SAPD by Rustenburg ontplooi na oproer

Spanning in Boitekong naby Rustenburg in Noordwes het afgeneem nadat die SAPD teen oproermakers van Sondela en Meriteng ontplooi is. Die afgelope twee dae is die gebied op horings geneem.

Polisiewoordvoerder, Kelebogile Moleko, sê die polisie het die situasie sedert Maandagaand gemonitor. Sy sê die oproeriges is ontevrede oor swak munisipale dienslewering en gebrekkige watertoevoer.

‘n Groep van sowat 200 mense het gister by ‘n vulstasie op die R510 by Rustenburg saamgedrom en aangedring dat munisipale verteenwoordigers aan hulle antwoorde verskaf.

Volgens haar het verteenwoordigers van die munispaliteit die groep toegespreek waarna watertoevoer na die gebied weer herstel is.

Moleko sê twee betogers, ‘n man en vrou, wat Maandagaand in Sondela in hegtenis geneem is weens openbare geweld, is gister in die Rustenburg landdroshof op waarskuwing vrygelaat.

Volgens haar is die paaie by Sondela and Meriteng wat gesluit is nadat betogers dit met boomtakke en brandende bande versper het intussen weer oopgestel.

Brande woed steeds in Baltimore

Brande het gister steeds in die noordoostelike Amerikaanse stad Baltimore gewoed, waar ’n aan­dklokreël gisteraand ingestel sou word nadat onluste Maandag tot diep in die nag voortgeduur het.

Die deelstaat Maryland het ’n noodtoestand afgekondig nadat betogers winkels geplunder en met armsvol buit ontsnap het. Skole is gister as ’n veiligheidsmaatreël gesluit. Die volle omvang van die skade sou deur die loop van die dag bepaal word.

Amptenare van die stad, swart gemeenskapsleiers en die familie van die 25-jarige Freddie Gray wat in polisieaanhouding dood is, het hul afkeur te kenne gegee oor die omvang van die betogings wat ná Gray se begrafnis begin het.

“Te veel mense het vir geslagte hierdie stad gebou, net om te sien hoe boewe dit op ’n sinnelose manier verwoes en alles afbreek wat ons opgebou en voor geveg het,” het burgemeester, Stephanie Rawlings-Blake, gesê.

“Dit is idioties om te dink julle sal ’n beter lewe vir enige iemand verseker deur die stad te vernietig,” het sy gesê.

Die swart burgemeester moes onder kwaai kritiek deurloop nadat sy langer as 5 ure gewag het om in te gryp teen die geweld wat onbeheerst voortgewoed het.

Duisende lede van die polisie en die nasionale wag is ontplooi om be­leërde wetstoepassers by te staan. Minstens 27 mense is in hegtenis geneem en 15 polisiebeamptes is beseer nadat hulle Maandagnag deur die woedende massas met klippe bestook is.

Volgens die Baltimore Sun is twee mense Maandagnag in afsonderlike skietvoorvalle gewond.

Die geweld is die ergste in ’n reeks konfrontasies tussen Amerikaanse polisielede en hoofsaaklik Afro-Amerikaanse jeugdigdes, wat woedend is oor wat hulle as rassisme in die polisiemag beskou.

Verlede somer se noodlottige skietery van die ongewapende tiener Michael Brown deur ’n wit polisiebeampte in Ferguson, Missouri, het die kus-tot-kus-protes begin.

Die onluste in Baltimore is ontketen nadat Freddie Gray op 19 April in aanhouding gesterf het – glo weens rugbeserings wat hy tydens sy inhegtenisneming vroeër die maand opgedoen het.

President Barack Obama is ook van oor die verwikkelinge in Baltimore ingelig.

Hillary Clinton, ‘n voornemende presidentskandidaat, het die geweld en plundery heeltemal geïgnoreer en onvanpaste twiets uitgestuur oor gratis plakkers met haar gesig op.

