Engels versterk deur immigrante en predikante

Die 1820-setlaars kom in Algoabaai aan (skildery deur Thomas Baines)Somerset het besef dat sy grensbeleid kan slaag as daar baie blankes in die Suurveld in die Oos-Kaap kon bly. Sulke mense was daar: baie Britte het weens armoede en werkloosheid na ander lande geëmigreer. Sowat 90 000 wou Kaap toe gaan, maar sowat 5 000 het toestemming gekry om te kom.

Toe die immigrante kom, was Somerset met verlof. Hy het sy waarnemende goewerneur, sir Rufane Dunkin, gevra om die Engelse, Skotte en Iere apart te plaas. Dunkin het die 350 Iere toe na Clanwilliam gestuur! Dié nedersetting het misluk, maar van die Iere het in dié geweste agtergebly en verafrikaans.

Die meeste Skotse en Engelse setlaars het tussen April en Junie 1820 in Algoabaai geland. Afrikanerboere het gou hul nuwe landgenote met ossewaens na hul plase gebring — die Skotte na Baviaansrivier en die Engelse na die Suurveld. Baie setlaars het niks van boerdery geweet nie. ‘n Groep Londenaars, spottend die Cockney gardeners genoem, het slote van 60 centimeter gegrawe om wortelsaad te saai, uie onderstebo geplant, en mieliestronke pleks van pitte.

Min Britte het na die Kaap gekom. Die bodemgesteldheid en klimaat het dit nie so geskik vir landbou gemaak nie. Die Kaap kon dus nie deur middel van immigrasie verengels word nie.

Maar daar was ander metodes. Die owerheid het destyds predikante aangestel, en terwyl Somerset in 1820 met verlof in Engeland was, het dr. George Thom van Caledon hom gehelp om bekwame predikante en sendelinge vir die NG Kerk te vind. Britse studente in teologie is na Nederland gestuur om die taal te leer. Veral Skotse predikante het gekom.

Met die verlof van Somerset het 24 afgevaardigdes van twaalf gemeentes die eerste NG Sinode op 2 November 1824 in die konsistorie van die Groote Kerk gehou. Volgens die reglement was die naam van 1824 tot 1842 Nederduitsch Hervormde Kerk in Zuid-Afrika. (Die Sinode van 1842 het dit verander na Nederduitsch-Gereformeerde Kerk.) Somerset en sy geesgenote het sterk gedink aan die moontlikheid om die NG Kerk en die Presbiteriaanse Kerk te verenig. Dit was gelukkig onmoontlik weens die kerkorde wat De Mist in 1804 uitgevaardig het, maar ook omdat die gevoel van die Afrikaners teen die Skotse predikante mettertyd al hoe sterker geword het.

‘n Paar Afrikaners het in die 1820erjare in Nederland vir predikant gaan studeer, maar hulle was nie genoeg nie, en op die Sinode van 1834 was 12 van die 22 predikante uit Skotland afkomstig en net agt was gebore Afrikaners. Teen 1836 was daar elf jong Afrikaners wat in Europa vir predikant geleer het terwyl drie met hul studie klaar was. Die baie Skotse predikante het kommer laat ontstaan of die jong Afrikaners ‘n werk in hul land kon kry.

Die Ringe van Kaapstad en Swellendam het toe vertoë aan die Britse regering gerig en dié het in 1838 geantwoord dat gekwalifiseerde Afrikaners voorkeur sou geniet wanneer die owerheid predikante aanstel. Die Ring van Graaff-Reinet, met net Skotse predikante, wou die versoek nie steun nie onder meer omdat daar in die Oos-Kaap mense was wat Nederlands en Engels wou hê.

Van 1843 af kon die NG gemeentes self leraars beroep. Soveel afgestudeerde Afrikaners uit Nederland het bygekom dat die kerk in daardie stadium nie meer deur die leraars verengels kon word nie. Party afstammelinge van die Skotse predikante het selfs verafrikaans soos van die Thoms, Murrays, Frasers en McGregors.

освещение торгового залаФільчаков прокурор

Slagtersnek

Cradock is in 1814 opgevolg deur lord Charles Somerset (1767-1831). Sosiaal het hy op goeie voet met die Afrikaners verkeer, en hulle het dit ook waardeer dat hy volbloedperde, Devonbeeste en Southdownramme ingevoer het. Vroeg in sy bewind moes hy egter die Slagtersnek-opstand onderdruk.

