Islamitiese terroriste val soldate in Mali aan

’n Organisasie wat jihadistiese webtuistes monitor, berig dat Al-Kaïda se tak in Noord-Afrika aanvoer dat die ekstremistiese groep, Ansar Dine, barakke in die noorde van Mali aangeval het.

Die aanval was in die stad, Nione in die Segou-streek, volgens die nuusagentskap AP.

Verskeie soldate is dood, ander is gewond en die aanvallers het wapens gesteel.

Volgens die Islamitiese ekstremiste is die aanval deel van die operasie wat daarop gemik is om Franse magte uit die land te verdryf.

Intussen is die Radisson Blu-hotel weer heropen, het Reuters berig. Die hotel is Dinsdag in Bamako, Mali heropen na ‘n terreuraanval.

Dit is die eerste keer dat die hotel sy deure weer vir gaste oopstel nadat dit in November deur gewapende Islamitiese terroriste aangeval is.

Tornado verniel Sydney

’n Tornado het Sydney Woensdagoggend getref en groot skade aangerig.

Vernietigende winde van tot 200 kilometer per uur en hael so groot soos krieketballe het bome en kragpale laat omval, dakke afgeruk en mure ineen laat stort.

Verskeie internasionale en binnelandse vlugte moes na ander stede herlei word.

’n Winkelsentrum in Sydney se oostelike voorstede is ontruim nadat ’n deel van die dak weens die storm ineengestort het.

Nagenoeg 6 000 huise in die suidelike deel van die stad was sonder elektrisiteit en die nooddienste het meer as 200 oproepe om hulp ontvang.

Geen versteekte Nazi-trein gevind nie

Poolse geologie-deskundiges het Dinsdag gesê hulle kon geen teken vind op die plek waar ’n Nazi-trein glo gedurende die Tweede Wêreldoorlog versteek is nie.

Volgens plaaslike oorleweringe is dié trein vol goud in ’n geheime tonnel in die omgewing versteek toe die Nazi’s in 1945 voor die Russiese weermag gevlug het, het AP berig.

Deskundiges van die universiteit van wetenskap en tegnologie in Krakow het die gebied in Walbrzych, in die suidweste van Pole, verlede maand met magnetiese en gravitasie-toerusting ondersoek, maar niks gevind nie.

Die hoof van die ondersoekspan, Janusz Madej, het op ’n nuuskonferensie gesê daar mag wel ’n tonnel wees, maar geen trein nie.

Trump vermorsel Jeb Bush met Bin Laden-onthulling

Die voormalige goewerneur van Florida, Jeb Bush, het Dinsdag vir oulaas tevergeefs probeer om die Republikeinse voorloper in die presidentsnominasiestryd, Donald Trump, in ’n regstreekse televisiedebat aan te vat, het Reuters berig.

Die meeste ander aanspraakmakers op die nominasie was egter katvoet vir die vurige miljardêr. Hul versigtigheid was ’n erkenning van Trump se vermoë om aanvalle te weerstaan en sy man te staan.

Verlede week het Trump skokgolwe deur die Republikeinse kamp gestuur met sy voorstel om alle Moslems te verbied om Amerika binne te kom.

Sy teenstanders het hom hieroor gepak, net om agter te kom baie Republikeine deel Trump se sentiment en sy gewildheid in meningsopnames het toegeneem.

Al was Bush genadeloos in sy aanslag op Trump, was dit waarskynlik te min te laat om sy sukkelende veldtog te red.

“Donald is goed met een-sin-aanhalings, maar hy is chaos as ’n kandidaat en sal ’n chaotiese president wees,” het die 62-jarige Bush gesê.

Trump (69) het teruggekap: “O ja, en jy is ’n sterk ou wat in die meningspeilings in gewildheid afneem.”

Trump het ook onthul dat die Bush-gesin toegesien het dat Osama bin Laden se hele familie uit die VSA gesmokkel word, direk na 9/11 toe alle lugverkeer gestrand was.

Dit het die FBI se ondersoek in die wiele gery omdat hulle nie sleutelgetuies kon ondervra oor die grootste terreuraanslag in die VSA nie.

Trump het ook gerugte dat hy as onafhanklike kandidaat sou staan indien hy nie die Republikeinse party se nominasie kry nie, die nek ingeslaan.