Die onluste het tot uitbarsting gekom kort nadat duisende roubeklaers Maandag vir Gray se begrafnis in die New Shiloh Baptiste kerk in die stad se verarmde Sandtown-woonbuurt vergader het. Voor die diens het ’n kriptiese boodskap op sosiale media die rondte gedoen oor ’n “purge” (straattaal vir dade van wetteloosheid) wat om 15:00 sou begin.

Gray se familie, wat in rou gedompel is, het spesifiek gevra dat geen betogings gehou word nie.

Regsverteenwoordigers van Gray se familie sê sy dood is veroorsaak deur erge rugbeserings wat opgedoen is nadat hy in hegtenis geneem is. Hy was vir ’n week in ’n koma.

Ses polisiebeamptes is geskors hangende die bevindinge van ’n ondersoek wat Vrydag aan staatsaanklaers oorhandig moet word.

Die polisie het bevestig dat Gray mediese hulp versoek het nadat hy in hegtenis geneem is, en het toegegee dat hy vroeër mediese behandeling moes gekry het.

Polisie ontplooi teen oproeriges in Gauteng, Kaapstad

Twee oproermakers is by Cosmo City by Randburg in Gauteng in hegtenis geneem ná ‘n gewelddadige betoging in die gebied, het RSG berig.

Die betoging het gevolg ná die balju in die gebied aangekom het om gesinne uit huise se sit wat onwettig opgerig is.

Die ontevredenes het die polisie met klippe bestook en verskeie voertuie, onder meer ‘n voertuig van die Johannesburgse Nooddienste, is beskadig.

In ‘n stadium moes die polisie traanrook gebruik om die oproeriges uiteen te dryf en dele van Malibongwe-rylaan was vir etlike ure gesluit.

Die polisiewoordvoerder, Kay Makhubela sê die twee verdagtes sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging.

Intussen het die Wes-Kaapse polisie gesê hulle ondersoek gevalle van openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging na betogings in Khayelitsha op die Kaapse Vlakte.

Dit volg nadat wetstoepassingsagentskappe mense verwyder het wat grond onwettig beset het wat aan Kaapstad en die wapenmaatskappy Denel behoort.

Die polisie sê een persoon is in hegtenis geneem nadat hy ‘n vragmotor vol vleis geplunder het, terwyl voertuie insluitende polisiemotors onder die klippe gesteek is.

Die polisie handhaaf intussen steeds ‘n sterk teenwoordigheid in die gebied.

Ladybrand gespanne na onwettige grondbesetting

‘n Donker rookwolk het Woensdag oor die Manyatseng-lokasie by Ladybrand gehang.

Volgens Biki Mohono, ‘n plaaslike inwoner wat nou in die lokasie is, is die situasie is buite beheer en inwoners is woedend.

Hy het aan OFM gesê is daar verskillende oproeriges wat geboue brand en buitelanders se winkels plunder. Onder die plunderaars is skoolkinders en hul ouers.

Mohono sê groot skade is aan die plaaslike gemeenskapsaal aangerig. Dié groep oproeriges wou vroeër die biblioteek afbrand maar het aanbeweeg na die Platberg-uitbreiding.

Volgens Mohono het ANC-kantore ook in die slag gebly en is daar glo ook inwoners wat die munisipale pakhuis teiken. Hy sê ‘n munisipale trekker is reeds aan die brand gesteek.

Volgens Mohono sê betogers hulle gaan nie ophou voordat die Mantsopa-munisipaliteit se burgemeester, Sello Ntsepe, bedank nie.

Vroeër is vyf oproeriges in hegtenis geneem vir openbare geweld.

Vrystaatse polisiewoordvoerder Martin Xuma sê daar is nog geen beserings aangemeld nie. Dit volg na die gepeupel die strate ingevaar en die R26 met boomtakke en brandende motorbande afgesper het.

Inwoners van die Manyatseng-lokasie is ongelukkig dat die munisipaliteit inwoners wat onwettig grond beset, uit hulle huise gesit het.

