Die Noordwes-Universiteit sal ’n ondersoekspan van vier aanwys om ontgroeningspraktyke op al die universiteit se kampusse te bestudeer, het die bestuur Donderdag gesê.
Die ondersoek is gelas na ’n ontgroeningsvoorval waarin die Nazi-saluut glo gebruik is by dié universiteit.
Beeldmateriaal is kwaadwillig geredigeer deur ‘n Naspers-joernalis, bevriend met die redakteur van Beeld, om die studente as “ongetransformeerde wit studente” voor te stel. Dié stereotipiese voorstelling het groot byval by Boerhaters gevind.
President Zuma het vroeër aangedui dat die voorvalle waar die Nazi-saluut gegee word, ondersoek moet word omdat dit onaanvaarbaar is.
“Die (universiteit se) raad het besluit om ’n onafhanklike span van vier persone aan te wys om die verwelkoming en bekendstelling van eerstejaarstudente op al drie kampusse te ondersoek,” het die raadsvoorsitter, Peet van der Walt, in Pretoria aan verslaggewers gesê.
Die span sal gevra word om ondersoek in te stel na kulturele toelating, oriëntering, ontgroening en ander praktyke.
“Hulle sal die ontvangs- en bekendstellingsprogramme op al die kampusse ondersoek en vasstel wat die beste praktyke landwyd en wêreldwyd in hierdie opsig is,” het hy gesê.
Van der Walt het gesê die ondersoek na die voorval wat Beeld se voorblad gehaal het, is voltooi en daar sal nou opgetree word. “Die dissiplinêre proses sal nou voortgaan,” het hy gesê.
HK-lede van die Noordwes-Universiteit se Puk-kampus in Potchefstroom het intussen regshulp ingewin nadat hulle verlede maand geskors is.
Nege HK-lede elk van die manskoshuis Over de Voor en die Karlien-dameskoshuis is op 11 Februarie tydelik van hul verantwoordelikhede onthef weens die “onbehoorlike” praktyke.
Chantelle Ludik, die geskorste primaria van Karlien-dameskoshuis, is nooit die kans gegun om haar saak te stel voordat sy summier geskors is nie.
Twee HK-lede het hul eie regsverteenwoordigers genader, terwyl een regsverteenwoordiger moontlik die sewe ander HK-lede se saak sal behartig.
Meer as 700.000 swartes wat beweer hulle is afstammelinge van ‘n Ndebelekoning Tshwane sê die eienaarskap van Pretoria – waar die setel van die regering, die Uniegebou geleë is – kom hulle toe.
Die stad van 687.54km² en setel van nasionale staatsdepartemente, is die Afrikanererfenishoofstad met die Voortrekkermonument wat daaroor uittroon. Een van die grootste grondeise ooit sal nou oor die gebied in die hof betwis word.
Verlede week het die eisers die eerste ronde gewen toe die Grondeisehof ‘n bevel toegestaan het dat die plaaslike grondeisekommissaris vir Gauteng en Noordwes hul eis herstel.
Volgens hofstukke is lede van die stamme wat glo bestaansboere met vee was, “gemartel en ‘n paar is dood” toe hulle gedwing is om uit Pretoria pad te gee tussen 1913 en 1970.
Die stamme beweer dat hulle en hul voorouers “eksklusiewe besetting van die grond in die Pretoria-distrik en sy omliggende gebiede geniet het voordat dit met geweld van hulle geneem is”.
Hulle is glo “in vragmotors gelaai en op die buitewyke van Pretoria afgelaai, waar daar nie genoeg grond vir weiding en opbrengste was nie”.
Die gemeenskap beweer sommige het permanente letsels as gevolg van marteling opgedoen. Sommige het gesterf van die honger.
Die sewe stamme – Modimokoana, Bapo, Moletlane Ndebele, Manala, Letswalo, Bakgatla en Malete – het hul eis in 1998 ingedien, maar dit is verwerp.
Andrew Tladi, ‘n konsultant het die eis namens die gemeenskap ingedien. Hy het gesê hul verwydering is bewerkstellig deur die 1913 Grondwet en die 1957 Groepsgebiedewet.
Die groep se Indiërprokureur, Munesh Singh, het gesê die kanse op sukses is baie goed.
“As [ restitusie ] nie moontlik is nie, moet daar billike en regverdige vergoeding vir die gemeenskap wees,” het Singh gesê.
