Reusegrondeis kom teen Pretoria

Oospaneel, Krugerstandbeeld
Oospaneel, Krugerstandbeeld

Meer as 700.000 swartes wat beweer hulle is afstammelinge van ‘n Ndebelekoning Tshwane sê die eienaarskap van Pretoria – waar die setel van die regering, die Uniegebou geleë is – kom hulle toe.

Die stad van 687.54km² en setel van nasionale staatsdepartemente, is die Afrikanererfenishoofstad met die Voortrekkermonument wat daaroor uittroon. Een van die grootste grondeise ooit sal nou oor die gebied in die hof betwis word.

Verlede week het die eisers die eerste ronde gewen toe die Grondeisehof ‘n bevel toegestaan het dat die plaaslike grondeisekommissaris vir Gauteng en Noordwes hul eis herstel.

Volgens hofstukke is lede van die stamme wat glo bestaansboere met vee was, “gemartel en ‘n paar is dood” toe hulle gedwing is om uit Pretoria pad te gee tussen 1913 en 1970.

Die stamme beweer dat hulle en hul voorouers “eksklusiewe besetting van die grond in die Pretoria-distrik en sy omliggende gebiede geniet het voordat dit met geweld van hulle geneem is”.

Hulle is glo “in vragmotors gelaai en op die buitewyke van Pretoria afgelaai, waar daar nie genoeg grond vir weiding en opbrengste was nie”.

Die gemeenskap beweer sommige het permanente letsels as gevolg van marteling opgedoen. Sommige het gesterf van die honger.

Die sewe stamme – Modimokoana, Bapo, Moletlane Ndebele, Manala, Letswalo, Bakgatla en Malete – het hul eis in 1998 ingedien, maar dit is verwerp.

Andrew Tladi, ‘n konsultant het die eis namens die gemeenskap ingedien. Hy het gesê hul verwydering is bewerkstellig deur die 1913 Grondwet en die 1957 Groepsgebiedewet.

Die groep se Indiërprokureur, Munesh Singh, het gesê die kanse op sukses is baie goed.

“As [ restitusie ] nie moontlik is nie, moet daar billike en regverdige vergoeding vir die gemeenskap wees,” het Singh gesê.

Mpumalanga se luukse Mala Mala-wildsplaas is oorhandig aan die N’wandlamhlarhi-gemeenskap in Januarie ná sy suksesvolle eis waarvoor die regering die vorige eienaar Michael Rattray R1.1 miljard betaal het.

Selby Bokaba, Tshwane se munisipaliteit se woordvoerder, wou nie sê of hulle die eis sal teenstaan nie​​.

Hy het egter gesê die “waarskynlike uitkoms sal vergoeding wees”.

Die eisers kon voorheen nie nodige inligting indien by die Grondkommissie nie ten spyte van talle versoeke.

Howe moet regmaak wat krom is

Terwyl die koppe nog gestamp word oor hoe goed of sleg die grondwet is, het ‘n paar belangrike hofsake weer laat blyk hoe belangrik dit is dat howe hul politieke onafhanklikheid en juridiese suiwerheid moet behou.

Waarskynlik die ingrypendste hofbeslissing het in die Grondeisehof gekom toe ‘n gemeenskap se eis op die plase van agt grondeienaars by Koster in Noordwes van die hand gewys is.

Van die belangrikste bevindings is dat die eisers wél kompensasie gekry het toe hulle oorspronklik hervestig is, en dat nie hulle of die staat die vermoë het om kosproduksie vol te hou op die grond wat hulle nou geëis het nie.

Omdat alle voormalige grondbesitters ‘n vorm van kompensasie ontvang het toe hulle hervestig het – ‘n feit wat dikwels deur die politici verswyg word – sal hierdie saak ‘n bepaalde impak hê. Die toets is dus nou of die kompensasie billik en redelik was, en nie dat hulle verskuif is nie.

Hierdie uitspraak volg kort op nog ‘n saak, dié keer uit KwaZulu-Natal, waar die huidige eienaars ‘n navorser aangestel het om te bewys dat die aanspraakmakers op hul grond geen historiese aanspraak daarop het nie. Dié feite is aan die Grondeisekommissaris oorgedra, wat egter halsstarrig ‘n hofsaak afgedwing en met koste verloor het.

Nog ‘n rigtinggewende uitspraak is ‘n hofsaak wat die DA teen die Matjhabeng by Welkom met koste gewen het. Dié hofsaak spruit uit ‘n mosie van wantroue, waarvoor die ANC ‘n stemming met die wys van hande afgedwing het, in plaas van ‘n geheime stemming soos die DA op geregtig was. Nou gaan die DA sy sin kry.

Die uitvoerende burgemeester, Mathabo Leeto, was al verskeie kere weens omstredenhede in die nuus. Sommer gou na haar aanstelling het ‘n herrie losgebars nadat haar dogter van die skool huis toe geneem is in ‘n brandweerwa.

Hierna is verbeterings van R1,5 miljoen aan haar huis van R70 000 aangebring, en kort hierna het sy aan die minister gesê sy was onbewus van die stad se rioolprobleme. Dit, terwyl Mathabeng waarskynlik die enigste munisipaliteit in die land is waar amptenare krimineel tereg staan weens versuim met rioolwerke.

Ten slotte het die Grondwethof beslis slagoffers van misdade wat uit die politieke geweldpleging spruit waaroor die Waarheids- en Versoeningskommissie beheer gehad het, inspraak moet hê by beslissings oor presidensiële kwytskelding.

Hierdie uitspraak kan op verskeie maniere vertolk word, veral in die lig daarvan dat talle weens hul politieke verbintenisse nooit vervolg is nie, al het hulle ook nie om vrywaring aansoek gedoen nie.

Weens die kategorie-beperking sal dit ook nie verhinder dat misdadigers steeds potensieel kwytskelding in ruil vir gunsies of politieke lojaliteite kan kry nie. Inspraak deur die slagoffers sou so iets in ‘n mate kon rem.

Teen hierdie agtergrond maak dit sin dat Afriforum ‘n regsfonds op die been bring, die burgerregtefonds, om die regering oor onregte in die howe te kan pak. Dit is veral verblydend dat die fonds in ‘n japtrap reeds ‘n halfmiljoen rand kon bymekaar maak. Boonop het Afriforum reeds die reputasie verwerf dat dit sake met koste wen, en so sal verseker dat die fonds ook nie sommer uitgeput sal word nie.

Maar, dan moet die onafhanklikheid van die regbank ten ale koste beskerm word.

Ongelukkig blyk dit dat die ander wigte en teenwigte, soos die Openbare Beskermer en die Menseregtekommissie, veel te wense oorlaat. Die howe is die laaste linie teen meerderheidsdiktatuur en om te verseker dat die regering in algemene belang regeer soos wat demokratiese beginsels vereis. Ongelukkig beteken dit dat die uitvoerende gesag se jagseisoen op die howe se onafhanklikheid oop is.

Book of FortuneДанильченко Юрий Брониславович компромат