Die polisie in die Oos-Vrystaat sê boere en perde-eienaars by Phuthaditjhaba moet waaksaam wees teen diewe wat reeds vyf perde en vier saals gesteel het.
Die polisie se Mmako Mophiring sê drie perde is op die plaas Mount Paul gesteel en nog twee op die plaas Platkop. Al die perde is gesteel terwyl hulle in die veld gewei het.
Voor hierdie perdediefstalle is ook by die stalle van die polisie se berede-eenheid ingebreek en vier saals asook polisiebeamptes se perdrystewels gesteel.
Die polisie vra enigiemand met inligting oor hierdie diefstalle om die Phuthaditjhaba-polisiekantoor te kontak.
