Swart migrasies in Suider-Afrika

MzilikaziDie Groot Trek is makliker gemaak deur ‘n reeks massiewe volksverhuisings wat aan die gang gesit is deur die Zoeloeleier Shaka nadat hy omstreeks 1816 opperhoof geword het. Al sy swart bure moes swig vir sy gedissiplineerde krygers met hul steek-asgaaie. Diegene wat nie gedood of in die Zoeloeryk ingelyf is nie, het na die noorde, weste en suide uitgewyk. Dit het ingewikkelde volksbewegings meegebring. Toe een van Shaka se aanvoerders, Mzilikazi, oor die Drakensberge padgee om ‘n eie ryk te bou, het hy tot in die Kalahari migrasies aan die gang gesit.

Een van die gevolge van die volksbewegings was die ontvolking van uitgestrekte dele van Suider-Afrika. Aan die een kant was daar meer onbewoonde grond vir die wit emigrante beskikbaar, maar aan die ander kant kon die nuwe Zoeloe- en Matebele-despote makliker weerstand bied teen hul koms. ‘n Tweede gevolg van die verhuisings was dat lede van verbrokkelde stamme die Kaapse grensdistrikte ingestroom en die lewe verder ontwrig het.

Onder die talle stamme wat die meeste gely het onder die opkoms van die Zoeloeryk op die Hoëveld het die migrasie as die Difaqane bekend geraak. Dit was nie alleen ‘n massaverhuising nie, maar ook ‘n revolusie, sê C.F.J. Muller.

In enkele jare is die binneland oor tienduisende vierkante kilometer onherkenbaar verander. ‘n Onberekenbare aantal stamme, klein en groot, is uitgemoor. Tienduisende vlugtelinge wat nie buitengewone skuilplekke kon uitsoek of buitengewone afstande, soos dié na die Kaapkolonie kon aflê nie, moes onder die blote hemel rondswerf. Verwilderde, desperate mense het soms uit nood, later uit voorkeur, begin om saam met roofdiere mense te jag. Van hulle het versot geraak op mensvleis.

Maar veral die groter roofdiere soos leeus en luiperds het gefloreer deur die jag op relatief onbeskermde vlugtelinge. In Wes-Transvaal het verkenningsekspedisies swart mense aangetref wat in groot bome en op pale vaste skuilplekke opgerig het.

Oor hoeveel mense dood is, is daar verskil van mening. Een historikus meen dat sowat 300 000 deur ander opgeëet is. Die historikus G.M. Theal skat die totale lewensverlies op nader aan twee as een miljoen. Die getalle in roofdiere en wild het toegeneem en vir wit en swart jagters het dit ‘n paradys geword. In ieder geval het die getalsterkte van die swartes afgeneem.

C.F.J. Muller skryf in Die oorsprong van die Groot Trek: “Jagters, ontdekkingsreisigers, handelaars, trekboere en sendelinge se wawiele het soms krakend oor mensegeraamtes gerol. […] Blankes, Griekwas, Korannas, Basters en sterker Bantoegroepe wat na hierdie streke aangetrek is, is dikwels deur die gedemoraliseerde mensereste as beskermers verwelkom. […] Vreesbevange vlugtelinge het ‘n paar mans te perd met vuurwapens as potensiële beskermhere aangesien. Baie Nie-blankes was bereid om met trekboere en Voortrekkers om beskerming te onderhandel. Bloot om beskerming, met vleis en graan, sou baie bereid wees om tydelik in hul diens te tree. In hierdie jare van revolusie was baie swartmense soos klei in die hande van Blankes, Griekwas, Basters en Bantoeleiers wat sekuriteit belowe het.”

play demo rouletteДанильченко Юрий Брониславович компромат

Tagtigjarige oorlog tussen Spanje en Nederland

In die aanloop tot die sokker-wêreldbekereindstryd tussen Spanje en Nederland word gereeld verwys na die tagtigjarige oorlog tussen Nederland en Spanje.

Nederland het in wese eers in 1648 as ‘n deel van die vrede van Münster formele onafhanklikheid gekry, slegs enkele jare voor Jan van Riebeeck na die Kaap sou vertrek.

Maar hoe het dit gekom dat Nederland in die eerste plek ‘n Spaanse “kolonie” geword het?

Op die hoogtepunt van Europese monargie het troonopvolging en huwelike dikwels tot vreemde situasies gelei. So is die Britse koningshuis, bekend as die Huis van Windsor, eintlik die Huis van Hanover, ‘n Duitse koningshuis. Dit is in 1917 verander toe die Britte en die Duitsers haaks geraak het.

Die Spaans-Nederlandse oorlog kan teruggevoer word na die Huis van Habsburg. Hierdie koningshuis word sedert 1438 geassosieer met die keisers van die Heilige Romeinse Ryk. Hoewel dié huis oorspronklik uit Switserland stam, is dit later ten nouste met Oostenryk geassosieer.

Nederland het, soos Hongarye en talle ander dele van Europa deel van hierdie ryk uitgemaak. Deur erfopvolging het Spanje ook deel van dié ryk geword, maar in die 16de eeu het die Huis van Habsburg (met sy swaartepunt in Spanje) in ‘n Spaanse Huis van Habsburg en ‘n Oostenrykse Huis van Habsburg verdeel geraak.

Nederland het deel van die Spaanse Habsburg geword. Keiser Karel V van 1555 verskeie van die krone waaroor hy beskik het geabdikeer, en sy seun, Philip, is as opperheer van Nederland aangewys. Anders as sy pa, wat via Nederlandse adelliede soos die Prins van Oranje,  Philip de Montmorency, Hertog van Hoorn, en Lamoral, Hertog van Egmont oor die “Lae Lande” regeer het, het Philip Spaanse heersers aangewys, en ook ‘n Spaanse goewerneur-generaal aangewys om in sy permanente afwesigheid te regeer.

Weens Philip se ander monargie-verpligtinge – hy het sy pa intussen as koning van Spanje opgevolg – was hy was in verskeie oorloë betrokke, en Nederlanders moes die rekening betaal. Die oorsaak van die bevrydingsoorlog is met ‘n slagspreuk, Geen belasting sonder verteenwoordiging, ingelei. Terselfdertyd het Protestantisme en ana-Baptisme na Nederland versprei, wat as ‘n bedreiging vir die Rooms-Katolieke Spaanse troon beskou is. In 1566 het die “Beeldenstorm” plaasgevind wat die Rooms-Katolieke troon in Spanje ontstel het.

Die oorlog, wat van 1568–1648 geduur het, het formeel ontbrand toe die Hertoë van Egmont en Hoorn op die stadsplein van Brussel (deel van die Nederlande) opgehang is. Die Spanjaarde het ook Willem (die Swyger), prins van Oranje, se bloed gesoek, maar dié – eens ‘n vertroueling aan die hof van Karel V – het die Spaanse regeerstyl geken en ontvlug tot hy later deur ‘n spioen vermoor is.

Met die Vrede van Münster het slegs die noordelike provinsies onafhanklik geword. Die suidelike Nederlande, België en Luxumburg, het onder Spaanse bewind gebly.

Uit die tagtigerjare dateer ook die lied van Piet Hein wat die Spaanse Silwervloot in 1629 verower het. Die waarde van die silwer aan boord was glo in vandag se terme sowat een en ‘n half miljard euro’s werd. Die silwer was van Potosi met sy “berg van silwer” uit hedendaagse Bolivia afkomstig.

справка в бассейнОлександр Фільчаков прокурор

Na ‘n eeu – waar is die volksdigters?

‘n Eeu gelede het ‘n belangrike wet op die wetboek beland wat die status van Afrikaans sou verskans. Artikel 137 van die Zuid-Afrikawet het vir gelyke beregtiging van Engels en Nederlands voorsiening maak.

Hoewel Afrikaans eers, wat die wetboek betref, moes trustaan, was daar reeds in die aanloop van die Uniewording verskeie belangrike gebeure om Afrikaans momentum te gee.

