Mangaung is die hoofstad van seksuele misdrywe

Mangaung is die hoofstad van seksuele misdrywe in Suid-Afrika, het skokkende syfers getoon.

Die misdaadstatestiek van nege groot stede in die land is vervat in die verslag, State of Urban Safety in South Africa, wat aan die begin van die maand vrygestel is.

Dit wys dat die aantal seksuele misdryf-sake in Mangaung landwyd die hoogste is en dat die koers waarteen dit die afgelope dekade gestyg het, hoër is as die gemiddelde nasionale koers.

Inbrake by huise landwyd het ook skerp toegeneem, maar Mangaung het steeds die hoogste inbraaksyfers.

Die verslag het ‘n analise van misdaad en geweld, asook die impak daarvan gedoen, wat insluit die vrees wat dit by inwoners inboesem.

Die hoogste aantal moorde is in Kaapstad aangeteken en, volgens statistiek, staan slagoffers van misdaad in Johannesburg ‘n groter kans om geroof of gekaap te word.

Behalwe vir veediefstal is die grootste persentasie misdaad in stedelike gebiede aangemeld.

Mesmoordenaar nog op vrye voet

Niemand is nog in verband met die moord op Ignat Oosthuizen (30) in hegtenis geneem nie.

Die egpaar is Dinsdagoggend vroeg in ‘n veiligheidskompleks in Pietersburg (Polokwane) oorval en Ignat is vermoedelik met ‘n mes doodgesteek.

Die vermoorde se vrou, Simoné (25) moes Dinsdagmiddag glo geopereer word.

Die egpaar is intussen as Simoné en Ignat Oosthuizen geïdentifiseer.

Die twee is in die vroeë oggendure in hul huis in Flora Park oorval en Ignat is op die toneel dood. Simoné, wat ook met die wapen gesteek is, se geskree het glo die verdagte op die vlug laat slaan.

Kapt. Ntobeng Phala, woordvoerder van die Polokwane-polisie, het gesê ‘n saak van huisroof en moord word ondersoek.

Huisbraak op video vasgevang

‘n Veiligheidskamera het Woensdagoggend ‘n huisbraak in Ninapark, Pretoria, waar verskeie waardevolle items gesteel is, op video vasgevang.

Volgens Johan Roux (53), huiseienaar, het die voorval omstreeks 10:45 plaasgevind en het dit vier verdagtes net ses minute geneem om die voordeur oop te breek, ‘n paar waardevolle items te neem en weg te jaag.

Roux was by die werk toe die voorval plaasgevind het, het die Moot Rekord berig.

“Sover ons kon agterkom is televisies en hul afstandbeheerders, asook van my vrou se juweliersware gesteel. Ons kon nog nie vasstel presies wat alles weg is nie, omdat die forensiese-span vandag eers ‘n ondersoek kom doen het. Ons kon nog nie al die skade bepaal nie,” het Roux gesê.

Sedert hy in 1993 in sy huis ingetrek het, het Roux nog nooit voorheen ‘n huisbraak gehad nie.

“So paar jaar gelede het iemand oor ons muur gespring en ‘n fiets en ‘n paar ander items gesteel, maar ons het nog nooit voorheen met ‘n huisbraak probleme gehad nie.”

Voor die inbraak het die verdagtes glo ‘n uur vroeër verby die huis gery, by die oprit ingery en ‘n rukkie daar vertoef, voordat hulle weer weggery het.

Tydens die huisbraak het twee van die verdagtes die huis ingegaan, terwyl twee ander in die motor gewag het, het Roux gesê.

Volgens polisiewoordvoerder Matthews Nkoadi, is die polisie nie bewus van die voorval nie.

Pretoriase man skiet aanvaller dood

rooihuiskraal‘n Vermeende rower is Dinsdagaand in Rooihuiskraal, Pretoria, doodgeskiet.

Skote het Dinsdagaand in Rooihuiskraal afgegaan toe ’n man glo ‘n vermeende rower in selfverdediging doodgeskiet het.

Dié man, Karel Liebenberg, het na bewering die vermeende rower voor sy huis doodgeskiet nadat ’n vuurwapen op hom gerig is.

Met die aankoms vroeër by hul huis, het Liebenberg uit sy voertuig geklim om die veiligheidshek en motorhuisdeur oop te maak.

’n Oomblik daarna het hy opgemerk dat ’n silwer-grys Subaru sonder ’n nommerplaat agter hulle voertuig stilgehou het. Die voertuig het vir hom verdag voorgekom en hy het sy gelisensieerde vuurwapen uitgehaal.

’n Passasier het regs agter uit die voertuig geklim en ’n vuurwapen op Liebenberg gerig.

Volgens Liebenberg se prokureur, Peet du Plessis, is Liebenberg die hoof van die plaaslike blokwag en daarom dra hy ten alle tye ’n vuurwapen by hom. Weens vrees dat sy lewe in gevaar was, het hy twee skote op die verdagte gevuur.

Volgens Du Plessis het die bure en Liebenberg se vrou verskeie skote gehoor wat afgevuur is, wat moontlik kan aandui dat dié 33-jarige verdagte teruggeskiet het.

Die verdagte is raak geskiet en die ander verdagtes in die voertuig het van die toneel gevlug.

Liebenberg het dadelik die polisie ontbied. Met Sersant Michiel Roos se aankoms op die toneel het die verdagte nog geleef en Roos het die mediese dienste ontbied.

Ten spyte van mediese sorg, is die verdagte op die toneel dood verklaar.

“Die egpaar is nog in skok en erg getraumatiseer,” het Du Plessis aan Looklocal gesê.

Hy wou nie verdere kommentaar lewer totdat die verslae afgehandel is nie.

Volgens Generaal-Majoor Tommy Mthombeni was die reeksnommer van die oorledene se vuurwapen afgeskuur en elf rondtes van ammunisie is in die wapen gevind waarvan een patroon reeds in die kamer gelê het.

Mthombeni het bevestig dat ’n saak van poging tot kaping deur die polisie ondersoek sal word. ’n Geregtelike doodsondersoek sal ook gedoen word. – looklocal.co.za