praag.co.za

Tag: goud

  • Ghana versuip in skuld maar kry 110-sterk kabinet

    Ghana versuip in skuld maar kry 110-sterk kabinet

    Die nuut-verkose president van Ghana het nie gras onder sy voete laat groei om te wys hoe lank ‘n kleptokratiese soustrein kan raak nie.

    Nana Akufo-Addo, is skerp gekritiseer omdat hy 110 kabinetslede aangestel het. Die opposisie praat selfs van ‘n “olifant-grootte” kabinet.

    Die 56 ministers kry nou ook 50 adjunk-ministers om die bankrot staatskas verder te plunder. Dis die grootste regering sedert die land in 1992 “demokraties” geraak het. Kennelik het demokrasie nie veel gedoen om goeie bestuur te bevorder nie.

    Die duur besluit is geneem ondanks die land se reuse skuldlas van R400-miljard.

    Sommige regeringsdepartemente het tot vier ministers, met adjunkminsters. Die kabinetslede is geregtig op ten minste twee motors, gratis brandstof, gratis water en elektrisiteit, opgeknapte akkommodasie, aftreevoordele, ander pakkette en les bes, persoonlike lyfwagte.

    Die minderheidsleier in Ghana se parlement sê die land se beperkte bronne gaan uitgeput raak.

    Die ironie is dat die nuwe president verkies is omdat hy belowe het om onnodige verkwisting te staak.

    Die minister van inligting, Mustapha Hamid, verdedig egter die aanstellings en sê die president het meer ministers nodig om die land se probleme te takel.

    Ghana voer goud, kakao en olie uit, maar groei het skerp in 2014 gedaal as gevolg van ‘n fiskale krisis en ‘n verswakking in globale kommoditeitspryse.

    Regeringswoordvoerder Nana Akomea het gesê die kritiek sal ophou as die regering sy ambisieuse agenda gestalte laat kry.

    Akufo-Addo was al in die nuus imdat hy by die Black Star plein in Accra byna sy hele aanvaardingstoespraak net so van twee Amerikaanse presidente geplagiariseer het.

    Hy het geleen uit die intreerede deur die voormalige Amerikaanse presidente George Bush gelewer in Januarie 2001, asook Bill Clinton in sy 1993 intreerede.

  • Lyk van vierde onwettige myner gekry

    Lyk van vierde onwettige myner gekry

    Die polisie het die liggaam van ‘n vierde onwettige myner by Harmony Gold se Eland-skag in Welkom gevind.

    Vrystaat polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng sê drie onwettige myners se lyke in Maandag uit die skag gehaal. Die oorledenes was burgers van Lesotho en Zimbabwe.

    Thakeng sê die polisie het sedert Maart meer as 530 onwettige mynwerkers in Welkom in hegtenis geneem.

    Hulle staan tereg op aanklagte van betreding, poging tot diefstal van myneiendom of gouddraende materiaal en dat hulle onwettig in die land is.

  • Geen versteekte Nazi-trein gevind nie

    Poolse geologie-deskundiges het Dinsdag gesê hulle kon geen teken vind op die plek waar ’n Nazi-trein glo gedurende die Tweede Wêreldoorlog versteek is nie.

    Volgens plaaslike oorleweringe is dié trein vol goud in ’n geheime tonnel in die omgewing versteek toe die Nazi’s in 1945 voor die Russiese weermag gevlug het, het AP berig.

    Deskundiges van die universiteit van wetenskap en tegnologie in Krakow het die gebied in Walbrzych, in die suidweste van Pole, verlede maand met magnetiese en gravitasie-toerusting ondersoek, maar niks gevind nie.

    Die hoof van die ondersoekspan, Janusz Madej, het op ’n nuuskonferensie gesê daar mag wel ’n tonnel wees, maar geen trein nie.

  • Suid-Afrika verkoop meer as 13 ton goud aan Iran, oortree VN-sanksies

    Suid-Afrika verkoop meer as 13 ton goud aan Iran, oortree VN-sanksies

    Volgens ‘n berig in die plaaslike Times-koerant, het Suid-Afrika meer as 13 ton goud aan Iran verkoop, iets wat op ‘n oortreding van VN-sanksies teen die land sou neerkom.