‘n Groot deel hiervan was die rol van ‘n nuwe generasie digters. Jan. F.E. Cilliers, Totius en C. Louis Leipold was van die vernaamste figure wat die Afrikaner se bitter oorlogs- en na-oorlogslyding verwoord het. Hul gedigte was van ‘n veel hoër gehalte as die meestal rympies wat uit die eerste taalbeweging voortgespruit het.

Die nuwe generasie digwerk het egter nie net om die taal as taal gehandel nie, maar dit sterk laat hande vat met die Afrikaner se vryheidsideaal.

In sy werk, By die monument (1908), toon Totius ‘n profetiese geloof in die volk, wat net soos die taai besembos nie sal uitsterf nie: “Ek leef en sal lewe. My doodkry is min!” skryf hy.

In sy volgende bundel, Verse van Potgieters Trek, (1909), is die grondtoon een van ‘n volk met ‘n sterk vryheidsdrang. Hy gebruik die Groot Trek as model. In dieselfde jaar is die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst in die lewe geroep. Afrikaans is ingesluit in die term “Nederlands” waarvoor die lede hulle beywer het.

Het dit ‘n raakvlak met vandag, ‘n eeu later?

In Desember 1938 publiseer Die Huisgenoot ‘n Afrikaanse weergawe van Piet Retief se manifes wat op 2 Februarie 1737 in die Graham’s Town Journal verskyn het.

Lees ‘n mens dit, dan is dit ongelooflik hoe die toestande waarin die grensboere hulle destyds bevind het, met die huidige toestande van die Afrikaner ooreengestem het. (Hieronder weergegee).

Hierdie beginsels het soos ‘n goue draad deur die Voortrekkers, en later Boere se geskiedenis geloop – deur die verkiesingsproses van Retief as Trekkerleier, die inhoud van die Gelofte, die latere aanvaarding van republikeinse grondwette soos dié van die Republiek van die Oranje-Vrystaat wat op die Amerikaanse geskoei was.

Noudat omstandighede heers baie soortgelyk as dit wat Retief in sy manifes beskryf, waar plaasmoorde die omvang aanneem dat dit as volksmoord kwalifiseer, sou ‘n mens verwag dat die volksdigters die hand aan die pen sal slaan, soos Cilliers, Totius, Leipold en ander.

Dink net aan die ruimte wat gebied word aan ‘n jong, opkomende Afrikaanse digter om sy noodsaaklikstes in sy ryding te laai en die land vol te reis en onderhoude te voer met die naasbestaandes van vermoorde slagoffers, of slagoffers wat self aan die dood ontkom is maar dalk erg gemartel is. Hy sal, as hy sy sout werd is, ‘n bundel soos min kan uitbring, mits hy natuurlik ‘n uitgewer sal vind wat bereid is om dit te publiseer.

Die Afrikaanse digter se veld hoef ook nie tot plaasmoorde beperk te wees nie. Hy kan letterlik kies en keur aan temas, soos die impak van regstellende aksie. Die ellende wat dit in huishoudings bring. Of, as hy dan nie swartgallig ingestel wil wees nie, die pen te doop in verhale waar mense die terugslae van regstellende aksie oorkom het en weer op die been gekom het. “Doodkry is min” om Totius se woorde te leen.

Hoekom kry die Afrikaanse digter skynbaar net erkenning as hy ‘n verloopte Afrikaner is?

Breyten Breytenbach het na die val van apartheid dikwels sy mond erg oor die nuwe bedeling uitgespoel. Kom dit by die digkuns, skryf hy egter eerder ‘n lang gedig om sy ashoopstatus (in plaas van erkenning) te bewoord, maar gryp op die oog af nie met soveel ywer na die huidige ongeregtighede nie.

Veral op die internet duik daar wel gedigte op. Die uwe is geen letterkundige om die kwaliteit te beoordeel nie, maar hier en daar is daar pogings wat moeilik is om ‘n ander rede te vermoed as dat uitgewers nie gereed is om die sprong te maak nie.

Hoekom is dit relevant?

Skrywers en digters het gereeld die vaandel van ‘n stryd help dra, en deur dit ook letterkundig te giet word ‘n tipe status, ‘n fatsoenlikheid, daaraan geheg. Dit word dan nie meer net die stryd van die willewragtigs en die kakie-eendsterte nie. Dit kom in aanmerking vir die Hertzogprys, wat juis sy ontstaan het in ‘n geldinsamelingspoging om genl JBM Hertzog in ‘n hofstryd by te staan om te keer dat Engels meer gelyk as Nederlands (Afrikaans) manifesteer.

Juis nou gebeur dieselfde met Afrikaans. In die grondwet het dit gelyke status, maar sodra praktiese en selfs wetlike meganismes ingespan word om dit te bestendig, hang die regering se onderrok erg uit oor hoe dit die toekoms van die taal beskou.

Digters word as die gewete van die volk beskou, met ‘n missie om die saak van die “underdog” te dryf. Indien hy homself hiervan stroop, is hy as digter met ‘n missie nie meer inhoudelik as die rympiesmakers van die eerste taalbeweging nie. Trouens, waarskynlik minder, want daardie “rympiesmakers” het hulle vir ‘n saak beywer. Hulle was die voorlopers van die volksdigters. 

1. PIET RETIEF SE MANIFES
(Die Huisgenoot, Desember 1838)

Grahamstad, 22 Januarie 1837.
AANGESIEN daar talryke rapporte deur die hele Kolonie versprei is, blykbaar met die doel om vooroordeel op te wek in die gedagtes van ons medeburgers teen diegene wat besluit het om vaarwel te sê aan die Kolonie waarin hulle soveel jare ‘n hele reeks ergerlike en ernstige verliese gely het; en aangesien dit ons begeerte is om hoog te bly staan in die agting van ons broeders en ons begerig is dat hulle en die wêreld ons nie in staat moet ag om die heilige band te verbreek wat die Christen aan sy geboorteland verbind sonder daartoe voldoende redes te hê nie, is ons verplig om die volgende kort uiteensetting te boekstaaf van die oorsake wat ons beweeg om so ‘n stap te doen, en van ons voornemens aangaande ons optrede ten aansien van die naturellestamme waarmee ons in aanraking mag kom anderkant die grens:-

1. Ons wanhoop daaraan om die Kolonie te red van die euwels wat dit bedreig deur die oproerige en oneerlikie gedrag van vaebonde, wat toegelaat word om die land in alle dele te verontrus; en ons sien geen vooruitsig op vrede en geluk vir ons kinders in ‘n land wat op dié manier gekwel word deur inwendige beroeringe nie.

2. Ons kla oor die ernstige verliese wat ons genoodsaak is om te ly deur die vryverklaring van ons slawe en die ergerlike wette wat daar gemaak is met betrekking tot hulle.

3. Ons kla oor die aanhoudende plundering wat ons hier moet verduur van Kaffers en ander kleurlinge, en veral deur die laaste inval in die Kolonie, wat die grensdistrikte verwoes en die meeste inwoners geruïneer het.

4. Ons kla oor die ongeregverdigde blaam wat daar op ons gelê is deur belanghebbende en oneerlike persone onder die dekmantel van godsdiens, persone wie se getuienis in Engeland geglo is tot uitsluiting van alle bewysmiddele in ons voordeel; en ons uoorsien as gevolg van hierdie vooroordeel niks anders nie as die totale ondergang van die land.

5. Ons is uasbeslote om, waar ons ookal mag gaan, die regverdige beginsels van vryheid hoog te hou; maar terwyl ons sal sorgdra dat niemand in ‘n toestand van slawerny gehou word nie, is ons ook vas beslote om sodanige wette daar te stel wat misdaad sal onderdruk en ‘n behoorlike verhouding tnssen heer en diensbode sal bewaar.

6. Ons verklaar plegtig dat ons hierdie Kolonie verlaat met die begeerte om ‘n rustiger lewe te lei as wat ons tot hiertoe gedoen het. Ons sal geen volk molesteer nie en aan niemand die geringste eiendom ontneem nie; maar as ons aangeval mord, sal ons ons ten uolle geregverdig beskou om ons persoon en eiendom tot die uiterste te verdedig teen enige vyand.

