Twee polisielede vas vir roof en ontvoering

Die geloofwaardigheid van die polisie het opnuut onder skoot gekom.

Dit volg na ‘n verslag van die navorsingsmaatskappy Futurefact waarin bevind is dat 76 persent van Suid-Afrikaners van mening is dat baie polisielede self misdadigers is.

Net meer as drieduisend mense het aan die meningspeiling deelgeneem.

Twee polisielede, onderskeidelik 35 en 44 jaar oud, is intussen op Pongola in die noorde van KwaZulu-Natal vasgetrek op aanklagte van roof en van ontvoering, het RSG berig.

Daar word beweer dat hulle onder ‘n groep mans was wat veiligheidswagte by ‘n winkel vasgebind, hulle in ‘n suikerrietland agtergelaat en toe die winkel gaan beroof het.

Die KwaZulu-Natalse LUR vir Gemeenskapsveiligheid en Skakeling, Willies Mchunu, het die polisie se betrokkenheid by misdadige bedrywighede skerp veroordeel.

Mchunu sè die meerderheid polisielede in die provinsie is nog steeds mense van integriteit wat baie hard werk en hy het die publiek gevra om saam met die lede te werk en diegene te ontbloot wat by misdadige bedrywighede betrokke is.

‘n Woordvoerder van sy Departement, Sipho Khumalo, sè die polisielede sal later vandeesmaand in die landdroshof op Pongola verskyn.

Verskeie polisiebeamptes van die Douglasdale polisiestasie in die noorde van Johannesburg is blykbaar gister ontwapen nadat hulle kollegas gedreig het.

Die polisielede is na bewering op ‘n sloerstaking omdat hulle ontevrede is oor beweerde rassisme by die stasie.

Die Gautengse polisiewoordvoerder, kolonel Noxolo Kweza, wou nie kommentaar lewer nie.

Twee van polisie vas vir gewapende roof

Twee polisiebeamptes, wat Woensdag in hegtenis geneem is vir gewapende roof sal na verwagting binnekort in die Sasolburgse landroshof verskyn.

Polisiewoordvoerder, Sellwane Mapamela, sê in ‘n verklaring die 30-jarige en 38-jarige verdagtes word daarvan beskuldig dat hulle deel was van ‘n gewapende roof by Zamdela op 18 Desember verlede jaar.

Volgens die 25-jarige klaer was sy, haar man en ‘n vriendin, van Johannesburg na Heilbron op pad toe hulle by ‘n kruising in Zamdela deur ‘n gemerkte polisie voertuig afgetrek is.

Hulle is deursoek en toe vertel dat hulle onder arres is. Op pad na die polisiestasie het die polisievoertuig onder ‘n brug gestop waar nog twee mans opgedaag het en geld vir hulle vrylating geëis het.

Almal is saam na ‘n winkelsentrum in Gauteng waar die vrou kontant uit haar bankrekening onttrek het.

Die verdagtes het die klaer en haar man by die winkelsentrum gelos nadat hulle die geld gekry het.

Volgens Mapamela is een van die mans ‘n sersant by die Vaal Rand honde-eenheid en die ander ‘n konstabel in die blitspatrollie.

SAIR: Polisie is ‘n staatsondersteunde ‘misdaadbende’

‘n Verslag wat Woensdag deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) vrygestel sal word, beskryf die Suid-Afrikaanse polisie as ‘n staatsondersteunde misdaadbende.

Getiteld “Broken Blue Line 2”, dui die verslag daarop dat oortredings nie meer net “geïsoleerde voorvalle” is nie, maar ‘n “patroon van misdadige gedrag” volg.

“Van die polisie word verwag om misdaadbendes te infiltreer. In Suid-Afrika het misdaadbendes die polisie geïnfiltreer. Dit is miskien die vreesaanjaendste en belangrikste bevinding,” lui die verslag.

Die SAIRV se inligting is gegrond op 100 gevalle tussen April 2011 en Januarie 2015 van ernstige misdade wat wissel van moord en verkragting tot roof, waarby polisielede betrek word. Dit studie sluit nie eens gevalle van korrupsie en omkopery in nie.

