Die bemiddelaar van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, adjunkpresident Cyril Ramaphosa, moet ‘n nuwe politieke storm in Lesotho ontlont voordat die parlement weer byeenkom.
Ramaphosa woon vandag die heropening van die land se parlement by, het RSG berig.
Lesotho se adjunk eerste minister, Mothetjoa Metsing sê sy party, die LCD, aanvaar nie die eerste minister, Tom Thabane se besluit om die minister van kommunikaise, Selibe Mochoboroane af te dank nie.
Die saak is na Ramaphosa verwys. Politieke partye het ingestem om die Parlement te heropen sodat ‘n verkiesing in Februarie aanstaande jaar gehou kan word.
Daar is egter steeds vrese dat ‘n mosie van wantroue in Thabane ingedien kan word.
Veiligheidsmaatreëls by die parlement is verskerp.
Die opening word om half elf vanoggend deur koning Letsie die derde waargeneem.
‘n Buitengewone beraad van die sogenaamde dubbele troika van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), met sowel die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK) as Tanzanië teenwoordig, is verlede week in Pretoria gehou om die voortslepende krisisse in die twee lande te bespreek.
Die beraad is deur Suid-Afrika se president Jacob Zuma, gelei wat ook die voorsitter van die SAOG-komitee vir politiek, verdediging en sekuriteit is.
Leiers van die koalisie-regering in Lesotho is gemaan om by hul verbintenisse tot die herstel van grondwetlike normaliteit in die koninkryk te bly.
Daar is ook besluit om die algemene verkiesings in Lesotho wat vir 2017 beplan is, te vervroeg.
Die leiers van die koalisie-regering is aangemoedig om saam te werk ten einde die Windhoek- en Pretoria-verklarings as ’n saak van dringendheid te implementeer.
Dit sluit onder meer die terugroep en herstel van die parlement in, wat vroeër eensydig deur die eerste minister opgeskort is.
Die land se leiers is ook aangemoedig om so gou as moontlik op die datums vir ’n nuwe verkiesing ooreen te kom.
Suid-Afrika se adjunk-president, Cyril Ramaphosa, met die steun van ’n span deskundiges uit troika-lidlande, is die opdrag gegee om as SAOG-fasiliteerder die kwessie in Lesotho te beredder, ten einde politieke stabiliteit en veiligheid in die kort en lang termyn te herstel.
Die noodsaaklikheid om die volle SAOG politieke, verdediging- en veiligheidwaarnemersendings vir ’n tydperk van drie maande in Lesotho te ontplooi, is ook benadruk.
Ná die drie maande sal die veiligheidsituasie in die land en die politieke stabiliteit deur die lidlande van die troika hersien word.
Wat betref die DRK, is die internasionale gemeenskap versoek om druk uit te oefen op maatskappye wat handel dryf in onwettige, gemynde minerale uit die DRK en onmiddellik ’n einde hieraan te maak. Lande wat as deurgang- roetes vir die onwettig gemynde minerale dien, is versoek om hul verbintenis tot die raamwerk vir vrede, veiligheid en samewerking in die DRK en Groot Mere-streek te eerbiedig en gestand te doen.
SAOG het sy posisie herbevestig ten opsigte van die rol van agentskappe van die Verenigde Nasies om logistieke steun en veiligheid te bied aan gewapende magte wat vrywillig hul wapens neergelê het en in die Kisangani-deurgangskamp gehuisves word.
’n Senior afvaardiging, bestaande uit amptenare van die troika, sal ook eersdaags die DRK besoek om met die leierskap van die FDLR-rebellegroep in gesprek te tree.
Die rebelle sal gewys word op die onafwendbaarheid van militêre optrede teen hulle, indien hulle nie by vorige ooreenkomste hou en vrywillig ontwapen nie.
Die internasionale gemeenskap en die Verenigde Nasies en sy agentskappe is versoek om bystand te verleen met die hervestiging van FDLR-lede wat vrywillig hul wapens neergelê het, maar nie bereid is of toegelaat sal word om na Rwanda te repatrieer nie.