7. Ons maak bekend dat, wanneer ons vir ons toekomstige leiding behoorlike wette neergelê sal hê, afskrifte daarvan na die Kolonie gestuur sal word vir algemene informasie; maar ons neem hierdie geleentheid tewens te baat om te verklaar dat dit ons vaste besluit is om voorsiening te maak vir summiere bestraffing van alle verraaiers wat daar onder ons mag wees.

8. Ons stel ons voor om in die loop van ons trek, en wanneer ons aangekom het in die land waar ons gaan woon, ons bedoelings en ons begeerte bekend te maak aan die inboorlingstamme, asook ons begeerte om in vrede en vriendskap met hulle te leef.

9. Ons verlaat die Kolonie onder die uolledige versekering dat die Engelse Regering niks meer van ons te vorder het nie en ons sonder verdere bemoeiing sal toelaat om ons in die toekoms self te bestuur.

10. Ons vertrek nou uit ons vrugbare geboorteland, waar ons enorme skade gely het en voortdurend blootgestaan het aan ergernis, om ons te gaan vestig in ‘n woeste en gevaarlike gebied; maar ons gaan met ‘n vaste vertroue op ‘n alsiende, regverdige en genadige God, wat ons altoos sal vrees en in alle nederigheid sal probeer gehoorsaam.

P. RETIEF.

video casino slotstopcargo

Oorsake van die Groot Trek

Daar is drie keuses vir die grensboer: “Ons moet óf weghardloop, óf stilsit en ons kele laat afsny, óf ons moet verdedig wat ons het.” Dit was in 1825 die woorde van Andries Stockenstrom in die drosdy van Graaff-Reinet teenoor aan twee sendelinge van die Londense Sendinggenootskap (John Philip en William Wright) en ‘n liberale Britse setlaat Thomas Pringle).

Stockenstrom (1792-1864) was landdros en sou in 1828 in Grahamstad as kommissaris-generaal van die oostelike provinsie word. Hermann Giliomee beskou hom as die grootste Afrikaner van die negentiende eeu. Anders as die ander goed opgevoede amptenare het hy homself “Afrikaner” en “Boer” genoem. Hy was volgens Giliomee in Die Afrikaners ‘n eerlike man met ‘n vurige, onafhanklike gees en kon geen skynheiligheid verdra nie.

Vir hom was weghardloop onaanvaarbaar, en hy het tien jaar later die Groot Trek veroordeel. Hy het egter die opvatting verwerp dat die burgers nie die reg het om hulleself te verdedig nie. Vir hom was daar twee kernwaardes, naamlik waarheid en strenge en gelyke geregtigheid.

Sy gespreksgenote het Stockenstrom probeer stilmaak deir te sê dat die koloniste geen reg het om in die grensgebied te wees nie. Stockenstrom het geantwoord dat die Britte hierdie beginsel meer as elke ander nasie verontagsaam het.

Tog was die Groot Trek nie ‘n geval van weghardloop nie, sê Giliomee.Dit was ‘n goed beplande massa-opstand teen ‘n ondraaglike gebrek aan sekuriteit. Die trek het verskeie oorsake gehad, maar hulle kan opgesom word as ‘n gebrek aan grond, arbeid en veiligheid.

Die grensboere het al hoe minder geweet hoe om op te tree teen rondlopers en veediewe. Baie het swaar verliese weens veediefstal gely en het toenemend vir hul lewens gevrees. In sekere dele was daar feitlik geen regeringsgesag nie. Die sesde grensoorlog (1834-1835) was vir die burgers ‘n geweldige skok. Hulle kon nie glo dat ‘n Xhosa-inval op so ‘n groot skaal moontlik was nie. Die hele grensgebied was in ‘n toestand van onrus.

Die dryfveer vir die trek word opgesom in ‘n opskrif van A.J. Böeseken en D.W. Krüger in Drie eeue: “Daar was geen geloof in ‘n beter toekoms in die Kolonie nie.” Die skrywer F.A. Venter laat in sy roman Geknelde land (1960) sy hoofkarakter, Rudolf Dreyer wat eers kwaai teen die trek was, sê: “Hier sal ons altyd slawe bly. Hier sal ons altyd vir die swarte werk. Ons sal ons lewens hier nooit seker wees nie.” (Hy gebruik ‘n ander woord vir swarte.)

Grensboere het kommissies aangestel wat die moontlikhede vir ‘n rustiger lewe elders moes ondersoek. ‘n Verkenningstrek onder Hendrik Scholtz het die Soutpansbergstreek verken, ‘n tweede onder Jan Andries Pretorius het ongunstig gerapporteer oor Damaraland, en die derde onder Pieter Lafras Uys het einde 1834 teruggekom met ‘n besonder gunstige verslag uit Natal.

Binne twee jaar daarna het die uittog van die Voortrekkers begin. Destyds is hulle Emigrante-Boere genoem. Die naam Voortrekkers is van later en is in 1840 die eerste keer gebruik. Die naam Afrikaner was darem ingeburger; Louis Tregardt skryf in sy dagboek Africaander en Affrikaanders. Andries Pretorius noem ds. G.W.A. van der Lingen van die Paarl in 1838 in ‘n brief een waare Afrikaan, terwyl ‘n leidende Afrikaner, C.J. Brand, aan Pretorius skryf dat hy Afrikaander is.

недорогие люстры потолочныеДанильченео

Taaltoestand aan die Oosgrens voor die trek

Was die regering se taalmaatreëls ‘n oorweging vir die trek? Blykbaar nie. C.F.J.Muller beskryf in Die oorsprong van die Groot Trek die taaltoestand in die grensdistrikte en -dorpe vóór die trek. Op die platteland het al hoe meer Setlaars Afrikaans begin leer (behalwe in die Setlaarsdistrik Albanie) en is in die Afrikaanse gemeenskap opgeneem.

By gebrek aan ander kerkgeriewe het hulle noodgedwonge lid geword van die NG Kerk, waar die Skotse predikante hulle gou laat tuis voel het. In Port Elizabeth en Grahamstad is Afrikaners, soos in die Kaapse Skiereiland, in die Engelse gemeenskappe opgeneem. Kinders van Afrikaners is daar meer dikwels na Engelse skole gestuur, waar hulle vlotter en beter Engels leer praat het, en waardeur dit vir hulle makliker geword het om met Engelse te trou.

Op die grensdorpe het Afrikaners en Engelse mekaar ontmoet en beter leer ken. Hulle het mekaar se taal aangeleer en gemeenskaplike probleme bespreek. Afrikaans was die algemene omgangstaal en Nederlands die skryftaal, hoewel Engels in die staatskantore veld gewen het. Briewe van hoër beamptes van Grahamstad en Kaapstad was in Engels; amptelike kennisgewings was in Nederlands en Engels.

Die korrespondensie uit die platteland was in ‘n taalvorm tussen Afrikaans en Nederlands. Die briewe en rapporte kon moeilik vertaal word en het soms die amptenare grys hare gegee. Partykeer moes ‘n oorwerkte amptenaar uit sy karige salaris ‘n vertaler huur. Behalwe in Kaapstad, Grahamstad en Albanie was Hollands vóór die Trek toonaangewend ondanks Somerset se proklamasie. Sonder Hollands kon die owerheid nie die dorpe en distrikte administreer nie. Die veldkommandante en veldkornette se Hollandstaligheid moes noodgedwonge aanvaar word, skryf Muller, “want anders sou die ganse raamwerk van die plaaslike bestuur in duie stort”.

Selfs ou dorpsbewoners soos Piet Retief en Gerrit Maritz het Engels blykbaar nooit heeltemal bemeester nie. Engels kon hulle verstaan en lees, en waarskynlik kon hulle dit redelik skryf, maar om ‘n ietwat ingewikkelde betoog daarin af te steek sou nie maklik gaan nie.