Mpumalanga se luukse Mala Mala-wildsplaas is oorhandig aan die N’wandlamhlarhi-gemeenskap in Januarie ná sy suksesvolle eis waarvoor die regering die vorige eienaar Michael Rattray R1.1 miljard betaal het.
Selby Bokaba, Tshwane se munisipaliteit se woordvoerder, wou nie sê of hulle die eis sal teenstaan nie.
Hy het egter gesê die “waarskynlike uitkoms sal vergoeding wees”.
Die eisers kon voorheen nie nodige inligting indien by die Grondkommissie nie ten spyte van talle versoeke.
Die Beeld-joernaliste en KykNET-aanbiedster Elma Smit het die besluit van Adriaan Basson om ‘n grootskaalse veldtog teen die Potchefstroomkampus van die Noordwes-universiteit te loods só op Facebook verdedig:
Ek weet hierdie gaan ‘n ongewilde post wees, maar ek voel ek moet dit sê: die Sieg Heil-saluut in Potch IS nuuswaardig. Nes die gebrek aan motief jou kan vryskeld van moord, maar jy nogtans skuldig kan wees aan strafbare manslag, maak nalatigheid of onkunde diegene wat ‘n simbool “trivialise” nie minder skuldig aan die gebruik daarvan nie…
En waarvan is daar hier tekens van skuld? Nie van die propageer van ‘n Neo-Nazi beweging of kultuur nie, want dít was nie die motief agter die gebruik van hierdie saluut nie, maar hier is wel duidelik ‘n gebrek aan die nodige sensitiwiteit… ‘n Nazi simbool is onvanpas, ongeag die konteks. En dié gebrek aan sensitiwiteit is nuuswaardig omdat dit onder ‘n uitgelese (universiteits-toegang is nie vir almal beskore nie) groep jongmense gemanifesteer het.
Die PUK het reg opgetree in reaksie – hulle kan tog nie álles wat élkeen op kampus doen voorkom nie. Dit is egter ‘n insident wat dekking verg, want hierdie is ‘n simptoom wat nabetraging verg. Dis nodig om ‘n standaard te stel, om vir mekaar te vra en met mekaar te praat oor wat aanvaarbaar is, en duidelik ook oor wat NIE aanvaarbaar is nie. Dit noop ons om ‘n gesonde dosis kritiese selfondersoek te doen, om sódoende onkunde en nalatigheid onder mekaar te probeer identifiseer, aan te spreek en hopelik selfs te voorkom! Dis ongemaklik, dit voel dalk selfs onnodig, maar dis gesond.
Hoewel daar normaalweg kommentaar op Facebook toegelaat word, is haar blad vir kommentaar geslote of laat sy net sekere kommentare toe. Een van haar lesers het egter so geantwoord:
So die woord “Heil” kan/mag nooit weer gebruik word nie, want enige een wat dit gebruik is pro-Nazi? Ek het vir 6 jaar Heil PUK gesing by rugbywedstryde en ek kan jou belowe ek is baie ver van ‘n Nazi-ondersteuner of rassis. Dink die hele storie is uit konteks en uit verband geruk en net Pukke en oud-Pukke sal weet dat daar geen pro-Nazi-praktyke by die NWU Pukke bederf word nie.
Die nuwe politieke party, Front Nasionaal, het ‘n petisie vir die vrylating van Clive-Derby Lewis op parool geloods. Dít kom ná die aanval deur ‘n swart gevangene op Derby-Lewis,78, en sy medegevangene Janus Walusz waarin Derby-Lewis se linkerarm gebreek is.
Derby-Lewis het met sy arm die steekslae van sy aanvallers probeer keer. Hulle is van agter af met skerpgemaakte lepels aangeval. Derby-Lewis is ‘n voormalige parlementslid van Suid-Afrika vir die Konserwatiewe Party.
Die voorval het in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria plaasgevind. Sy vrou, Gaye, het aan ‘n Johannesburgse dagblad gesê: “Dit gaan in die omstandighede goed met hom. Ons grootste vrees is dat hy infeksie in sy steekwonde sal opdoen.”
Derby-Lewis het ook steekwonde aan sy gesig opgedoen.
Die departement van korrektiewe dienste het in ‘n verklaring deur Manelisi Wolela laat weet: “Die oortreders Clive Derby-Lewis en Janus Walusz is deur ‘n ander oortreder met ‘n kombuislepel aangeval.”
