Lyk by laerskool: Polisie, veiligheidsmaatskappy beskuldig mekaar

‘n Moord word ondersoek nadat ’n lyk Maandagoggend by Laerskool Wonderboom-Suid in Pretoria gevind is.

Polisiewoordvoerder adjudant-offisier Hero Gumbu sê die oorsaak van die man se dood is nog onbekend en niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Die Gauteng departement van onderwys is nie bewus van die voorval nie.

‘n Veiligheidsmaatskappy-woordvoerder sê hulle het Sondagnag na ’n noodoproep ondersoek by die skool gaan instel.

Blykbaar is ‘n swartman opgemerk wat tussen die eiendomme in die omgewing rondbeweeg het.

“Die man het oor ’n muur van die skoolperseel gespring en werkers van die skool het hom aangekeer,” het die woordvoerder gesê.

Die polisie het klaarblyklik nie dadelik gereageer op die wenk nie.

Werkers by die skool het die man verrmoedelik aangehou, en teen Maandagoggend het die polisie die man dood aangetref.

Adjudant-offisier Hero Gumbu het bevestig die lyk was die van die man wat vroeër by die skool aangehou is.

Wilde aantygings is deur die polisie gemaak dat die veiligheidsmaatskappy verantwoordelik is vir die man se dood, maar toe veiligheidsmaatskappy se personeel die perseel verlaat het, was alles glo nog onder beheer.

Gumbu sê die veiligheidsmaatskappy se optrede op die misdaadtoneel word ondersoek.

Skoolhoof Rina Pretorius sê sy is aangeraai om geen kommentaar oor die aangeleentheid te lewer nie.

Die laerskool moes in 2014 ‘n reuse geldinsamelingspoging van stapel stuur vir ‘n beter sekuriteitstelsel vir die skool nadat hulle op 8 September beroof is.

Die skool is vanjaar 103 jaar oud en ten spyte van talle briewe wat hulle aan die Departement van Onderwys gestuur het, ontvang hulle geen hulp of ondersteuning vir die beveiliging van die onderwysers en leerlinge nie.

Die onderwysdepartement bied slegs berading aan vir slagoffers van misdaad.

Bron: Rekord Moot

Waterpypbars, rioolstorting kopseer vir Pretorianers

Wat vir Johan Erickson soos ’n klein waterlekkie gelyk het, het binne dae in ’n waterramp verander met derduisende rand se skade.

Erickson en Meyerstraat se inwoners in Wonderboom-suid, Pretoria, is Donderdagaand omstreeks 23:00 deur ’n geweldige slag wakkergemaak.’n Gebarste waterpyp voor Erickson se huis was die oorsaak vir dié helse ontploffing.

“Die water het meters in die lug gespuit en het geweldige skade aan my huis aangerig. My tuin en huis was heeltemal onder water,” het ’n ontstoke Erickson gesê.Erickson, voorsitter van die Wonderboompoort sektor 1 Mayville/WBS-gemeenskapspolisëringsforum, het sy dankbaarheid teenoor alle sektorlede en inwoners wat hom vir ure lank gehelp het om die gemors skoon te kry, uitgespreek.

“Almal het gehelp om slote te grawe om die water van my huis af weg te lei. Hulle het selfs reinigingsmiddels gebring en ingespring om te help skoonmaak. Ek is dankbaar vir almal se hulp,” het hy gesê.

Volgens Erickson het hy reeds verlede Sondag die waterlek onder die Tshwane-metro se aandag gebring.

Hy het gesê hy gaan die saak nie daar laat nie en het reeds regsadvies ingewin om die metro aanspreeklik te hou vir die skade wat aan sy eiendom aangerig is.“My meubes is beskadig en selfs ons voorstoep se plaveisel het gesak weens die watervloei. Dit is onaanvaarbaar.”

Maar dis nie net Erickson wat ’n stel met die metro afgetrap nie, Abie Fourie van Waverley het ook ‘n probleem met die metro.

Fourie ry vir die afgelope vyf maande van Waverley na Jan Niemandpark, maar hierdie rit sluit ‘n reis seur ‘n rivier van riool in.

Volgens Fourie spruit die probleem uit die diefstal van mangatdeksels op die hoek van Klipspruit- en Henningstraat.

Alhoewel inwoners en sakeondernemings die diefstal en rioolprobleem glo verskeie kere by die metro aangemeld het, is daar steeds geen lig aan die einde van dié grillige tonnel nie, sê hy.

“Sekere tye van die dag stroom die riool die pad af en op ander dae lê die menslike ontlasting en toiletpapier oor die hele pad. Dit is ’n groot probleem vir ons,” het Fourie gesê.

Die metro het na verskeie navrae nog geen terugvoer verskaf nie.

Bron: Rekord Moot