    Die sentrale bank van Iran het verlede week aangekondig dat “‘n som van 13 ton goud voorheen aangekoop is en oor die afgelope twee jaar in Suid-Afrika gedeponeer is en nie na Iran oorgeplaas kon word nie, te wyte aan sanksies. Dié berig is deur die Irannese nuusagentskap Fars vrygestel.

    Die hoof van die Irannese sentrale bank, Waljolla Seif, sê die geslaagde vervoer van die goud verteenwoordig getuienis dat ‘n transaksie in die gange van die kerksamesprekings in Wene saamgestel is.

    Iran onderhandel met die M5 + 1-groep, die VSA, Brittanje, Frankryk, Rusland, China, asook Duitsland, oor sy kernprogram.

    Volgens die Times wou nóg die SA Reserwebank nóg die nasionale tesourie kommentaar lewer oor watter Suid-Afrikaanse instelling die goud verkoop en hanteer het.

    ‘n Woordvoerder vir die tesourie Phumza Macanda het bloot bekendgemaak dat ‘n “Suid-Afrikaanse instelling” betrokke was by die onderneming waaroor Iran en die VN ooreengekom het en “die regering geen rol by die oorplasing van die goud gespeel het nie”.

  • Skermutselinge tussen onwettige myners aan Oos-Rand

    Skermutselinge tussen onwettige myners, het die Oos-Rand nege ure lank in paniek gehad.

    Gevegte tussen twee groepe strydende onwettige mynwerkers het veroorsaak dat gesinne onder hul beddens en binne kaste moes wegkruip vir gewapende mans wat mekaar agtervolg het en by hul eiendomme ingebars het.

    New Modder, buite Benoni, is Sondag omskep in ‘n oorlogsone toe die twee bendes mekaar onder tuisgemaakte bomme en masjiengeweervuur gesteek het, het Timeslive berig.

    Die stryd volg op die moord van vier onwettige myners buite Benoni Donderdag wat tot ‘n gebiedsoorlog gelei het.

    Vrese groei dat ‘n dodelike onwettige myneroorlog, wat tot nou toe hoofsaaklik aan die Wes-Rand gewoed het, na die Oos-Rand uitgebrei het weens intense polisie bedrywighede in die gebied.

    Ten spyte van getuienis wat daarop dui dat toestande merkbaar agteruitgegaan het, het die polisie gesê “niks buitengewoons in die gebied het op Sondagnag plaasgevind nie”.

    ‘n New Modder-huiseienaar Shabeer Shaik het gesê hy, soos sy bure, het sy gesin onder die bed weggesteek.

    “Mense hardloop verby my huis en skiet. Hulle spring oor mure en jaag mekaar.

    “Jy kon hulle hoor bomme gooi na mekaar. Dit was asof ons in die Midde-Ooste was.

    “Die polisie kan nie byhou nie. Hulle is oorweldig. Die weermag is nodig,” het hy gesê.

    ‘n Ander inwoner het gesê: “Jy kon masjiengeweervuur hoor. Dit het tot 04:00 aangehou. Die ontploffings het die huis geskud. Ons het nie iewers om heen te gaan nie. Ons het gedink ons gaan doodgemaak word…..”

    ‘n Sekuriteitswag by ‘n nabygeleë uitgrawingsterrein, het gesê hy het gedink die wêreld het tot ‘n einde gekom.

    “Ek het nog nooit so baie lyke gesien soos in die afgelope twee weke nie. Elke dag is daar ‘n skietery. Elke dag sterf mense. Dit is nie veilig nie. As jy uitgaan in die nag is jy dood,” het hy gesê.

    Hy het gesê die onwettige mynwerkers het “soldate” om hul goud te beskerm en hou ander mynwerkers weg.

    “Hulle het weermagte wat swaar gewapen is,” het Masuku gesê.

    ‘n Onwettige Zimbabwiese mynwerker het die groot aantal moorde bevestig. “Dit is hoofsaaklik Basotho’s wat veg en mekaar beroof.

