Dan Roodt: Word SA howe nou boendoehowe waar oor beeste gekibbel word?

Die nuus dat ‘n swart regter in die hooggeregshof gelas het dat ‘n verkragter ‘n afkoopboete van R100 000 aan sy slagoffer betaal, demonstreer in welke mate ons hofgeboue steeds in Westerse styl gebou is, maar dat die regstelsel lankal nie meer volgens vertroude Romeins-Hollandse beginsels funksioneer nie. Voor 1994 is sogenaamde naturellereg of “inheemse reg” wel toegepas waar swartes binne stamverband geskille oor lobola, erfreg, huwelike, weidingsreg en ander kwessies moes beslis en die nougesette wyse waarop vorige blanke regerings hierdie reg in stand gehou het, was ‘n toonbeeld van ons verdraagsaamheid teenoor en agting vir Afrikakultuur.

Die punt aangaande inheemse reg is egter dat dit slegs tussen swartmense gegeld het, en elke gerapporteerde saak het ook die vermelding “Zoeloe teen Zoeloe” of “Xhosa teen Pedi”, ens. bevat. Waar stamgebruike verskil het, het voorsittende beamptes op billike wyse sulke gebruike en voorskrifte geïnterpreteer ten einde geregtigheid te laat geskied.

Anders as by godsdiens waar ‘n mate van sinkretisme tussen die Christendom en voorvadergelowe verdra is, het die reg streng tussen die Westerse en Afrikaparadigmas onderskei en is geen vermenging van benaderings of beginsels toegelaat nie.

Wat strafsake soos moord, roof en verkragting betref, was dit daarom ongehoord dat so ‘n saak op die Afrikamanier verhoor sou word. Selfs swartes is in strafsake volgens Westerse beginsels verhoor en gevonnis. In elk geval was geen blanke, kleurling of Indiër onderworpe aan Naturellereg nie, aangesien dit tot ‘n heeltemal ander kultuurverband behoort het.

Die uitspraak van regter Mavundla waarin hy ‘n verkragter van Schweitzer-Reneke ‘n afkoopboete van R100 000 oplê, wat aan die slagoffer betaalbaar is, verteenwoordig juridiese sinkretisme. Polities korrek word dit “herstellende geregtigheid” genoem, ‘n term wat deur ‘n ander boendoehof, die Waarheids- en versoeningskommissie, gewild gemaak is. Maar in wese is dit niks anders as die oeroue Afrikagebruik om alle geskille, ook moord en verkragting, by wyse van afkoopboetes of ruilhandel met beeste te besleg nie.

Suid-Afrika huiwer reeds op die rand van anargie, met die hoogste verkragtingsyfer ter wêreld, asook een van die heel hoogste moordsyfers. Mensehandel en prostitusie, selfs van kinders, is algemeen. Indien bendes of ryk handelaars, soos die verkragter in dié geval, oor die reg beskik om letterlik hul slagoffers of hul gesinne se berusting in onreg “te koop”, waar eindig ons dan? Eeue se regsbeginsels wat ons vanuit Rome en die Europese stelsel oorgeërf en plaaslik ontwikkel het, word hiermee weggesmyt en ons eindig by die boendoehof onder ‘n boom wat onmoontlik die eise van ‘n moderne nywerheidsmaatskappy kan hanteer.

Wat beteken ‘n regsgraad dan indien ‘n strafsaak by wyse van onderhandeling tussen dader en slagoffer of die slagoffers se familie, besleg kan word? Ook moord, wat in die Romeins-Hollandse reg as die ergste misdaad beskou word omdat dit die mens se liggaam en gees op die ergste moontlike manier aantas, verval hiermee en word slegs nog ‘n geringe oortreding waarvan die skade op ‘n veiling deur ‘n afslaer bepaal mag word. En as daar ‘n blote geldelike waarde op menselewens of ons waardigheid geplaas kan word, waarom is mensehandel of slawerny dan verkeerd?

Daar is vele mense in ons land – ook blanke Afrikaners – wat nie meer in staat is om logies te dink en die gevolge van oënskynlik gerieflike besluite tot hul volle logiese uiteinde deur te trek nie. Die verkragte vrou van Schweitzer-Reneke se begeerte na ‘n nuwe Toyota het blykbaar van haar rede en sin vir geregtigheid besit geneem.