Dieselfde geld vir Piet Uys, hoewel hy as renperdeienaar en burgeroffisier die vriend van baie Britse offisiere was. Op die meeste Oosgrensdorpe, selfs die kleinstes in die Karoo, het Engelstaliges gewoon. Baie beroepslui was Engels, maar kon Afrikaans met kliënte praat.

Die Anglisasiebeleid was nog geen grief nie, en Voortrekkers het dit byna nooit genoem nie. Hulle was ontevrede omdat skole net Engels was, maar die meeste het hul kinders nie lank laat skoolgaan nie, of private onderwysers gebruik. In die kerk het so min lidmate Engels geken dat die Skotse predikante nie gehoor gegee het aan regeringsinstruksies om hulle Engels te help leer nie.

Maar voor die Trek was daar tekens dat Engels begin veld wen het ten koste van Afrikaans en Nederlands, veral in die staatskantore, ekonomiese en beroepslewe. Nadat duisende Afrikaners na die noorde getrek het, het Engels in die Oos-Kaap gevorder. Afrikaanse bruin mense het hul taal behou; daar was min sosiale omgang met Engelse blankes.

online freeлобановский александр дочь

Families verengels … en verafrikaans

Die universiteit van KaapstadToe Engels in 1832 in die Kaapkolonie die enigste taal van die geregshowe word, het baie regsgeleerdes wat net onderrig en ervaring in Nederlands gehad het, daardeur hul verdienste verloor. Baie het feitlik bedelaars geword. Party nuwe maatreëls het die burgers groot moeite gegee. Op 25 Januarie 1825 is bepaal dat alle dokumente aan die regering in Engels opgestel moes wees of ‘n Engelse vertaling moes by hê, anders sou hulle teruggestuur word aan die afsender. Aangesien die burgers nie self die dokumente kon vertaal nie en daar ook nie vertalers op die platteland was nie, moes hulle maar leer om sonder die regering klaar te kom.

Teen die strewe om van hulle Engelse te maak, het die Afrikaners aanvanklik net een “wapen” gehad — hul gebrek aan kennis van Engels. Hulle kon byvoorbeeld nie ‘n Engelse preek volg of ‘n Engelse brief aan ‘n amptenaar skryf nie. Die isolasie wat van die Afrikaners in die agtiende eeu ‘n volk help maak het, het hulle in die negentiende eeu teen hul uitwissing as volk met ‘n eie taal help bewaar.

Desondanks het die verengelsing van die onderwys en die politieke lewe mettertyd sy tol begin eis. Die duidelikste was dit te bespeur in Kaapstad wat lank voor 1850 al hoe meer ‘n Engelse stad en al hoe minder ‘n Hollands-Afrikaanse stad geword het. Baie Afrikaners het die Anglikaanse kerk besoek en was in Engelse skole.

Tekenend van die rigting was die verengelsing van skole wat Afrikaners gestig het. Die huidige eentalig-Engelse Universiteit van Kaapstad het eintlik in die konsistorie van ’n NG gemeente sy ontstaan gehad! Op inisiatief van veral dr. A. Faure het ‘n aantal Kapenaars, hoofsaaklik NG Kerklidmate, in 1829 in die konsistorie van die Groote Kerk die Zuid-Afrikaansche Athenaeum gestig vir meer gevorderde onderrig. Die Athenaeum was die voorloper van die South African College, later Universiteit van Kaapstad.

Ruim twee-derdes van die aandeelhouers was Afrikaans, maar vandat die kollege op 1 Oktober 1829 geopen is, was Engels die hooftaal. Vir taalonderrig sou twee tale gebruik word: Engels en Nederlands. Faure het Grieks en Latyn in Hollands gedoseer, maar vir die ander vakke was die doseertaal Engels. Teen 1840 was Engels die enigste medium.

Uit protes teen die verengelsingsbeleid het dr. A.N.E. Changuion, sedert 1831 dosent in klassieke tale, in 1842 bedank en ‘n eie skool, Het Witte Huis, opgerig. Ook dié was gou tweetalig. Onder sy leerlinge was latere presidente soos J.H. Brand en T.F. Burgers en die argivaris H.C.V. Leibbrandt.

Changuion is die skrywer van De Nederduitsche taal in Zuid-Afrika hersteld (1844); in die tweede druk, 1848, erken hy dat Nederlands geen kans het om volkstaal van die Afrikaner te word nie. ’n Deel van die boek was “Proeve van Kaapsche taaleigen”, 21 bladsye met Afrikaanse woorde en wendings — die eerste uitvoerige dokument oor Afrikaans. Hy noem vier skakerings van Kaapse Nederlands teen 1840: suiwer Nederlands; die Hoog-Hollands van Kaapse burgerkringe, die Platkaaps van ander wit mense en die Platkaaps van die Koikoi en ander bruin mense.

 Terwyl sommige Afrikaanse families verengels het, het die nasate van dié Britte wat in oorwegend Afrikaanse gebiede gaan woon en met Afrikaanse vroue getrou het, verafrikaans. Vroeg in die negentiende eeu was daar al Afrikaners met vanne soos Annandale, Carney, Dednam, Dyason, Hart, Haywood, Miller, Wilcocks en Watson.

пазл купитьФильчаков прокурор отзывы

Engels word amptelike taal en skooltaal

somersetReeds in Cradock se tyd was daar tekens van ‘n beleid wat Afrikaanssprekendes in die volgende eeu sou benadeel, naamlik die invoer van Engels as enigste offisiële taal. John Barrow, wat so onsimpatiek teenoor die Afrikaners was, het voorgestel dat alle offisiële dokumente, transportaktes en dergelike in Engels moes wees sodat die volgende geslag Engels kon word. Lt.-kol. Richard Collins, wat Barrow se bewerings oor die grensboere verwerp het, het in 1809 gesê: “Voer Engelse onderwysers in, en die volgende geslag sal Engelse wees.” Vriend en vyand was dit dus eens oor die wenslikheid dat die Afrikaners Engels moes word.

In 1813 het die goewerneur bepaal dat hy by toekomstige staatsdiensposte die kennis van Engels as ‘n onontbeerlike vereiste beskou. Hierdie voorwaarde is streng nagekom. Die staatsdiens het dus betreklik maklik verengels.

Cradock se opvolger, Somerset, sou ‘n meer doelgerigte beleid sou volg. Heelparty hoë Britte het die gedagte gesteun dat die Afrikaanse jeug deur middel van die onderwys geangliseer moes word. Onderwysers is in Engeland gewerf. In al die nuwe skole, waarin die onderwys gratis sou wees, was Engels die voertaal, en Engels en Latyn die enigste taalvakke. Selfs die godsdiensonderrig op Saterdae was in Engels.

In die volgende paar jaar het die vry Engelse staatskole toegeneem. In 1826 was daar 26 van die skole met 1737 leerlinge in die binneland, teenoor 20 Nederlandse laerskole met 635 leerlinge. In Stellenbosch het die Hollandse skool in 1825 33 leerlinge gehad, ‘n gemengde skool 44 en die Engelse skool 70. Die sukses met die onderwysbeleid was ‘n hele paar dekades maar klein, omdat ouers hul kinders na private skole gestuur het waarin Nederlands wel onderrig is.

Wat die belangstelling vir Engels laat groei het, is ‘n proklamasie wat Somerset op 5 Julie 1822 uitgevaardig het. Hy maak melding van die geslaagde immigrasie van talle gebore Britte, lojale predikante en onderwysers. Net Engels sou van 1 Januarie 1823 af gebruik word in alle briewe en ander dokumente van die kantoor van die minister van kolonies en van 1 Januarie 1825 af in ander departemente.

Van 1 Januarie 1827 sou Engels die enigste taal van die geregshowe word. Aangesien die meeste heemrade op die platteland geen Engels geken het nie, is die toepassing van dié deel van die proklamasie ‘n jaar lank uitgestel. Op 1 Januarie 1828 het magistraatshowe die ou drosdye vervang. Die magistrate is nie soos die landdroste deur heemrade bygestaan nie. Op 19 Desember 1827 is bepaal dat die magistraatshowe Engels sou gebruik.