    Kolonel Martin van Niewenhuizen, waarnemende kommissaris vir Benoni het die stellings afgemaak as gerugte.

    “Geen skietery van enige aard is aangemeld nie. Ons was in die gebied vandag [Maandag] en geen koeëldoppe is gevind nie.

    “Hierdie bewerings kom uit die gemeenskap As jy inligting wil hê, moet jy hulle vra..”

    Die myn se bestuurder, David Viljoen, het gesê wetlike bedrywighede word nie geraak deur onwettige mynbou of die oënskynlike voorvalle nie.

    Generaal-majoor Oswald Reddy, bevelvoerder van die SAPD Honeydew-groep, het gesê die onrus in Benoni het te doen met groter druk wat die polisie op onwettige mynwerkers aan die Wes-Rand geplaas het.

    “Dit was as gevolg van intense bedrywighede aan die Wes-Rand, dat hulle hul fokus verskuif het,” het Reddy gesê.

    Reddy het gesê onwettige mynwerkers is doenig in Gauteng se hoofgoudrif, wat strek van Springs tot Carletonville.

    Die Kamer van Mynwese skat dat tot 10% van Suid-Afrika se totale goudproduksie – wat in 2013 R72 miljard beloop het – van onwettige mynbou kom.

  • Goudkoors

    Die rekordvlakke wat die goudprys nou aandurf laat goudkoors wêreldwyd opvlam.

    ‘n Mooi demonstrasie is die planne van ‘n maatskappy om goud betreklik diep vir Amerikaanse standaarde, met ‘n horisontale skag onder ‘n berg by Butte, Montana, te delf. Groot kostes word aangegaan om die verwagte half miljoen onse goud te win.

    Hierdie spesifieke projek roep baie nostalgie op, aangesien dit die sentrum van ‘n delwery was wat sowat ‘n eeu gelede doodgebloei het. Nou word ‘n ou ertsmeule weer opgeknap om weer erts hierheen te vervoer.

    Die impak wat goud op die geskiedenis van Butte gehad het, blyk daaruit dat die plaaslike professionele voetbalspan steeds as die Ore Diggers bekend staan.

    Die ontdekking van goud en die uitbreek van goudkoors het nie net in Suid-Afrika tot kits-nedersettings gelei nie, maar wêreldwyd. Dit het grootliks tot die ontwikkeling van Kalifornië en Australië bygedra. Goud was van die hoofoorwegings waarom indrukwekkende ryke soos dié van die Asteke en die Inkas verwoes is, terwyl daar aanduidings is dat minstens een Fenisiese ekspedisie in opdrag van ‘n Egiptiese farao om nuwe goudbronne te vind eeue gelede reeds om die suidpunt van Afrika gevaar het.

    Dat Suid-Afrika, as die wêreld se vierde grootste goudprodusent en die wêreld se grootste platinum-produsent heelwat baat by die Midaslopie en selfs blinker platinumlopie sal baat is voor die hand liggend.

    Die vraag is hoe die land met hierdie verhoogde inkomste te werk sal gaan. ‘n Onoordeelkundige stropersmentaliteit beteken dat die omgewing waar dit gedelf is naderhand in armoede kan steier, of selfs ‘n spookdorp word, terwyl magnate oorsee die dollars tel.

    Die stropersmentaliteit word goed gedemonstreer deur die finansieringsmodelle waarmee Eskom vorendag kom, en die reuse meevaller waardeur die SAUK weer op dreef gekry word. Terwyl Eskom kliphard brom dat die 35 % verhoging per jaar te min is, is die kragreus taamlik stil oor besuinigingsmaatreëls soos die bevriesing van bonusse, die stroomlyn – verskoon die woordspeling – van bedryfsuitgawes om elke beskikbare rand so ver as moontlik te rek.

    Solidariteit se konferensie oor ‘n finansieringsmodel vir Eskom sal na verwagting ook aan die lig bring of daar ander opsies is as om die resessievoos publiek met dreigemente van flikkerende kerse in plaas van elektriese lig in die tonnel met reuse verhogings gyselaar te hou.

    ‘n Krisis wat Eskom, en nie die publiek nie, veroorsaak het.

