Lyk by laerskool: Polisie, veiligheidsmaatskappy beskuldig mekaar

‘n Moord word ondersoek nadat ’n lyk Maandagoggend by Laerskool Wonderboom-Suid in Pretoria gevind is.

Polisiewoordvoerder adjudant-offisier Hero Gumbu sê die oorsaak van die man se dood is nog onbekend en niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Die Gauteng departement van onderwys is nie bewus van die voorval nie.

‘n Veiligheidsmaatskappy-woordvoerder sê hulle het Sondagnag na ’n noodoproep ondersoek by die skool gaan instel.

Blykbaar is ‘n swartman opgemerk wat tussen die eiendomme in die omgewing rondbeweeg het.

“Die man het oor ’n muur van die skoolperseel gespring en werkers van die skool het hom aangekeer,” het die woordvoerder gesê.

Die polisie het klaarblyklik nie dadelik gereageer op die wenk nie.

Werkers by die skool het die man verrmoedelik aangehou, en teen Maandagoggend het die polisie die man dood aangetref.

Adjudant-offisier Hero Gumbu het bevestig die lyk was die van die man wat vroeër by die skool aangehou is.

Wilde aantygings is deur die polisie gemaak dat die veiligheidsmaatskappy verantwoordelik is vir die man se dood, maar toe veiligheidsmaatskappy se personeel die perseel verlaat het, was alles glo nog onder beheer.

Gumbu sê die veiligheidsmaatskappy se optrede op die misdaadtoneel word ondersoek.

Skoolhoof Rina Pretorius sê sy is aangeraai om geen kommentaar oor die aangeleentheid te lewer nie.

Die laerskool moes in 2014 ‘n reuse geldinsamelingspoging van stapel stuur vir ‘n beter sekuriteitstelsel vir die skool nadat hulle op 8 September beroof is.

Die skool is vanjaar 103 jaar oud en ten spyte van talle briewe wat hulle aan die Departement van Onderwys gestuur het, ontvang hulle geen hulp of ondersteuning vir die beveiliging van die onderwysers en leerlinge nie.

Die onderwysdepartement bied slegs berading aan vir slagoffers van misdaad.

Bron: Rekord Moot

Lyk van huiswerker gevind

Die lyk van ‘n 40-jarige huiswerker is vanoggend by ‘n huis in Hospitaalpark met ‘n tou om die nek gevind.

Polisiewoordvoerder, Chaka Marope, sê die swart vrou is vermoedelik verwurg.

Volgens hom het lede van ‘n sekuriteitsmaatskappy op haar lyk op ‘n trap in ‘n waskamer buite die huis afgekom. Hy sê haar kop het gebloei, vermoedelik weens ‘n struweling tussen haar en haar aanvaller. Niks word van die toneel vermis nie.

Die oorsaak van die aanval is ook nog onduidelik.

Marope sê ‘n man wat ‘n pakkie by die huis afgelewer het, het onraad vermoed toe hy ‘n man geklee in ‘n denimbroek en blou oorpakbaadjie oor die buitemuur sien spring en weghardloop.

Die eienaar van die huis is in kennis gestel waarna ‘n sekuriteitsmaatskappy na die huis ontbied is.

Liggaam van vrou in motor gevind

Die liggaam van 34-jarige vrou is Maandagoggend in haar motor by Boardwalk Office Park in Faerie Glen, Pretoria gevind, het die polisie se woordvoerder ao Dave Miller gesê.

Miller het gesê die motor is gevind in die parkeerterrein van die kantoorpark.

‘n Ooggetuie, wat anoniem wil bly, het gesê die vrou is glo by ‘n kafeerestaurant regoor die kantoorpark Sondagnag opgemerk.

“Ek het by die kantoor opgedaag teen 07:50 en polisie op die toneel aangetref. Die liggaam is verwyder omstreeks 10:00. Van wat ons kon sien, was sy ‘n wit vrou.”

Miller het gesê hy kan nog nie die tyd en die oorsaak van die onbekende vrou se dood bevestig nie.

Hy het gesê ‘n nadoodse ondersoek sal gedoen word.

Lyk in staatshospitaal gelos om te ontbind

Vier personeellede van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal is geskors nadat hulle die liggaam van ‘n 18-jarige meisie gelos het om te ontbind, het die departement van gesondheid Donderdag gesê.

Die departement het die afgelope paar weke vinnig opgetree teen beamptes wat na bewering die gedragskode oortree het. ‘n Dokter is glo onlangs ook met onmiddellike effek afgedank vir professionele nalatigheid.

Die vier is geskors hangende die volledige ondersoek en tugverhore.

“Dit volg na die voorlopige ondersoek oor die vervoer van die liggaam van die saal na die lykshuis en die manier waarop dit gehou is,” het Prince Hamnca, woordvoerder van die departement, in ʼn verklaring gesê.

Die Sowetan het Donderdag berig Bacebile Mbete (18) is Vrydag by die hospitaal oorlede. Haar oupa, Raymond Zikalala (82) het gesê haar liggaam is eers Maandag, drie dae later, na die lykshuis gestuur. Teen daardie stadium het die liggaam reeds só erg ontbind dat sy nie meer herkenbaar was nie.

Die liggaam is na die hospitaal teruggestuur toe die ondernemer gesê het dit is te ver ontbind om by die lykshuis aan te hou.

Ontbindende lyk in kattebak by Montecasino gevind

Montecasino, noord van Johannesburg
Montecasino, noord van Johannesburg

Die ontbindende lyk van ‘n man is in die kattebak van ‘n motor by Montecasino in Fourways, noord van Johannesburg, gevind, het die Gautengse polisie Maandag gesê.

“Dit is Sondag omstreeks 13:00 deur veiligheidswagte op patrollie gevind. Hulle het begin ondersoek instel toe hulle van die reuk vanaf die voertuig bewus raak,” het luitenantkolonel Lungelo Dlamini gesê.

Die polisie is ingeroep en hulle het die motor se bak oopgemaak, waar die ontbindende lyk gevind is.

‘n Soektog na die motor se registrasienommer toon dat dit nie as gesteel aangemeld is nie.

Die eienaar van die motor sal ondervra word en geen inhegtenisname het teen 9:00 Maandagoggend plaasgevind nie. Die polisie ondersoek ‘n moordsaak.

‘n Nadoodse ondersoek sal die doodsoorsaak bepaal.

Kringtelevisiemateriaal van die casino sal tydens die ondersoek gebruik word, het Dlamini gesê. – Sapa