“Hulle het wonde aan hul koppe en hande by die Kgosi Mampuru Korrektiewe Sentrum opgedoen,” het die woordvoerder voorts gesê.
Hulle is aanvanklik deur die gevangenisverpleegsters behandel en daarna na die Kalefong-hospitaal verwys waar ‘n X-straal aangetoon het dat Derby-Lewis se arm gebreek is.
‘n Klag van poging tot moord is by die polisie ingedien.
Derby-Lewis het reeds twee keer om parool aansoek gedoen, in 2011 en 2012. Hoewel hy reeds meer as 20 jaar in die gevangenis is en deur die DKD vir parool aanbeveel is, weier die ANC-regering en die minister van korrektiewe dienste om dit finaal goed te keur.
Derby-Lewis is tot lewenslange tronkstraf gevonnis weens sy aandeel in die moord op die kommunistiese leier, Chris Hani in 1993. Janus Walusz, ‘n Poolse Suid-Afrikaner, het die sneller getrek. Hani het self ‘n bloedige kerfstok gehad en was verantwoordelik vir verskeie bloedige terreuraanvalle op Suid-Afrika.
Hoewel albei in dié onstuimige tydvak om politieke redes gehandel het, het die Waarheids- en versoeningskommissie onder biskop Desmond Tutu kwytskelding aan die twee konserwatiewe politici geweier. Tutu het egter amnestie aan die APLA-lede wat ‘n massamoord op onskuldige kerkgangers van die St. James-kerk in Kaapstad verleen. In dié aanval met handgranate wat met spykers gemeng is en masjiengewere is elf mense dood en ses-en-vyftige beseer.
Dr. Dan Roodt, onderleier van Front Nasionaal, het gesê: “Die dubbele standaarde en verontmensliking waaraan sowel Derby-Lewis as Walusz blootgestel word, is eenvoudig skreiend. Walusz was ‘n Poolse Suid-Afrikaner wat in Pole gesien het tot watter wreedhede kommuniste in staat is. In die vroeë negentigerjare het Boris Jeltsin byvoorbeeld onthul hoe die Russiese kommuniste 22 000 Poolse leiers en offisiere in die Katynwoud laat uitmoor het en dekades lank die skuld op die Duitsers gepak het. Sy vrees vir kommunisme moes dus as ‘n versagtende omstandigheid in ag geneem gewees het. Die voortgesette aanhouding van Derby-Lewis en Walusz verteenwoordig een van die grootste onregte van die nuwe Suid-Afrika. Derby-Lewis veral verdien weens menslikheidsredes om onmiddellik op parool vrygelaat te word.”
Lede van die publiek word aangemoedig om die petisie op die webblad van Front Nasionaal te onderteken, waarna dit aan die minister Sibusiso Ndebele oorhandig sal word. ‘n Betoging vir sy vrylating word ook voor die gevangenis beplan.
Petro Weyers, 66, van Louis Trichardt (Makhado) sê sy is dankbaar dat haar sesjarige kleindogter, Chaney, nog lewe.
Die twee is verlede Donderdagoggend (6de) wreedaardig deur swartes aangeval in ‘n huisroof by Petro se woonstel in die Kismet-kompleks in Andersonstraat. Die aanval het plaasgevind presies ‘n week voor Petro se 66ste verjaardag op 13 Februarie.
Die Zoutpansberger het Petro minder as vier ure ná die aand se skokgebeure by haar woonstel gevind. Bebloed en steeds in skok het Petro dapper die skriknag se gebeure herleef, terwyl die klein blondekop Chaney ongesteurd eenkant gespeel het. Dit was egter moeilik om die bloukolle op haar gesiggie mis te kyk, asook die dik, rooi vingermerke om haar nekkie soos haar aanvaller haar gewurg het.
Petro, Chaney se voog, het omstreeks 23:00 die vorige aand wakker geword van ‘n geraas. Sy het opgestaan en Chaney, wat saam met haar in haar dubbelbed geslaap het, wou dadelik weet wat is fout. Petro het al die ligte in die huis aangeskakel, maar kon niks verkeerd vind nie. Al die deure was gesluit en die twee het rustig weer gaan slaap. Omstreeks 01:30 is hierdie rustigheid verpletter.
“Ek het wakker geword met hande om my keel en ‘n man wat wydsbeen bo-op my sit … daar was ook een op haar [Chaney] … Die maerder een het op haar gesit, maar hy was ‘n baie wrede een,” sê Petro.
