Die Afrika Unie het ‘n beroep gedoen dat die ebola-epidemie in wes-Afrika bekamp word sonder om die slagoffers óf lande te isoleer en te stigmatiseer, het RSG berig.
Elf bestuurslede van firmas wat in die hulpbronsektor in Wes-Afrika werk, het ook in ‘n gesamentlike verklaring gevra dat die reisverbod na die streek opgehef moet word omdat dit slegs die humanitêre krisis laat vererger.
Suid-Afrika het onder andere reisbeperkings ingestel op buitelanders uit Guinee, Liberië en Sierra Leone.
Die sakelui sê dat die lande se ekonomieë sonder die ondersteuning van die internasionale gemeenskap, groot skade sal ly.
Brittanje het intussen planne bekend gemaak om binnekort ‘n behandelingsentrum in Sierra Leone naby Freetown te bou.
Die voorsitter van die Afrika Unie, Dr Nkosazana Dlamini-Zuma sê “landbou het die potensiaal om armoede en hongersnood binne die bestek van een geslag uit te wis”.
Die beraad fokus glo op landbou en voedselsekerheid in Afrika. Die vasteland, met die uitsondering van Suid-Afrika, het ‘n haglike geskiedenis van beide.
Dié versekering kom nadat die ANC wetgewing voorgestel het wat kommersiële landbou in Suid-Afrika sal vernietig, die banke negatief sal raak en tans die land se voedselsekerheid bedreig.
Dlamini-Zuma sê dit kan bydra tot die industrialisasie van die vasteland.
President Jacob Zuma, haar gewese man, sal die beraad bywoon en lei ‘n afvaardiging van vier kabinetsministers.
Sy het ‘n vergadering van buitelandse sake-ministers toegespreek voor die AU beraad wat Woensdag in Malabo in Ekwatoriaal Guinee begin.
Die DA het intussen voorgestel dat die Wes-Kaap ‘n eie grondhervormingsprogram loods om die gedagte van grondgryp in daardie provinsie lewendig te hou.
Die DA het die ANC-regering daarvan beskuldig dat sy grondhervormingsplanne misluk het en hulle nie in staat is om dit sinvol verder te voer nie.
Dit is nie seker hoekom grondhervorming hoegenaamd “sinvol” kan wees nie, aangesien dit alle eiendomstransaksies uiteindelik raak.
‘n DA-woordvoerder oor grondhervorming, Thomas Walters het tydens ‘n mediakonferensie vroeër voorgestel dat die DA sy eie loodsprojek in die Wes-Kaap begin.
Dit volg na ‘n beleidsvoorstel van die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Gugile Nkwinti, dat boere 50 persent van hulle grond aan werkers moet afstaan.
President Jacob Zuma het die Afrika-Unie versoek om maatreëls wat daarop gemik is om vrede en bestendigheid op die vasteland te verseker, te laat geld.
Deel van die vermoëns wat die AU nodig het, is volgens die president die totstandkoming van die Afrika Bystandsmag.
Die Mag, waaroor daar voorheen ooreengekom is, sal doelgemaak vir snel-ontplooiing in krisisgebiede wees.
In Mei het Reuters berig dat kritiek geopper is oor Afrika se traagheid om sy eie vredesoperasies uit te voer, en dat swart regerings eerder wag op hulp en befondsing van die VN en Westerse skenkers.
Zuma het in ‘n verklaring sy kommer gelug oor die bedrywighede van gewapende rebelle in verskeie dele van Afrika.
Hy het ook die ontvoering van die meer as 270 skoolmeisies van Nigerië deur die terreurgroep Boko Haram, en die onlangse moord op burgerlikes in Kenia skerp veroordeel.
Zuma sê Suid-Afrika sien daarna uit om by die volgende vergadering van die Afrika-Unie se Vredes-en Veiligheidsraad, die veiligheidstoestand op die vasteland onder die loep te neem.
