Tobruk stem teen Libië se VN-regering

Opponente van Libië se eenheidsregering, wat die ondersteuning van die Verenigde Nasies geniet, het Maandag teen ’n mosie van vertroue in die Tripoli-bewind gestem in ’n rare sessie van die parlement wat in die ooste van die land gevestig is.

Die stemmery is ’n vars terugslag vir die regering van nasionale eenheid, wat vir maande na dié parlement se bekragtiging streef, terwyl dit probeer om invloed en gesag tot buite sy basis in die hoofstad uit te brei.

Die stemmery was die eerste sedert Januarie toe die parlement die aanvanklike lys ministers wat deur die eenheidsregering voorgestel is, verwerp het en die eerste sedert die eenheidsregering in Maart vanjaar aan bewind gekom het.

Parlementêre sessies in Tobruk is herhaaldelik uitgestel of geblokkeer, met teenkanting teen die eenheidsregering wat in die ooste van die land aan die toeneem is.

Ondersteuners van die regering, van wie baie nie Maandag se sitting bygewoon het nie, het voorheen gekla dat opponente met fisieke geweld dreig ten einde te verhoed dat stemmery plaasvind.

Altesaam 161 afgevaardigdes het die sitting bygewoon met 61 wat teen die mosie gestem het, 39 wat buite stemming gebly het en net een wat ten gunste van die mosie gestem het.

Die eenheidsregering is die gevolg van ’n VN-onderhandelde ooreenkoms wat in Desember onder­teken is. Die ooreenkoms was daarop gemik om ’n einde aan konflik te maak, wat opgevlam het toe ’n gewapende alliansie in 2014 beheer oor instansies in Tripoli oorgeneem het en die nuutverkose parlement na die ooste van die land uitgewyk het.

Westerse magte maak op die eenheidsregering staat om Libië se veiligheidsvakuum die hoof te bied, olieproduksie te herstel en die stroom migrante te keer wat die Middellandse See vanuit Libië onder­weg na Europa oorsteek.

Magte lojaal aan die eenheidsregering het byna die hele kusstad Sirte van die Islamitiese Staat-groep (ISIS) herower, maar die regering­ sukkel om elders ’n impak te hê.

Die regering­ se onvermoë om die krisis op te los, kragonderbrekings en ander probleme het bygedra dat die regering wyd steun verloor het.

Die minister van buitelandse sake van die Libiese tussentydse regering in Tobruk het in ‘n verklaring gesê die VN-gesant vir Libië, Martin Kobler (foto bo) moet vervang word met ‘n meer neutrale en doeltreffende figuur.

As Sirte val, is Aleppo dalk volgende djihadistiese vesting

Libiese magte wat lojaal is aan die regering wat deur die Verenigde Nasies ondersteun word, vuur mortiere af op posisies van die Islamitiese Staat-groep (ISIS) in Sirte, Libië.

ISIS het probeer om ‘n basis in Sirte te vestig, maar ‘n Amerikaansondersteunde militêre offensief vanjaar het byna al die lede van die groep uit ISIS se voormalige hoofkwartier verdryf.

Volgens Libiese amptenare is 70 persent van die stad bevry en net ‘n paar honderd van die aanvanklike 6 000 militante is nog in enkele plekke in die stad vasgekeer.

Omdat die djihadiste uit Libië verdryf word, val hulle terug na Sirië.

Die Russe het sedert April gewaarsku dat ‘n groot aanval op Aleppo in Sirië op hande is, terwyl hulle in gesprek getree het met die Obama-administrasie.

Maar die Amerikaanse gewilligheid om Russiese afgevaardigdes te ontmoet was grootliks ‘n misleiding ter ondersteuning en voorbereiding van die aanval.

Die weste van Aleppo is steeds onder beheer van die Siriese regering waar ongeveer 1,5 miljoen mense woon. Oor die afgelope twee weke dreig die stad om in djihadiste se hande te kom.

Groot voorrade van nuwe wapens, ammunisie en intelligensie toon dat ongeveer 10,000 radikale djihadiste, gelei deur Al-Qaeda in Sirië, ‘n aanval op Aleppo beplan en hulle het reeds deurgebreek.

Die dhihadiste se veldtog het ten doel om die hele Aleppo te beset. Indien hulle daarin slaag sal duisende burgerlikes waarskynlik sterf, waaronder talle Christene en ander minderhede.

Die stryd om Aleppo is “een van die mees verwoestende stedelike konflikte in die moderne tyd,” het Peter Maurer, president van die Internasionale Komitee van die Rooi Kruis (ICRC) aan Reuters gesê.

“Niemand is nêrens veilig nie. Kanonvuur is konstant, met huise, skole en hospitale almal in die spervuur. Mense leef in ‘n toestand van vrees. Kinders is getraumatiseer. Die omvang van die lyding is ontsettend,” het Maurer in ‘n verklaring gesê.

Intussen het RT berig dat honderde ISIS-soldate deur die Amerikaanse magte toegelaat is om Manbij in Sirië te verlaat.