Op 4 Mei 1832 is voorgeskryf dat die verrigtinge in die hooggeregshof en rondgaande howe ook net in Engels sal plaasvind. Jurielede was verplig om Engels te ken, en in 1829 is ‘n Afrikaner as jurielid geweer omdat hy dit nie geken het nie. In 1831 is wel bepaal dat gebrek aan kennis van Engels nie ‘n beletsel sal wees om as jurielid te dien nie. Tog het veral die Afrikaanse grensboer die gevoel gekry dat hy ‘n vreemdeling in die geregshowe was.

Die magistrate en regters wat van 1828 af aangestel is, was hoofsaaklik Engelssprekend. Omdat opleiding in Engeland ‘n vereiste was vir ‘n regter, was Afrikaners verplig om vir studie in die regte Engeland toe te gaan en nie meer na Nederland nie soos vroeër.

шапочки для новорожденных мальчиков купитьДанильченко Юрий Брониславович компромат

Engels versterk deur immigrante en predikante

Die 1820-setlaars kom in Algoabaai aan (skildery deur Thomas Baines)Somerset het besef dat sy grensbeleid kan slaag as daar baie blankes in die Suurveld in die Oos-Kaap kon bly. Sulke mense was daar: baie Britte het weens armoede en werkloosheid na ander lande geëmigreer. Sowat 90 000 wou Kaap toe gaan, maar sowat 5 000 het toestemming gekry om te kom.

Toe die immigrante kom, was Somerset met verlof. Hy het sy waarnemende goewerneur, sir Rufane Dunkin, gevra om die Engelse, Skotte en Iere apart te plaas. Dunkin het die 350 Iere toe na Clanwilliam gestuur! Dié nedersetting het misluk, maar van die Iere het in dié geweste agtergebly en verafrikaans.

Die meeste Skotse en Engelse setlaars het tussen April en Junie 1820 in Algoabaai geland. Afrikanerboere het gou hul nuwe landgenote met ossewaens na hul plase gebring — die Skotte na Baviaansrivier en die Engelse na die Suurveld. Baie setlaars het niks van boerdery geweet nie. ‘n Groep Londenaars, spottend die Cockney gardeners genoem, het slote van 60 centimeter gegrawe om wortelsaad te saai, uie onderstebo geplant, en mieliestronke pleks van pitte.

Min Britte het na die Kaap gekom. Die bodemgesteldheid en klimaat het dit nie so geskik vir landbou gemaak nie. Die Kaap kon dus nie deur middel van immigrasie verengels word nie.

Maar daar was ander metodes. Die owerheid het destyds predikante aangestel, en terwyl Somerset in 1820 met verlof in Engeland was, het dr. George Thom van Caledon hom gehelp om bekwame predikante en sendelinge vir die NG Kerk te vind. Britse studente in teologie is na Nederland gestuur om die taal te leer. Veral Skotse predikante het gekom.

Met die verlof van Somerset het 24 afgevaardigdes van twaalf gemeentes die eerste NG Sinode op 2 November 1824 in die konsistorie van die Groote Kerk gehou. Volgens die reglement was die naam van 1824 tot 1842 Nederduitsch Hervormde Kerk in Zuid-Afrika. (Die Sinode van 1842 het dit verander na Nederduitsch-Gereformeerde Kerk.) Somerset en sy geesgenote het sterk gedink aan die moontlikheid om die NG Kerk en die Presbiteriaanse Kerk te verenig. Dit was gelukkig onmoontlik weens die kerkorde wat De Mist in 1804 uitgevaardig het, maar ook omdat die gevoel van die Afrikaners teen die Skotse predikante mettertyd al hoe sterker geword het.

‘n Paar Afrikaners het in die 1820erjare in Nederland vir predikant gaan studeer, maar hulle was nie genoeg nie, en op die Sinode van 1834 was 12 van die 22 predikante uit Skotland afkomstig en net agt was gebore Afrikaners. Teen 1836 was daar elf jong Afrikaners wat in Europa vir predikant geleer het terwyl drie met hul studie klaar was. Die baie Skotse predikante het kommer laat ontstaan of die jong Afrikaners ‘n werk in hul land kon kry.

Die Ringe van Kaapstad en Swellendam het toe vertoë aan die Britse regering gerig en dié het in 1838 geantwoord dat gekwalifiseerde Afrikaners voorkeur sou geniet wanneer die owerheid predikante aanstel. Die Ring van Graaff-Reinet, met net Skotse predikante, wou die versoek nie steun nie onder meer omdat daar in die Oos-Kaap mense was wat Nederlands en Engels wou hê.

Van 1843 af kon die NG gemeentes self leraars beroep. Soveel afgestudeerde Afrikaners uit Nederland het bygekom dat die kerk in daardie stadium nie meer deur die leraars verengels kon word nie. Party afstammelinge van die Skotse predikante het selfs verafrikaans soos van die Thoms, Murrays, Frasers en McGregors.

освещение торгового залаФільчаков прокурор

Die politieke toneel vóór 1910

Die moderne geskiedenis van SA het by en met die Nederlandse Vereenigde Oost-Indische Compagnie (die VOC, 1621) begin. Die Nederlandse State-generaal het aan die VOC toe die mag verleen om die handel te beheer oos van die Kaap de Goede Hoop en wes van die Straat van Magellaan. In 1644 het die VOC die State-generaal meegedeel dat die betrokke gebiede wat onder die beheer van die VOC is, die privaatbesit van die VOC is.  In 1652 het die HERE XVII, die direkteure van die Kompanjie,  besluit om ‘n varswater-voedselaanleg aan die Kaap tot stand te bring. Ingevolge die juridiese doktrine van daardie tyd was die Kaap,  geag ‘n res nullius ( ‘n entiteit  sonder eienaarskap) te wees (sien Thomas van der Merwe en Stoop in Historical Foundations of SA Private Law, 1998, Butterworths, 93 p.). Derhalwe het die HERE XVII toe occupatio (besit) oor die Kaap geneem. Die Nederlandse vryboere het permanensie aan occupatio gegee.

Daarmee moet met drie wanpersepsies afgereken word:

  • Dat die Kaap van inboorlinge gesteel is.
  • Dat Nederland ‘n koloniale moondheid was.
  • Dat dit die Nederlandse oogmerk was om die inboorlinge te bekeer.

Die “volksplanting” aan die Kaap was ‘n handelstransaksie.

Die administrasie van die VOC is gekortwiek toe Brittanje die Kaap in 1795 tydelik en in  1806 permanent “oorgeneem” het.  Die Nederlandse historikus Hendrik Muller suggereer  dat navorsers van oordeel is dat Brittanje die Kaap inderdaad van die VOC gekoop het en dat dit eintlik nie ‘n besetting was nie (Het die Hollanders die Kaap verkoop?, 1932: Amsterdam).

Die wanadministrasie van verskeie hoë amptenare van die VOC asook die deurslaggewende imperialistiese oogmerke van Brittanje het die Voortrekkerbeweging na die binneland  op tou gesit.  Hierdie uittog uit die Kaap – wat vir die voorsate van die Afrikaner spreekwoordelik ‘n uittog uit “Egipte” was – het aanleiding gegee tot die volgende Republieke:

  • Natalia (1838-43)
  • Die Oranje Vrystaat Republiek (1854-1910)
  • Die Zuid-Afrikaanse Republiek (1859-1910)

Thomas van der Merwe en Stoop (101 p.) skryf dat die Voortrekkers in die Vrystaat òf onbesette grond beset het, òf grond van plaaslike stamme gekoop het  en dat in die Republiek van die Vrystaat die gebiede bekend as Rolang en Taung outonome status gehad het.  Dit is van belang dat die grondwet (1854) van die Vrystaatse Republiek oor ‘n handves van regte en oor ‘n hersieningsproses van wette beskik het.