‘n Klag deur ‘n Koikoi-werker Booi teen Frederik Cornelis Bezuidenhout van die plaas Baviaanskloof het dié opstand laat begin. Bezuidenhout is gedagvaar om op 5 Oktober 1815 in die hof op Graaff-Reinet te verskyn. Hy het nie opgedaag nie, omdat hy erg aan jig sou gely het. ‘n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik.

Omdat vermoed is dat hy sou teenstand bied, is luit. H. Rousseau met veertien pandoers gestuur om hom te vang. Toe hy hulle sien kom, het hy ‘n Erasmus-seun en ‘n Koikoi-man, Hans, gedwing om saam met hom in ‘n spelonk te gaan skuil. Hy het op die soldate gevuur en is self deur een van hulle doodgeskiet.

By sy begrafnis het sy broer Jan Bezuidenhout, en ‘n vriend besluit om Frederik se dood te wreek. Hendrik Prinsloo, seun van Marthinus Prinsloo wat ná ‘n opstand in 1798 onder leiding van Adriaan van Jaarsveld in die kasteel opgesluit is, was bereid om ‘n rebellie teen die amptenare te help organiseer.

Toe hy in Oktober 1815 die hulp van die Xhosa-opperhoof Ngqika (Gaika) probeer kry, het hy die simpatie van die meeste grensboere verloor. Andries Stockenstrom, adjunklanddros van Cradock, het alleen en ongewapend by ‘n groep voornemende rebelle opgedaag en hulle oorreed om van hul plan af te sien.

Die amptenare was goed ingelig en Prinsloo is gou gevang. Ongeveer 600 burgers het toe bymekaargekom en sy vrylating geëis. Landdros J.G. Cuyler van Uitenhage, ‘n gebore Amerikaner van Nederlandse afkoms wat saam met die Britte na die Kaap gekom het, het die opstandige burgers met ‘n kommando van wit en bruin mense genader en hulle op 17 November per brief gevra om vrywillig oor te gee.

Dit was die einde van die opstand. Party het oorgegee, ander het gevlug. Almal is gevang, behalwe Bezuidenhout, wat liewer tot die dood wou veg. Sy vrou Martha Faber en 12-jarige seun Gert het die geweer help laai. Eers toe Bezuidenhout dodelik gewond is, is die verset gestaak.

Die rebelle is van 16 Desember 1815 tot 22 Januarie 1816 op Uitenhage verhoor, en 39 is gevonnis. Ses is ter dood veroordeel. Somerset het die 60-jarige Willem Prinsloo begenadig, maar Hendrik Prinsloo, Cornelis Faber, Cornelius en Abraham Bothma en Theunis de Klerk is op 9 Maart 1816 op Slagtersnek opgehang.

Cuyler was met 300 soldate teenwoordig. Die beul het net een tou saamgebring, en die toue vir die ander vier was vrot. Die gevolg was dat, toe die manne gehang word, dié vier toue gebreek het. Die vier het opgestaan, en hulle, hul vroue, familie en vriende het die landdros en heemrade om genade gesmeek. Dat die tou gebreek het, was vir hulle ‘n vingerwysing van God.

Soos D.J. Opperman die verteller in Joernaal van Jorik laat sê: “En soos jy weet, my seun, die tou was vrot/ waaraan die vier opstandiges moes hang;/ party sê dis toeval, /maar ons sê dis God.”

Cuyler het gesê dat hy hul gesigte nooit sou vergeet nie. Hy het egter geen mag gehad om die vonnis te versag nie en die ongelukkiges is weer opgehang.

Helde was hierdie rebelle nie; hul eie volksgenote sou die meeste gely het onder ‘n roekelose opstand. Maar die onvergeetlike teregstelling het van hulle martelaars help maak. Langenhoven wat hulle verkeerdelik idealiseer (“Op Slagtersnek staan ‘n ereboog”), het ook geskryf: “Déur die spelonk, deur die bloed van ‘n dwaas, loop die pad van Suid-Afrika.”

машинки для девочеклобановский обыск