“Ek is totaal verbind tot die Republikeinse party en voel geëerd om die voorloper te wees,” het Trump gesê.

Islamitiese front teen Iran met min entoesiasme begroet

Saoedi-Arabië het glo ‘n militêre koalisie op die been gebring wat uit 34 lande bestaan met vae beloftes om “terro­risme” te bekamp.

Die alliansie se hoofkantoor sal in Riaad wees om militêre operasies te koördineer en te ondersteun, het die Saoedi-Arabiese nuusagentskap berig.

Intussen het belangrike “deelnemers” Pakistan, Maleisië, Libanon en Indonesië aangedui dat hulle nie deel is van die koalisie nie, ten spyte van die aankondiging.

Die koalisie sal “die Islamitiese wêreld se probleem met terrorisme takel en ’n vennoot wees in die wêreldwye stryd teen die vervloeking,” het die Saoedi-minister van verdediging, prins Mohammad bin Salman Al Saud, op ’n nuuskonferensie in Riaad gesê.

Die Koninkryk wil glo internasionale pogings steun om terrorisme te bekamp en internasionale vrede en veiligheid te bevorder.

Afrikalande soos Mali, Tsjad, Somalië en Nigerië wat deurgeloop het onder militêre aanvalle is ook lede.

Saoedi-Arabië se mededinger in die streek, Sjiitiese Iran, is nie deel van die koalisie nie. Saoedi-Arabië en Iran ondersteun opponerende kante in die oorloë wat in Sirië en Jemen woed.

Ontleders meen dat Saoedi-Arabië genoodsaak is om ‘n duur sjarme-offensief te loods omdat hulle ten nouste betrokke is by die befondsing van die Islamitiese staat, tesame met Turkye.

“Hierdie [koalisie]lande het prosedures wat hulle moet volg om by die koalisie aan te sluit, maar uit geesdrif om so gou as moontlik die koalisie op die been te kry, is dit vroeg aangekondig,” het die Saoedi-­minister verduidelik.

Amerika het vir breër internasionale deelname aan die stryd teen die Islamitiese Staat (ISIS) in Irak en Sirië gevra en gesê Turkye moet beter beheer op die grens met Sirië handhaaf, maar het nog self nie veel gedoen om ISIS te stuit nie.

Amerikaanse wapens en hulp aan sogenaamde “gematigde rebelle” het voorheen direk in die hande van ISIS beland. Amerikaanse mediabronne beskryf ook die konflik in Sirië as ‘n “burgeroorlog” terwyl dit in werklikheid ‘n NAVO-inval is.

Die Saoediese minister wou homself nie verbind aan ‘n stryd teen ISIS as sodanig nie en gesê die koalisie sal optree “teen enige terroriste-­organisasie wat te voorskyn kom”.

Hy het waarskynlik bedoel dat die koalisie ‘n front teen Iran sal vorm.

Aanval op Franse onderwyser as terreurdaad bestempel

‘n Kleuterskoolonderwyser naby Parys, Frankryk met ‘n mes aangeval deur ‘n man wat beweer dat hy namens die Islamitiese Staat (ISIS) optree.

Die voorval het Maandagoggend op die skoolgronde van ‘n skool in Aubervilliers, in die buitewyke van Parys, gebeur, het Reuters berig.

Volgens wetstoepassers het die verdagte die onderwyser in sy nek gesteek en gesê die aanval is ‘n gebaar van ISIS.

“Dit is Daesh. Hierdie is ‘n waarskuwing,” het die man in ‘n klapmus glo aan sy slagoffer gesê voordat hy gevlug het. Daesh is die Arabiese naam vir ISIS.

Die onderwyser is nie ernstig beseer nie, maar hy is in die hospitaal opgeneem.

Die voorval volg ‘n maand nadat 130 mense in ‘n veelvuldige gekoördineerde terreuraanval in Parys dood is.

Verlede week was daar ook ‘n mesaanval by ‘n Londense moltreinstasie wat deur die polisie as ‘n terreuraanval bestempel is.

Gambië nou ‘n Islamitiese staat

President Yahya Jammeh het verklaar dat Gambië ‘n “Islamitiese staat” geword het, maar Kersfees bly.

