Die lyk van ‘n 40-jarige huiswerker is vanoggend by ‘n huis in Hospitaalpark met ‘n tou om die nek gevind.
Polisiewoordvoerder, Chaka Marope, sê die swart vrou is vermoedelik verwurg.
Volgens hom het lede van ‘n sekuriteitsmaatskappy op haar lyk op ‘n trap in ‘n waskamer buite die huis afgekom. Hy sê haar kop het gebloei, vermoedelik weens ‘n struweling tussen haar en haar aanvaller. Niks word van die toneel vermis nie.
Die oorsaak van die aanval is ook nog onduidelik.
Marope sê ‘n man wat ‘n pakkie by die huis afgelewer het, het onraad vermoed toe hy ‘n man geklee in ‘n denimbroek en blou oorpakbaadjie oor die buitemuur sien spring en weghardloop.
Die eienaar van die huis is in kennis gestel waarna ‘n sekuriteitsmaatskappy na die huis ontbied is.
