Die Menseregtekommissie, MRK, sê verdagtes wat by die Maake-polisiestasie buite Tzaneen in Limpopo aangehou word, se reg tot ‘n gesonde omgewing word geskend, het RSG berig.
Een-en-vyftig verhoorafwagtende gevangenes word volgens berigte aangehou sonder enige toegang tot water en sanitasie.
‘n Bron by die polisiestasie sê daar is nou al vir meer as ‘n week watertekorte. ‘n Woordvoerder van die kommissie, Victor Mavhidula sê hulle sal die polisiestasie besoek om te kyk watter gebeurlikheidsplanne die bestuur in werking gestel het, en hoe die gevangenes gehelp kan word.
Hy sê so ‘n situasie kan baie siektes tot gevolg hê.