Grace en een van die Britse Bantoestanleier van Swaziland se vele vroue kuier saam
Die Zimbabwiese regering eis dat ‘n visum aan president Robert Mugabe se vrou, Grace, toegestaan word om na België te reis.
Zimbabwe dreig om aanstaande week se beraad in Brussel tussen die Europese Unie en die Afrika Unie te boikot indien ‘n visum nie aan die president se vrou uitgereik word om hom te vergesel nie.
Alhoewel die EU verlede maand die meeste van die sanksies teen Zimbabwe opgehef het, is dié teen Mugabe behou.
Die presidentsegpaar het voorheen ook albei onder ‘n reisverbod verkeer wat in 2002 deur die EU ingestel is.
Die reisverbod het gevolg ná klopjagte op MDC-opposisielede en die onwettige afsetting van wit boere van hul eiendom af.
Die EU het die visumverbod op Mugabe opgehef nadat hy as onder-voorsitter van die Afrika Unie verkies is.
Daar was vroeër vanjaar rekordgetalle betogers vergader teen die jaarlikse sekuriteitskonferensie in München, Duitsland, en dit was nie per toeval nie.
Duitse deelnemers aan die konferensie het vir ‘n meer gespierde (lees: aggressiewe) buitelandse beleid gevra, en daar het stemme opgeklink ten gunste van die uitbreiding van die rol van die Bundeswehr in NAVO wat in die naam “vredessendings in die buiteland” diens doen.
Byna 5000 Duitse militêre personeel neem tans deel in nege internasionale konflikteaters, insluitend meer as 3135 in Afghanistan en 784 in Kosovo.
Die dag voor die konferensie afgeskop het, het Angela Merkel in ‘n gesprek met die Verenigde Nasies se Sekretaris-generaal, Ban Ki-moon, die noodsaaklikheid beklemtoon om Duitsland se bydrae in krisisbestuur te verhoog.
Terwyl die kanselier die hele reeks aktiwiteite geskets het, het Duitsland se federale president Joachim Gauck net die militêre aspekte benadruk.
Die voormalige Protestantse predikant het ‘n langasempreek afgesteek vir uitgebreide militêre betrokkenheid, en te velde getrek teen… pasifiste.
Volgens Gauck gebruik pasifiste die historiese skuld van die Duitsers om teen deelname in buitelandse konfliksituasies te protesteer. Hy bedoel natuurlik diegene wat artikel 26 van die Duitse Grondwet te letterlik opneem. Luidens artikel 26 mag die land geen militêre bedreiging inhou nie.
Duitsers is vandag demokrate met ‘n skoon gewete en ‘n vlekkelose geskiedenis as mens na Gauck luister. Maar die voormalige kommuniste het nie dieselfde voorreg nie. Hulle moet die verlede onthou, selfs al is hulle vandag demokraties.
Joachim Gauck was een van die eerstes wat inderhaas die Praag-verklaring oor Europese Gewete en Kommunisme (2008) en die Verklaring oor Misdade van die Kommunisme (2010 ) onderteken het.
Daarvolgens moet kommunisme voor ‘n spesiale internasionale tribunaal soos die Nuremberg-verhoor van 1945 gedaag word, asof die Oos-Duitsers nie lustig saamgewerk het daarmee nie. Hy verdoem ten minste ‘n groot deel van sy eie landgenote.
Selfs die geskiedkundiges wat kommunisme en fascisme vergelyk, kritiseer Gauck se geheueverlies oor sy eie tragiese biografie: Sy pa was self in ‘n Britse tronk.
Die president van Duitsland dink sy eenogige verwysing na die geskiedenis is ‘n verskoning wat toelaat dat die Duitsers vandag gemaklik agter die rug van heldhaftige bondgenote kan wegkruip.
Hy meen dit is niks anders as morele verdorwenheid dat die Verenigde State van Amerika alleen “vrede” moet handhaaf nie. Gauck glo dat Duitsland en sy bondgenote meer verantwoordelikheid moet neem.