In die donker van die kamer was Petro en klein Chaney se aanvallers se gesigte niks meer as swart silhoeëtte teen die dowwe lig deur die toegetrekte gordyne nie. Petro se aanvaller het vlot Afrikaans gepraat, maar het Engels met sy makker gepraat.
Drie keer het Chaney smekend uitgeroep: “Ouma! Ouma! Ouma!” Elke keer het Chaney se aanvaller haar deur die gesig geklap en gewurg met die woorde: “Shut up! Shut up!” “Daar is steeds ‘n wroeging in my hart dat Chaney gedink het ek wou haar nie help nie, maar ek kon nie …” sê Petro.
Ná Chaney se derde angsroep om hulp – met haar aanvaller se hande styf om haar nekkie soos hy die lewe uit haar probeer wurg het – het haar stem stil geword. Die man het haar opgetel en haar lyfie op die vloer gegooi.
“Ek het gedink my kind is dood,” sê Petro. Dan oorval die emosie haar weer en begin sy onbeheersd huil. “Ek het baie gebid … O, ek wil dit nooit weer deurleef nie…” prewel sy die woorde uit.
Die aanvaller op Petro het ‘n mes uitgepluk en kort-kort teen haar nek en sy gedruk. Ses keer het hy haar gewurg, telkens net tot voor sy haar bewussyn verloor. Dan het hy sy greep verslap sodat sy weer kon asem skep, net om haar weer te wurg. Kort-kort het die man wat pas vir Chaney gewurg het, oorgeleun en vir Petro met die vuis in die gesig geslaan. Hierdie marteling het vir bykans twee ure aangeduur.
“Hulle het aanmekaar gevra ‘Waar is die wapens?’ dan sê ek ‘Ek het nie’, dan vra hulle weer ‘Waar is die geld?’ dan sê ek ‘Ek het nie’. Ek het ‘n R1 200 in my beursie gehad … hulle het dit gevat,” vertel Petro, terwyl die trane oor haar wange rol. Sy wys dan na haar hande en arms. Dit is vol diep snye wat veroorsaak is toe haar aanvallers haar ringe, horlosie en armbande van haar afgeruk het. Sy sê sy slaap altyd met haar juwele aan.
In ‘n stadium het die twee eers Petro se bene vasgebind, asook haar hande. Daarna het hulle een van Chaney se vuil slaapbroeke gevat, opgerol en ‘n knoop daarin gemaak. Hulle het die knoop in haar mond gedruk en die slaapbroek om haar kop vasgemaak. Daarna het hulle met gordyntou uit Petro se studeerkamer haar hande styf om haar nek vasgedraai en vasgebind. Asof dit nie genoeg was nie, het hulle ‘n laken om Petro se kop gedraai en haar met kussings en komberse toegepak op haar bed. Sy kon beswaarlik asemhaal en wou kort-kort haar bewussyn verloor.
“Gelukkig kon ek met my vingers die lap uit my mond kry, anders het ek versmoor,” sê Petro. Intussen is haar kamer en die res van die huis geplunder.
Na wat soos ‘n ewigheid gevoel het, het dit skielik stiller geword. “Ek het so ‘n halfuur gelê, toe roep ek ‘Chaney? Chaney?’ … toe kom sy by.”
Chaney het opgestaan en haar ouma tot in ‘n sittende posisie gehelp. Haar klein handjies was egter nie sterk genoeg om die toue om haar ouma se nek los te woel nie. Sy kon wel die tou om Petro se bene loskry, sodat Petro een voet kon uitkry. Hierna het klein Chaney, vreesbevange en nie eers seker of hul aanvallers nog in die huis was nie, na die studeerkamer gestap en die telefoon gaan haal, aangesien Petro se selfoon ook gesteel was. Petro kon toe haar broer, mnr. Johnny Gouws, skakel. Dit was ongeveer 03:30.
“Sy [Chaney] het vir my die nommers gedruk. Sy is my held! Sy het ons lewens gered. Ouma is trots op jou!” sê Petro terwyl sy na klein Chaney kyk. Weer rol die trane.
Johnny en sy seun het hulle na die woonstel gehaas. Daar aangekom, is die polisie ontbied.
