N14 by Kuruman sluit na protes

Die Noord-Kaapse polisie is steeds besig om ‘n ogie te hou oor die betogers op die N14 naby Kuruman.

Die pad is vir verkeer gesluit nadat dit versper is met brandende bande, boomtakke en klippe vanoggend omstreeks 06:00.

Volgens polisiewoordvoerder, Olebogeng Tawana, is die inwoners van Mapoteng gegrief oor die swak dienslewering van die plaaslike munisipaliteit. Tawana sê die situasie is kalm op die oomblik.

Verkeer vloei glo weer.

Dit volg nadat die plaaslike burgemeester en die gemeenskapsleiers ‘n vergadering gehad het wat gelei het tot die ontevredenheid.

Niemand is beseer nie en geen eiendom beskadig tydens die voorval nie. Die polisie sal voortgaan om die situasie te monitor.

Menslike dele in vrieskas gevind

‘n Swart man (27) van Kuruman verskyn na verwagting vandag in die landdroshof op Mothibistad nadat menslike organe na bewering in sy vrieskas gevind is.

Ernest Mabilo doen vandag aansoek om borgtog.

Volgens Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, Mohale Ramatseba, is ‘n hart en longe verlede Vrydag in Mabilo se vrieskas gevind.

Mabilo, wat by ‘n begrafnisonderneming in Kuruman werk, staar ‘n aanklag van die onwettige besit van menslike liggaamsdele in die gesig. Hy bly in aanhouding.

Plaasaanvallers van Kuruman nog op vrye voet

Die polisie in die Noord-Kaap het nog niemand in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n 64-jarige boer van Kuruman nie.

OFM-nuus het verlede week berig dat Christo Kruger Donderdag omstreeks 20:00 deur ‘n gesluite traliehek van ‘n buitedeur in sy plaashuis in die bors geskiet is.

Volgens polisiewoordvoerder Sergio Kock was Kruger en sy 55-jarige vrou, Vera, alleen tuis. Sy is fisies ongedeerd.

Kock sê dit is nog onbekend hoeveel aanvallers betrokke was by die aanval.

Kock kon nie bevestig of die aanvallers iets op die plaas gesteel het nie.