Die korrupte en veroordeelde Jackie Selebi, die eerste swart polisiehoof, het die mag van 100 000 tot 155 000 laat aangroei met swart aanstellings.

Selebi het dadelik ook gesorg dat hy die gespesialiseerde narkotikaburo ontbind as guns aan sy vriend die dwelmbaas Glenn Agliotti en daarmee toegesien dat die polisie die dwelmverspreider van voorkeur word.

‘n Kultuur van nepotisme, transformasie, rassebeheptheid, onbevoegdheid en wanbestuur heers glo binne die SAPD, het oud-polisielede gesê. Wit lede met ervaring het byna geen kans op bevordering nie.

Nie een van die bepalings in 2012 se Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) dat offisiere van die polisie geoudit moet word om te sien of hul vaardighede en kwalifikasies op peil is, is intussen nagekom nie.

Die verslag sal Vrydag aan genl. Riah ­Phiyega, die nasionale ­polisiehoof, oorhandig word.

Duisende diensvuurwapens wat jaarliks “wegraak” word deur polisielede aan misdaadsindikate verkoop.

Net verlede week het ‘n polisie-kolonel in die hof in Vereeniging verskyn nadat sy betrokkenheid by die beweerde verskaffing van wapens aan bendes op die Kaapse Vlakte aan die lig gekom het.

‘n Egpaar is ook in dieselfde week in die ooste van Pretoria gekaap deur lede in polisie-uniforms met polisietoerusting. Die SAPD het erken polisielede moontlik by die roofbende betrokke is.

Polisie sê Soweto-geweld is onder beheer

Buitelanders moes uit Soweto vlug, of skuiling gaan soek by polisiestasies in die gebied, ná die jongste vlaag van geweld teen hulle.

Die geweld het Maandagaand uitgebreek nadat ‘n buitelandse winkeleienaar na bewering die 14-jarige Siphiwe Mahori in Snake Park doodgeskiet, omdat Mahori glo sy winkel wou beroof.

Die Gautengse polisiekommissaris, Lesetja Mothiba hou nietemin vol dat die polisie genoeg mannekrag het om die aanvalle onder beheer te bring.

Hy sê egter die polisie se nasionale leierskap is in kennis gestel dat bykomende magte op bystand moet wees.

Die polisie moes inderhaas ontplooi word om die plundery van winkels wat aan buitelanders behoort in Soweto hok te slaan. Volgens Lesetja is meer polisiebeamptes ontplooi in die gebiede wat deur die plundery geraak word.

Die geweld het in Soweto begin, en ook na Diepkloof en Kagiso versprei.

Asad Ali, wat ‘n selfoon-herstelwinkel gehad het, sê hy soek nou ‘n ander plek om sy winkel oop te maak.

Die adjunkvoorsitter van die Somaliese-vereniging van Suid-Afrika, Cassim Ali het die plundery as vreemdelingehaat én misdaad bestempel.

Meer as 120 mense is tot dusver in hegtenis geneem op aanklagte wat wissel van moord tot diefstal en die polisie het beslag gelê op tientalle onwettige vuurwapens.

Mothiba sê hulle is besig met ‘n ondersoek na waar die vuurwapens vandaan kom.

Drie polisiebeamptes, wat nie in uniform geklee was nie, het ‘n Sapa-verslaggewer glo Donderdag gedwing om foto’s van haar selfoon uit te vee wat sy van ‘n Somaliër se winkel in Dobsonville, Soweto, geneem het.

Die verslaggewer is afgetrek deur ‘n polisievoertuig nadat sy die foto’s geneem het.

“Die een beampte het oor my skouer geloer om seker te maak dat ek alles uitvee,” het Mpho Raborife gesê. “Hy het daarna gesê ek mag nie ʼn foto op die toneel neem nie, aangesien dit openbare geweld is, so dit val onder hulle jurisdiksie.

“Hulle het toe gesê ek mag in elk geval nie die foto’s neem nie omdat ek nie toestemming gevra het nie, en ek kan nie net by ʼn toneel opdaag en foto’s neem en dan wegry nie.”

Die polisie het haar verslaggewerskaart en selfoon by haar afgeneem. Daarna het die beamptes volgehou dat sy hulle na die Dobsonville-polisiestasie moet vergesel en geweier dat sy haar werkgewer bel. Hulle is uiteindelik nooit na die stasie nie.