“Ons het eers om die woonstel geloop en toe kom ons in. Toe maak ek haar los, want sy was vas, vas, vas! Sy sou in haar lewe nie daardie tou afkry nie,” sê Johnny. Hy sê hy het amper 10 minute gesukkel om Petro los te kry. Haar toestand was vir hom ‘n groot skok, maar immers het sy suster en klein Chaney nog gelewe.
“Dank die Here ons altwee lewe, my kind lewe! Ek was bang sy was dood. Toe ek so lê en ek hoor haar nie, toe dink ek sy is dood … dit sou my dood beteken het,” sê Petro. Sy het geen twyfel daaroor dat hul aanvallers aangeneem het dat nie een van hulle die aanval sou oorleef nie.
Die polisie was redelik vinnig op die toneel, maar het klaarblyklik geen verklarings afgeneem of die misdaadtoneel afgesper voordat hulle weer gery het nie. Vrae hieroor en ander vrae, soos hoe die aanvallers toegang tot die woonstel verkry het, bly steeds onbeantwoord. Geen diefwering is geknip nie en al die deure was gesluit na die aanval. Een van die buitedeure se sleutel was egter vermis, alhoewel dit nog die vorige aand daar was.
Lt.kol. Ronel Otto, provinsiale polisie woordvoerder, is gevra waarom daar nie tydens die polisie se eerste besoek verklarings geneem is of die area afgesper is nie. Sy het gesê dat die polisielede wat eerste op die toneel was weliswaar die toneel moes beveilig het, totdat die misdaadtoneelbevelvoerder die toneel kom oorneem het. “As dit nie gebeur het in hierdie geval nie, dan sal daar ‘n volledige interne ondersoek wees. Sou daar verkeerde optrede gewees het, kan dissiplinêre stappe geneem word,” het Otto gesê. Die polisie het wel later die oggend die toneel besoek, goeie vingerafdrukke gekry en verklarings afgeneem. Teen druktyd was daar nog geen arrestasies in die saak gewees nie, alhoewel die polisie steeds besig was met ‘n intensiewe ondersoek na die voorval.
Afrikaans word uitgesluit uit die samelewing, sê Andries Visagie, dosent aan die Universiteit van Pretoria, maar transformasie sal die taal red.
Prof. Visagie het sy pleidooi nietemin in Engels geskryf.
Volgens die 2011-sensus het die aantal moedertaalsprekers van Afrikaans met 800.000 individue toegeneem sedert die vorige sensus.
Afrikaans floreer as die derde grootste moedertaal in Suid-Afrika en as ‘n gewilde taal van kommunikasie in Namibië.
Die lojaliteit van Afrikaanse lesers wat boeke in hul moedertaal verkies is dikwels ‘n bron van jaloesie vir uitgewers wat fokus op publikasies in ander tale, skryf Visagie.
Visagie bemerk ‘n “interne verdeeldheid binne die Afrikaanssprekende gemeenskap” tesame met ‘n “skynbaar nimmereindigende neiging onder sake- en openbare instellings om sektore waar Afrikaans vrylik gepraat word”, te beperk.
Die vraag is of Afrikaans sal in staat wees om hierdie uitdagings te oorkom en om te floreer as ‘n moedertaal, vra hy.
Meer as 50 persent van Afrikaans se eerstetaalsprekers is bruin, maar voel gemarginaliseer deur die gebruik van ‘n Kaapse dialek van Afrikaans wat steeds “onvoldoende” in die standaard-variëteit van die taal gereflekteer word, volgens Visagie.
Hy is egter bemoedig deur Nathan Trantraal en Ronelda Kamfer wat die legitimiteit van Standaardafrikaans bevraagteken.
Visagie beveel aan dat die besluitnemers by die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie Vir Wetenskap en Kuns hul reëls hersien en verkieslik nie “agter geslote deure” nie.
Visagie bepleit “noodsaaklike uitgebreide mediadeelname” asook ‘n proses gelei deur “dapper besluite van die belanghebbendes wat op die kommissie dien”.
Volgens Visagie beweeg baie gekleurde sprekers van Afrikaans na Engels as die taal van hul keuse, want hulle voel te ver verwyder van standaard-Afrikaans as ‘n variant van wit sprekers.
Hy meen dat “versoening binne die Afrikaanse taalgemeenskap steeds onafgehandel is weens die rasseverdeling wat samehorigheid onder die meer as 6 miljoen moedertaalsprkers ondermyn”.
Engels geniet steeds massiewe staatsondersteuning ten koste van Afrikaans, sê hy.
