wou aansluit. Die twee is glo vriendinne.

Die departement en die Valke het glo reageer op inligting wat ‘n 15-jarige meisie van Kenwyn verskaf het.

Mahlobo het sedertdien ouers herhaaldelik gemaan om hul kinders se internetgebruik dop te hou. Hy het Dinsdag weer die waarskuwing tydens ‘n perskonferensie voor die minister se begrotingsdebat in die parlement uitgereik.

“Ons weet dat ISIS jongmense teiken en die internet daarvoor gebruik,” het Sonto Kudjoe, direkteur-generaal van staatsveiligheid, gesê.

Intelligensiebronne sê egter hulle ondersoek ‘n fisiese teenwoordigheid van werwers van die jihad-groep in die land.

Mahlobo het gesê staatsveiligheidsagentskappe is baie paraat oor die kwessie van werwing deur fundamentalistiese groepe en hulle bly in kontak met gemeenskappe wat as teikens beskou word. Hy het gesê sedert die tiener van Kenwyn gepoog het om by ISIS aan te sluit, het verskeie gemeenskapsgroepe sy departement gekontak om te sê dat hul kinders aangehits word om dit ook te doen.

“In Kaapstad het ons met die Moslemregsraad vergader,” het hy gesê. Kinders word glo daagliks gewerf.

De Lille, Ramaphosa hits mekaar aan om wit rassiste te jag

Die burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille het adjunkpresident Cyril Ramaphosa uitgedaag om bewyse van beweerde rassisme in Kaapstad vir haar te stuur.

De Lille het in ‘n ope brief aan Ramaphosa gevra om die bewerings, wat hy in die parlement gemaak het, met feite te staaf. Hy het na wat berig word verwys na voorvalle waar swartmense sleg behandel is in restaurante, verhoed is om by sommige hotelle tuis te gaan en ook geweier is om sommige woonstelle in die Wes-Kaap te huur.

Ramaphosa het ‘n beroep op die DA-leierskap gedoen om die inisiatief te neem om die land van die “kanker van rassisme en xenofobie” te bevry.

Hy het gereageer op ‘n vraag in die Nasionale Vergadering Woensdagmiddag oor wat die regering doen om korrupsie uit te roei, toe hy die onderwerp na xenofobie in die Wes-Kaap verander het.

“As daar ‘n restaurant is wat bekend is in die Wes-Kaap, want daar is baie [van hulle] hier, waar swart mense nie goed behandel word nie, moet dit die leierskap van die Wes-Kaap wees wat sê: ‘Dit word nie toegelaat nie” en [sulke restaurante] moet nie in Suid-Afrika toegelaat word nie.”

Dit is nie seker hoe restaurante met korrupsie verband hou nie, behalwe dat swart staatsamptenare dikwels rojaal met belastingbetalers se geld uiteet.

“Ek het vriende wat wou plekke bespreek in hotelle in die Wes-Kaap en toe hulle hul vanne uitgespreek en dit blyk swart te wees, is hulle weggewys. Ek het jong mense wat probeer woonstelle te huur in die Wes-Kaap en wanneer hulle hoor hulle is swart, word hulle onmiddellik weggewys.”

Kaapstad en Durban is berug daarvoor dat hulle op soortgelyke wyse ook teen wit Afrikaanssprekendes diskrimineer, maar klaarblyklik is Ramaphosa en De Lille nie bewus hiervan nie.

De Lille het gesê rassisme word te maklik ‘n politieke speelbal in die land maar nogtans dadelike gehoor gegee aan Ramaphosa se oproep en ‘n “teen-rassisme” veldtog van stapel gestuur.

Sy het nie kommentaar gelewer op die rassistiese uitlatings teen wittes by die Universiteit van Kaapstad nie.

Meer as 2000 brandslaners swoeg teen Kaapse brande

Meer as 2 000 brandslaners is ingespan om ‘n brand wat oor die naweek in Muizenberg ontstaan het, onder beheer te bring en ongeveer 2 miljoen liter water van 2 000 waterbomme is gebruik om vure te probeer blus.

Nog ‘n brand het Woensdag in die Kaappunt-natuurreservaat uitgebreek.