Xuma het ook bevestig dat sowat 300 oproeriges, wat buite burgemeester Sello Ntsepe se huis vergader het, intussen deur die polisie verwilder is.

Oproer by wildreservaat eis brug

Minstens 12 skole moes in Rolle in Mpumalanga gesluit word weens opstande oor ‘n brug.

Oproeriges het die pad tussen Bosbokrand en die Manyeleti-wildreservaat versper en ‘n brug wat die twee plekke verbind aan die brand gesteek.

Hulle eis dat die 50 jaar-oue brug herbou word.

Die Departement van Openbare Werke het vroeër onderneem om die brug te herbou, maar sê dit is nie onder sy projekte vir die huidige geldjaar nie.

Kliniek, elf motors, biblioteek gebrand in oproer

Oproerige swart inwoners van Tembisa aan die Oos-Rand het Dinsdagaand ‘n kliniek aan die brand gesteek en winkels geplunder in die Winnie Mandela-afdeling.

‘n Polisiewoordvoerder, Kay Makhubele sê elf motors is ook aan die brand gesteek, en ‘n biblioteek langs die kliniek is beskadig.

Die openbare geweldpleging volg nadat die Rooimiere onwettige elektrisiteit-verbindings in die gebied afgesny het.

Een oproermaker is volgens die polisie in hegtenis geneem en sal van diefstal aangekla word nadat hy in een van die geplunderde winkels betrap is.

Brandstigting, plundery vir dienste sonder belastinglas

Oproerige inwoners van Letlhabile en Jericho naby Brits in Noordwes het hulself tot brandstigting en plundery gewend vir dienste.

Die oproeriges, wat min of geen belasting betaal nie, dreig om vol te hou met openbare geweld totdat hulle van skoon water voorsien word.

Hulle het ‘n bus en ‘n vragmotor aan die brand gesteek en verskeie winkels geplunder.

Oproermakers beskuldig die Madibeng plaaslike munisipaliteit daarvan dat hulle nie aan die probleem aandag gee nie, ondanks die feit dat die plaaslike regering miljoene rand bewillig het vir ‘n waterprojek.

Dit is nie bekend wat met die geld gebeur het of wie verantwoordelik is vir die projek nie.

Ontevredenes het skole, sake-ondernemings en gesondheidsentrums gedwing om te sluit.

Dertien vas na plundery in Noordwes

Dertien persone is in Stella in Noordwes in hegtenis geneem vir openbare geweld nadat buitelanders se winkels geplunder is.

“Die polisie het ‘n klopjag uitgevoer op ‘n kroeg in Rekgaratlhile en die alkohol gekonfiskeer,” het Kealeboga Molale, woordvoerder van die polisie, gesê.

“Die gemeenskap was glo ontevrede hieroor en ongeveer 200 lede van die gemeenskap het op die twee buitelanders se winkels toegeslaan en dit geplunder.”

Die groep is Saterdagaand omstreeks 20:00 in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting binnekort in die Vryburg-landdroshof verskyn.

Openbare geweld laat polisie bontstaan

Die polisie in Balfour in Mpumalanga is op hoë gereedheidsgrondslag geplaas nadat gewelddadige oproer vir ‘n derde agtereenvolgende dag in die Siyathemba-lokasie woed.

Inwoners dreig dat hulle na die munisipale kantore wil opruk om dit af te brand.

Oproeriges is glo al sedert vier uur vanoggend besig om in die strate van die lokasie te dreunsing en dans.

Die polisie is ook in Rooihoogte by Uitenhage in die Oos-Kaap ontplooi nadat ‘n vragmotor aan die brand gesteek is.

Die polisie ondersoek ook ‘n saak van openbare geweld nadat twee petrolbomme na die adjunk-hoof van die kollege se kantoor gegooi is. Tydens die oproer by die Oos-Kaapse Midlands-kollege op die dorp is voertuie met klippe bestook.

Paaie in die gebied is met brandende bande en ander versperrings onbegaanbaar gemaak.