Die buitengewone vergadering is ook bygewoon deur pres. Robert Mugabe van Zimbabwe, lt.genl. Seretse Khama Ian Khama, die president van Botswana, premier Thomas Thabane van Lesotho, visepresident Saulos Chilima van Malawi, min. Raymond Tshibanda van die DRK en min. Bernard Membe van Tanzanië.
‘n Afvaardiging van die Suider Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap is in Lesotho om met die regering, die polisiekommissaris en die bevelvoerder van die weermag te vergader.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ( SANW) is na berig word gereed om die Lesotho Weermag ( LDF ) te ondersteun.
Volgens inligting van bronne by Interpol in Lesotho, was die SANW reeds in Februarie naby die land se grens by Wepener ontplooi om “enige verdagte Lesotho militêre verwikkelinge te monitor”.
Die SANW-ontplooiing volg nadat ‘n skynbaar beplande onrus georkestreer is deur elemente in die Lesotho weermag.
Die Suid-Afrikaanse weermag het intussen intelligensie ingesamel.
‘n Opstand binne Lesotho se weermag sal “verpletter word omdat die plaaslike blok SAOG ( Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap ) nie enige omverwerping van ‘n vreedsame verkose regering sal duld nie” het bronne gesê.
Die Lesotho Mounted Police Service het bevestig dat swaar gewapende Lesotho militêre lede langs die land se grense ontplooi is.
Dit volg na spanning tussen die weermag en polisie.
Die afvaardiging bestaan uit die ministers van Buitelandse Sake van Namibië en Tanzanië en die uitvoerende sekrekraris van die SAOG, Dr Stergomena Lawrence Tax.
Die SAOG sal ook met Koning Letsie III, die eerste minister Tom Thabane, koalisie-partyleiers, die hoofregter en godsdiensleiers vergader.
Wat veronderstel was om die hoogtepunt van ’n militêre oefening tussen agt lande in Suider-Afrika te wees, het Sondagoggend in ’n tragedie op die kus suid van Pelikaanpunt in Namibië geëindig.
Minstens twee soldate van die spesiale magte van Suid-Afrika en Malawi het gesterf, verskeie word vermis en talle is beseer in ’n fratsongeluk in ‘n stormagtige see aan die Namibiese kus.
Sedert vroeg Sondagoggend is die jongste verwikkelinge in die strategiese militêre oefening van die weermagte van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) in die grootste geheimhouding gedompel nadat twee vlootvaartuie van die Suid-Afrikaanse spesiale magte net suid van Paaltjies vergaan het.
Sowat 600 soldate van die weermagte van Namibië, Suid-Afrika, Angola, Malawi, Zambië, Botswana, Zimbabwe en Lesotho is tans op Walvisbaai saamgetrek vir die eerste militêre oefening van sy soort in die substreek.
Die maneuvers en opleiding het van 9 tot 29 September plaasgevind en vanoggend sou die laaste fase van die projek ten einde loop. Dit het ’n taktiese aanval in woestynoorlogvoering behels waarby alle weermagelemente betrokke sou wees vanaf die vloot, die leër en die lugmag tot die geneeskundige dienste.
Presies wat gisteroggend gebeur het, bly steeds ’n geheim van die manne en vroue in uniform, maar dit was beslis die laagtepunt van ’n beplande elite-aanval op ’n denkbeeldige “vyand” suid van Walvisbaai.
Republikein was self op die toneel sowat agt kilometer suid van Paaltjies en die feite is dat die twee Barracuda landingsvaartuie van die Suid-Afrikaanse vloot op onverklaarbare wyse omgeslaan het nog voordat die branders en die kuslyn bereik kon word. Hierdie vaartuie wat spesiaal ontwerp is op die basis van ’n rubberboot om spesiale magte vanaf duikbote en groter vlootvaartuie vir aanvalle op land te ontplooi, word as “onsinkbaar” beskou.
Volgens eerstehandse inligting was die weermagspesialiste veronderstel om ’n eerstelig-aanval op die teikenbasis uit te voer en is verskeie Barracudas as landingsvaartuie ingespan.
Twee van die bote met hul bemanning en die aanvalsmag het egter op see verdwyn. Eers nadat die twee groepe nie by die teiken opgedaag het nie, is onraad vermoed en ’n reusagtige soek- en reddingsveldtog op land en see van stapel gestuur.
