Swart grondeienaar voor vir moord en aanranding

Nege swartes, insluitend ‘n swart boer, sy vrou en twee polisiebeamptes, verskyn na verwagting vandag in die Vryburg-landdroshof in verband met die moord op ‘n ander swarte en die aanranding van nog twee mense.

Noordwes-polisiewoordvoerder, Paul Ramaloko, sê Tigwinita Luwantu, sy vrou Lindiwe Mpathani en vyf vriende staar aanklagte van moord, poging tot moord, aanranding en ontvoering in die gesig.

Die twee swart polisiebeamptes, slegs bekend as Mazibuko en Nkele, word van dwarsboming van die gereg aangekla, het OFM berig.

Dit kom nadat drie mans wat in die veld gestap het op ‘n plaas langs dié van Lewantu, voorgekeer is.

Volgens Ramaloko het die groep die mans van veediefstal beskuldig en met knopkieries en ander voorwerpe geslaan. Hulle is ook na bewering met kookwater gebrand en in ‘n vrieskas gegooi.

Moses Mosepele het aan sy beserings beswyk terwyl die ander twee mans erg beseer is.

Dertien vas na plundery in Noordwes

Dertien persone is in Stella in Noordwes in hegtenis geneem vir openbare geweld nadat buitelanders se winkels geplunder is.

“Die polisie het ‘n klopjag uitgevoer op ‘n kroeg in Rekgaratlhile en die alkohol gekonfiskeer,” het Kealeboga Molale, woordvoerder van die polisie, gesê.

“Die gemeenskap was glo ontevrede hieroor en ongeveer 200 lede van die gemeenskap het op die twee buitelanders se winkels toegeslaan en dit geplunder.”

Die groep is Saterdagaand omstreeks 20:00 in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting binnekort in die Vryburg-landdroshof verskyn.

Nog ‘n waterkrisis dreig in Vryburg

Taungdam
Taungdam

‘n Waterprojek wat in 2011 van stapel gestuur is deur die Dr Ruth Segomotsi Mompati Distriksmunisipaliteit, het misluk.

Die doel van die projek was om water uit die Taungdam na die Naledi Plaaslike Munisipaliteit te lei.

Die projek sou die waterkrisis aanspreek in die Vryburgarea van Noordwes, na wat berig word.

Gebiede van Kismet Park, Colridge en Huhudi in Vryburg is die ergste geraak deur watertekorte. ‘n Pyplyn wat net twee jaar oud is, het reeds ingegee.

Dr Ruth Segomotsi Mompati se burgemeester, Elvis Tladinyana het erken dat daar ‘n waterkrisis in die gebied is.

“Herstelwerk wat gemaak is, is nie volhoubaar nie, want dit is buite ons beheer. Die pype is nou oud.”

Hy voeg by dat die pype vervang moet word en dat die bestaande hoofpyp bedoel was om hierdie spesifieke probleem op te los.

Verskillende gebiede regoor die land ervaar watertekorte. Dit sluit Mothutlung in waar die inwoners oproerig geraak het.

Bloemfontein se noordelike voorstede sukkel ook en inwoners ondervind dieselfde uitdaging as gevolg van verouderde infrastruktuur.