Die polisiebeampte het volgehou dat sy nie daar mag foto’s neem en dit aan die publiek mag ‘uitlek’ nie. Hulle het haar selfoon en verslaggewerskaart teruggegee eers nadat sy die foto’s uitgevee het.

Mark van der Velden, redakteur van Sapa, het gesê die verslaggewer het haarself met haar verslaggewerskaart geïdentifiseer en alhoewel die polisiebeamptes in ʼn polisievoertuig was, het hulle siviele klere aangehad en het hulself nie voldoende geïdentifiseer nie. “Die feite tot dusver dui daarop dat die gedrag van die beamptes uiters onprofessioneel was en dit voldoen nie aan die prosedure nie. Die polisiebeamptes het klaarblyklik moeite gedoen om ʼn joernalis te intimideer en wou inligting in openbare belang onderdruk oor ʼn aktuele nuusstorie oor xenofobie.”

Volgens Van der Velden word die polisie verbied om enige media te dwing om foto’s uit te vee. Hy het bygevoeg dit is nog ʼn voorval van polisiebeamptes wat staande bevele verontagsaam.

Sapa gaan deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) ʼn formele klag by die polisiekommissaris se kantoor aanhangig maak.

Polisie keer groep aan wat Lesotho by SA wil inlyf

Die polisie in Ficksburg in die Vrystaat het bykans 140 lede van die Free Movement of Basotho, onder wie hulle leier bekend as Doctor Morolong, aangekeer.

Hulle is in hegtenis geneem toe hulle ‘n optog wou hou om te eis dat Lesotho by Suid-Afrika ingelyf word, het RSG berig.

Die polisie sê die 40-jarige leier van die groep sal van aanhitsing aangekla word.

Die ander kan vervolg word omdat hulle die land sonder die regte dokumente binnegekom het.

Hulle sal tot hulle hofverskyning in aanhouding bly.

Die polisie het ook beslaggelê op vyf minibus-taxi’s sonder permitte en een gesteelde voertuig.

Gauteng-inwoners waarsku teen aanvallers

Die Lytteltonse Gemeenskapspolisieforum in Centurion, het inwoners gewaarsku om op die uitkyk te wees vir twee “mans” wat hulle as polisiebeamptes voordoen.

Dié twee in uniform is daarop uit om inwoners aan te val en te beroof.

Die forum se woordvoerder, Clive Niepieer sê dit is ‘n ernstige misdaadprobleem, het RSG berig.

Hy sê die regte polisie moet dadelik ingryp.

Dit is nie bekend wat die ras van die aanvallers is nie, maar hulle is vermoedelik swart.

“Ons voorhek maak geheimsinnig oop vir die afgelope week of so en elke keer is ‘n baie verdagte wit Nissan-bakkie buite geparkeer in die straat,” het Milan Olivier van Atholl in Sandton gesê in nog ‘n voorval van misdaadteitering in Gauteng.

Hy het gesê hy het laas gesien hoe die bakkie geparkeer is in die straat op 7 Desember.

“Ek het buite die bakkie gaan inspekteer,” het Olivier gesê. Hy het gesê ‘n swartman met “dreadlocks” bestuur die voertuig.

“Ons glo hy is besig om die afstandbeheer van die hekke in die gebied te kloon en verken die gebied vir moontlike kwesbaarhede,” sê Olivier.

Dit is bekend dat voertuie dikwels in opritte gekaap word op dié manier.

Hy het gesê ADT se sekuriteitspersoneel het die swarte ‘n paar blokke weg langs ‘n elektriese kas gekry.

“By navraag het hy verdag geantwoord dat hy wag vir ‘n vriend en daarna vinnig die toneel verlaat,” verduidelik Olivier.

“Ek wil net Sandton-inwoners hieroor waarsku, veral nou dat ons nader aan die Desember-vakansie kom,” het hy gesê.

“Ek wil almal aanmoedig om ekstra versigtig te wees ten opsigte van hul veiligheid.”

