Oorsake van die Groot Trek

Daar is drie keuses vir die grensboer: “Ons moet óf weghardloop, óf stilsit en ons kele laat afsny, óf ons moet verdedig wat ons het.” Dit was in 1825 die woorde van Andries Stockenstrom in die drosdy van Graaff-Reinet teenoor aan twee sendelinge van die Londense Sendinggenootskap (John Philip en William Wright) en ‘n liberale Britse setlaat Thomas Pringle).

Stockenstrom (1792-1864) was landdros en sou in 1828 in Grahamstad as kommissaris-generaal van die oostelike provinsie word. Hermann Giliomee beskou hom as die grootste Afrikaner van die negentiende eeu. Anders as die ander goed opgevoede amptenare het hy homself “Afrikaner” en “Boer” genoem. Hy was volgens Giliomee in Die Afrikaners ‘n eerlike man met ‘n vurige, onafhanklike gees en kon geen skynheiligheid verdra nie.

Vir hom was weghardloop onaanvaarbaar, en hy het tien jaar later die Groot Trek veroordeel. Hy het egter die opvatting verwerp dat die burgers nie die reg het om hulleself te verdedig nie. Vir hom was daar twee kernwaardes, naamlik waarheid en strenge en gelyke geregtigheid.

Sy gespreksgenote het Stockenstrom probeer stilmaak deir te sê dat die koloniste geen reg het om in die grensgebied te wees nie. Stockenstrom het geantwoord dat die Britte hierdie beginsel meer as elke ander nasie verontagsaam het.

Tog was die Groot Trek nie ‘n geval van weghardloop nie, sê Giliomee.Dit was ‘n goed beplande massa-opstand teen ‘n ondraaglike gebrek aan sekuriteit. Die trek het verskeie oorsake gehad, maar hulle kan opgesom word as ‘n gebrek aan grond, arbeid en veiligheid.

Die grensboere het al hoe minder geweet hoe om op te tree teen rondlopers en veediewe. Baie het swaar verliese weens veediefstal gely en het toenemend vir hul lewens gevrees. In sekere dele was daar feitlik geen regeringsgesag nie. Die sesde grensoorlog (1834-1835) was vir die burgers ‘n geweldige skok. Hulle kon nie glo dat ‘n Xhosa-inval op so ‘n groot skaal moontlik was nie. Die hele grensgebied was in ‘n toestand van onrus.

Die dryfveer vir die trek word opgesom in ‘n opskrif van A.J. Böeseken en D.W. Krüger in Drie eeue: “Daar was geen geloof in ‘n beter toekoms in die Kolonie nie.” Die skrywer F.A. Venter laat in sy roman Geknelde land (1960) sy hoofkarakter, Rudolf Dreyer wat eers kwaai teen die trek was, sê: “Hier sal ons altyd slawe bly. Hier sal ons altyd vir die swarte werk. Ons sal ons lewens hier nooit seker wees nie.” (Hy gebruik ‘n ander woord vir swarte.)

Grensboere het kommissies aangestel wat die moontlikhede vir ‘n rustiger lewe elders moes ondersoek. ‘n Verkenningstrek onder Hendrik Scholtz het die Soutpansbergstreek verken, ‘n tweede onder Jan Andries Pretorius het ongunstig gerapporteer oor Damaraland, en die derde onder Pieter Lafras Uys het einde 1834 teruggekom met ‘n besonder gunstige verslag uit Natal.

Binne twee jaar daarna het die uittog van die Voortrekkers begin. Destyds is hulle Emigrante-Boere genoem. Die naam Voortrekkers is van later en is in 1840 die eerste keer gebruik. Die naam Afrikaner was darem ingeburger; Louis Tregardt skryf in sy dagboek Africaander en Affrikaanders. Andries Pretorius noem ds. G.W.A. van der Lingen van die Paarl in 1838 in ‘n brief een waare Afrikaan, terwyl ‘n leidende Afrikaner, C.J. Brand, aan Pretorius skryf dat hy Afrikaander is.

недорогие люстры потолочныеДанильченео

Slagtersnek

Cradock is in 1814 opgevolg deur lord Charles Somerset (1767-1831). Sosiaal het hy op goeie voet met die Afrikaners verkeer, en hulle het dit ook waardeer dat hy volbloedperde, Devonbeeste en Southdownramme ingevoer het. Vroeg in sy bewind moes hy egter die Slagtersnek-opstand onderdruk.