Kenners weet egter goed waar die huidige idee van Duitsland se verantwoordelikheid vandaan kom. In September 2013 het die Duitse Instituut vir Internasionale en Sekuriteitsaangeleenthede van die Stiftung Wissenschaft und Politik (SWP) en die Duitse Marshall Fonds van die Verenigde State ‘n verslag getiteld New Power, New Responsibility, elements of a German Foreign and Security Policy for a Changing World, die lig laat sien.
Die belangrikste gevolgtrekking van die studie is dat Duitsland se invloed in Europa behoort te groei saam met sy verantwoordelikheid teenoor die Verenigde State van Amerika. President Joachim Gauck is duidelik besig om die eenduidige rigting daarvan aan te dui.
Hy is van mening dat die beginsels van staatsoewereiniteit en nie-inmenging nie van toepassing is op regimes wat geweld gebruik nie. Dit is net nog ‘n poging om die beginsel van nie-inmenging te vervang soos in die Verenigde Nasies se Handves vervat.
Duitsers is veral geïnteresseerd in die wetlike aspek want hulle is bekend daarvoor dat hulle groot respek het vir alles wat op skrif gestel word. Horst Köhler, die voorloper van Gauck, het al in sy tyd al probeer toesien dat die beginsel van nie-inmenging hersien word.
Voor die studente van die Universiteit van Tübingen in 2004, het hy die Konstitutiewe Wet van die Afrika-Unie as … ‘n voorbeeld van ‘n dokument gebruik wat beskerming bied aan demokratiese waardes. Trouens, die Wet beoog die reg van ingryping in ‘n lidstaat in die geval van oorlogsmisdade, volksmoord, misdade teen die mensdom ( artikel 2 , item h)
Die Duitsers glo dus dat hulle ook moet ingryp in Afrika, behalwe natuurlik as dit oor plaasmoorde gaan waar wittes doodgemaak word. As dit by die plundery in die DRK kom, is hulle al te gewillig om teenwoordig te wees, want daar hoef hulle nie wittes te ondersteun nie.
Ander Europeërs het ook intussen besmet geraak deur die militaristiese ingrypingsvirus. Oostenryk en die Tsjeggiese Republiek het blykbaar besluit om die resultate van 1938 se München-konferensie te hersien en te erken dat Hitler eintlik deur demokratiese idees aangevuur is ter beskerming van die Duitse bevolking teen etniese diskriminasie.
Die voormalige president Thabo Mbeki is op ‘n besoek aan die Verenigde State van Amerika om kundigheid te werf vir die Afrika-Unie se paneel op Onwettige Finansiële Vloei.
Mbeki is die voorsitter van die paneel wat gestig is na ‘n besluit van die AU se ministers van Finansies, Beplanning en Ekonomiese Ontwikkeling in 2011.
Die paneel se missie is onder meer om aanbevelings te maak oor hoe om die onwettige uitvloei van multi- miljarde jaarliks uit die vasteland te stuit.
Tussen 1980 en 2009 het Afrika glo ‘n verbysterende $1,2 triljoen dollar van die kontinent se rykdom verloor.
Mbeki het by die Verenigde Nasies in New York gesê die onwettige uitvloei van kapitaal uit Afrika kos die vasteland jaarliks sowat 600 miljard rand.
Hy sal ook vergader met die Wêreldbank, die Internasionale Monetêre Fonds en die Amerikaanse departement van buitelandse sake.
Die kapitaaluitvloei is die gevolg van foutiewe handels-fakturering, belastingontduiking en terreur-finansiering.
Die geld vloei na ontwikkelde lande en belastingparadyse.
Die VN se adjunk sekretaris-generaal, Jan Eliasson, het aangedui dat ‘n oplossing van die uiterste belang sal wees vir Afrika om sy Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte te haal.
Suid-Afrika en die Kongo-Brazzaville sê die tyd het aangebreek vir Afrika-leiers om oplossings vir Afrika- probleme te vind.