     

    wedding combs forДанильченко Харьков

  • Goud stel nuwe rekord terwyl dollar uitsak

    Goud het ‘n rekordverpletterende stormlopie gister voortgesit en ‘n nuwe hoogte van $1 140 per fynons bereik, terwyl die Amerikaanse dollar getuimel het.

    Die swakker dollar het ook gehelp om ander metale soos koper en silwer skerp opwaarts te stoot en oliepryse het van hulle laagste vlakke vir ‘n maand teruggewip.

    Die goudprys het met meer as 25% sedert Julie opgeskiet. Ontleders sê dat goud wel olie se voorbeeld van die laaste jaar kan volg en weer skerp kan daal, maar hulle is nie oortuig dat die metaal se lopie op ‘n einde is nie.

    мед справка 095лобановский александр биография

  • Die mite van die Krugermiljoene

    Die aand van 28 Mei 1900 was bewolk en donker. Lord Roberts se 100 000 Britse soldate was reeds suid van Johannesburg ná sy opmars uit Bloemfontein. Dit is nou reeds agt maande sedert die Anglo-Boere Oorlog in Oktober 1999 uitgebreek het. Pretoria, die hoofstad van die ZAR, sou die volgende paar dae ingeneem word. Daarna sou die Boeremagte volgens lord Roberts se doktrine hul wapens neerlê. Die oorlog sal vir Haar Majesteit se regering gewonne wees.

    Minstens vier muilwavragte goudstawe en krugerponde moes die nag van 28 Mei uit die Munt op Kerkplein verwyder word. Die ZAR se opperbevel het gelas dat die goud na Europa verskeep moes word. Dit sou per trein na Lourenço Marques geneem word en op ‘n Duitse skip, die Bundesrath, wat reeds in die hawe wag, gelaai word. Indien lord Roberts die goud as oorlogsbuit sou konfiskeer, sou die Britte die hele oorlog daarmee kon befonds en bonop ‘n aardige batige saldo vir Haar Majesteit se regering oorhou. Roberts was reeds ingelig dat al die goud sedert Oktober die vorige jaar in Pretoria geberg word. Hy kon dus nie wag om sy hande daarop te lê nie.

    Die muile se hoewe maak ‘n klak-klak-geluid op die small sementpaadjie agter die Muntgebou wes van Kerkplein. Die muilwa is swaar gelaai en die diere beur aan die swaar vrag. Die 25-jarige Gustav Preller, wat die verantwoordelikheid vir die vervoer van die goud het, het al sy geduld en inspanning nodig om die diere stasiewaarts te dryf. Min het hy geweet dat hy in later jare ook die Afrikaners so sal moet dryf om hul taal en kultuurgoedere te waardeer en uit te bou. Maar vanaand moes hy vier vragte goud by die wagtende trein by Eerste Fabriekenstasie kry.

    By die goedereloods wag ‘n paar donker mansfigure hom in. Gen. J.C. Smuts staan heel links. As Staatsprokureur is hy in bevel van Pretoria vandat die ZAR-regering stilweg na Machadodorp verskuif het. Hy gee opdrag dat Malherbe, die tesouriergeneraal van die ZAR, Jannie Marais, die ouditeurgeneraal en Paul de Villiers die goud by Gustav Preller in ontvangs moet neem. Hulle praat in gedempte stemme terwyl die dokumente onderteken word. Tyd is beslis nie aan hulle kant nie, want die voorhoede van die Britse magte word nou enige oomblik verwag.

    Die trein se bagasiewa is met kluise toegerus. Dit is dieselfde wa wat vantevore die goudstawe na Lourenço Marques vir verskeping na Europese banke vervoer het. Vier gewapende polisiemanne moes die goud na die hawe vergesel. Die swaar goudstawe word vanaand sorgvuldig in die kluise gepak en aangeteken. Die sakke met opgerolde goudplaat waaruit die munte gepons word, word saam met die sakke vol Krugerponde in ‘n afsonderlike kluis toegesluit. Preller ontvang ‘n kwitansie vir elke item. Dan haas hy hom weer terug na Kerkplein om die volgende vrag te gaan haal.