In Gauteng word motoriste in Soweto gewaarsku om die Madlalose en Ndaba-strate in Protea Noord te vermy.

Oproeriges dreig met geweld teen Eskom se installering van elektrisiteitsmeters.

`n Woordvoerder van Johannesburg se metropolisie, Edna Mamonyane sê die metropolisie sowel as die polisie is ontplooi. Volgens haar, is die strate gesluit en is die protes steeds aan die gang.

Motoriste aangeraai om Lenasia-pad te vermy

Die metropolisie het motoriste aangeraai om die K43 in Lenasia suid van Johannesburg te vermy weens oproer in die gebied.

Oproeriges van Thembelihle het die pad met klippe afgesper en verbygaande motors met klippe bestook.

Swart inwoners het tot geweld oorgegaan oor diensleweringskwessies, insluitende behuising en eis dat munisipale amptenare hulle griewe aanhoor.

Maandag het die Gautengse LUR vir Behuising, Jacob Mamabolo, gesê hy sal dié week aandag gee aan hulle griewe.

Ontevredenheid heers in Delmas oor munisipale afbakening

Ontevrede inwoners in die Victor Khanye munisipale distrik van Delmas in Mpumalanga, het ‘n memorandum met griewe oorhandig oor samesmeltingsplanne vir die munisipaliteit, het RSG berig.

Skole en sake-instellings in die gebied het Maandag tot ‘n stilstand gekom toe inwoners betoog het teen planne dat die munisipaliteit inskakel by die Emalahleni munisipaliteit wat onder administrasie geplaas is.

Volgens inwoners is hulle nie daaroor geraadpleeg nie. Hulle eis eerder inskakeling by die Ekhuruleni munisipaliteit aan die Oosrand.

Hulle sê hulle gaan andersins beperkte dienslewering kry van ‘n munisipaliteit wat reeds onder administrasie is.

Ekhuruleni is 30 kilometer verder, terwyl Emalahleni, voorheen Witbank, 80 kilometer, ver is.

Dit is vandag die spertyd vir mense om kommentaar te lewer oor die hervasstelling van munisipale grense.

Die ministerie van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het die Munisipale Afbakeningsraad gevra om sekere munisipale grense opnuut vas te stel.

Die voorsitter van die Raad, Jane Thupana, sê inwoners van die betrokke munisipaliteite in drie provinsies word toegelaat om gesamentlik of individueel voorleggings te doen.

Thupana sê die Oos-Kaap, Limpopo en Noordwes moet kennis neem dat dit vandag die laaste dag vir voorleggings is.

Voertuie brand, buitelanders geteiken oor teerpaaie

Plundery en geweld teen buitelanders in die Ga-Phasha-lokasie naby Steelpoort in Limpopovier duur voort.

Voertuie is aan die brand gesteek en winkels van buitelanders is geplunder nadat ‘n optog oor dienslewering buite beheer geraak het.

Die oproemakers eis ‘n teerpad in die gebied. Hulle is glo vasberade om die gebied onregeerbaar te maak totdat hulle ‘n teerpad kry.

Die vier voertuie wat in ligte laaie gelaat is, volg op ‘n bus en minibustaxi wat verlede week aan die brand gesteek is.

Oproeriges het die R555 tussen Steelpoort en Burgersfort met brandende stompe en klippe versper.

Ses-en-dertig betogers is intussen weens openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging tydens die oproer in hegtenis geneem.

Die polisie sê daar sal nog mense in hegtenis geneem word in verband met twee vragmotors wat ook aan die brand gesteek is.

TUT gee R60 miljoen aan oproerige studente

Die Tshwane Universiteit van Tegnologie het 60 miljoen rand bewillig vir studentehulp om sodoende om ‘n einde te bring aan betogings by al sy kampusse, het RSG berig.

Studente het verlede maand met gewelddadige betogings begin toe daar aangekondig is dat staatsubsidies uitgeput is.

Die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema het vanjaar 463-miljoen rand aan die TUT toegeken, teenoor die 633-miljoen rand verlede jaar.