Afrika-leiers berei voor om volgende maand se Veiligheidskonferensie oor Afrika in Frankryk by te woon.
President Jacob Zuma het ‘n vergadering met sy eweknie van die Republiek van die Kongo Denis Sassou Nguesso Saterdag in Pretoria gehou. Die Kongo is die DRK se buurland en tuiste van stamme wat ook in die DRK woon.
Zuma sê wat hulle nodig het is om eenheid te wys in die soeke na oplossings vir die vasteland se probleme.
“Die tyd het aangebreek dat ons moet werk aan oplossings vir Afrika se probleme. In plaas daarvan dat mense ons te vertel wat om te doen, moet mense ons ondersteun as sê wat ons gaan doen.”
Sassou – Nguesso se sê Afrika-leiers moet ondersteuning van buite kry.
“Op die kollektiewe kwessies, veiligheid en vrede, stem al die Afrika-leiers saam. In die SAR is ons besig met optredes en ons wag vir die ondersteuning van ons vennote. Ons hoop die Afrika-Unie (AU) sal die voortou neem en sal later bygestaan word deur die Verenigde Nasies (VN ),” sê Sassou – Nguesso .
Die Veiligheidskonferensie oor Afrika sal onder andere die verslegtende situasie in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR ) bespreek.
Afrika-leiers sê die voorgestelde Afrika-Unie se Noodreaksiespan sal nie die werk en die mandaat van die Verenigde Nasies oorneem nie.
Dié verklaring volg ná die beraad oor Afrika se vermoë tot onmiddelike reaksie op krisisse, wat in Pretoria gehou is.
Die beraad, wat deur verskeie Afrika-staatshoofde en hul ministers van verdediging bygewoon is, was daarop gerig om maatreëls te bespreek oor hoe om vinnig te reageer op konflikte en gewapende groepe wat die veiligheid en sekerheid van ledestate bedreig.
President Jacob Zuma sê die span sal nou met die VN saamwerk.
Tedros Adhanom steur hom nie aan menseregtegroepe nie
Die Afrika-unie het bewerings verwerp dat sy versoek om ‘n tersydestelling van die verhoor van die Keniaanse president en sy adjunk, ‘n kultuur van menseregte-vergrype sal bevorder.
President Uhuru Kenyatta en William Rutto is in die Strafhof aangekla dat hulle die baasbreine was agter die geweld wat na die verkiesing in 2007 uitgebreek het en waarin meer as duisend mense dood en 600 000 ontwortel is.
Die Ethiopiese Minister van Buitelandse Sake, Tedros Adhanom sê hulle is ongeërg deur die kritiek van menseregtegroepe.
Hy sê geen druk van buite is nodig om hulle aan te moedig om strafloosheid uit te wis nie, aangesien al die Afrika-lande daaraan glo.
Die Afrika-Unie leiers het intussen President Kenyatta aangeraai om nie sy verhoor by te woon nie, indien die Internasionale Strafhof die versoek dat dit laat vaar word, van die hand wys. – RSG
Die meeste ontleders glo Zimbabwe se president, Robert Mugabe het ‘n beter kans as die opposisieleier, Morgan Tsvangirai om die verkiesing te wen.
Mugabe se voorsprong is te wyte aan sy beheer oor die media, kuberruim, veiligheidsmagte en verkiesingslogistiek. Mugabe het alle Westerse waarnemers verbied om toesig te hou oor die verkiesing. Hy het Britse en Amerikaanse regerings beskuldig van ‘n anti-swart agenda.
Waarnemers van die Afrika Unie en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap het die verkiesing intussen as vry en regverdig gaan verklaar. Ontleders meen die AU en SAOG is so desperaat vir ‘n geloofwaardige uitslag in die verkiesing dat hulle sommige probleme sal miskyk, solank daar nie openlike geweld plaasvind nie.