    Jules Perrin was ‘n Franssprekende Switser. Hy was die tegniese hoof van die Munt en is deur die twee Meyerbroers bygestaan. Vir hulle was die hele gedoente natuurlik ‘n hartseersaak. Hulle sou hul muntponsmasjien, skaal en goudskroot wat in die laaste kas op die muilwa gepak word nooit weer sien nie.

    Die ZAR se goudvoorraad het ‘n langerige aanloop gehad. Op die 19de Oktober die vorige jaar, ‘n week nadat die oorlog begin het, het die ZAR alle gouduitvoere verbied. Alle goud sou voortaan vir wapens en ander oorlogsdoeleindes aan die staat behoort. Daarvoor sou produsente ‘n amptelike sertifikaat kry wat ná afloop van die oorlog deur die staat vereffen sou word.

    Gedurende die afgelope paar maande het verskeie besendings krygstuig en 44 000 sak meel uit Duitsland per trein uit Lorenço Marques aangekom. Luit.kol. S.P.E. Trichardt was die bevelvoerder van die Staatsartillerie. Die wapentuig onder sy bevel bestaan uit C96 Krupp veldkanonne, 75mm Creusot veldkanonne en 37mm Vickers Maxim “Pom-Poms”, 120mm Krupp Howitsers en die vier beroemde 155mm Creusot kanonne, wat as die “Long Toms” herdoop is. Die sakke meel en die meeste van hierdie wapentuig moes nog met goud betaal word.

    Regter F.E.T. Krause het die vorige maand aan dr. Leyds laat weet dat gen. Kok tydens ‘n besoek aan verskeie goudmyne ongeveer 120 000 onse rugoud op die mynpersele opgemerk het. Die mynbase het dit waarskynlik met opset vir die Britse magte agtergelaat om te buit. Met gen. Botha se instemming gee dr. Leyds toe opdrag aan Kok se kommando van 90 man om al daardie goud op te kommandeer en met muilwaens na Pretoria te neem. Speurder Burchardt voer die opdrag nougeset uit sodat geen goud in Britse hande sou val nie.

    Vroeg die oggend van die 29ste Mei vetrek die trein uit Eerste Fabriekenstasie. Die Britse magte was toe reeds by Sesmylspruit. Soos deur die Britte verwag is, het Boeremagte die kolom voorgekeer en weerstand gebied om die opmars te vertraag. Die kanonskote kon reeds in Pretoria gehoor word. Benewens die goud was daar ook waardevolle voorrade artilleriewapens en ammunisie wat daardie dag verwyder moes word. Daarvoor was ekstra tyd nodig, vandaar die weerstand om tyd te wen.

    Meyer en die gewapende wagte reis in die passassierswa. Dit sou die laaste keer wees dat ‘n trein Pretoria onder die ZAR se Vierkleur verlaat het. By Hectorspruit word ‘n vrag goue Krugerponde opgelaai wat die staat se myningenieur en berede polisie vanaf die Witwatersrand met ‘n Kaapse wa saamgebring het. Die trein moes die goud na Lydenburg neem waar dit aan die Boeremagte by Dalmanutha vir hul dienste oorbetaal sou word. Die Boeremagte kon dan ook hul kosvoorrade aanvul.

    Op Waterval Boven wag ‘n welgeklede man die trein in. Mnr. Van der Poel is assistentbestuurder van die Nationale Bank van die ZAR. Sy opdrag was om die goudbesending na die hawe te vergesel en om ‘n kwitansie van die skeepsagente daarvoor te kry. Die wagte het hom aanvanklik met agterdog bejeën, maar sy dokumente het hulle tevrede gestel.

    Daardie aand, op pad na Lydenburg, val ‘n groep rowers die trein aan. Verskeie skote word afgevuur, maar die wagte slaag daarin om sonder enige verliese van die boewe ontslae te raak.

    Lord Roberts was hewig onsteld toe sy magte Pretoria op 19 Junie 1900 binnegaan en hy ontdek dat die buit reeds verwyder was. Hy wou die nuwe kanonne oorneem en het reeds planne begin maak hoe om die goud in Londen te kry. Maar hy moes met skok ontdek dat hy nie ‘n enkele Krugerpond sou buit nie. Selfs die goudskroot was weg.