Die Universiteit het van sy eie geld beskikbaar gemaak aan meer as vyf duisend studente wat nou met hulle studies kan voortgaan.

Die vise-kanselier, professor Lourens van Staden sê die Universiteit het meer as 74.000 studente en dié geld is slegs vir behoeftige, maar verdienstelike studente.

Is stygende protes ‘rebellie van die armes’?

Suid-Afrika se gewelddadige betogings het in 2014 ‘n hoogtepunt bereik, volgens ‘n verslag deur die Multilevel Government Initiative by UWK se Gemeenskapsregsentrum.

“Beide die aantal burgerlike protesoptredes sowel as die voorkoms van geweld het toegeneem in 2014,” het die sentrum Donderdag in ‘n verklaring gesê.

“In 2007, het minder as die helfte van die protesoptredes met geweld gepaardgegaan, maar in 2014 is geweld by byna 80 persent van protesoptredes betrokke in een of ander vorm.”

Dit is volgens die Civic Protes Barometer (CPB) wat verskillende tendense in protesaksies in Suid-Afrika, meet, lui die verslag.

Dit het getoon dat daar in 2014’n toename in die aantal protesaksies was, ‘n ommekeer van die afwaartse tendens wat na 2009 opgemerk is.

“Die aantal betogings in 2014 het ‘n hoogtepunt van 218 bereik. Die vorige maksimum was 204 in 2009 (wat ook ‘n verkiesingsjaar was) bereik,” het die sentrum gesê.

“Die toename in 2014 is slegs deels te wyte aan die verkiesing, maar byna net soveel protesaksies (28) het in Augustus drie maande na die verkiesing uitgebreek.”

Tussen 2012 en 2014, het Gauteng meer protes as enige ander provinsie beleef. Sedert 2007 styg Gauteng se deelname in sulke optrede vinniger as enige ander provinsie.

Kaapstad is die munisipaliteit wat die meeste onder protesaksie gebuk gaan, met 84 betogings, gevolg deur Johannesburg, eThekwini, Tshwane en Ekurhuleni. Hierdie vyf munisipaliteite is verantwoordelik vir die helfte van alle protes wat aangeteken word.

“Kwessies met betrekking tot munisipale dienste en die administrasie van munisipaliteite word meer dikwels aangehaal as die oorsaak van protes as al die ander griewe saam,” lui die verklaring.

Die Gemeenskapsregsentrum stel belang daarin om met behulp van die studie te toets of daar wel tans ‘n “rebellie van die armes” gevoer word.

Die CPB dek die tendense in die aantal betogings, geografiese verspreiding van protes, tendense in gewelddadige burgerlike protes en die griewe agter protes tussen 2007-2014.

Intussen het Namibië ‘n “dramatiese­ afname” in ongelykheid en armoede oor die afgelope 20 jaar beleef, sê ‘n beduidende aantal inwoners van die buurland.

Hulle het nooit enige tekorte aan kos, water of krag oor die afgelope twee jaar ondervind het nie.

Die nuutste bevindinge van die Afrobarometer­ oor opvattings oor geslagsgelykheid, geslagsgeweld en ’n lewe in armoede is verlede Vrydag in Windhoek vrygestel.

Daarvolgens sê 88% van die deelnemers aan die opname dat hulle nooit of slegs een of twee kere sonder water moes klaar kom, of nie mediese dienste kon kry nie.

In die opname wat deur die Instituut­ vir Openbare Beleids­navorsing­ (IPPR) gedoen is, sê 90% hulle het nog nooit ’n tekort aan krag vir kookdoeleindes ervaar nie en 58% sê hulle het nog nooit nie ’n kontantinkomste gehad nie.

Mans in stedelike gebiede is meer geneig om te sê dat hulle nooit sonder kos hoef te gaan nie.

Bykans 1 200 Namibiërs het aan die opname deelgeneem wat tussen Augustus en September­ verlede jaar gedoen is.