Koperdiewe vasgetrek

Drie verdagtes van Virginia sal na verwagting Vrydag in die landdroshof op Excelsior verskyn nadat hulle Woensdag buite die dorp met beweerde gesteelde koperkabel ter waarde van sowat R100 000 betrap is.

Vrystaatse polisiewoordvoerder, Martin Xuma, sê die koperkabel weeg 50kg.

Volgens hom het ‘n polisiebeampte van die plaaslike polisiekantoor gisteraand inligting ontvang dat die mans tussen die ouderdom van 37 en 57 beplan om ‘n transformator se koperkabel te steel.

Die polisiebeampte, wat reeds van diens af was, het vinnig op die wenk gereageer en nog polisiebeamtes is ontplooi.

Xuma sê die polsie is na Mahlatswetsa waar die bakkie, wat glo in die rooftog gebruik sou word, gestaan het.

Hulle het die bakkie met die bestuurder daarin dopgehou tot die ander twee verdagtes opgedaag het.

Koeberg sukkel weens tegniese probleme

Die Koeberg-kernkragsentrale het die helfte van sy opwekkingsvermoë – sowat 900 megawatt – weens ‘n tegniese prbleem verloor.

Eskom se woordvoerder, Khulu Phasiwe sê ‘n transformator het glo onklaar geraak wat die kragvoorsiener genoop het om eenheid-een van die netwerk te ontkoppel.

Hy sê die netwerk is tans stabiel maar het nie die moontlikheid van beurtkrag uitgesluit nie.

Phasiwe sê instandhoudingswerk sou vanaf 9 Februarie op Koeberg se Eenheid Een gedoen word.

Hy sê hulle vergader om 07:30 Maandagoggend waar vasgestel sal word of onderhoudswerk vroeër kan begin.