In die Vrystaat en elders het president Marthinus Theunis Steyn (1857-1916) ‘n rigtinggewende rol in die geskiedenis van die Afrikaners gespeel.  Hy skryf onder meer aan lord Kitchener dat die Boere-oorlog ‘n daad alleen van selfverdediging is. Ná die Anglo-Boereoorlog weier Steyn om die Vrede van Vereeniging se dokument te mede-onderteken.  Steyn het hom later beywer vir die oprigting van die Vrouemonument en dit in 1913 onthul.  Tot by sy sterwe het hy hom verset teen die denasionalisering van die Hollandssprekende Afrikaanse volk.

In die 1830tigs het die Boere wat van die Kaap na die binneland uitbeweeg het, die Vaalrivier oorgesteek en hulle in die Transvaal gevestig.  Die Boere het die Zoeloes en Matabeles in 1839 verslaan en die volgende Republieke tot stand gebring:

  • Lydenburg
  • Zoutpansberg
  • Zuidafrikaanse Republiek

Die bg. drie Republieke het in een, die Zuidafrikaanse Republiek (1857), verenig.   Pretoria is as hoofstad uitgeroep (1855).  Die volksraad het uit 24 lede bestaan. Brittanje het in 1852 erkenning aan die ZAR verleen, maar die land in 1877 geannekseer. In 1881 het die Boere die Engelse by die slag van Amajuba  verslaan. In 1894 het Swaziland ‘n selfregerende protektoraat van die ZAR geword. Cecil John Rhodes het die tweede vryheidsoorlog (1899-1902) geïnspireer.  In 1902 is die Transvaal deur Brittanje onderwerp.

Die kolonialistiese oorweging van Brittanje het nie by die Kaap geëindig nie, maar is voortgesit deur die anneksasies van:

  • Kaffraria
  • Griekwaland
  • Basotholand (Lesotho) (1868)
  • Betshuanaland (Botswana) 1891
  • Swaziland
  • Die Republiek van die Oranje Vrystaat (1902)
  • Die Zuid-Afrikaanse Rupubliek (1902)

Die negatiewe rol van Alfred Milner (1854-1925),  Britse Hoofkommissaris, kan nie onderskat word nie. Hy was ‘n aartsimperialis wat hom geesdriftig toegelê het op die uitbreiding en beskerming van Britse belange in Afrika Suid.  Sy visie was een van ‘n groot federale statebond waarvan SA ‘n belangrike rat in die imperialistiese masjien tot Britse wêreldoorheersing sou wees. Hy was minagtend en agterdogtig teen die Boere. In onderhandelinge was hy onversoenlik en onverbiddelik. Sy motivering was om myn-, finansiële en nywerheidskapitaal in SA doeltreffend ten bate van Brittanje te monster.

Naas die naam Milner moet Cecil John Rhodes (1853-1902) uitgesonder word as ‘n persoon wat die Britse imperialisme met oorgawe in Afrika Suid gedien het. Hy is die stigter van die De Beers-mynmaatskappy en het later ook by die ontginning van goud betrokke geraak. Sy ideaal was om Britse gebiede,  vanaf die Kaap tot in Kaïro, tot stand te bring. In 1890 was hy die eerste minister van die Kaap. In 1896 was hy medeverantwoordelik vir die mislukte inval van  Jameson in die Transvaal om president Kruger se regering omver te gooi. Die politieke model wat hy nagestreef het was ‘n ekonomiese unie van Suider-Afrikaanse state.

Voor 1910 het Afrika Suid dus bestaan uit ‘n aantal Britse gebiede (die Kaap), die Boere-republieke (Vrystaat en Transvaal), en verskillende swart stamgebiede. Voor 1910 was die politiek in Afrika Suid gedomineer deur die konflik tussen Boer en Brit. Die “swart”probleem het eers na 1910 skerp na vore getree.

средство для полоскания рта при воспалении десенлобановский александр интервью

Aardbewing laat mense kerk toe stroom

Groote Kerk‘n Aardbewing het die aand van 4 Desember 1809 ‘n groot indruk op die mense van Kaapstad en omstreke gemaak. ‘n Skrikwekkende gerammel is plotseling gehoor “asof ‘n honderdtal waens in volle galop die straat opgery, of liewer, met die snelheid van die bliksem daaroor gevlieg het”, het ‘n ooggetuie gesê.

Terselfdertyd het die Kapenaars ‘n aaklige skok gevoel wat alles laat wankel het. Die meeste huise is beskadig en op die skepe in Tafelbaai is sommige mense uit hul hangmatte geslinger. Met angs en ontsetting het mense uit hul huise gevlug, bevrees dat die mure op hulle sou instort. Baie het die eerste nagte daarna in tente deurgebring wat hulle op die Parade en ander pleine opgeslaan het.

Selfs die onverskilligstes was verskrik, en party het luidkeels geroep: “Bid vir ons! Bid vir ons!” Mense van alle ouderdomme, stande en kleure het mekaar verdring in kerke en ander plekke waar bidure gehou is.

Die Groote Kerk kon die eerste Sondag ná die aardbewing nie die menseskare bevat nie. Die predikante het hulle kans waargeneem om hul gemeentes op te wek tot bekering en heiligmaking. Lidmate wat in hul ywer verslap het, het opnuut verplig gevoel om vir die sieleheil van hulleself en anderte ywer. Party was gou weer afvallig, maar vir ander het die gebeurtenis “tot blywende seën geword” en ‘n merkbare invloed gehad op die kerklike lewe, skryf die kerkhistorikus Adriaan Moorrees.

Dié beskrywing is een van ‘n aantal uiteenlopende verslae oor godsdiens en sedes aan die Kaap. Ds. Meent Borcherds van Stellenbosch het geskryf dat die “verderflike stelsel van die ongeloof” wat sy “slangenhoofd” in dele van Europa uitgesteek het, hier met afkeer ontvang is.

Volgens Lichtenstein moes mense partykeer tot drie weke kerk toe en terug reis, “oor steile berge en deur diep en gevaarlike riviere, soos die Jode van ouds na hul tempel in Jerusalem, en op hul terugreis oordenk hulle wat hulle gehoor het om dit dus vir hulle van nut te maak.”

Aan die ander kant was daar ‘n aantal ontuggevalle op die Kaapse kerkregisters. “Some of our Duch ladies […] are not all that they should be”, het lady Anne Barnard beweer.

‘n Besluit van groot belang vir die toekoms was die invoer van Gesange. In Nederland het die Gereformeerde Kerk die Evangelische Gezangen op 1 Januarie 1807 in gebruik geneem. Aangesien die Nasionale Sinode van Dordrecht die sing van alle liedere behalwe die Psalms en ‘n paar duidelik vermelde gesange verbied het, is die saadjie gesaai vir ontevredenheid en verset.

Dit het later gelei tot skeurings in die Nederlandse kerk, wat sedert 1816 offisieel as die Nederlandse Hervormde Kerk bekend was, asook die Kerk in Suid-Afrika. Op die tweede Sondag van Januarie 1814 is die gesange in die gemeente Kaapstad in gebruik geneem, en kort daarna in buitegemeentes. Teen dié tyd was die NG Kerk, soms ook Hervormde Kerk genoem, een van die min Kaapse instellings met voorlopig ‘n Hollandse karakter. Daar was in 1806 sewe gemeentes: Kaapstad, Stellenbosch, Drakenstein, Swartland, Tulbagh, Graaff-Reinet en  Swellendam.

slot machineалександр лобановский супермаркет класс

‘n Nuwe taalsituasie

Die Kaapsche Stads Courant en Afrikaansche Berigter het op 18 Januarie 1806, die dag van Janssens se kapitulasie, ook as The Cape Town Gazette and African Advertiser verskyn. Dit was die eerste aanduiding dat die nuwe Britse besetting ook die taalsituasie aan die Kaapkolonie sou beïnvloed.