Romeins-Hollandse en ander Westerse regsvorme moet met dieselfde drif as die Afrikaanse kultuur verdedig word, anders gaan ons by ‘n situasie eindig waar die geboue waar uitsprake gelewer word as enigste Westerse element van die reg gaan oorbly. Welaf handelaars en skurke met baie geld sal kan maak wat hulle wil en die spreekwoord, “geld wat stom is, maak reg wat krom is”, sal oral geld.

Hoe gouer kulturele selfbeskikking ingestel word en ons verseker kan wees dat elke Afrikaner volgens die beginsels van ons kultuur en regspraak verhoor sal word, hoe beter.

Eie taal, eie hof! moet die slagspreuk wees.

 

Simpatie vir Spaanse treinslagoffers maar nie vir vermoorde boere

roodt_fbfotodeur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Roodt se Facebook-blad

Vandeesweek het daar ‘n treinramp in Spanje plaasgevind waarin 80 mense omgekom het, een en almal blanke Spanjaarde. Nietemin het “president Jacob Zuma sy meegevoel… met Spanje se eerste minister Mariano Rajoy betuig”.

Sekerlik voel ons almal spyt oor die Spaanse treinramp wat wêreldwyd met skok en afgryse begroet is. Die volgende vraag ontstaan egter: Waarom spreek die Suid-Afrikaanse regering sy meegevoel oor tientalle Spaanse vreemdelinge uit, maar reageer nie wanneer honderde en selfs duisende Afrikanerboere gruwelik vermoor word nie? Immers word daar jaarliks meer boere op plase in Suid-Afrika vermoor as wat daar so pas mense in die treinongeluk naby Santiago de Compostelo die lewe gelaat het.

Ons is geneig om aan die ANC-bewind as gewetenlose terroriste te dink wat nie huiwer om onskuldige burgerlikes dood te maak om hul politieke doelwitte te bereik nie. Dog die verklaring oor die Spaanse treinongeluk toon dat hulle nie heeltemal so gevoelloos teenoor menslike lyding staan nie.

Die ANC-bewind is nie die enigste wat afsydig teenoor plaasmoordslagoffers optree nie. Ook die Suid-Afrikaanse media steur hulle nie daaraan nie. Koos Bekker van Naspers voel ‘n veer vir boere wat vermoor word en sy spul joernalistieke sikofante wat elke dag hul Madiba aanbid, nog minder.

Omdat die Suid-Afrikaanse media plaasmoorde as onbelangrik beskou, redeneer die buitelandse media insgelyks dat Afrikaners wat sterf geen emosie gaande maak nie. ‘n Plaasmoord is nie nuus nie. Soos vele mense al opgemerk het, is die media en ons sogenaamde “regering” meer begaan oor die lot van die renoster as oor dié van die Afrikanerboer. Daar word krokodiltrane gehuil oor elke nuwe renoster wat gestroop word, terwyl slagoffers van plaasmoorde wat doodgemartel word byna geen reaksie ontlok nie. Daar is eerder empatie met die daders, die moordenaars.

Hoe moet ons dié teenstrydigheid verklaar? Is ‘n Afrikanerlewe dan minder werd as dié van ‘n Spaanse treinpassasier of selfs van dié van ‘n renoster? Ek het nog nie gehoor dat die HSM (hoofstroommedia) ‘n onderskeid tussen die wit en die swart renoster tref nie, maas beslis heg hulle minder waarde aan die lewe van ‘n wit as ‘n swart mens.

Toegegee, die handel in bedreigde spesies verteenwoordig miljarde rande en daarom is renosters ook kommoditeite.

Politici is almal mediaslawe want hulle is begaan oor hul openbare aansien, gewildheid, beeld en sogenaamde “handelsmerk”. Terwyl die internasionale media oor Santiago de Compostelo berig, klink dit goed om ‘n verklaring daaroor uit te reik. Of ander buitelandse regerings reik verklarings daaroor uit en daarom voel Jacob Zuma genoop om dieselfde te doen. Waarskynlik het hy nie self die verklaring opgestel nie, maar is dit deur een of ander amptenaar van buitelandse sake gedoen.