Universiteite wat histories Afrikaans as ‘n medium van onderrig aanbied, verkeer onder baie druk van Engels, die lieflingstaal van die huidige regering, kla Visagie.
Hy betreur die sluiting van Afrikaanse taaldepartemente by sommige tersiëre instellings, maar plaas sy hoop daarop dat die staat sal swig voor die sukses wat moedertaalonderrig kan verseker.
Christoff Becker en Frikkie du Preez het reeds voor ’n tugkomitee van die departement van korrektiewe dienste (DKD) verskyn en sal Vrydag voor ’n paroolraad verskyn.
Die departement sê die twee sal in aanhouding bly terwyl die paroolraad hul parool hersien.
Hulle kan strafregtelik aangekla word weens die verbreking van tronkregulasies, wat alkohol en selfone verbied.
Intussen het die DKD hul eie spore in die werklike probleem van korrupte amptenare in die departement probeer toesmeer deur op die uitbundige uitgedrag van die twee na hulle hul paroolnuus gehoor het, te fokus.
‘n Uitvoerverbod van drie jaar op Suid-Afrikaanse rooivleis is opgehef en die land is weer as “siektevrye-sone” gelys.
Die welkome stap kom nadat die rooivleisbedryf het ‘n geskatte R4 miljard per jaar verloor het sedert die verbod in werking getree het in Februarie 2011.
Die departement van Landbou sê die Wêreld-organisasie vir Dieregesondheid in Parys het Suid-Afrika se status herstel as ‘n bek-en-klouseervrye land.
Die direkteur-generaal van die departement van Landbou, Bosbou en Visserye, Edith Vries, het die opheffing van die verbod verwelkom.
Vries beskryf dit as “goeie nuus waarvoor die regering krediet moet ontvang”.
Die Organisasie het die hoofdirekteur in beheer van dieregesondheid in die departement in kennis gestel van die besluit nadat hulle die land besoek het en vasgestel het dat voorkomende maatreëls in plek gestel is
Gerhard Schutte, die hoof uitvoerende beampte van die Rooivleis Produsente-organisasie, het gesê hy is verheug oor die besluit.
“Dit is goeie nuus, nie net vir die rooivleisbedryf nie, maar vir die stoetbedryf, wol- en melkbedryf. Almal van hulle het probleme gehad as gevolg van die verlies van die bek-en-klouseervrye status,” het hy gesê.
“Die wolbedryf het groot probleme gehad om hul wol in China te kry.
“Die melk kon nie na buurlande gaan nie want daar was ‘n verbod op suiwelprodukte om uit te gaan.
“En die stoetdiere, hoofsaaklik beeste , maar skape ook, Hulle kan nou na buurlande gaan.”
Die sluiting van die Menlyn Park-inryteater sal die einde van ‘n era beteken, want dit sal die laaste van sy soort in Suid-Afrika wees wat toemaak.
Bestuur sê tegniese probleme het gelei tot die besluit om die land se laaste inryteater te sluit.
Baie Pretorianers koester soete herinneringe van die inry op die dak van die Menlyn Park-winkelsentrum.
Dis deel van Pretoria se filmgeskiedenis wat gaan sluit, met die laaste vertoning wat aan die einde van Februarie sal plaasvind.
Menlyn Park was die laaste teater van sy soort in Suid-Afrika, nadat die Velskoen-inry in Randburg sy deure in Junie 2012 gesluit het.
Voorheen was daar sowat 50 inrye wat landwyd teatergangers met kussings, komberse, piekniekmandjies en die kroos in pajamas gelok het.
Die teater moes weens tegniese beperkinge sluit omdat alle films deesdae digitaal is, wat beteken dat ou 35mm-film toenemend moeilik is om in die hande te kry. Dit teater het nog ‘n ou 35mm-projektor.
Volgens die bestuur het die inry 8736 vertonings aan 1.005.088 mense gewys.
Dit is nog nie bekend waarvoor die ruimte aangewend sal word nie.
Die laaste openbare vertoning sal op Vrydag, 28 Februarie plaasvind.
Die laaste week van vertonings sal gratis aangebied word.
In die 31 jaar sedert Hannes (61) en Hannetjie (66) le Roux in hul huis in Noordheuwel, Krugersdorp woon, was die bejaarde egpaar nooit slagoffers van enige vorm van misdaad nie, maar op 28 Januarie het alles verander.
