‘n NG-predikant van die Groote Kerk in Kaapstad, ds. Riaan de Villiers, het ‘n herrie ontketen omdat hy na afloop van ‘n kerswaak vir die vermoorde Moslems van Christchurch gesê het dat die Calvinistiese uitverkiesingsleer verwerp moet word. Alle gelowe moet omhels word en dit sou selfs “rassisties” wees om te glo dat alleenlik Protestantse Christene gered word.
Hy het ook gesê dat “Jesus oor Moslems treur”. Gewoonlik word Christene deur Moslems as “ongelowiges” beskou, met verskeie verse in die Koran wat Moslems oproep tot djihad of “heilige oorlog” teen die ongelowiges.
Lede van De Villiers se gemeente is aangemoedig om verlede Sondag die kersweek in die Anglikaanse St. Georg-katedraal in Kaapstad by te woon.
Volgens ds. Riaan de Villiers is die aanval deur Brendon Tarrant in Christchurch op ‘n moskee die “produk van ’n giftige vermenging van denkwyses soos onder andere nasionalisme, rassisme, vreemdelingehaat en misplaaste geloofsoortuigings van uitverkorenheid.”
By implikasie het De Villiers Protestantse Calviniste wat wel aan die uitverkiesingsleer glo as “medepligtig” aan Brenton Tarrant se terreurdaad beskou kan word.
“As die kerk dié sienings in hulle midde akkommodeer of toelaat, is hulle medepligtig,” het De Villiers gesê.
Daar is ook gepraat van “Moslembroers en -susters”, waaroor De Villiers sedertdien gekritiseer is.
Ds. Riaan de Villiers het aan Die Kerkbode verklaar: “In Christchurch is kinders van God met onbeskryflike geweld om die lewe gebring terwyl hulle besig was om te bid. Jesus treur hieroor en sy kerk behoort hierdie mense te omarm en saam te treur.”
Die Kerkbode berig verder dat Jacques Strydom, ’n lidmaat van die Groote Kerk, sê hy het eers die waarde van die kerswaak besef toe hy sien hoe “divers” die bymekaarkoms is. “Dit maak my opgewonde dat kerke nie net oop kan wees vir verskillende mense nie, maar selfs ook vir ander gelowe,” sê hy.
Intussen woed ‘n polemiek rondom De Villiers se uitsprake op die Facebook-blad van Die Kerkbode.
In sy reaksie het ds. Schalk Strauss van die APK gesê: “Ek glo nie wat ek lees nie! Niemand keur die sinnelose geweld goed nie, maar om te beweer: ‘In Christchurch is kinders van God met onbeskryflike geweld om die lewe gebring terwyl hulle besig was om te bid. Jesus treur hieroor en sy kerk behoort hierdie mense te omarm en saam te treur’, is verregaande! Jesus Christus treur eerder oor valse uitsprake soos hierdie!”
In nog ‘n plasing op Facebook, sê Hans Steyn: “Die dominee moet van sy amp ontneem word en geskors word vir die skokkende uitlating — Moslems is mense en verdien simpatie maar hulle bly heidene.”
Sowel die Anglikaanse Kerk van Suid-Afrika as die Joodse Raad van Afgevaardigdes het vóór 1994 terreuraanvalle op onskuldige burgerlikes in Suid-Afrika ondersteun of goedgepraat. ‘n Moslem, Aboobaker Ismail, het ‘n sleutelrol gespeel om die Kerkstraatbom van 20 Mei 1983 te laat ontplof.

Toe Engels in 1832 in die Kaapkolonie die enigste taal van die geregshowe word, het baie regsgeleerdes wat net onderrig en ervaring in Nederlands gehad het, daardeur hul verdienste verloor. Baie het feitlik bedelaars geword. Party nuwe maatreëls het die burgers groot moeite gegee. Op 25 Januarie 1825 is bepaal dat alle dokumente aan die regering in Engels opgestel moes wees of ‘n Engelse vertaling moes by hê, anders sou hulle teruggestuur word aan die afsender. Aangesien die burgers nie self die dokumente kon vertaal nie en daar ook nie vertalers op die platteland was nie, moes hulle maar leer om sonder die regering klaar te kom.
‘n Aardbewing het die aand van 4 Desember 1809 ‘n groot indruk op die mense van Kaapstad en omstreke gemaak. ‘n Skrikwekkende gerammel is plotseling gehoor “asof ‘n honderdtal waens in volle galop die straat opgery, of liewer, met die snelheid van die bliksem daaroor gevlieg het”, het ‘n ooggetuie gesê.