Ongelukkig gaan dit dus alles oor die skyn van simpatie met ander. Die ANC, maar ook Naspers, RSG en die ander gedienstige speelgoedhondjies wat hulself koerante en radiostasies noem, trap oor die lyke van ons boere en gee net voor om oor die Spanjaarde begaan te wees.

Suid-Afrika het ‘n amorele land geword waar alles, selfs moord en verkragting, eintlik aanvaarbaar is. Die Romeins-Hollandse reg wat dit verbied, is net nog ‘n oorblyfsel van apartheid wat seker lankal afgeskaf sou gewees het as die regslui – regters, advokate en prokureurs – nie so lekker geld in die howe kon maak nie. Senior advokate verdien blykbaar R40 000 per dag en tot R750 000 per maand. Suiwer om daardie rede word die skyn van ‘n “regstaat” steeds gehandhaaf.

‘n Mens sou hierdie stelsel seker ‘n vorm van uitgebreide prostitusie kon noem, maar daardeur mag die prostitute beledig voel. Want die prostituut lewer nog ‘n diens aan haar of sy kliënt, terwyl die staat feitlik geen diens aan ons lewer nie. Hy vat net jou geld en in ruil daarvoor laat hy sy misdadigers soos ‘n trop wildehonde op jou los.

Alle kommunistiese stelsels in die twintigste eeu het hul bevolkings verontmenslik. Die keersy van marxistiese idealisme oor gelykheid is volksmoord. In die naam van gelykheid is al meer mense doodgemaak as wat daar onder die vaandel van die Katolisisme, die Protestantisme of selfs Islam uitgewis is. En amorele Suid-Afrika beskik oor slegs twee beginsels wat, afgesien van die persoonlikheidskultus rondom Mandela, nog enige gewig dra: gelykheid en “rassisme”. Dis nie om dowe neute dat Tutu se nuwe veldtog “free and equal” heet nie. Volgens die radikale geestelike aanbid hy geen “homofobiese God” nie, maar blykbaar aanbid hy ‘n rassistiese god want oor moorde op blanke boere is hy ook tjoepstil.

Nou die dag het ek in Beeld ‘n artikel oor radikale grondhervorming deur die Britse marxis, prof. Ruth Hall van die Universiteit van Wes-Kaapland, teëgekom wat my nogal geskok het. Ek is nie deur die artikel self geskok nie, want ek verstaan die marxistiese denke en hoe mense soos diere tot gelykheid gekondisioneer moet word. Maar ek het nie besef dat Naspers al so ver heen is dat ‘n koerant soos Beeld as spreekbuis vir onverdunde kommunisme wil optree nie.

Dis die propaganda van Ruth Hall en ander radikales wat ten dele die massaslagting op boere aanhits. Sy is die wit gesig van Malema se jongste oproep om grondgryp.

Die gevaar is dat Afrikaners hul eie verontmensliking gaan aanvaar. Dat ons naderhand net soos die ANC of Naspers of die linksliberale buitelandse korrespondente in Johannesburg gaan raak. Dat elke hoesie of hospitaalbesoek aan Mandela as belangriker as menselewens, veral Afrikanerlewens, geag sal word.

Dis altyd makliker om saam met die stroom te swem as daarteen. ‘n Mens kan jou oorgee aan die amptelike gevoelloosheid, die ingeburgerde psigopatie van die nuwe Suid-Afrika, en maak asof jy niks raaksien nie. Pleks van ‘n snaakse spul letters in ‘n uitgestorwe Boesmantaal, behoort die leuse van dié land te gewees het: “Dit traak my nie.” Dis ‘n baie maklike en selfs verleidelike filosofie om na te volg. Jy plaas eenvoudig jouself in die sentrum van jou bestaan en miskien tweede jou gesin. Verder maak niks anders saak nie. Daar bestaan mos so ‘n liedjie van die ewe polities korrekte sangeres, Karen Zoid, wat lui:

My geld is klaar
En die rand is laag
En AIDS is ‘n virus
AIDS is ‘n plaag

En dit maak nie, dit maak nie regtig saak nie
Jy’s lief vir die party
En lief vir die jol
Maar die kerk is leeg
En die tronke vol

En dit maak nie, maak nie regtig saak nie
Dit maak nie regtig saak nie

Die katte miaau
En die honde blaf
En die kinders
Brand hulle skole af

Dit maak nie, maak nie regtig saak nie

Ek sou hiervan wou verskil, al weet ek dit bring my in konflik met die heersende ideologie van apatie en traak-my-nie-agtigheid. Elke ding maak vir my saak: van korrekte Afrikaanse spelling tot gister se plaasmoord.

