Swarte wat staatsgrond verkoop gevonnis

‘n Swartman wat op 94 aanklagtes van bedrog skuldig bevind is nadat hy staatsgrond verkoop het, is met vyf jaar tronkstraf gevonnis.

“Richard Zikhali kon 10 jaar tronkstraf gekry het vir sy misdaad, maar die landdros het in ag geneem dat hy reeds vier jaar in die tronk gesit het, omdat hy sedert sy inhegtenisname in 2010 borgtog geweier is,” het Motsamai Motlhaolwa, woordvoerder van die departement, gesê.

Zikhali se vrou, Hlengiwe Ximba, het ook op korrupsieaanklagte skuldig gepleit en is tot ses jaar in die tronk gevonnis, waarvan drie opgeskort is.

Jacob Mamabolo, LUK in die Gautengse departement van menslike nedersettings, het die vonnisse verwelkom en gesê hy hoop dit wys mense dat misdaad nie winsgewend is nie. “Die man het by die staat en by arm mense – wat baie geld verloor het – gesteel.”

Hy het mense gewaarsku om nie slagoffers van bedrog te word nie, veral nie as misdadigers voorgee dat hulle vir die regering werk nie. “As enigiemand grond koop, moet hulle by die departement of hul plaaslike regeringsverteenwoordiger aanklop, om te hoor of die transaksie wettig is. As ‘n transaksie uit die kattebak van ‘n kar geskied, moet rooi ligte begin flikker.”

Ontbindende lyk in kattebak by Montecasino gevind

Montecasino, noord van Johannesburg
Montecasino, noord van Johannesburg

Die ontbindende lyk van ‘n man is in die kattebak van ‘n motor by Montecasino in Fourways, noord van Johannesburg, gevind, het die Gautengse polisie Maandag gesê.

“Dit is Sondag omstreeks 13:00 deur veiligheidswagte op patrollie gevind. Hulle het begin ondersoek instel toe hulle van die reuk vanaf die voertuig bewus raak,” het luitenantkolonel Lungelo Dlamini gesê.

Die polisie is ingeroep en hulle het die motor se bak oopgemaak, waar die ontbindende lyk gevind is.

‘n Soektog na die motor se registrasienommer toon dat dit nie as gesteel aangemeld is nie.

Die eienaar van die motor sal ondervra word en geen inhegtenisname het teen 9:00 Maandagoggend plaasgevind nie. Die polisie ondersoek ‘n moordsaak.

‘n Nadoodse ondersoek sal die doodsoorsaak bepaal.

Kringtelevisiemateriaal van die casino sal tydens die ondersoek gebruik word, het Dlamini gesê. – Sapa