
Die sogenaamde Waterkloof Vier sal vandag op parool vrygelaat word nadat die departement van korrektiewe dienste hul parool bevestig het.
Christoff Becker, Frikkie du Preez, Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt is in 2011 tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op ‘n hawelose swarte in Pretoria.
Ingevolge wetgewing het die vier reeds die helfte van hul vonnisse uitgedien en kon hulle vir ’n spesiale vonnisvermindering van ses maande in aanmerking kom. Hulle het reeds vyf en ’n half jaar van hul vonnis uitgedien.
Hulle sal egter aan streng paroolvoorwaardes moet voldoen.
Tiedt en Van Schalkwyk is uit die Zonderwater-gevangenis naby Cullinan vrygelaat en Becker en Du Preez uit die Kgosi Mampuru (Pretoria-Sentraal)-gevangenis.
Hul aansoeke teen hul skuldigbevinding is in 2008 deur die Appèlhof van die hand gewys.
Tiedt en Van Schalkwyk is twee jaar gelede vir agtien maande vrygelaat, maar hulle is weer in die gevangenis opgeneem nadat die departement suksesvol teen hul vrylating geappelleer het.