Ten minste 13 eiendomme is deur die brand geraak. “Drie van die eiendomme is totaal verwoes waarvan twee in Constantia en een in Noordhoek,” het Zolile Nqayi, woordvoerder van die departement gesê.

Boyesrylaan en Chapmanspiekpad bly gesluit vir verkeer. Sowat 500 mense is reeds sedert Sondag ontruim.

“Die [2000 brandslaners] sluit 150 lede van die departement van omgewingsake se Working on Fire (WoF)-program in,” volgens Nqayi. “Altesaam 50 mense van Volunteer Wildfires Services en 250 WoF-brandbestryders is van ander provinsies ontbied om plaaslike owerhede by te staan.”

Ses-en-twintig vliegtuie is sedert Sondag ingespan in die brandbestrydingspoging . “Elf helikopters, ses vastevlerkvliegtuie en nege waarnemers van Tulbagh, Porterville, Donkerhoek, Stellenbosch, Bredasdorp, Stilbaai, Newlands, Plettenbergbaai en Knysna is ontplooi om die 11 brande te bestry.”

Die sowat 198 vlugure beloop reeds ‘n geraamde R2.4 miljoen.

Die stad se rampbestuursentrum het vroeër Woensdag gesê die reën in Kaapstad bring verligting. “As dit hard genoeg reën, is dit ‘n bonus vir ons. Maar as dit net liggies reën, help dit nie veel nie. Daar is baie min wind in die gebied,” het woordvoerder Charlotte Powell gesê.

“As dit reën is sigbaarheid ‘n groot probleem vir die helikopters.”

FW, Gerwel deur Kaapstad vereer

Die twee openbare figure wat die meeste gedoen het om Afrikaners te benadeel, gaan vereer word deur Kaapstad.

FW De Klerk gesê hy is ten gunste van die idee dat die straat in Kaapstad na hom vernoem word, solank die straat voorheen ‘n “neutrale” naam gehad het.

Die finale besluit berus by die stadsraad, wat pas die naamsverandering goedgekeur het. “Inwoners, rolspelers, belanghebbendes en gemeenskapsorganisasies het die geleentheid gekry om hul siening daaroor te gee.”

Verreweg die meeste Suid-Afrikaners was gekant teen die naamsverandering.

Kaapstad het ook die kommunis Jakes Gerwel Sondag vereer deur Vanguard-rylaan in Kaapstad amptelik na Jakes Gerwel-rylaan te vernoem.

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, het Gerwel beskryf as ʼn “dapper leier”. Volgens De Lille het Gerwel studente-inskrywings vir alle rasse toeganklik gemaak toe hy in die laat 1980’s as rektor van die Universiteit van die Wes-Kaap aangewys is.

Gerwel, Nelson Mandela se persoonlike sekretaris, is by Afrikaners bekend vir sy leë beloftes oor twee Afrikaanse universiteite destyds wat toe nooit gerealiseer het nie.

“Herbenaming is ‘n kritiese deel van regstelling, aangesien dit ons in staat stel om ons verlede te onthou, terwyl ons bepaal watter soort toekoms ons graag wil bou,” het De Lille gesê. “Prof Gerwel se lewe, wat gekenmerk is deur ‘n onwrikbare verbintenis tot ‘n nie-rassige, nie-seksistiese en demokratiese samelewing, is ‘n voorbeeld van die soort toekoms wat ons vir Kaapstad wil hê.”

De Lille het Gerwel beskryf as ʼn “pionier van Madiba se reënboognasie-visie” en het gesê sy glo dat versoening ʼn proses eerder as ʼn gebeurtenis is. “Wanneer ons in Jakes Gerwyl-rylaan afry, moet ons besin oor die pad wat hy vir ons gebaan het, en oorweeg of ons op pad is na dieselfde visie.”

Daardie “pad” bied klaarblylik geen ruimte vir Afrikaners nie.

ANC woedend oor Kaapstad se beperkings

Die ANC wil die Menseregtekommissie of die parlement nader omdat Kaapstad glo die party benadeel het in die aanloop tot sy 103de verjaarsdagvieringe.

“Die stad het voorwaardes aan ons opgelê om ons te frustreer en te verseker dat ons byeenkoms nie suksesvol is nie,” het Zizi Kodwa, woordvoerder van die ANC, aan Sapa gesê. “Alles wat ondemokraties is, is deur die Wes-Kaap gedoen om alle donker mense [darkies] uit Kaapstad te hou en Kaapstad onbesmet te hou.”

