Tweede verdagte vas oor lyk in kattebak

Robinson
Robinson

‘n 32-jarige man is Donderdag in hegtenis geneem nadat die ontbinde lyk van IT-kundige in die kattebak van sy motor by Montecasino ontdek is.

Sowat R80 000 is ná die moord uit Dustan Blom se bankrekening onttrek.

’n Ontkleedanseres het Woensdag in die hof verskyn ivm die moord op Blom.

Die 24-jarige Marushcka Robinson sal in aanhouding bly tot haar volgende hofverskyning. Robinson is ’n dag nadat die lyk ontdek is, in hegtenis geneem.

Die polisie was op soek Robinson se vriend, Jean-Pierre Malan, om hulle met die ondersoek te help.

Die tweede verdagte sal van moord aangekla word en sal binne 48 uur in die hof verskyn.

Die motief vir die moord word nog ondersoek.

Die 36-jarige slagoffer se vrou, Talita, is vroeër vanjaar oorlede nadat sy die lewe geskenk het aan die paartjie se tweeling. Die tweeling is in die sorg van Talita se familie, berig The Star. – Sapa

Vrou verskyn ivm lyk in kattebak

monte‘n 24-jarige vrou het Woensdagmiddag in die Randburg-landdroshof verskyn nadat die ontbinde lyk van ‘n man in ‘n motor se kattebak by Montecasino ontdek is.

Die saak teen Maruschka Robinson is uitgestel en sy verskyn weer vroeg in Oktober in die hof om ‘n borgtogaansoek te bring.

Volgens die aanklaer in die saak word Robinson se kêrel en nóg ‘n verdagte nog gesoek. Drie verdagtes is op kringtelevisie opgeneem waar hulle glo geld uit die vermoorde se rekening getrek het.

Die man se lyk is Sondag gevind nadat veiligheidswagte ondersoek ingestel het na ‘n slegte reuk wat uit ‘n Nissan-motor gekom het.

Die voertuig was op die vierde verdieping van die sentrum geparkeer en het etlike dae daar gestaan.

Die slagoffer is geïdentifiseer as ’n enkellopende man van Jukskeipark, ’n aangrensende gebied tot Montecasino. Sy naam is nog nie bekend gemaak nie.

Daar is intussen ook vasgestel dat die oorledene die eienaar van die voertuig was. – Sapa

Vrou vas oor lyk in kattebak

Montecasino, north of Johannesburg
Montecasino, Johannesburg

‘n Vier-en-twintigjarige vrou is in hegtenis geneem in verband met ‘n liggaam wat in die kattebak van ‘n motor by Montecasino noord van Johannesburg gevind is.

‘n Polisiewoordvoerder, Lungelo Dlamini sê die vrou is gisteraand naby Douglasdale in hegtenis geneem.

Die liggaam is Sondag ontdek nadat die motor vir ‘n aantal dae by Montecasino geparkeer was. Die motor is nie as gesteel aangemeld nie.

Die polisie het later vasgestel dat die oorledene die eienaar van die motor was.

Die verdagte sal binnekort in die landdroshof in Randburg verskyn. – RSG

Ontbindende lyk in kattebak by Montecasino gevind

Montecasino, noord van Johannesburg
Montecasino, noord van Johannesburg

Die ontbindende lyk van ‘n man is in die kattebak van ‘n motor by Montecasino in Fourways, noord van Johannesburg, gevind, het die Gautengse polisie Maandag gesê.

“Dit is Sondag omstreeks 13:00 deur veiligheidswagte op patrollie gevind. Hulle het begin ondersoek instel toe hulle van die reuk vanaf die voertuig bewus raak,” het luitenantkolonel Lungelo Dlamini gesê.

Die polisie is ingeroep en hulle het die motor se bak oopgemaak, waar die ontbindende lyk gevind is.

‘n Soektog na die motor se registrasienommer toon dat dit nie as gesteel aangemeld is nie.

Die eienaar van die motor sal ondervra word en geen inhegtenisname het teen 9:00 Maandagoggend plaasgevind nie. Die polisie ondersoek ‘n moordsaak.

‘n Nadoodse ondersoek sal die doodsoorsaak bepaal.

Kringtelevisiemateriaal van die casino sal tydens die ondersoek gebruik word, het Dlamini gesê. – Sapa