    Komdt.gen. Meindert Noome, toe die Hoofklerk van die ouditeurgeneraal, wat die bevel van die Munt by Meyer oorgeneem het, skryf in sy dagboek dat die goud op 1 Augustus 1900 aan die Duitse skeepsagent Wilken en Ackerman in Lorenço Marques oorhandig is. ‘n Kwitansie vir die volle hoeveelheid goud is daarvoor uitgereik. Volgens Noome was daar 62 kiste goud wat op die Bundesrath na Hamburg verskeep is.

    In Hamburg aangekom ontstaan ‘n toutrekkery oor die wettige eienaarskap daarvan. Dresdner Bank en Allianz het in die Duitse hof aangevoer dat die rugoud wat deur Kok se kommando opgekommandeer was, hul eiendom was. Die hof moes hoor dat die afsenders Wilcken & Ackermann, die Bundesrath-skeepsagente in Lourenço Marques, die besending aan Arndt und Cohn van Hamburg versend het. Die wettigheid van die hele aksie het op pres. Paul Kruger se formele magtiging daarvoor berus. Hy was reeds in Europa en kon geredelik ‘n beëidigde verklaring verskaf. Die eisers wou dit egter nie aanvaar nie en het aangedring op die waarnemende staatshoof, gen. Schalk Burger, se toestemming, aangesien Kruger “op verlof is”. Hierop het die hof ‘n embargo op die goud geplaas totdat die wettige status vasgestel kon word.

    Vanweë die verwarring wat tydens die oorlog in Pretoria en in die veld geheers het, moes dr. Leyds die stryd uiteindelik gewonne gee. Hy wou bewys dat al die staatskuld gedelg was. Leyds wou die ZAR se naam in ere herstel. Die saak het egter vir dekades daarna gesloer en in die vergetelheid geraak. Waarskynlik het die hofdokumente tydens die 2de Wêreldoorlog verlore geraak en die eienaarskapsage onopgelos gelaat.

    Amptelik het geen goud tydens die treinrit na die hawestad verlore gegaan nie. Dit is ook duidelik dat die goud nie aan die Boerevolk behoort het nie, maar aan die ZAR se krygsraad wat dit ná die oorlog weer aan die wettige eienaars sou moes terug besorg.

    Die ongeveer 200 000 ons goud wat daardie nag in 64 kiste uit Pretoria verwyder was, word teen vandag se goudprys van $1000 per fyn ons op $200 miljoen geraam. Om dit aan die verlore Krugermiljoene te koppel, is dus baie onwaarskynlik.

    Daardie besending goud was egter nie die enigste een wat van Pretoria versend was nie. Die mite rondom die Krugermiljoene het sy oorsprong by minstens drie besendings goud. Hierdie besending was egter verreweg die grootste en nie ter sprake nie.

    Die tweede besending is dié wat die staatsmyningenieur by Hectorspruit op die trein gelaai het en wat by Lydenburg afgelaai is. Hoewel die amptenare noukeurig rekord gehou het van die hoeveelheid munte wat hulle oorbetaal het, kan niemand met sekerheid bewys dat die volle bedrag uiteindelik aan die Boeremagte uitbetaal is nie. Daar kan met ‘n redelike mate van sekerheid aanvaar word dat, gesien teen die agtergrond van die oorlogsituasie, ‘n gedeelte van daardie munte voete gekry en begrawe is. Verskeie verhale word daaromheen geweef, maar die grootte van die verlore skat word gewoonlik op onrealistiese aannames gegrond.

    Die derde besending van sewe staalkiste is saam met pres. Paul Kruger van Waterval Boven, wat ná Machadodorp die tydelike setel van die ZAR was, na Lourenço Marques vervoer. Hierdie laaste besending is waarskynlik dié wat die waarskynlikste oorsprong van die Krugermiljoene is. Dit sal in ‘n volgende aflewering hanteer word.

    Hierdie artikel is gebaseer op Marie Bredell van Dullstroom se nougesette navorsing. Dit is bygewerk deur inligting uit ander bronne. JW

    websiteтопкарго развод