“President Yahya Jammeh se uitspraak of verklaring is ongrondwetlik, dit bevat geen grondwetlike basis nie en… dit is ‘n onwettige verklaring,” het Ousainou Darboe, die sekretaris-generaal van die vernaamste opposisieparty, die United Democratic Party, aan AFP gesê.

“Dit is steeds belaglik dat wanneer hy die openbare aandag wil aflei van wat gebeur in die land, hy kolonialisme aanval,” het Darboe gesê.

Die verarmde voormalige Britse kolonie, binne Senegal, is bekend vir sy wit sand strande. Gambië het ‘n bevolking van byna twee miljoen waarvan 90 persent Moslem is.

Van die oorblywende agt persent is Christen en twee persent is gedefinieer as inheemse oortuigings.

In 2013, het Jammeh onttrek uit die Statebond, en gesê die liggaam verteenwoordig “‘n verlenging van kolonialisme”.

“Gambië se lot is nou in die hande van die Almagtige Allah. Van vandag af, is Gambië ‘n Islamitiese staat. Ons sal ‘n Islamitiese staat wees wat die regte van burgers respekteer,” is hy aangehaal op die presidensiële webwerf.

In televisiebeeldmateriaal van die toespraak op GRTV, wat deur AFP Saterdag gesien is, het die president egter nie in detail uitgebrei oor wat die verandering sal beteken vir die land nie, maar het Christene gerusgestel.

“Kersfees sal voortgaan,” het hy gesê en bygevoeg dat hy nie Islamitiese polisie sal aanstel nie.

Jammeh, 50, is ‘n militêre offisier en voormalige stoeier met ‘n plattelandse agtergrond. Hy het tot dusver die land regeer met ‘n ystervuis, nadat hy mbv ‘n staatsgreep in 1994 aan bewind gekom het.

Teenstanders sê hy het al hoe meer paranoïes geword, skommel gereeld sy ministers en laat slegs ‘n klein aantal betroubare bondgenote naby hom toe.

Hy vaar gereeld uit teen Gambië se koloniale verlede en gee dit die skuld vir baie van die land se ellende.

In Maart 2014, het Jammeh aangekondig dat Gambië Engels as amptelike taal sal laat vaar, maar nie aangedui watter van die inheemse tale Engels sal vervang nie.

Etniese geweld woed in Burundi

Byna 90 mense is Vrydag dood in geweldpleging in Burundi se hoofstad, in die hewigste gevegte sedert Mei wat op ’n mislukte staatsgreep gevolg het, het Reuters berig.

Ontploffings en geweervuur is Vrydag deurlopend in en om Bujumbura gehoor. Inwoners sê die polisie het die hele dag lyke van slagoffers van die geweldpleging verwyder. Kalmte is weer Saterdag in die hoofstad herstel.

’n Woordvoerder van die weermag, Gaspard Baratuza, het gesê ­gewapende mans het drie militêre basisse in Bujumbura aangeval wat die dag se geweldpleging begin het. Volgens hom is 79 aanvallers doodgeskiet en 45 ander is in hegtenis geneem.

Vier polisiebeamptes en vier soldate is ook in die gevegte dood. Beslag is op wapens en ammunisie gelê.

Die onluste in Burundi het in April begin toe pres. Pierre Nkurunziza aangekondig het dat hy hom vir ’n derde termyn as staatshoof verkiesbaar stel. Dit het skokgolwe deur ’n streek gestuur wat steeds onstabiel is, twee dekades ná die volksmoord in naburige Rwanda.

Vrydag se geweldpleging is deur Amerika en ander Westerse lande veroordeel wat vrees dat die sentraal-Afrikaland terug sou beweeg in etniese geweld.

Tot nou was die skeidslyne in die Burundi-krisis polities van aard. Westerse magte en buurlande vrees egter dat uitgerekte geweld ou etniese skeidslyne in die land met 10 miljoen mense kan trek.

In Burundi se 12-jaar lange burgeroorlog, wat in 2005 geëindig het, het rebellegroepe van die Hoetoe-meerderheid, insluitende ’n groep wat deur Nkurunziza gelei is, teen ’n weermag onder leiding van die Toetsi-minderheid geveg.