Die Afrika Unie sê aanvanklike bevindings rakende die verkiesing in Zimbabwe is dat dit vreedsaam en vlot verloop het. Die leier van die AU-waarnemerspan en voormalige president van Nigerië – Olusegun Obasanjo – sê daar is geen rede waarom die verkiesing nie as geloofwaardig beskou kan word nie.
Kiesers het gister in groot getalle by stembusse regdeur die land opgedaag om hul kruisies te trek.
Die MDC in Zimbabwe het egter ‘n lang lys van ongerymdhede opgestel in dié land se parlementêre en presidentsverkiesing.
Die party beweer dat twee miljoen stembriewe met dieselfde strepieskodes as bestaande stembriewe gedruk is. Die party sê ook dat groot getalle kiesers weggewys word weens die chaotiese kieserslys.
Die MDC beweer dat vervalste registrasiekaarte gedruk is, dat stempunte in verkeerde wyke is en dat kiesers in plattelandse gebiede geïntimideer word. Die sekretaris-generaal van die MDC, Tendai Biti sê die party het Woensdag steeds nie toegang tot die jongste kieserslys gehad nie.
President Robert Mugabe sê die verkiesing in sy land is om vir vryheid en regverdigheid te stem. Mugabe het sy kruisie in Harare getrek, en dit duidelik gemaak dat hy vir homself gestem het.
Vroeër het die polisie in Zimbabwe bevestig dat hulle die diefstal van kieserslyste in die Midlands-provinsie ondersoek. ‘n Polisiewoordvoerder, Charity Charamba wou nie meer inligting gee oor die ondersoek nie, maar het gesê dat verdagtes binnekort in hegtenis geneem sal word.
Die MDC beweer dat Zanu PF besig is met ‘n verbete kuberstryd wat toegang tot kommunikasie platforms soos Whatsapp en SMS-boodskappe beperk.
Die Zimbabwiese Verkiesingskommissie het die verkiesing as vry en regverdig bestempel. Die voorsitter van die kommissie, Justice Rita Makarau het onderneem om berigte van ongerymdhede te ondersoek.
Die Zimbabwiese polisie het mense opnuut gewaarsku wat probeer om voortydig uitslae oor die verkiesing uit te lek, dat hulle in hegtenis geneem sal word.
‘n Woordvoerder vir die polisie, Charity Charamba sê enigeen wat die uitslae vooruitloop, voordat dit amptelik deur die Zimbabwiese Verkiesingskommissie aangekondig word, loop die risiko om in hegtenis geneem te word, en dit sluit in die bekendmaking via die internet of sms-boodskappe.
Die waarskuwing bemoeilik nou planne deur sommige burgerregte-groepe wat die uitslae so gou moontlik bekend wil maak.
Mugabe het vroeër gesê dat hy dit sal aanvaar indien hy verloor. – RSG
Minstens 20 000 plaaslike en buitelandse verkiesingswaarnemers sal vandag in verskeie gebiede in Zimbabwe ontplooi word in aanloop tot Woensdag se verkiesing.
Die land het meer as ses-komma-vier-miljoen geregistreerde kiesers, wat na verwagting hul kruisies sal trek om die beleërde koalisieregering te beëndig.
Die akkreditasieproses in Harare het deurgeloop onder logistieke probleme met duisende plaaslike waarnemers wat die naweek by akkreditasiesentrums opgedaag het.
Dit laat kommer ontstaan dat sommige nie betyds vir die verkiesing ontplooi sal kan word nie.
Die Zimbabwiese Verkiesingsondersteuningsnetwerk het die grootste groep waarnemers van meer as seweduisend. Die nasionale direkteur van die organisasie, Rindai Chipfunde Vava, het die Zimbabwiese verkiesingskommissie die skuld gegee vir die chaos.
Hy sê die organisasie moet nou bykomende dae meer betaal vir vervoer en akkommodasie vir hul waarnemers.
Die hoof van die Afrika Ontwikkelingsbank, Donald Kaberuka het sy hoop uitgespreek dat die komende verkiesing deur die kiesers en buurlande as geloofwaardig beskou sal word.
