Die nuus dat ‘n swart regter in die hooggeregshof gelas het dat ‘n verkragter ‘n afkoopboete van R100 000 aan sy slagoffer betaal, demonstreer in welke mate ons hofgeboue steeds in Westerse styl gebou is, maar dat die regstelsel lankal nie meer volgens vertroude Romeins-Hollandse beginsels funksioneer nie. Voor 1994 is sogenaamde naturellereg of “inheemse reg” wel toegepas waar swartes binne stamverband geskille oor lobola, erfreg, huwelike, weidingsreg en ander kwessies moes beslis en die nougesette wyse waarop vorige blanke regerings hierdie reg in stand gehou het, was ‘n toonbeeld van ons verdraagsaamheid teenoor en agting vir Afrikakultuur.
Die punt aangaande inheemse reg is egter dat dit slegs tussen swartmense gegeld het, en elke gerapporteerde saak het ook die vermelding “Zoeloe teen Zoeloe” of “Xhosa teen Pedi”, ens. bevat. Waar stamgebruike verskil het, het voorsittende beamptes op billike wyse sulke gebruike en voorskrifte geïnterpreteer ten einde geregtigheid te laat geskied.
Anders as by godsdiens waar ‘n mate van sinkretisme tussen die Christendom en voorvadergelowe verdra is, het die reg streng tussen die Westerse en Afrikaparadigmas onderskei en is geen vermenging van benaderings of beginsels toegelaat nie.
Wat strafsake soos moord, roof en verkragting betref, was dit daarom ongehoord dat so ‘n saak op die Afrikamanier verhoor sou word. Selfs swartes is in strafsake volgens Westerse beginsels verhoor en gevonnis. In elk geval was geen blanke, kleurling of Indiër onderworpe aan Naturellereg nie, aangesien dit tot ‘n heeltemal ander kultuurverband behoort het.
Die uitspraak van regter Mavundla waarin hy ‘n verkragter van Schweitzer-Reneke ‘n afkoopboete van R100 000 oplê, wat aan die slagoffer betaalbaar is, verteenwoordig juridiese sinkretisme. Polities korrek word dit “herstellende geregtigheid” genoem, ‘n term wat deur ‘n ander boendoehof, die Waarheids- en versoeningskommissie, gewild gemaak is. Maar in wese is dit niks anders as die oeroue Afrikagebruik om alle geskille, ook moord en verkragting, by wyse van afkoopboetes of ruilhandel met beeste te besleg nie.
Suid-Afrika huiwer reeds op die rand van anargie, met die hoogste verkragtingsyfer ter wêreld, asook een van die heel hoogste moordsyfers. Mensehandel en prostitusie, selfs van kinders, is algemeen. Indien bendes of ryk handelaars, soos die verkragter in dié geval, oor die reg beskik om letterlik hul slagoffers of hul gesinne se berusting in onreg “te koop”, waar eindig ons dan? Eeue se regsbeginsels wat ons vanuit Rome en die Europese stelsel oorgeërf en plaaslik ontwikkel het, word hiermee weggesmyt en ons eindig by die boendoehof onder ‘n boom wat onmoontlik die eise van ‘n moderne nywerheidsmaatskappy kan hanteer.
Wat beteken ‘n regsgraad dan indien ‘n strafsaak by wyse van onderhandeling tussen dader en slagoffer of die slagoffers se familie, besleg kan word? Ook moord, wat in die Romeins-Hollandse reg as die ergste misdaad beskou word omdat dit die mens se liggaam en gees op die ergste moontlike manier aantas, verval hiermee en word slegs nog ‘n geringe oortreding waarvan die skade op ‘n veiling deur ‘n afslaer bepaal mag word. En as daar ‘n blote geldelike waarde op menselewens of ons waardigheid geplaas kan word, waarom is mensehandel of slawerny dan verkeerd?
Daar is vele mense in ons land – ook blanke Afrikaners – wat nie meer in staat is om logies te dink en die gevolge van oënskynlik gerieflike besluite tot hul volle logiese uiteinde deur te trek nie. Die verkragte vrou van Schweitzer-Reneke se begeerte na ‘n nuwe Toyota het blykbaar van haar rede en sin vir geregtigheid besit geneem.
Romeins-Hollandse en ander Westerse regsvorme moet met dieselfde drif as die Afrikaanse kultuur verdedig word, anders gaan ons by ‘n situasie eindig waar die geboue waar uitsprake gelewer word as enigste Westerse element van die reg gaan oorbly. Welaf handelaars en skurke met baie geld sal kan maak wat hulle wil en die spreekwoord, “geld wat stom is, maak reg wat krom is”, sal oral geld.
Hoe gouer kulturele selfbeskikking ingestel word en ons verseker kan wees dat elke Afrikaner volgens die beginsels van ons kultuur en regspraak verhoor sal word, hoe beter.
Eie taal, eie hof! moet die slagspreuk wees.