Die moderne geskiedenis van SA het by en met die Nederlandse Vereenigde Oost-Indische Compagnie (die VOC, 1621) begin. Die Nederlandse State-generaal het aan die VOC toe die mag verleen om die handel te beheer oos van die Kaap de Goede Hoop en wes van die Straat van Magellaan. In 1644 het die VOC die State-generaal meegedeel dat die betrokke gebiede wat onder die beheer van die VOC is, die privaatbesit van die VOC is. In 1652 het die HERE XVII, die direkteure van die Kompanjie, besluit om ‘n varswater-voedselaanleg aan die Kaap tot stand te bring. Ingevolge die juridiese doktrine van daardie tyd was die Kaap, geag ‘n res nullius ( ‘n entiteit sonder eienaarskap) te wees (sien Thomas van der Merwe en Stoop in Historical Foundations of SA Private Law, 1998, Butterworths, 93 p.). Derhalwe het die HERE XVII toe occupatio (besit) oor die Kaap geneem. Die Nederlandse vryboere het permanensie aan occupatio gegee.
Daarmee moet met drie wanpersepsies afgereken word:
- Dat die Kaap van inboorlinge gesteel is.
- Dat Nederland ‘n koloniale moondheid was.
- Dat dit die Nederlandse oogmerk was om die inboorlinge te bekeer.
Die “volksplanting” aan die Kaap was ‘n handelstransaksie.
Die administrasie van die VOC is gekortwiek toe Brittanje die Kaap in 1795 tydelik en in 1806 permanent “oorgeneem” het. Die Nederlandse historikus Hendrik Muller suggereer dat navorsers van oordeel is dat Brittanje die Kaap inderdaad van die VOC gekoop het en dat dit eintlik nie ‘n besetting was nie (Het die Hollanders die Kaap verkoop?, 1932: Amsterdam).
Die wanadministrasie van verskeie hoë amptenare van die VOC asook die deurslaggewende imperialistiese oogmerke van Brittanje het die Voortrekkerbeweging na die binneland op tou gesit. Hierdie uittog uit die Kaap – wat vir die voorsate van die Afrikaner spreekwoordelik ‘n uittog uit “Egipte” was – het aanleiding gegee tot die volgende Republieke:
- Natalia (1838-43)
- Die Oranje Vrystaat Republiek (1854-1910)
- Die Zuid-Afrikaanse Republiek (1859-1910)
Thomas van der Merwe en Stoop (101 p.) skryf dat die Voortrekkers in die Vrystaat òf onbesette grond beset het, òf grond van plaaslike stamme gekoop het en dat in die Republiek van die Vrystaat die gebiede bekend as Rolang en Taung outonome status gehad het. Dit is van belang dat die grondwet (1854) van die Vrystaatse Republiek oor ‘n handves van regte en oor ‘n hersieningsproses van wette beskik het.
In die Vrystaat en elders het president Marthinus Theunis Steyn (1857-1916) ‘n rigtinggewende rol in die geskiedenis van die Afrikaners gespeel. Hy skryf onder meer aan lord Kitchener dat die Boere-oorlog ‘n daad alleen van selfverdediging is. Ná die Anglo-Boereoorlog weier Steyn om die Vrede van Vereeniging se dokument te mede-onderteken. Steyn het hom later beywer vir die oprigting van die Vrouemonument en dit in 1913 onthul. Tot by sy sterwe het hy hom verset teen die denasionalisering van die Hollandssprekende Afrikaanse volk.
In die 1830tigs het die Boere wat van die Kaap na die binneland uitbeweeg het, die Vaalrivier oorgesteek en hulle in die Transvaal gevestig. Die Boere het die Zoeloes en Matabeles in 1839 verslaan en die volgende Republieke tot stand gebring:
- Lydenburg
- Zoutpansberg
- Zuidafrikaanse Republiek
Die bg. drie Republieke het in een, die Zuidafrikaanse Republiek (1857), verenig. Pretoria is as hoofstad uitgeroep (1855). Die volksraad het uit 24 lede bestaan. Brittanje het in 1852 erkenning aan die ZAR verleen, maar die land in 1877 geannekseer. In 1881 het die Boere die Engelse by die slag van Amajuba verslaan. In 1894 het Swaziland ‘n selfregerende protektoraat van die ZAR geword. Cecil John Rhodes het die tweede vryheidsoorlog (1899-1902) geïnspireer. In 1902 is die Transvaal deur Brittanje onderwerp.
Die kolonialistiese oorweging van Brittanje het nie by die Kaap geëindig nie, maar is voortgesit deur die anneksasies van:
- Kaffraria
- Griekwaland
- Basotholand (Lesotho) (1868)
- Betshuanaland (Botswana) 1891
- Swaziland
- Die Republiek van die Oranje Vrystaat (1902)
- Die Zuid-Afrikaanse Rupubliek (1902)
Die negatiewe rol van Alfred Milner (1854-1925), Britse Hoofkommissaris, kan nie onderskat word nie. Hy was ‘n aartsimperialis wat hom geesdriftig toegelê het op die uitbreiding en beskerming van Britse belange in Afrika Suid. Sy visie was een van ‘n groot federale statebond waarvan SA ‘n belangrike rat in die imperialistiese masjien tot Britse wêreldoorheersing sou wees. Hy was minagtend en agterdogtig teen die Boere. In onderhandelinge was hy onversoenlik en onverbiddelik. Sy motivering was om myn-, finansiële en nywerheidskapitaal in SA doeltreffend ten bate van Brittanje te monster.
Naas die naam Milner moet Cecil John Rhodes (1853-1902) uitgesonder word as ‘n persoon wat die Britse imperialisme met oorgawe in Afrika Suid gedien het. Hy is die stigter van die De Beers-mynmaatskappy en het later ook by die ontginning van goud betrokke geraak. Sy ideaal was om Britse gebiede, vanaf die Kaap tot in Kaïro, tot stand te bring. In 1890 was hy die eerste minister van die Kaap. In 1896 was hy medeverantwoordelik vir die mislukte inval van Jameson in die Transvaal om president Kruger se regering omver te gooi. Die politieke model wat hy nagestreef het was ‘n ekonomiese unie van Suider-Afrikaanse state.
Voor 1910 het Afrika Suid dus bestaan uit ‘n aantal Britse gebiede (die Kaap), die Boere-republieke (Vrystaat en Transvaal), en verskillende swart stamgebiede. Voor 1910 was die politiek in Afrika Suid gedomineer deur die konflik tussen Boer en Brit. Die “swart”probleem het eers na 1910 skerp na vore getree.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.