Eers ná 11:00 is die wrakke van die twee vaartuie opgespoor omdat vermoed is dat die ongeluk tussen Paaltjies en Pelikaanpunt plaasgevind het.
Die twee vaartuie was egter tien kilometer van die teiken af.
In een weergawe word vertel dat die militêre kontingent van een van Namibië se buurlande per ongeluk een van die bote met vlootgrofgeskut raakgeskiet het en dat die ander boot hulle te hulp gesnel het.
Die ander weergawe is dat die bote op see verdwaal het en nie rekening gehou het met die deinings en golwe van tot drie meter nie. Nadat die eerste boot omgeslaan het, het die ander ’n reddingspoging probeer uitvoer, maar het self in die moeilikheid beland.
NamPort en die waarnemende kaptein van Walvisbaai se hawe kon gister geen lig op die werklike omstandighede en voorval werp nie en die direktoraat van maritieme sake op Walvisbaai het alle navrae na die vloot verwys.
Die vloothoofkwartier op Walvisbaai het op sy beurt alle navrae na die weermaghoofkwartier in Windhoek verwys.
Dit was uiteindelik die polisie in Windhoek wat die voorval bevestig het met ’n kort aankondiging dat twee soldate by Walvisbaai gesterf het.
Geen amptelike verklaring is egter dusver uitgereik oor die presiese aard van die voorval, die vermistes of die beseerdes nie.
Teen 15:00 gister is een van die vaartuie wel uit die water gehaal, maar die tweede boot het nog omgedop agter die branders gelê.
Om 16:00 het ’n helikopter van een van die weermagte die toneel besoek en byna onmiddellik na die Rooikop militêre basis teruggekeer. – Die Republikein
Amerika sal sanksies teen Zimbabwe ophef indien die nuutverkose president, Robert Mugabe, politieke hervormings implementeer. Die naweek het leiers by die SAOG-beraad in Malawi ‘n beroep op die internasionale gemeenskap gedoen om sanksies teen Zimbabwe op te hef.
Die 15 lande in dieSuider-AfrikaanseOntwikkelingsgemeenskap het vir “dieopheffing vanalle vormevan sanksiestot dusveropgelê teen Zimbabwe” gevra. Dit sluit sanksies in teendieveteraan-presidentendie maatskappyeen individue op die swartlys.
“Ek glo datZimbabwebeterverdien, dat Zimbabwiërsgenoeggely het,” het die voorsitter, presidentJoyceBandavanMalawi gesê.
DieSAOGhet ook“diehou van vryeenvreedsame”verkiesings geprys en Mugabeen syZanu-PFparty gelukgewens met huloorweldigendeoorwinningvan 31 Julie.
‘n Verderebewys vanvertroue in Mugabe, was sy aanwysing as die adjunk-voorsittervan die groep endie besluitdat Zimbabwedie volgendeSAOG-spitsberaad sal aanbiedinJulievolgende jaar.
Terwyl SAOG-leiers hul tevredenheid met Mugabe se oorwinning by die stembus te kenne gegee het, het Die Withuis egter verklaar dat hulle sekere voorbehoude koester oor die uitslag.
President Ian Khama van Botswana wat voorheen die verkiesingsuitslag gekritiseer het, het na ‘n ontmoeting met Mugabe verklaar dat hy hom sal neerlê by die SAOG se verklaring oor Zimbabwe.
Die VSA het in Maart 2003 sanksies ingestel teen Mugabe en diegene wat bande met hom het.
Mugabe sal Donderdag ingehuldig word vir sy sewende termyn van vyf jaar.
Die Kabinet het ‘n verklaring uitgereik waarin hulle “die mense van Zimbabwe en politieke partye gelukwens met die suksesvolle, gladde parlementêre en plaaslike verkiesings”.
Pres. Jacob Zuma se rol as die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se fasiliteerder geprys en gesê die rol wat dialoog gespeel het om alle politieke partye te oorreed tot vreedsame verkiesings, was deurslaggewend.
Daar heers eenstemmigheid in die SAOG oor die geloofwaardigheid van die Zimbabwiese verkiesingsuitslag, met die uitsondering van Botswana wat meen die verkiesing was nie vry en regverdig nie.