Die voormalige Rwandese Minister van Finansies sê Zimbabwe kan dit nie bekostig om nog ‘n tydperk van chaos en onsekerheid deur te maak nie. Kaberuka sê ‘n geloofwaardige verkiesing sal sakevertroue en beleggings aanhelp.
Dit sal Zimbabwe ook in aanmerking laat kom vir skuldverligting deur internasionale finansiële instellings soos die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank.
Die voorsitter van die Afrika-unie kommissie, Nkosazana Dlamini-Zuma sê hulle is tevrede met Zimbabwe se voorbereidings vir die verkiesing op 31 Julie. Dlamini-Zuma het met Zimbabwe se kieskommissie en politieke partye vergader.
Die AU het ‘n span van 60 mense na Zimbabwe ontplooi om die verkiesing waar te neem. Die polisie in Zimbabwe het egter vroeër bevestig dat die MDC se verkiesings-organiseerder in hegtenis geneem is.
Dit volg nadat hy aangemeld het dat hy gemerkte stembriewe in ‘n asblik gekry het na vroeë stemmery.
Dlamini-Zuma sê die enigste kwessies wat by haar geopper is, is operasionale en logistieke bekommernisse.
Die organisasie Human Rights Watch betwyfel egter of die verkiesing geloofwaardig gaan wees. Die groep se Suid-Afrikaans direkteur, Tiseke Kasambala sê hulle is bekommerd oor die hoogs partydige aard van veiligheidsmagte in Zimbabwe en hulle vermoë om kiesers te intimideer.
Kasambala sê daar is al ‘n aantal voorbeelde van opruiende uitsprake deur die hoofde van veiligheidsmagte in die aanloop tot die verkiesing.
President Zuma is as bemiddellaar in die verkiesing aangewys.
Adjunkpresident Kgalema Motlanthe sê Suid-Afrika is vasbeslote dat aanstaande week se verkiesing in Zimbabwe ‘n regverdige weerspieëling van die wense van dié land se mense sal wees.
Duisende vlugtelinge het na Suid-Afrika gevlug na die geweld in die 2008-verkiesing wat ‘n duur humanitêre krisis vir die land geskep het. Sedert die eenheidsregering op die been gebring is, het die ekonomie begin herstel.
Voorbereidings vir die verkiesing het tot dusver nie glad verloop nie, terwyl die MDC beweer dat Zanu PF probeer om dit vir kiesers moeilik maak om te registreer.
Motlanthe het in ‘n onderhoud met Reuters gesê politieke bestendigheid is ‘n voorvereiste vir ekonomiese ontwikkeling en Suid-Afrika het ‘n gevestigde belang om te verseker dat daar vrede en bestendigheid in Zimbabwe is. – RSG
Die VSA se mees senior diplomaat in Afrika is ’n “idioot” sê Mugabe.
Johnnie Carson is pas as Amerikaanse onderminister van buitelandse sake belas met Afrika aangestel. Volgens Carson het Mugabe Zimbabwe “verwoes”. Carson en Mugabe het verlede week tydens die Afrika-Unie (AU) se leiersberaad in Sirte, Libië, bladgeskud.
Die staatsbeheerde ZBC het die ontmoeting as ’n “belangrike stap” vir verbeterde verhoudings met die internasionale gemeenskap beskryf, maar diplomate in Harare het aan Sapa-dpa gesê Mugabe het uit die vergadering gestorm.
Volgens die Herald was Mugabe woedend oor Carson se “patroniserende houding”.
Carson is ’n “klein outjie wat dink hy kan vir ons voorskryf wat om te doen,” het Mugabe na berig word gesê. “Ek hoop nie hy praat namens Obama nie. ’n Mens sal nie met ’n idioot van daardie aard praat nie. Ek was baie kwaad vir hom.”
Mugabe het Jendayi Frazer, Carson se voorganger, vroeër ’n “prostituut” genoem en verlede week gesê Irene Khan van Amnestie Internasionaal is “getoor”.