Hannes was besig om buite die huis te werk toe twee onbekende swartes sy erf binnekom, het hy aan looklocal.co.za vertel.
“Die swartes het navraag gedoen oor ‘n werker van my, en die volgende oomblik is ek en een van my ander werkers beveel om die sekuriteitshek van my huis oop te sluit en om hulle in te laat,” vertel hy.
Binne etlike oomblikke het die Le Roux’s se huis in ‘n slagveld verander.
“Toe ons instap het een van die swartes ‘n mes en geweer uitgepluk. Hy het my grond toe gegooi en meubels is heen en weer gegooi; ons het lank met mekaar gestoei.”
Uit die hoek van sy oog het Hannes gesien hoe sy werker met ‘n mes gesteek word en daarna reggekry het om te ontsnap.
Hy het by die bure gaan hulp soek en sekuriteit ontbied.
Elders in die huis is Hannes se vrou, Hannetjie en hul 15-jarige kleindogter en drie van haar vriendinne intussen met ‘n vuurwapen aangehou en beveel om in ‘n ry te staan.
“Hulle het geld en skootrekenaars gesoek en almal wat selfone gehad het moes dit oorhandig,” vertel Hannetjie.
Hannes het aangehou om met die een swarte in die sitkamer te stoei en hom uiteindelik uit die huis gekry.
“Ek het geweet dat die ander man nog in die huis is en het dadelik na my vrou en die kinders gehardloop waar ek die geveg voortgesit het. Ek kon die tweede man ook uiteindelik uit die huis kry en albei het gevlug.
“Ons was verlig en dankbaar dat ons leef. Ons wil dit net nooit weer oorhê nie,” vertel Hannetjie.
Maar presies vyf dae later, op Maandag 3 Februarie omstreeks 1vm is die egpaar en hul kleindogter se grootste vrese bewaarheid die rowers was terug.
“Dit was soos ‘n fliek. Ons was almal in die hoofslaapkamer toe ons ‘n harde geluid hoor en skielik vier gemaskerede mans deur die plafon sien val,” vertel Hannes.
Die Le Roux’s se kleindogter, wat twee van die rowers herken het van die vorige inbraak nadat hulle die maskers afgehaal het, is beveel om stil te sit en stil te bly.
Die rowers het daarna met aggressie op die egpaar toegesak. Hannetjie is met ‘n hamer in haar gesig geslaan en Hannes twee keer met ‘n mes in die bors gesteek.
“Hulle wou die kluissleutel hê,” vertel Hannes.
Terwyl drie van die rowers die huis gestroop het, het die ander lakens om Hannes se kop en komberse om sy lyf gedraai.
“Hulle wou my versmoor.”
Hannes wat teen daardie tyd al n groot hoeveelheid bloed verloor het, sê dat hy net vir kort oomblikke sy bewussyn herwin het.
“Ek was seker ek gaan sterf.”
Hannetjie is beveel om vir die swartes te wys waar hulle die kar parkeer.
“Ek moes die kar aansluit en uitklim, toe het die vier ingeklim en gevlug.”
Toe dit stil word het die Le Roux’s se kleindogter die straat ingehardloop om hulp te soek.
Inwoners verder af in die straat het uiteindelik kom help en die ambulansdienste is ontbied.
Na dae in die intensiewe sorg-eenheid van die Netcare Krugersdorp Hospitaal is Hannes ontslaan en sterk nou by die huis aan.
Die egpaar en hul kleindogter het hul storie aan vertel om mense daarvan bewus te maak en doen ‘n beroep op Krugersdorp-inwoners om veiligheidsmaatreëls in plek te stel.
“Moenie dink dat dit nie met jou kan gebeur nie dit kan,” waarsku Hannes.
Deon Burger van Boksburg veg steeds vir sy lewe in die Union-hospitaal nadat hy gedurende ‘n kaping in die bors geskiet is.
Sy 16-jarige seun het die swarte wat sy pa geskiet het met ’n bofbalkolf bygedam en is self in die been geskiet.
Volgens Burger se vrou Magda moes ’n deel van haar man se long intussen verwyder word en hy is onder swaar verdowing. Met haar seun Dylan gaan dit beter.
Dylan is gistermiddag na die Glynnwood-hospitaal in Benoni oorgeplaas vir verdere behandeling. Hy is in die bo-been geskiet.
Dylan het glo deur die sitkamervenster gesien hoe die kapers toeslaan en sy pa te hulp gesnel.