Botswana is die enigste land in die Gemeenskap wat nie van Suid-Afrika afhanklik is nie, weens die diamantreus De Beers se belange in die land.
Die SAOG vergader Saterdag en Sondag onder meer om die verslag van sy waarnemerspan by die Zimbabwiese verkiesing te oorweeg en ’n besluit oor die aanvaarbaarheid van die verkiesing te neem.
By die inligtingsessie na afloop van die kabinetsvergadering het Phumla Williams, waarnemende kabinetswoordvoerder, en Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, gesê Suid-Afrika het nog nie ’n finale gevolgtrekking oor die verkiesingsuitslag gemaak nie.
Die meeste ontleders glo Zimbabwe se president, Robert Mugabe het ‘n beter kans as die opposisieleier, Morgan Tsvangirai om die verkiesing te wen.
Mugabe se voorsprong is te wyte aan sy beheer oor die media, kuberruim, veiligheidsmagte en verkiesingslogistiek. Mugabe het alle Westerse waarnemers verbied om toesig te hou oor die verkiesing. Hy het Britse en Amerikaanse regerings beskuldig van ‘n anti-swart agenda.
Waarnemers van die Afrika Unie en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap het die verkiesing intussen as vry en regverdig gaan verklaar. Ontleders meen die AU en SAOG is so desperaat vir ‘n geloofwaardige uitslag in die verkiesing dat hulle sommige probleme sal miskyk, solank daar nie openlike geweld plaasvind nie.
Die Afrika Unie sê aanvanklike bevindings rakende die verkiesing in Zimbabwe is dat dit vreedsaam en vlot verloop het. Die leier van die AU-waarnemerspan en voormalige president van Nigerië – Olusegun Obasanjo – sê daar is geen rede waarom die verkiesing nie as geloofwaardig beskou kan word nie.
Kiesers het gister in groot getalle by stembusse regdeur die land opgedaag om hul kruisies te trek.
Die MDC in Zimbabwe het egter ‘n lang lys van ongerymdhede opgestel in dié land se parlementêre en presidentsverkiesing.
Die party beweer dat twee miljoen stembriewe met dieselfde strepieskodes as bestaande stembriewe gedruk is. Die party sê ook dat groot getalle kiesers weggewys word weens die chaotiese kieserslys.
Die MDC beweer dat vervalste registrasiekaarte gedruk is, dat stempunte in verkeerde wyke is en dat kiesers in plattelandse gebiede geïntimideer word. Die sekretaris-generaal van die MDC, Tendai Biti sê die party het Woensdag steeds nie toegang tot die jongste kieserslys gehad nie.
President Robert Mugabe sê die verkiesing in sy land is om vir vryheid en regverdigheid te stem. Mugabe het sy kruisie in Harare getrek, en dit duidelik gemaak dat hy vir homself gestem het.
Vroeër het die polisie in Zimbabwe bevestig dat hulle die diefstal van kieserslyste in die Midlands-provinsie ondersoek. ‘n Polisiewoordvoerder, Charity Charamba wou nie meer inligting gee oor die ondersoek nie, maar het gesê dat verdagtes binnekort in hegtenis geneem sal word.
Die MDC beweer dat Zanu PF besig is met ‘n verbete kuberstryd wat toegang tot kommunikasie platforms soos Whatsapp en SMS-boodskappe beperk.
Die Zimbabwiese Verkiesingskommissie het die verkiesing as vry en regverdig bestempel. Die voorsitter van die kommissie, Justice Rita Makarau het onderneem om berigte van ongerymdhede te ondersoek.
Die Zimbabwiese polisie het mense opnuut gewaarsku wat probeer om voortydig uitslae oor die verkiesing uit te lek, dat hulle in hegtenis geneem sal word.
‘n Woordvoerder vir die polisie, Charity Charamba sê enigeen wat die uitslae vooruitloop, voordat dit amptelik deur die Zimbabwiese Verkiesingskommissie aangekondig word, loop die risiko om in hegtenis geneem te word, en dit sluit in die bekendmaking via die internet of sms-boodskappe.
Die waarskuwing bemoeilik nou planne deur sommige burgerregte-groepe wat die uitslae so gou moontlik bekend wil maak.
Mugabe het vroeër gesê dat hy dit sal aanvaar indien hy verloor. – RSG