Olivier het ook aan die Bramley-polisie gerapporteer. Ao Moses Maphakela, woordvoerder van die Bramley-polisie, waarsku Atholl se inwoners om ekstra waaksaam te wees.

Plaasaanvallers op ‘wenk’ van Valke vasgetrek

Agt swart mans is in hegtenis geneem in verband met die moord op Willie Janse van Rensburg (72) van Odendaalsrus in die Vrystaat.

Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, het gesê vier verdagtes is Dinsdag in hegtenis geneem en die ander vier is Woensdag vasgetrek.

Die arrestasies volg glo nadat die Valke ‘n “wenk” ontvang het. Die verdagtes, tussen 21 en 35 jaar oud, sal Vrydag in die Odendaalsrus-landdroshof verskyn.

Janse van Rensburg, sy skoondogter, vyf kleinkinders, en ‘n huurder is op 30 Oktober deur swart plaasaanvallers op sy plaas Nuwejaarsbosch oorval.

Alhoewel hy gewapen was, het die swart aanvallers daarin geslaag om sy vuurwapen by hom af te neem en hy is drie keer geskiet. Hy is by sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Janse van Rensburg se skoondogter en een van die kleinkinders is ook ernstig aangerand.

Die plaasaanvallers het selfone, vuurwapens en kontant gebuit en toe met Janse van Rensburg se bakkie van die toneel gevlug. Die bakkie is later verlate opgespoor.

 

Opod se administrasie knars tot stilstand onder McBride

Sedert Opod se uitvoerende direkteur, Robert McBride, se aanstelling, het die direktoraat se administrasie blykbaar tot stiltand gekom.

Die direktoraat ondersoek klagtes van wangedrag van die polisie en gee aanbevelings waaraan die SAPD moet voldoen binne 30 dae.

Wetgewing vereis dat die SAPD die minister die polisie in kennis moet stel en ‘n bewys moet indien dat die dissiplinêre kwessie afgehandel is.

Maar in minder as 5% van die gevalle waar aanbevelings verlede jaar gemaak is, is sulke bewyse ingedien. Dit beteken die indiening het met 10% vanaf 2012 verder afgeneem.

Die polisie se jaarverslag meld dat hulle 764 dissiplinêre aanbevelings van die direktoraat ontvang het , waarvan 645 binne 30 dae in werking gestel is. Volgens Opod het hulle 884 aanbevelings gedoen.

Maar die direktoraat se waarnemende hoofdirekteur vir ondersoeke, Matthews Sesoko, het gesê dokumentêre bewys van aanbevelings wat geïmplementeer is, bestaan feitlik nie. Hy het gesê Opod het slegs 38 volledige verslae van die polisie vir sy 2013/14 aanbevelings ontvang.

Die Adjunk-nasionale kommissaris vir Korporatiewe Dienste by die SAPD, luitenant-generaal Nobubele Mbekela, het gesê “dokumentêre bewyse was nog nooit ‘n vereiste nie”.

McBride se afwesigheid, blykbaar om ‘n strategiese beplanningsessie by te woon, het sy “minagting vir die proses” uitgelig, het opposisielede gesê.

Die aanstelling van McBride as hoof van die Onafhanklike Polisie-ondersoek Direktoraat (Opod), is voorheen met onthutsing begroet.

Opposisiepartye het gesê McBride is nie geskik vir die pos nie as gevolg van sy persoonlike regsprobleme in die verlede.

Maar, die minister van polisie, Nathi Mthethwa het lede vermaan en gesê dat McBride vrygespreek is van dronkbestuur aanklagte tydens sy termyn as Ekurhuleni Metro-polisiehoof.

Verkragting die nuwe polisiesport

Volgens die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat (OPOD) het die aantal klagtes van verkragtings wat deur polisielede gepleeg is in ses maande (April – September 2014 teenoor dieselfde tydperk in 2013) met 25% toegeneem en verkragtings van persone in aanhouding het met 160% toegeneem.

Die OPOD het hierdie statistiek bekend gemaak in ’n voorlegging aan die portefeuljekomitee oor polisie in die parlement.

Die aantal verkragtings deur polisielede wat op diens is, met 56% toegeneem het. In die geval van mense in polisieaanhouding wat verkrag is deur polisielede wat op diens is, was die toename ‘n yslike 350%!