Dit is dieselfde etniese samestelling wat in Rwanda tot die volksmoord gelei het.

Merkel belowe dat Moslems Duitse identiteit sal aanneem

Angela Merkel, Duitse kanselier, moes Maandag terugkrabbel oor immigrasie om haar posisie te behou as voorsitter van die CDU by die party se jaarvergadering in Karlsruhe.

Die kanselier het sogenaamde asielsoekers aangemoedig om te integreer. Binne die eerste tien minute van haar toespraak wat 70 minute geduur het, het sy die kwessie van vlugtelinge aangespreek.

Sy het die teenkanting teen haar oopgrens-beleid goed afgeweer deur te verklaar dat multikulti ‘n leuen is omdat dit lei na parallel-gemeenskappe.

Kritici beskuldig Merkel dat sy verantwoordelik is vir die vlugtelingkrisis deur grense vir migrante oop te stel.

“Ons wil en sal die aantal vlugtelinge merkbaar verminder,” het sy belowe. Sy het gesê dit is in die belang van Duitsland, Europa en ook in die belang van migrante.

Sy het ook verklaar dat regse populisme geen kans staan in Duitsland nie omdat Moslems aangemoedig sal word om Duits te leer, Duitse wette na te kom en die “Duitse identiteit aan te neem”.

6,8 miljoen stemme vir Franse Front National: ”n verloorder wat swaar weeg’

Uiteindelik het die Front National van mevrou Marine Le Pen geen enkele streek in Frankryk kon inpalm nie: soos meningsopnames op die vooraand van die tweede rondte van die verkiesing voorspel het. Nietemin het die steun vir dié regse party skouspelagtig toegeneem en het hy 6,8 miljoen stemme op hom verenig. Vandaar die hoofopskrif van die koerant Le Parisien vanoggend: “Front National, ‘n verloorder wat swaar weeg”.

‘n Aspek wat ook allerweë in die media verswyg word, is dat die streeksparty wat meer onafhanklikheid vir die eiland Korsika bepleit, die Sosialiste verslaan het om ‘n verrassende oorwinning aan te teken.

Tydens haar toespraak ná die aankondiging van die uitslae en dat sy slegs 45,5% van die stemme gekry het, het Marion Maréchal-Le Pen gesê: “Daar is sommige oorwinnings wat die oorwinnaar in die skande steek.” Die regse en linkse partye wat in PACA en Nord-Pas-de-Calais-Picardie teen die Front saamgestaan het, het gewen maar het die argument van die FN dat hulle die “enigste ware opposisie” teenoor ‘n “verrotte en korrupte politieke klas” is, gestand gedoen.

Die Sosialistiese eerste minister, Manuel Valls, het gisteraand gesê dat “die gevaar van die Front National nog nie verby is nie”. Sy party het ook die belangrike Île-de-France, die streek van 12 miljoen mense rondom Parys wat 30% van die land se BNP verteenwoordig, met slegs 60 000 stemme aan die Republikeine se Valérie Pécresse moes afstaan. Die Sosialistiese kandidaat, Claude Bartolone, het hom hewige kritiek op die hals gehaal toe hy die “rassekaart” gespeel het deur te sê dat sy opponent die ryk voorstede en “die blanke ras” verteenwoordig.

Die Front National het sy aantal verkose streeksverteenwoordigers met drie vermenigvuldig, vanaf 118 tot 358, sedert die vorige verkiesing in 2010, iets waaroor Marine Le Pen gisteraand in haar noppies was. “Niks gaan ons keer nie,” het sy tydens haar toespraak in die dorpie Hénin-Beaumont gesê. “Die verdeling loop voortaan tussen globaliste en patriotte. Die globaliste beywer hulle vir die afwatering van Frankryk en sy volk.”

Die sentrum-regse Republikeine het sewe streke ingepalm, die Sosialiste vyf, terwyl die Korsikaanse nasionaliste dié op hul eiland gewen het.

Vir hierdie verkiesing is die aantal streke van 22 tot 13 verminder. Indien die ou, kleiner streke nog geldig was, sou die Front National onder mnr. Louis Aliot op grond van gister se stemme die streek Languedoc-Roussillon net-net gewen het.