Dylan het met sy bofbalkolf uitgestorm en een van die kapers wat op hom geskiet het, katswink oor die kop gemoker.
Hulle kon die ander swarte ook aankeer nadat hy die eerste kaper neergevel is. Omstanders het die ambulans, polisie en metropolisie glo ontbied.
‘n Buurman met noodhulpopleiding kon die ergste bloeding keer. Die ambulans was vinnig op die toneel en Burger senior is daarna per helikopter hospitaal toe afgevoer.
Die swarte wat met die bofbalkolf geslaan is, is ook hospitaal toe geneem vir waarneming.
Die ander een verkeer in aanhouding, het lt. Juanita Coetzer, woordvoerder van die Boksburg-Noord-polisie,
gesê.
Die geroemde en begaafde Afrikanerpianis Ben Schoeman, wenner verskeie internasionale klavierkompetisies, moes van sy konserte afstel nadat sy regterhand beseer is toe hy beroof is.
Schoeman moes sy konserte wat in Februarie en Maart in Durban, Stellenbosch en Johannesburg gehou sou word, uitstel, asook konsertverpligtinge in die buiteland.
Hy is op 31 Januarie in die Britse hoofstad, waar hy tans woon, by ’n ATM beroof en sy hand is beseer.
Hy sou op 27 Februarie met die tjellis Anzél Gerber in die Durbanse stadsaal optree vir die première van die Suid-Afrikaanse komponis Stefans Grové se Concerto vir tjello, klavier en orkes. Gerber sal steeds as solis optree.
Schoeman voltooi tans sy doktorale tesis oor die klaviermusiek van Stefans Grové. Hy is steeds vol vertroue dat hy einde April reeds sy verpligtinge in twee konserte in Kaapstad sal kan nakom.
Die sogenaamde Waterkloof Vier sal vandag op parool vrygelaat word nadat die departement van korrektiewe dienste hul parool bevestig het.
Christoff Becker, Frikkie du Preez, Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt is in 2011 tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op ‘n hawelose swarte in Pretoria.
Ingevolge wetgewing het die vier reeds die helfte van hul vonnisse uitgedien en kon hulle vir ’n spesiale vonnisvermindering van ses maande in aanmerking kom. Hulle het reeds vyf en ’n half jaar van hul vonnis uitgedien.
Hulle sal egter aan streng paroolvoorwaardes moet voldoen.
Tiedt en Van Schalkwyk is uit die Zonderwater-gevangenis naby Cullinan vrygelaat en Becker en Du Preez uit die Kgosi Mampuru (Pretoria-Sentraal)-gevangenis.
Hul aansoeke teen hul skuldigbevinding is in 2008 deur die Appèlhof van die hand gewys.
Tiedt en Van Schalkwyk is twee jaar gelede vir agtien maande vrygelaat, maar hulle is weer in die gevangenis opgeneem nadat die departement suksesvol teen hul vrylating geappelleer het.
‘n Egpaar wat in Mnandi buite Centurion op hul hoewe aangeval is, het in die vroeë oggendure van skote wakker geword.
Die vyf swart aanvallers het Rina de Villiers (70) se 73-jarige man Henk in die hart geskiet en haar vir dood agtergelaat nadat hulle haar geslaan, gemartel en deur ‘n venster gestamp het.
Hulle het ook op die hond, ‘n rottweiler, geskiet wat daarna skuiling gaan soek het.
Die egpaar sou in Augustus 50 jaar getroud gewees het.
Mevrou de Villiers het aan Beeld gesê: “Hulle was so brutaal, hul taal vieslik vuil. Hulle het die huis verniel asof hulle van die duiwel besete was.”
Een rower het De Villiers van vertrek tot vertrek rondgepluk op soek na waardevolle items om te steel nadat hulle haar man doodgeskiet het.
Sy het terugbaklei en die swarte se hand in ’n deur vasgeslaan waarna hy woedend drie skote deur die oop gleuf geskiet.
Die ander swartes het De Villiers daarna oorrompel, haar vasgebind en gemartel. Hulle het haar daarna deur ’n venster gestamp en sy het die plaveisel kop eerste getref.
Sy het toe gemaak of sy bewusteloos is en doodstil gelê. Een het haar vir oulaas in die ribbes geskop.
“Ek het in daardie verskriklike reën bly lê totdat ek hulle nie meer kon hoor nie. Ek was so bang hulle sien ek lewe nog.”