Vir die eerste klompie jare ná 1806 was die Engelssprekendes in Kaapstad die garnisoen, amptenare en ‘n klompie handelaars. Immigrasie het hul geledere versterk. Kaapstad het aanvanklik feitlik die enigste plek gebly waar Afrikaans- en Engelssprekendes gereeld met mekaar in aanraking gekom het. Ook daar het die Hollandse gemeenskap voorlopig ‘n redelik afgeslote geheel gevorm. Die Engelssprekendes was nogal eksklusief en het nie maklik met die andertaliges omgegaan nie.

Nietemin kon die Kapenaars deur middel van hierdie Engelse, en ook die Engelse skole wat gou tot stand gekom het, maklik Engels aanleer. Buite Kaapstad was dit egter nie die geval nie. Ds. George Thom het in Januarie 1821 aan een van die goewerneurs, lord Charles Somerset, geskryf dat hy meen dat daar nie meer as 400 mense buite Kaapstad is wat Engels kan praat nie en skaars 200 wat dit kan lees en skryf. Dit was nog jare lank die geval.

‘n Alternatief vir Engelse vermaak was van 1802 af die opvoerings van toneelgeselskappe. Hollandse stukke van taamlike hoë peil is die hele 19de eeu opgevoer. Verder was daar die lósies en sociëteite wat vermaaklikhede soos dans, kaartspeel, musiekuitvoerings en biljart gebied het.

Die oorgrote deel van die bevolking was Afrikaans. Teen 1810 het die getal Afrikaners op 31 184 gestaan, in 1815 op 37 264, in 1819 op 42 217, in 1832 op meer as 52 000, in 1854 byna 150 000. Die betreklik vinnige aanwas was veral die gevolg van ‘n hoë geboortesyfer, en in ‘n mate ook die assimilasie van immigrante, veral Nederlanders en Duitsers, wat hulle met die Afrikaners vereenselwig het.

Soos dit nog sal blyk, is die taalbehoud van die Afrikaanstaliges voorlopig veral deur hul isolasie gewaarborg. Baie van dié in die binneland het geen onderwys geniet nie. Hulle het vir ‘n groot deel van die negentiende eeu geen Engels geken nie, selde met Engelssprekendes in aanraking gekom en was nie lank genoeg op skool om dit aan te leer nie. Van die 3400 kinders in die distrik Graaff-Reinet was byvoorbeeld hoogstens 100 aan die begin van die eeu op skool. Wat die mense gered het van totale verval, was hul gehegtheid aan die godsdiens.

Daar was ‘n belangrike swakheid in die taalsituasie. Hoewel die Afrikaanstaliges die een of ander vorm van Afrikaans gepraat het, was hul kultuurtaal Nederlands. ‘n Toestand van “diglossie” het bestaan — die volk het een vorm van die taal gebruik as omgangstaal, vir “lae funksies”, en ‘n ander vorm as kultuurtaal, vir “hoë funksies” soos die onderwys en die godsdiens. Die vernaamste leesboek van die volk was nog die Nederlandse Statenbijbel. Maar aan die begin van die eeu het dié‚ dubbelslagtigheid niemand blykbaar gehinder nie.

Nog geskiedenisartikels deur Jaap Steyn (in omgekeerde chronologiese volgorde):

Die Engelse kom weer

‘n Patriargale lewenswyse

Invoer van wolskape

Met Bataafse vlag verwelkom

Ontmoetings met sendelinge

Reise van Janssens en De Mist

Die Kaap is weer Hollands

Kaap kry sy eerste weekblad

Begin van ‘n kultuurbotsing

Lady Anne Barnard se waarnemings

Die eerste goewerneur

Halfhartige verdediging van die Kaap in 1795

Herlewing in die boukuns

Die agteruitgang van Nederland

Die piëtisme brei uit

‘n Groot Kaapse prediker

Kerklike lewe aan die Kaap

Die lewe in die Kolonie

Nuwe name vir nuwe sake

Verkenning van die land

Skipbreuke en die held Woltemade

Sewe Duiwels

By die uitspanplek

Op die trekpad tydens die Groot Trek

’n Nuwe geldstelsel aan die Kaap

Die Afrikaner se eerste demokratiese opvattings

Godsdienstigheid van die trekboere

Die lewe van die 18de-eeuse trekboere

Hoe ‘n admiraal en ‘n prins Afrikaans gered het

очистные установкиФильчаков прокурор харькова

Die Engelse kom weer

‘n Paar maande nadat Janssens en de Mist die bewind aan die Kaap oorgeneem het, het die oorlog tussen Engeland en Frankryk, en daarom ook sy bondgenoot die Bataafse Republiek, op 18 Mei 1803 weer begin.

Die Bataafse Regering het die Kaap dadelik daarvan in kennis gestel. Die boodskap het op 6 Julie 1803 aangekom. Kort daarna het egter ook ‘n brief gekom waarin beveel is dat die grootste deel van die militêre mag na die Ooste gestuur word. “Java is alles”, het die brief gelui. Die welvaart van Nederland het afgehang van die besit van die Oos-Indiese Eilande. Die Kaap mag miskien die sleutel van die Ooste wees, maar die sleutel kan van geen nut wees as Nederland die slot sou mis nie. Dié “slot” was die Ooste. In 1805 het die Britse regering besluit om ‘n sterk mag onder sir David Baird te stuur om die Kaap te gaan verower.

Die lot van die Kaap was by voorbaat beseël. Janssens het nietemin ‘n leër van sowat 2000 man op die been gebring. ‘n Paar dae voor Nuwejaarsdag 1806 het dit bekend geword dat die Engelse aan die kom is, en op 4 Januarie 1806 het die seine op Leeuberg die koms van die Britse vloot aangekondig. Die nuus is met behulp van kanonskote na die binneland versprei en dit was dieselfde aand tot op Swellendam bekend. Dit was egter ‘n slegte tyd vir boere om hul plase te verlaat: hulle was aan die dors, die druiwe het begin ryp word en dit was verskriklik warm.

Toe genl. Baird teen die aand van 7 Januarie sy hoofmag op die huidige Melkbosstrand laat land, was daar nog net ‘n paar honderd burgers aan die Kaap. Janssens moes met sowat 2000 man optrek teen die Engelse wat meer as twee maal so sterk was. Net oos van die Blouberg het die twee leërs vroeg die oggend van 8 Januarie slaags geraak.

Die geveg was gou oor. Die vreemde huurlinge in Janssens se leër het dadelik begin retireer toe die eerste kanonkoeëls val, en voor die aanstormende Skotse Hooglanders met gevelde bajonette het hulle op die vlug geslaan. Die 250 burgers en die pandoers (bruin troepe) was onder dié wat hul man gestaan het, maar ná die vlug van die huurtroepe moes die res van die leër terugval.

Een van die laaste opdragte van Janssens aan die Politieke Raad was om burgers wat hulle dapper gedra het, soos kmdt. Jacobus Linde, te beloon deur plase aan hulle te skenk. Dit is gedoen voordat die voorwaardes van oorgawe van Kaapstad op Vrydag 10 Januarie op Papendorp (Woodstock) geteken is.

Janssens self wou die verset in die binneland voortsit, maar het op 18 Januarie in Hottentots-Holland die kolonie aan die Britte oorgegee en die burgers wat hom getrou gebly het, beveel om huis toe te gaan. In ‘n merkwaardige brief aan Baird het hy geskryf dat die gedrag van die koloniste hoogs bevredigend was. “Skenk, wat dit betref, geen geloof aan mnr. Barrow en hul vyande nie. Die koloniste is nie sonder gebreke nie, maar hul goeie hoedanighede weeg meer as daarteen op.” Hierdie brief was kenmerkend van die Bataafse amptenare se gesindheid teenoor die Kapenaars.

marriage accessories bridalАлександр Фильчаков прокурор

‘n Patriargale lewenswyse

Die gevestigde boer het soos ‘n outydse edelman sy groot huishouding ingerig en geregeer. Lichtenstein gee ‘n beskrywing van die lewe op die plaas van Jakob Laubscher nie ver van Saldanhabaai. Die woonhuis, stalle, skure en werkkamers was goed ingerig. Laubscher het 80 perde, 690 beeste, byna 3 000 skape en baie pluimvee besit; hy het 60 mud koring gesaai en daagliks aan 105 mense kos gegee.