Die stad het glo donker deelnemers se beweegruimte beperk.

Kodwa beweer die stad het die party versoek om van Computicket gebruik te maak vir kaartjies vir verlede week se byeenkoms by die Kaapstad-stadion.

“Dit is onprakties, jy kan nie dit implementeer nie. Die meerderheid van ons mense het nie toegang tot Computicket of die internet nie.”

Kodwa beweer verder dat die ANC se plakkate vir die byeenkoms ook gereguleer is en dat hulle die plakkate weer moes laat druk nadat die stad nie tevrede was met die eerste stel nie.

Smouse is ook verbied om enigiets by die stadion te verkoop.

Kodwa het gesê die ANC wil uitvind wie die stad opdrag gegee het om sulke beperkings af te dwing.

Zara Nicholson, woordvoerder vir die Kaapstadse burgemeester, het gesê hulle verwelkom enige ondersoek.

“Ten spyte van die ANC se histerie, hul oordrewe gevoel van geregtigdheid en die ongekende druk wat hulle op die stad se amptenare geplaas het, het ons ten alle tye met respek opgetree en gehou by wetgewing, beleid en die stadion se verhuringskontrak … en daarom verwelkom ons enige ondersoek.”

Nicholson het gesê dit is kommerwekkend dat die ANC goeie bestuur interpreteer as ‘n vorm van sabotasie. Sy het gesê enigiemand wat die stadion vir ‘n byeenkoms gebruik, word aan dieselfde bepalings en voorwaardes onderwerp.

Geklee in geel, groen en swart het ondersteuners in lang toue gewag by kitskosrestaurante.

Die vieringe in die gebied het kitskosverkope op die dag laat verdubbel, maar “daar was negatiewe” sê eienaars.

“Ons werk as ‘n Halaal-oktrooi, so ons bedien nie alkohol in ons winkel nie en laat dit nie toe nie, maar die mense het met hul alkohol ingekom en geweier om op te hou drink.

“Sommige van ons [Halaal-]kliënte was so ongelukkig dat hulle foto’s geneem het en gerapporteer het aan Hoofkantoor, wat ons ons Halaal-sertifikaat kan kos.”

In ‘n aparte voorval, het ‘n swart kliënt geweier om die algemene vier olywe per slaai te aanvaar, en beweer dat hy minder olywe ontvang het omdat hy swart is.

‘n KFC-areabestuurder Michael Forbes het gesê albei Seepunt en Langstraat se verkope was “uiters” hoog.

Bottelstore het oor diefstal gekla.

Een bottelstoorbestuurder het gesê: “Ons ervaar meer diefstal van voorraad as gewoonlik As gevolg daarvan het ons nie die teiken verkope van die dag bereik nie.”

 

Kaapse Klopse uitgestel weens logistiek

Vandag se Kaapse Klopseparade in Kaapstad is uitgestel. Die uitvoerende hoof van die Karnavalkomitee, Kevin Momberg, sê hulle het logistieke probleme ondervind om die geleentheid te reël.

Die Kaapstadse stadsraad het ‘n paar weke gelede in ‘n verklaring gesê die Klopse sal vanjaar self die parade reël na gesprekke met hulle, het RSG berig.

Momberg sê die parade sal na verwagting nou aanstaande Saterdag plaasvind. Kaapstad het intussen gesê hy is teleurgesteld met die besluit.

Derek Hanekom waarsku pop ‘om op te hou twiet aan Dan Roodt’

Derek Hanekom, die minister van toerisme, moes Woensdag inderhaas die lasteraar-buikspreker Conrad Koch se mond snoer, vermoedelik om nie die ANC verder in die verleentheid te dompel oor terreur nie.

Verskeie ANC-figure het Koch teen Steve Hofmeyr ondersteun wat hulle voorgehou het as ‘n apartheid-ontkenner, iets soortgelyk aan ‘n holocaust-ontkenner.

Koch het weer eens die etiket aan dr Dan Roodt probeer plak dat hy apartheid probeer vergoeilik. Sy regspan het dié truuk vroeër uitgehaal om Koch se teisteringsbevel en kriminele rekord ongedaan te maak.