ISIS-djihadiste byna uit Sirte verdryf

Magte lojaal aan Libië se eenheidsregering maak vordering binne die djihadiste se vesting, Sirte nadat die eerste Amerikaanse lugaanvalle, posisies van die Islamitiese Staat (ISIS) in die stad geteiken het.

Die soldate het die sentrale distrik, Al-Dollar, ingeneem nadat gevegte die lewens van vyf soldate geëis het. Sewentien ander is gewond.

Die regering in Tripoli het in Mei ‘n operasie van stapel gestuur om Sirte te herower, wat sedert Junie 2015 deur die djihadiste beheer word.

Die val van die kusstad, ongeveer 450 kilometer oos van Tripoli, sal ‘n reuseslag vir ISIS wees, wat ook terugslae in Sirië en Irak beleef.

Maandag het die hoof van die eenheidsregering, Fayez al-Sarraj, pro-regeringsmagte in Misrata, 190 kilometer noordwes van Sirte, besoek.

Meer as 300 lede van die pro-regeringsmag is reeds dood en meer as 1 500 gewond sedert die aanvang van die stryd om die herowering van Sirte.

Die magte bestaan grootliks uit milisies van die weste van Libië, Hulle het in 2011 tot stand gekom tydens die opstand wat die bewind van die diktator, Moeammar Ghaddafi, omvergewerp het.

ISIS teruggedryf in Libië

Magte wat met Libië se eenheidsregering geallieer is, het Woensdag gesê hulle het ‘n teenaanval deur die Islamitiese Staat (ISIS) in die jihadiste se vesting, Sirte afgeweer.

ISIS het Dinsdag wes van die stad posisies van vegters lojaal aan Libië se regering, met tenks, mortiere en sluip­skutter-geweervuur aangeval wat die steun van die Verenigde Nasies (VN) geniet.

Vyf pro-regeringsvegters is in die aanvalle dood en 37 is gewond.

Lojale magte veg sedert die middel van Mei om ISIS uit Sirte, ongeveer 450 km oos van die hoofstad, Tripoli, te verdryf en het daarin geslaag om beheer oor die stad se hawe en lughawe oor te neem.

Hul vordering is egter teen die einde van verlede week verstadig toe hulle die sentrale en noordelike dele van die stad bereik het, waar ISIS in woongebiede geskuil het.

Die operasie om Sirte te herower, het volgens mediese beamptes reeds die lewens van 145 pro-regeringsvegters geëis en 500 is beseer.

Pro-regeringsmagte sê hulle het ook ‘n nuwe front in die ooste van die stad geopen en val nou teikens in die omgewing van die stad se voormalige konferensiesentrum aan, wat nou deur IS as ‘n krygsveld-hoofkantoor gebruik word.

ISIS het het in 2014 na Libië uitgebrei danksy Moeammar Ghaddafi se bewind in 2011 wat deur Hillary Clinton se toedoen geval het.

Libië se eenheidsregering sukkel om die geweldgeteisterde land te verenig en beheer oor die Noord-Afrikaland te kry.

Clinton-simpatiseerders het intussen toegesien dat ISIS steeds wapens kry in Sirië. Indien Hillary die stryd om die Withuis wen, sal die oorlog in die Midde-Ooste waarskynlik baie warmer word.

Voor 17 Februarie 2011, “Dag van woede,” het Libië ‘n nasionale begrotingsoorskot van 8,7 persent van die BBP in 2010 gehad, met olieproduksie op 1,8 miljoen vate per dag, op koers om sy doelwit van 3 miljoen vate per dag te bereik.

Olieproduksie het met meer as 80 persent gedaal intussen. Agv die revolusie, het die Libiese ekonomie met ‘n geskatte 41,8 persent gekrimp.

Dié mislukte beleid het direk bygedra tot die opkoms van ISIS sowel as die vlugtelingkrisis in Europa.

‘Getoor, ‘n prostituut en ‘n idioot’

Die VSA se mees senior diplomaat in Afrika is ’n “idioot” sê Mugabe.

Johnnie Carson is pas as Amerikaanse onderminister van buitelandse sake belas met Afrika aangestel. Volgens Carson het Mugabe Zimbabwe “verwoes”. Carson en Mugabe het verlede week tydens die Afrika-Unie (AU) se leiersberaad in Sirte, Libië, bladgeskud.

Die staatsbeheerde ZBC het die ontmoeting as ’n “belangrike stap” vir verbeterde verhoudings met die internasionale gemeenskap beskryf, maar diplomate in Harare het aan Sapa-dpa gesê Mugabe het uit die vergadering gestorm.

Volgens die Herald was Mugabe woedend oor Carson se “patroniserende houding”.

Carson is ’n “klein outjie wat dink hy kan vir ons voorskryf wat om te doen,” het Mugabe na berig word gesê. “Ek hoop nie hy praat namens Obama nie. ’n Mens sal nie met ’n idioot van daardie aard praat nie. Ek was baie kwaad vir hom.”

Mugabe het Jendayi Frazer, Carson se voorganger, vroeër ’n “prostituut” genoem en verlede week gesê Irene Khan van Amnestie Internasionaal is “getoor”.

Die VSA weerhou steeds direkte geldhulp aan die Zimbabwiese regering.устройстволобановский класс харьков