Lichtenstein skryf dat so ‘n boerdery meer na ‘n klein, selfstandige en afgesonderde staat lyk, waarvan die lede mekaar bystaan en van mekaar afhanklik is. Uit die opbrengs van die lande en die veetroppe moet die mense onderhou word. Daar is geen handwerk waarin nie minstens een van die slawe bedrewe is nie. Die huisbaas wat van al die soorte werk iets af weet, hou toesig. “Ofskoon hy self geen hand aan die werk slaan nie, sou dit nogtans die hoogste onregverdigheid wees om hom van luiheid te beskuldig. Die Afrikaanse landman is inderdaad werksaam en bedrywig sonder dié uitwendige besigheidsgedoente en woelagtige bestellery, waarmee in Europa die luiheid en werkloosheid soms so mooi bemantel word.”

Die huismoeder met haar dogters en slavinne het die groot huishouding van kos en klere voorsien, botter en seep gemaak, konfyt gekook en dergelike. By feesgeleenthede, soos ‘n bruilof, die verjaardag van die huisvader, ‘n vendusie of as daar kuiergaste is, het die boervrou uitgehaal en ‘n groot oorvloed van lekkernye aan haar gaste voorgesit: gebraaide speenvarkies, pluimvee, kerrievleis, sosaties, blatjang, ingemaakte vrugte.

Dié welvaart onder die landbouers was kleiner in die binneland. Oos van Swellendam en noord van die Olifantsrivier het boere meestal gewoon in hartbeeshuisies, soms met net twee vertrekke. Die meubels was self gemaak, en die kos, met vleis steeds die hoofgereg, ietwat vervelig. Die veeboer was ook eenvoudiger geklee. Hy het gewoonlik ‘n breërandhoed, kort baadjie, growwe hemp, lang, wye velbroek en velskoene gedra. Die opmerklikste kledingstuk van die vrou was die kappie. Die behoeftes van die binnelanders was beperk: wol- en linnegoed, koffie, tee en suiker, breekgoed, lood, yster, gewere en ammunisie. Koffie en tee was die nasionale dranke. Volgens Lichtenstein het seker drie uit elke tien koloniste glad nie wyn of brandewyn gedrink nie, en die res het so min gedrink dat dronkenskap baie seldsaam was. Oor Barrow se stories van dronkenskap skryf Lichtenstein: “Wat Barrow ook van die sopie as ‘n geliefkoosde drank van die koloniste mag vertel, ek kan nogtans heilig verseker dat ek gedurende die hele tyd van my verblyf onder die koloniste slegs eenkeer ‘n gebore Afrikaner dronk gesien het.”

Oor een swak plek in die Afrikaanse karakter is die belangrikste beriggewers dit eens: dwarstrekkery en onderlinge vyandskap wat soms selfs onder broers voorgekom het. Bure het soms jare lank ‘n wrok teen mekaar gekoester. Die twiste was gewoonlik oor grense, want die leningsplase was nie duidelik afgebaken nie. Daar was ‘n iets waar van die gesegde dat elke boer met almal op vriendskaplike voet was, behalwe met sy bure.

бани внутритопкарго кидалы

Met Bataafse vlag verwelkom

Janssens en de Mist het oral in die land gevind dat die koloniste bly was dat die Kaap weer Hollands was. Op 9 April 1803 het Janssens van Swellendam af aan De Mist geskryf: “Die genoeë op die platteland om aan die Moederland teruggegee te wees, skyn seer algemeen.” De Mist het ná sy reis geskryf dat hy selfs by die ver afgeleë ingesetenes groot gehegtheid aan die Hollandse regering bespeur het.

Dit blyk uit Anna Böeseken se beskrywing van die reis dat De Mist en sy reisgeselskap op verskeie plekke met die Bataafse vlag verwelkom is. Dit het ook gebeur op Graaff-Reinet, maar die twintigtal armsalige huisies, die lendelam drosdy en die vervalle kerk het ‘n swak indruk gemaak. De Mist het geld gegee vir die herstel van die kerk en het opdrag gegee dat ‘n nuwe drosdy gebou word.

Op sy terugreis het De Mist kennis gemaak met die Karooboere. Die geselskap kon luister na die talle jagstories. Van Tjaart van der Walt is vertel hoe hy sy broer uit die kloue van ‘n leeu kon red omdat hy so goed kon skiet. Die leeu, wat die ruiter en perd bespring het, is deur Van der Walt in die kop getref, en die perd en sy ruiter het ongedeerd gebly.

Aan die voet van die Swartberge het die Bataafse vlag op die huis van veldkornet Samuel de Beer van Kweekvallei gewapper met die aankoms van De Mist se geselskap. Al die inwoners van die wyk was voor die huis in twee rye opgestel. Terwyl hulle die geweer presenteer, het De Beer met die swaard in ‘n bont geskilderde skede die gaste welkom geheet. Twee van sy kinders het ‘n welkomslied op die fluit begelei, en daarna is almal die huis binnegenooi. Die tafels was belaai met kalfsvleis, pluimvee, ‘n groot verskeidenheid groente, waatlemoen, spanspek, pragtige druiwe en heerlike wyn wat op die plaas gemaak is. De Beer het vertel dat hy niks met die opstand van Graaff-Reinet te doen wou hê nie, maar ‘n sterk voorstander is van die vryheid en die natuurlike regte van die mens. Lichtenstein het opgemerk dat De Beer ‘n deeglike kennis gehad het van wat die vorige vyftien jaar in Europa gebeur het.

Lictenstein het op sy reise ook die entstof teen pokke bekend gestel wat enkele jare tevore deur dr. Edward Jenner en ander ontwikkel is. Baie was daarteen gekant, maar die dokter wat so goed met die boere oor die weg gekom het dat hy selfs die huisgodsdiens op plase waargeneem het, kon meestal hul vooroordele weg redeneer.

‘n Kommissie wat die veeteelt ondersoek het, meld dat die mense godsdienstig is. Die Bybel, ‘n gebede- of ander godsdienstige boek het oral byderhand gelê. Almal was daarop gesteld dat hul kinders gedoop word; die eed is heilig en mense gaan nooit aan tafel sonder om te bid nie. Die kinders en families is baie aan mekaar geheg.

Onder die Bataafse bewind — sonder die wanbestuur en korrupsie van die Kompanjie — het die opstandige Oos-Kapenaars rustig en kalm gebly. Hulle was nou direk onder die Nederlandse regering; die Graaff-Reinetters het juis in 1795 in opstand gekom omdat hulle nie onder die Kompanjie wou staan nie, maar onder Nederland. Simpatieke bewindhebbers en amptenare het die nuwe gesag uitgeoefen.

Nog geskiedenisartikels deur Jaap Steyn (in omgekeerde chronologiese volgorde):

Ontmoetings met sendelinge

Reise van Janssens en De Mist

Die Kaap is weer Hollands

Kaap kry sy eerste weekblad

Begin van ‘n kultuurbotsing

Lady Anne Barnard se waarnemings

Die eerste goewerneur

Halfhartige verdediging van die Kaap in 1795

Herlewing in die boukuns

Die agteruitgang van Nederland

Die piëtisme brei uit

‘n Groot Kaapse prediker

Kerklike lewe aan die Kaap

Die lewe in die Kolonie

Nuwe name vir nuwe sake

Verkenning van die land

Skipbreuke en die held Woltemade

Sewe Duiwels

By die uitspanplek

Op die trekpad tydens die Groot Trek

’n Nuwe geldstelsel aan die Kaap

Die Afrikaner se eerste demokratiese opvattings

Godsdienstigheid van die trekboere

Die lewe van die 18de-eeuse trekboere

Hoe ‘n admiraal en ‘n prins Afrikaans gered het

купить лего киевФільчаков прокурор