Dit beteken dat hierdie verkragters glo hulle is verhewe bo die reg bloot omdat hulle polisielede is en die gesag wat aan hulle toegeken is op grond van hulle amp, misbruik.

In dieselfde ses maande tydperk is 127 klagtes ontvang vir sterftes in polisieaanhouding en 186 klagtes vir sterftes as gevolg van polisieoptrede, ’n totaal van 313 sterftes.

Voorts is van die 475 aanbevelings deur die OPOD om optrede teen polisielede te inisieer, slegs 33 sake afgehandel. Dit beteken dat die polisie slegs 6,9% sake afgehandel het.

Kennelik is die SAPD en die minister van polisie, Nkosinathi Nhleko, besonder traag om op te tree teen hul eie lede.

Die OPOD is die instelling waardeur die algemene publiek kan klagtes lê teen ongemagtigde optredes van polisielede, maar indien slegs 6,9% sake afgehandel is, beteken dit dat die publiek se klagtes in wese geïgnoreer word.

Dat OPOD nie optree om die publiek te beskerm nie, is een van vele redes waarom die SAPD kwalik nog vertroue inboesem.

Indien  nie ingryp en polisielede wat hulle skuldig maak aan wandade ontslaan uit die diens nie, kan dit die SAPD se rol as beskermer heeltemal tot niet maak.

Polisie in hul eie vangwa toegesluit deur rowers

Drie verdagtes is Dinsdag in hegtenis geneem nadat twee polisiebeamptes in Rabierif in Midrand, Gauteng van hul vuurwapens beroof is en agter in hul eie vangwa opgeland het.

“Die drie verdagtes, tussen 25 en 30 jaar oud, sal binnekort in die Tembisa landdroshof verskyn,” het brig. Neville Malila, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê.

Hulle sal teregstaan op aanklagte van gewapende roof, kaping, poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

“Die verdagtes het twee polisiebeamptes oor middagete genader terwyl hulle by ʼn kosstalletjie gesit het,” het Malila verduidelik. “Die verdagtes het ʼn vuurwapen op die beamptes gerig en hulle wapens afgeneem. Hulle het die beamptes daarna in hul patrollievoertuig toegesluit en met die vuurwapens gevlug.”

Malila sê nog drie verdagtes het opgedaag en hulle het ʼn voertuig gekaap en daarmee gevlug.

“Lede van die gemeenskap het die vangwa oopgemaak en die polisiebeamptes bevry,” het hy gesê. “Die lede het bystand ontbied en die verdagtes is agternagesit.” Die verdagtes het verskeie skote op die polisiebeamptes gevuur voordat hulle beheer verloor het oor hul voertuig. Geen beserings is aangemeld nie.

“Die polisie het drie verdagtes in hegtenis geneem en drie vuurwapens gekonfiskeer,” het Malila bygevoeg. “ʼn Derde vuurwapen word verbind aan ʼn voorval in September 2014 waar daar op Johannesburgse metropolisiebeamptes geskiet is voordat hulle van hul wapens ontneem is.”

Nog verdagtes is op vrye voet.

Dosyn swart verdagtes soek na vangwa oorval word

Inligting oor 12 swart verdagtes wat ontsnap het kan aan die naaste polisiekantoor of Crime Line SMS by 32211.12 gekommunikeer word, vra die polisie.

Die 12 verdagtes het Vrydag noord van Pretoria uit aanhouding ontsnap, kort nadat van hulle in die hof in Ga-Rankuwa op aanklag van huisroof verskyn het.

As deel van die ondersoek na die voorval en soektog na die mans, het die polisie die publiek gevra om te help met enige inligting wat sal lei tot die arrestasie van die ontsnaptes en die mense wat hulle gehelp het.

Kapt. Doniah Mothutsane van die Gauteng-polisie het vroeër gesê die polisievoertuig was met 28 verdagtes op pad terug van die hof na die New Lock-gevangenis in Pretoria.

Die vangwa is op pad voorgelê en in ‘n lokval gelei in Lucas Mangopeweg naby Medunsa en die verdagtes is ontset.