Nadat Roodt Koch herinner het dat hy terreur regverdig, het Hanekom gou-gou ingegryp. Terreur word deur talle internasionale konvensies verbied as oorlogsmisdade.

Die minister het aan Koch gesê dat die “swaksinniges” nie sy aandag verdien nie en dat hy eerder deur sy “oorspronklike komedie” vermaak wil word.

Kennelik kan Koch nie meer onderskei tussen sy “oorspronlike komedie” en lasterlike aanvalle op Hofmeyr en Roodt nie.

 

Hanekom bemoei homself deesdae met toerisme-ooreenkomste betreffende kinderhandel, nie ‘n onderwerp wat ‘n mens sommer met toerisme verbind nie.

Kaapstad, ook ‘n gay-bestemming, gaan swaar gebuk onder seksuele uitbuiting van kinders. Sedert die ANC aan bewind is, het seksuele uitbuiting van kinders dramaties toegeneem.

Byna ‘n kwart van alle kinders in Kaapstad wat op straat is, word seksueel misbruik volgens navorsing.

Suidooster blaas brande in Kaapstad aan

Brandbestryders het Woensdagmiddag steeds teen die hange van Vlaeberg – beter bekend as Seinheuwel – asook Leeukop gespook om vure te blus.

‘n Brand het Dinsdagaand uitgebreek en is deur die Suidooster aangeblaas.

Liezl Moodie, woordvoerder vir Kaapstad se brand- en reddingseenheid, het omstreeks 12:00 aan Sapa gesê daar is steeds brandbestryders op die toneel om smeulende boomstompe dop te hou.

Daar was Dinsdagaand in ʼn stadium nagenoeg 200 brandbestryders op Leeukop besig om die brand onder beheer te bring.

Sommige inwoners naby Leeukop en Vlaeberg is as ʼn voorsorgmaatreël ontruim, alhoewel geen skade aan eiendom aangemeld is nie.

Ramaphosa berispe DA oor parlementêre wanorde

Adjunk-President Cyril Ramaphosa sê die DA se besluit om met die mosie teen president Jacob Zuma voort te gaan, het die veelparty-ooreenkoms wat bereik is, geknou.

Hy sê die DA-besluit druis in teen die ooreenkoms wat Dinsdag met partyleiers bereik is.

Ramaphosa sê al die partye het ingestem om ‘n politieke oplossing vir die onuithoudbare toestand in die parlement te probeer vind.

Volgens hom druis die DA se mosie in teen die gees van die ooreenkoms.

Die parlement het intussen die DA se mosie om Zuma te berispe, verwerp.

Die DA-leier Mmusi Maimane, het die mosie ingedien omdat Zuma vrae in die Nasionale Vergadering skriftelik wou beantwoord.

Die mosie is met 217 stemme teen 78 verslaan met vier LP’s wat buite stemming gebly het.

Die ANC het talle onnodige mosies ingedien en die debat oor die DA-mosie met bykans vier uur vertraag.

Maimane het gesê die geloofwaardigheid van die Nasionale Vergadering kan net herstel word as Zuma die reëls van die Vergadering aanvaar.

Hy het gevra dat ‘n spesiale sitting van die parlement oorweeg moet word as Zuma bereid is om vrae te beantwoord.

 

Voormalige ANC-raadslid geskiet

Die polisie in die Wes-Kaap ondersoek ʼn saak van poging tot moord nadat ʼn voormalige ANC-raadslid, Andile Lili, Woensdagaand geskiet is.

Lili (39) en ses ander persone is in Julie in die Kaapstadse landdroshof vrygespreek op aanklagte dat hulle die Wes-Kaapse wetgewer met ontlasting wou ontsier.

Volgens die polisie het Lili, leier van die Ses’khona People’s Rights Movement Woensdagaand buite sy huis in Kaapstad geskiet. “Die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord,” het kapt. Frederick van Wyk, woordvoerder van die polisie, gesê.

Lili is na ʼn hospitaal geneem. Die polisie kon nie Donderdag verdere besonderhede oor sy toestand verskaf nie. Volgens die SAUK is Lili in ʼn kritieke, maar stabiele toestand. Hy is glo ʼn paar keer geskiet.

Van Wyk sê die motief vir die skietery is nog nie bekend nie en niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.