Brandstigting, plundery vir dienste sonder belastinglas

Oproerige inwoners van Letlhabile en Jericho naby Brits in Noordwes het hulself tot brandstigting en plundery gewend vir dienste.

Die oproeriges, wat min of geen belasting betaal nie, dreig om vol te hou met openbare geweld totdat hulle van skoon water voorsien word.

Hulle het ‘n bus en ‘n vragmotor aan die brand gesteek en verskeie winkels geplunder.

Oproermakers beskuldig die Madibeng plaaslike munisipaliteit daarvan dat hulle nie aan die probleem aandag gee nie, ondanks die feit dat die plaaslike regering miljoene rand bewillig het vir ‘n waterprojek.

Dit is nie bekend wat met die geld gebeur het of wie verantwoordelik is vir die projek nie.

Ontevredenes het skole, sake-ondernemings en gesondheidsentrums gedwing om te sluit.

Minister waarsku dat belastinglas gaan verhoog

Die ANC het die minister van Finansies, Nhlanhla Nene se eerste begrotingsrede vir die mediumtermyn verwelkom en gesê die regte balans is getref tussen die behoeftes van die armes en die noodsaaklikheid om staatsbesteding in te perk.

Nene het sy toespraak afgeskop met ‘n waarskuwing dat beleidsveranderinge ‘n nog swaarder las op belastingbetalers kan plaas.

Nene het die land se groeivooruitsigte beduidend afgeskaal met ‘n voorspelling van slegs 1,4%.

Volgens Nene is dit te wyte aan faktore soos stakings, hoë elektrisiteitskostes en ‘n afname in privaatbeleggings.

Hy het voorts die regering aangeraai om groeiende skuld te verminder en sy fiskale sake reg te ruk.

Die minister het ook beleërde staatsbeheerde instellings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens en die Poskantoor gewaarsku dat hulle geen regeringshulp moet verwag nie.

Nene het gesê hulle sal nie verdere reddingspakette ontvang nie, maar sal herstruktueer word om hulle finansieel volhoubaar te maak.

Hy sê enige kapitalisasie sal deur middel van die verkoop van oortollige bates geskied.

Daar sal na verwagting sowat R1,1 miljard rand oor die volgende drie jaar aan nuwe grondeise bestee sal word, het Nene aangekondig.

Kenners meen dié bedrag is nie voldoende nie.

Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming sal die fondse daarvoor in sy bestaande begroting moet vind.

Die nuwe vyfjaar termyn vir eise sal teen 31 Junie 2019 ten einde loop.