MRK kla oor aangehoudenes in Limpopo

Die Menseregtekommissie, MRK, sê verdagtes wat by die Maake-polisiestasie buite Tzaneen in Limpopo aangehou word, se reg tot ‘n gesonde omgewing word geskend, het RSG berig.

Een-en-vyftig verhoorafwagtende gevangenes word volgens berigte aangehou sonder enige toegang tot water en sanitasie.

‘n Bron by die polisiestasie sê daar is nou al vir meer as ‘n week watertekorte. ‘n Woordvoerder van die kommissie, Victor Mavhidula sê hulle sal die polisiestasie besoek om te kyk watter gebeurlikheidsplanne die bestuur in werking gestel het, en hoe die gevangenes gehelp kan word.

Hy sê so ‘n situasie kan baie siektes tot gevolg hê.

Agt misdadigers in een week vas

Agt swartes is die afgelope week in die Sinoville-omgewing in hegtenis geneem. Sinoville-polisiewoordvoerder Mirna von Benecke sê verdagtes is vir onder meer roof, huisbraak, besit van gesteelde goedere en betreding aangekeer, het die Rekord Noord berig.

Maandag is twee 26-jarige vermeende diewe in Montanapark in hegtenis geneem toe hulle ‘n vrou beroof het wat op pad bank toe was om geld te deponeer. Hulle is deur ‘n lid van die gebiedspolisiëringsforum (GPF) opgemerk wat die SAPD sowel as ander GPF-lede in kennis gestel het. Die verdagtes is toe aangekeer.

In ‘n ander geval is twee verdagtes (27 en 35) Dinsdag vasgetrek nadat hulle by ‘n huis ingebreek het. Die twee diewe het ‘n huishulp in Wonderboom aangehou en onder meer ‘n televisie, drank, ‘n dvd-speler en juwele gesteel.

Twee rowers is deur die GPF opgemerk toe hulle oor die muur gespring het en ‘n derde wat buite in ‘n voertuig gewag het. Twee diewe het weggejaag nadat hulle die gesteelde items in die voertuig gelaai het.

Die derde een het te voet gevlug en is deur die GPF naby Laerskool Wonderboom voorgekeer. Die voertuig wat weggejaag het, is deur die polisie agtervolg.

Een van die verdagtes het uit die bewegende motor gespring en is naby die Deon Malherbe-swembad in hegtenis geneem.

In die harwar het die voertuig waarin die diewe gevlug het, weggekom, maar is later in klein Zambesi opgespoor. Al die gesteelde goedere is teruggekry, maar die derde verdagte is steeds soek.

Nog twee diewe (31 en 19) is Dinsdag in ‘n ander voorval vir huisbraak in hegtenis geneem. Hulle het verlede week by ‘n Montana-huis ingebreek. ‘n Onbekende persoon het die beroofde vrou geskakel en gesê sy kan haar gesteelde goedere by ‘n adres in East Lynn gaan haal. Sy het die polisie in kennis gestel en hulle het haar na die adres vergesel. Die twee rowers is daar in hegtenis geneem.

Die polisie het Maandag ook ‘n 26-jarige in hegtenis geneem toe hulle hom in Montana voorgekeer en in besit van onder meer gesteelde sparre betrap het. Die dief het erken dat hy die sparre gesteel het.

Von Benecke moedig die publiek aan om vertroud te raak met die GPF en om aan te sluit. Die GPF help om inligting vining by die polisie te kry wat spoedige reaksie verseker.

Span moet demilitarisering van SAPD ondersoek

Die minister van Polisie, Nkosinathi Nhleko, het ‘n span aangestel om die demilitarisering van die polisiediens te ondersoek, het RSG berig.

Hy het by die Polisie Opleidingskollege in Pretoria gesê hy is bekommerd oor die negatiewe persepsie rondom die polisie.

Die minister het beklemtoon dat samewerking met die publiek altyd belangrik sal bly.

Volgens Nhleko beteken die demilitarisering van die polisie nie dat daar met range weggedoen word nie, maar dat die polisie ‘n ander benadering en metode van polisiëring moet volg.

Die span sal ook ondersoek instel na die onwettige deportasie van Zimbabwiërs deur die polisie en wysigings aan die Wet op Nasionale Sleutelpunte.