‘n Klag deur ‘n Koikoi-werker Booi teen Frederik Cornelis Bezuidenhout van die plaas Baviaanskloof het dié opstand laat begin. Bezuidenhout is gedagvaar om op 5 Oktober 1815 in die hof op Graaff-Reinet te verskyn. Hy het nie opgedaag nie, omdat hy erg aan jig sou gely het. ‘n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik.

Omdat vermoed is dat hy sou teenstand bied, is luit. H. Rousseau met veertien pandoers gestuur om hom te vang. Toe hy hulle sien kom, het hy ‘n Erasmus-seun en ‘n Koikoi-man, Hans, gedwing om saam met hom in ‘n spelonk te gaan skuil. Hy het op die soldate gevuur en is self deur een van hulle doodgeskiet.

By sy begrafnis het sy broer Jan Bezuidenhout, en ‘n vriend besluit om Frederik se dood te wreek. Hendrik Prinsloo, seun van Marthinus Prinsloo wat ná ‘n opstand in 1798 onder leiding van Adriaan van Jaarsveld in die kasteel opgesluit is, was bereid om ‘n rebellie teen die amptenare te help organiseer.

Toe hy in Oktober 1815 die hulp van die Xhosa-opperhoof Ngqika (Gaika) probeer kry, het hy die simpatie van die meeste grensboere verloor. Andries Stockenstrom, adjunklanddros van Cradock, het alleen en ongewapend by ‘n groep voornemende rebelle opgedaag en hulle oorreed om van hul plan af te sien.

Die amptenare was goed ingelig en Prinsloo is gou gevang. Ongeveer 600 burgers het toe bymekaargekom en sy vrylating geëis. Landdros J.G. Cuyler van Uitenhage, ‘n gebore Amerikaner van Nederlandse afkoms wat saam met die Britte na die Kaap gekom het, het die opstandige burgers met ‘n kommando van wit en bruin mense genader en hulle op 17 November per brief gevra om vrywillig oor te gee.

Dit was die einde van die opstand. Party het oorgegee, ander het gevlug. Almal is gevang, behalwe Bezuidenhout, wat liewer tot die dood wou veg. Sy vrou Martha Faber en 12-jarige seun Gert het die geweer help laai. Eers toe Bezuidenhout dodelik gewond is, is die verset gestaak.

Die rebelle is van 16 Desember 1815 tot 22 Januarie 1816 op Uitenhage verhoor, en 39 is gevonnis. Ses is ter dood veroordeel. Somerset het die 60-jarige Willem Prinsloo begenadig, maar Hendrik Prinsloo, Cornelis Faber, Cornelius en Abraham Bothma en Theunis de Klerk is op 9 Maart 1816 op Slagtersnek opgehang.

Cuyler was met 300 soldate teenwoordig. Die beul het net een tou saamgebring, en die toue vir die ander vier was vrot. Die gevolg was dat, toe die manne gehang word, dié vier toue gebreek het. Die vier het opgestaan, en hulle, hul vroue, familie en vriende het die landdros en heemrade om genade gesmeek. Dat die tou gebreek het, was vir hulle ‘n vingerwysing van God.

Soos D.J. Opperman die verteller in Joernaal van Jorik laat sê: “En soos jy weet, my seun, die tou was vrot/ waaraan die vier opstandiges moes hang;/ party sê dis toeval, /maar ons sê dis God.”

Cuyler het gesê dat hy hul gesigte nooit sou vergeet nie. Hy het egter geen mag gehad om die vonnis te versag nie en die ongelukkiges is weer opgehang.

Helde was hierdie rebelle nie; hul eie volksgenote sou die meeste gely het onder ‘n roekelose opstand. Maar die onvergeetlike teregstelling het van hulle martelaars help maak. Langenhoven wat hulle verkeerdelik idealiseer (“Op Slagtersnek staan ‘n ereboog”), het ook geskryf: “Déur die spelonk, deur die bloed van ‘n dwaas, loop die pad van Suid-Afrika.”

машинки для девочеклобановский обыск