Franse verkiesing: Sosialis speel die ‘rassekaart’

Deel op

Claude Bartolone, die Sosialistiese kandidaat vir die Île-de-France, die streek van 15 miljoen mense wat die hoofstad Parys insluit, het die “rassekaart” gespeel. In ‘n onderhoud met die linkse tydskrif Le nouvel observateur het hy sy opponent van die sentrum-regse Republikeine, Valérie Pécresse, daarvan beskuldig dat sy “agteraf Versailles, Neuilly en die blanke ras verdedig… Sy gebruik dieselfde taal as die Front National, sy gebruik dieselfde subliminale beeld om vrees te saai.” Versailles en Neuilly is albei duur, welgestelde voorstede van Parys wat deur blanke Franse bewoon word, terwyl Bartolone ‘n verteenwoordiger van die gekleurde buurt Seine-Saint-Denis ten noorde van Parys is.

In reaksie het die kandidaat van die Front National, Wallerand de Saint-Just volgens die TV-kanaal BFMTV gesê: “Ons verwerp die buitensporige en kinderagtige beskuldigings van meneer Bartolone. Niemand praat oor ras in dié veldtog nie.”

Valérie Pécresse, wat in die eerste rondte die meeste stemme in die Ile-de-France gekry het, is egter hewig onsteld deur Bartolone, wat van Italiaanse afkoms is, se uitlatings. Sy het op Radio classique gesê:

“Dis ellendig. Ek is skaam vir politiek. As die middele die doel heilig, dink ek die Fransiliane (inwoners van die streek) sal dit straf. Dié verklarings wat my van rassisme beskuldig het ‘n reeks reaksies ontketen. Ek het so pas ‘n telefoonoproep van Calixthe Bevala, die stigter van Africains de France (en ‘n swart skryfster) ontvang, wat my ondersteun. Sy het teenoor my gesê: “Ek vind dit ongevraag, oneerlik, dis verguising.”

‘Die afstammeling van Mussolini en Eva Braun?’

Pécresse het ondersteuning van haar party ontvang, wat ook ‘n verskoning van Bartolone eis. Haar woordvoerder Geoffroy Didier het verklaar:

“Nie net behoort Claude Bartolone nie president van die streek te word nie, maar hy is nie gepas om aan te bly as president van die Nasionale Vergadering (die Franse parlement) nie. Hy verloën reeds sy beloftes: terwyl die slagspreuk van sy veldtog ‘n “menslike Île-de-France” is, gee hy hom oor aan aanvalle wat van haat spreek.”

Die voorsitter van die UDI-party, Jean-Christophe Lagarde, is van mening dat “Claude Bartolone oorverhit is. Hy doen ‘n beroep op kiesers om vir Xavier Bertrand (teen Marine Le Pen in Nord-Pas-de-Calais-Picardie) en Christian Estrosi (in PACA) te stem om die Front National te versper. Hy verduidelik dat regs en verregs nie dieselfde ding is nie. En in die Île-de-France wil hy die indruk skep dat Valérie Pécresse die afstammeling van Mussolini en Eva Braun is? Ek eis van hom dat hy om verskoning vra en terugtrek wat hy gesê het… Die vrees om te verloor regverdig nie sommer enigiets nie. Ons moet mekaar respekteer.”

Intussen het die sentrum-regse koerant ‘n meningsopname van Ipsos gepubliseer wat bevind dat Marine Le Pen slegs 47% stemme teenoor Xavier Bertrand se 53% Sondag in die tweede rondte gaan behaal, wat sou beteken dat die gesamentlike Links-Regse front teen haar daarin kan slaag om haar uit die presidentstoel van Nord-Pas-de-Calais-Picardie te hou. In die verlede het meningsopnames egter die omvang van die Front National se steun onderskat. Ook geniet die FN die meeste steun onder jongmense wat gewoonlik traag is om te stem. Indien die Front daarin slaag om genoeg jongmense na die stembusse te lok, kan hy steeds die knoop deurhaak, volgens sommige waarnemers.

Die sakekoerant Les Echos staan ook skepties teenoor die meningsopname en meen die “republikeinse front” van Links en Regs teen Marine Le Pen, is reeds besig “om te kraak”, waarvan Bartolone se rassismebeskuldiging ‘n voorbeeld sou wees.

Volgens die koerant se politieke rubriekskryfster, Cécile Cornudet, “kry ‘n mens drie dae na die FN se 28% tydens die eerste rondte van die streeksverkiesings die indruk van ‘n ‘red wat daar te redde is’ by die hoofstroompartye, waar bitterheid en weerwraak oorheers”. Sy wys op die verdeeldheid van beide die regse en die linkse partye, terwyl die Front National as die opkomende party verenig in sy strewe en waardes is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.