‘n 24-jarige vrou het Woensdagmiddag in die Randburg-landdroshof verskyn nadat die ontbinde lyk van ‘n man in ‘n motor se kattebak by Montecasino ontdek is.
Die saak teen Maruschka Robinson is uitgestel en sy verskyn weer vroeg in Oktober in die hof om ‘n borgtogaansoek te bring.
Volgens die aanklaer in die saak word Robinson se kêrel en nóg ‘n verdagte nog gesoek. Drie verdagtes is op kringtelevisie opgeneem waar hulle glo geld uit die vermoorde se rekening getrek het.
Die man se lyk is Sondag gevind nadat veiligheidswagte ondersoek ingestel het na ‘n slegte reuk wat uit ‘n Nissan-motor gekom het.
Die voertuig was op die vierde verdieping van die sentrum geparkeer en het etlike dae daar gestaan.
Die slagoffer is geïdentifiseer as ’n enkellopende man van Jukskeipark, ’n aangrensende gebied tot Montecasino. Sy naam is nog nie bekend gemaak nie.
Daar is intussen ook vasgestel dat die oorledene die eienaar van die voertuig was. – Sapa
