Onderhoud wat sloer veroorsaak waterprobleme in Kestell

Die Maluti a Phofung-munisipaliteit in die Oos-Vrystaat, soos talle ander munisipaliteite, gaan gebuk onder droogte, maar onderhoud wat sloer, veroorsaak groot ongerief vir gebruikers.

Die waterprobleme in die gebied duur al maande lank.

Die gebied, wat die dorpe Kestell, Qwaqwa en Harrismith insluit, het nog nie naastenby genoeg reën gehad nie.

Die Fika Patso-dam, wat uitsluitlik op reënwater staatmaak, is tans 25% vol – byna die helfte van die dam se vlak in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Dié dam buite Qwaqwa, voorsien tans water aan die dorp.

Instandhouding aan ‘n waterpyp wat Kestell van water voorsien, word tans gedoen, met die gevolg dat dié dorp reeds tien dae sonder water is.

Sterkfontein se wateraanleg sal gekoppel word aan waterpypleidings na Kestell. Konstruksie sal glo teen volgende maand voltooi wees.

‘n Woordvoerder van Maluti-a-Phofung Water, Jabu Malungane egter gesê die watertekorte in Kestell is te wyte aan onderhoud. Hy sê hulle verskaf aan inwoners water met tenkers.

In ‘n onsamehangende onderhoud met OFM, het Malungane ook gesê “pype lek” en dit moet reggemaak word.

Moordenaars van bejaarde boer op vrye voet

Niemand is al in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n bejaarde boer van Lindley in die Oos-Vrystaat nie.

Polisiewoordvoerder, Annelie Wrensch, sê die 77-jarige dr. Hein Smith van die plaas Rondekom is nie ver van sy plaashuis gevind nie.

Volgens haar is hy vermoedelik Saterdagaand met sy terugkeer na die plaas aangeval. Hy het by vriende gaan kuier en die booswigte moes hom ingewag het. Smith is Sondag omstreeks 10:00 sowat 800m van sy plaashuis gevind.

“Hulle het hom erg aangerand en sy hande agter sy rug vasgebind,” het sy gesê.
 
Die volgende dag, het Smith se buurman gebel soos hulle gewoonlik doen, maar hy het nie geantwoord nie.
 
“Hulle het gaan ondersoek instel en hulle het hom daar gevind omstreeks 10:00. Hy is daarna na die hospitaal geneem in Bethlehem en hy is in die hospitaal oorlede.”
 
Smith het ernstige wonde aan sy gesig en arms gehad, en hy het die nag in die veld deurgebring, waar hy waarskynlik agv blootstelling verder verswak het.

Wrench sê dit is moontlik dat drie mense betrokke was by die aanval. ‘n Pistool word uit die huis vermis. Smith se bakkie is naby die huis gevind.

Die polisie ondersoek sake van moord en gewapende roof.

Hael laat boere op moedverloor se vlakte

Graanboere in die Oos-Vrystaat, wat gehoop het om ten spyte van die droogte hierdie seisoen ‘n oes van die lande te kan afhaal, is moedeloos na hael die naweek gesaaides vernietig het, het OFM berig.

Jan Scheepers sê die donderwolke het ongeveer 7uur Sondagaand begin saampak en dit het daarna verskriklik begin hael in Retiefsnek tussen Bethlehem en Fouriesburg.

Hy sê die hael het omtrent 25cm diep op die teerpad gelê en ongeveer 20 motors was ook gestrand.

Scheepers sê die skade aan die lande is hartverskeurend.

Hy sê dié verskriklike haelskade is veral sleg nadat die droogte reeds sy tol geëis het.

Perdediefstal steek kop uit in Oos-Vrystaat

Die polisie in die Oos-Vrystaat sê boere en perde-eienaars by Phuthaditjhaba moet waaksaam wees teen diewe wat reeds vyf perde en vier saals gesteel het.

Die polisie se Mmako Mophiring sê drie perde is op die plaas Mount Paul gesteel en nog twee op die plaas Platkop. Al die perde is gesteel terwyl hulle in die veld gewei het.

Voor hierdie perdediefstalle is ook by die stalle van die polisie se berede-eenheid ingebreek en vier saals asook polisiebeamptes se perdrystewels gesteel.

Die polisie vra enigiemand met inligting oor hierdie diefstalle om die Phuthaditjhaba-polisiekantoor te kontak.