Aanvalle op boere en stedelinge moet ophou! Ons mag nie maar eenvoudig deur die volksmoordpropaganda – dat ons eintlik verdien om doodgemaak te word – meegesleur word nie. Ons moet niks meer aanvaar nie, nie die slaggat in die pad nie, maar ook nie die moord op Willemientjie Potgieter nie! Ek onthou hoe ek en my vrou al die pad Lindley toe in die Vrystaat gery het om daar voor die hof in die reën onder ‘n sambreel te gaan betoog. Dit was die tweede hofverskyning van die Potgietergesin se moordenaars en teen daardie tyd het die belangstelling afgeneem. Daarom was daar net ses of sewe mense buite die plattelandse hofgeboutjie. Maar daardie klein betoginkie, daardie spore van weerstand, het saak gemaak.

Elke gebaar, elke woord in hierdie stryd teen traak-my-nie-agtigheid tel!

Solank óns besluit dat plaasmoorde vir ons onvaarbaar is, al sê die ANC en NBC en die BBC en die SABC en alle ander C’s nou ook wat, is daar hoop. Eens op ‘n stadium het die Berlynse muur, daardie “antifascistiese skandmuur” soos die kommuniste trots daarna verwys het, ook sterk gelyk. Gewone mense wat eenvoudig keelvol geraak het, het dit egter in 1989 afgebreek.

Ons kan die muur wat ons in die gesig staar, ook afbreek. Ons moet net wíl.

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Roodt se Facebook-blad

 

 

 

 

 

Suid-Afrikaanse regstelsel moet ‘verafrikaniseer’ word

Image

Binnekort keer ons terug hierna?

Suid-Afrika se mengsel van Engelse en Nederlandse reg moet "verafrikaniseer" word om dit meer relevant te maak, volgens die Kaapse regterpresident John Hlope.

Hy het gisteraand in Durban gepraat en gesê: Ek glo dat mense wette nodig het wat hul eie kultuur en waardes beliggaam. Ons moet ons reg verafrikaniseer en dit vir die massas relevant maak. Daar heers 'n groot leemte in ons stelsel," het hy aan 'n simposium wat deur die Progressiewe Professionele Netwerk gereël is, verklaar.

Suid-Afrika se gemenereg verteenwoordig 'n samevoeging van Engelse en Nederlandse reg, wat op swartes afgedwing is ten koste van inheemse reg.

"As ons nie die regstelsel transformeer nie, gaan ons probleme ervaar want mense sal nie met die stelsel identifiseer nie."

"Ons moet 'n situasie skep waar mense die wette sal gehoorsaam nie weens die vrees vir die gevangenis nie, maar omdat hulle voel dis die regte ding om te doen en iets waarop hulle trots is."

Hy het gesê dis heel verstaanbaar dat Suid-Afrikaners die verwagting koester dat die regbank getransformeer behoort te word.

"Ek definieer transformasie as goeie verandering. Die samelewing smag na transformasie. Die burgers koester 'n verstaanbare verwagting."

Hy het ook gemeen dat daar 'n behoefte in die howe bestaan om Afrikatale te gebruik.

"Ons verwag dat die howe burgers sal toelaat om hul eie tale te gebruik. Na my mening plaas die grondwet 'n verpligting op ons om die gebruik van Afrikatale in die howe te bevorder."

Om tolke te gebruik, is nie genoeg nie, want "tale word vereenvoudig as hulle getolk word".

Hy het ingsgelyks 'n beroep gedoen dat uitsprake, veral van deur die Grondwethof, meer toeganklik gemaak moet word.

"Haal net al die Latynse uitdrukkings uit die uitsprake en maak hulle eenvoudig sodat mense kan verstaan."

LuceSolaraДанильченко Юрий Брониславович