Oproer by wildreservaat eis brug

Minstens 12 skole moes in Rolle in Mpumalanga gesluit word weens opstande oor ‘n brug.

Oproeriges het die pad tussen Bosbokrand en die Manyeleti-wildreservaat versper en ‘n brug wat die twee plekke verbind aan die brand gesteek.

Hulle eis dat die 50 jaar-oue brug herbou word.

Die Departement van Openbare Werke het vroeër onderneem om die brug te herbou, maar sê dit is nie onder sy projekte vir die huidige geldjaar nie.

Beloning vir inligting oor Kamdeboo-stropers

Die Wilderness Foundation en die Forever Wild Rhino Protection Initiative bied ‘n R150 000 beloning aan vir inligting wat sal lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van stropers wat betrokke is by die slagting van twee renosters by die Kamdeboo-berg Privaatwildreservaat.

Woensdag is ‘n ma en haar kalfie van twee-en-‘n-half-jaar geslag.

Die dragtige moeder se ongebore kalf ook dood.

Enigiemand met inligting kan die Wildlewemisdaadlyn op 078 696 9494 skakel.

Vermeende stroper gewond na skietery

Vyf vermeende renosterstropers is vasgevat na ‘n skietery tussen die stropers en polisie in die Phinda-wildreservaat by Hluhluwe in KwaZulu-Natal uitgebreek het.

‘n Polisiewoordvoerder, Thulani Zwane sê hulle het op ‘n wenk gereageer dat daar moontlik stropers in die reservaat bedrywig is.

Hy sê toe die polisie die verdagtes betrap, waarna ‘n skietery gevolg het, en een van die vermeende stropers gewond is.

Die polisie het beslag gelê op onwettige vuurwapens, knaldempers en ‘n byl. Die vyf sal Dinsdag in die hof verskyn.

Sanparke het intussen berigte ontken dat die Krugerwildtuin beplan om 500 van sy renosters uit die park te skuif en die helfte aan privaatkopers te smous.

‘n Woordvoerder, Wanda Mkutshulwa sê nog geen besluite is gemaak nie.

Dit volg na berigte dat 250 van die renosters aan privaatkopers verkoop is vir sowat 60 miljoen rand en nog verskuif sal word na ‘n veilige hawe.