Tornado verniel Sydney

’n Tornado het Sydney Woensdagoggend getref en groot skade aangerig.

Vernietigende winde van tot 200 kilometer per uur en hael so groot soos krieketballe het bome en kragpale laat omval, dakke afgeruk en mure ineen laat stort.

Verskeie internasionale en binnelandse vlugte moes na ander stede herlei word.

’n Winkelsentrum in Sydney se oostelike voorstede is ontruim nadat ’n deel van die dak weens die storm ineengestort het.

Nagenoeg 6 000 huise in die suidelike deel van die stad was sonder elektrisiteit en die nooddienste het meer as 200 oproepe om hulp ontvang.

Hael laat boere op moedverloor se vlakte

Graanboere in die Oos-Vrystaat, wat gehoop het om ten spyte van die droogte hierdie seisoen ‘n oes van die lande te kan afhaal, is moedeloos na hael die naweek gesaaides vernietig het, het OFM berig.

Jan Scheepers sê die donderwolke het ongeveer 7uur Sondagaand begin saampak en dit het daarna verskriklik begin hael in Retiefsnek tussen Bethlehem en Fouriesburg.

Hy sê die hael het omtrent 25cm diep op die teerpad gelê en ongeveer 20 motors was ook gestrand.

Scheepers sê die skade aan die lande is hartverskeurend.

Hy sê dié verskriklike haelskade is veral sleg nadat die droogte reeds sy tol geëis het.

Haelskade sal ekonomie knou sê Britsboere

hail‘n Haelstorm by Brits, in Noordwes het vir groot skade gesorg. Boere sê ‘n geraamde R100 miljoen is deur die storm in die Brits-omgewing aangerig.

Die meeste plase in die gebied is geraak deur die swaar weer en haelskade.

Groenteboere sê hulle is baie nadelig geraak omdat hulle nie versekering op die oeste het nie.

Hulle meen die skade sal ‘n negatiewe invloed op voedselsekerheid en ekonomiese uitkomste hê.

Haelstorm verwoes Ceres-oes

Ceres
Ceres

Boere in die Witzenberg-distrik – wat Ceres, Tulbagh, die Koue Bokkeveld, Wolseley en die vallei insluit – se drome van ’n goeie oes is verlede Vrydag deur ’n haelstorm verwoes.

Die Burger berig dat tussen R150 miljoen en R200 miljoen se skade in Ceres deur hael aan boere se appel- en peer-oeste aangerig is.

Dié bedryf dra sowat R3 miljard tot die ekonomie van die groter Ceres-gebied by, maar weens die oesskade gaan dit nou aansienlik minder wees, het Hannes Hanekom, voorsitter van die Ceres/Witzenberg-boerevereniging gesê.

Die meeste plase het tussen 50% en 100% skade gely.