Nog inhegtenisnemings word verwag nadat ses munisipale werknemers van die Tshwanemunisipaliteit in Pretoria weens bedrog van miljoene rand in hegtenis geneem is.
Die ses munisipale werknemers van Marabastad sal na verwagting Vrydag in die hof verskyn, nadat hul vlootbestuurafdeling vir miljoene rande se bedrog vasgevat is.
Die Metropolisie se anti-korrupsie-eenheid het Donderdag die werknemers by hul Marabastadkantore gearresteer.
Isak Mahamba, Tshwane se Metropolisie-woordvoerder, sê die werkers wat in die vlootbestuursafdeling werk, het na bewering bedrog van miljoene rand gepleeg deur gewysigde fakture namens diensverskaffers by die munisipaliteit in te dien.
“Hulle kon ‘n faktuur uitreik aan een diensverskaffer en drie keer eis van die dieselfde bedrag.”
Hy sê hul anti-korrupsie-eenheid het ‘n wenk ontang ‘n paar maande gelede, maar dit was eers Donderdag dat die noodsaaklike inligting bekom is om voort te gaan met die saak.
Die hoof van die Tshwane Metropolisie, Stephen Ngobeni, sê hulle het met ‘n ondersoek begin.
Nog verdagtes sal binnekort glo in hegtenis geneem word.
Wêreldleiers van die G7 wat president Wladimir Poetin van Rusland uitsluit, het Woensdagaand in Brussel vergader te midde van aanduidings dat die sogenaamde Westerse koalisie besig is om uitmekaar te val.
Die G8 wat oorspronklik Rusland ingesluit het, sou voorheen in Sochi na die Winterspele byeenkom, maar na die Amerikaans-gedrewe staatsgreep in die Oekraïene is die beraad uitgestel.
Die afgelope paar dae het die leiers van Brittanje, Frankryk en Duitsland persoonlike gesprekke met die Russiese leier geskeduleer, wat die verdeeldheid onder Westerse lande verder ontbloot.
Die VSA se pogings om Rusland te isoleer na president Poetin die Amerikaanse aggressiewe houding teenoor die Oekraïne veroordeel het, is besig om negatiewe vrugte af te werp.
Obama en Poetin het verskeie kere per telefoon – maar nie in persoon nie – oor Amerikaanse pogings om die Oekraïene te destabiliseer, gesels.
Rusland het intussen korte mette gemaak van Amerikaanse militêre aggressie in die Krim na ‘n baie suksesvolle referendum waarin die inwoners oorweldigend vir onafhanklikheid gestem het.
Obama het Dinsdag gesê hy het ‘n “sakeverhouding” met Poetin en sal hom in Frankryk ontmoet Vrydag tydens byeenkomste vir die 70ste herdenking van die Geallieerde inval van Normandië. Maar hulle het geen formele gesprekke geskeduleer nie.
Obama het intussen aangekondig by sy aankoms in Pole Dinsdag dat hy die Kongres versoek het om $1 miljard te bewillig om die Amerikaanse militêre teenwoordigheid in Europa te verhoog.
Hy het bevestig dat die Amerikaanse verbintenis tot Pole se veiligheid onder die NAVO-alliansie ‘n werklikheid is.
“Dit is nie net woorde nie,” het Obama gesê. “Dit is onwrikbare verpligtinge, gerugsteun deur die sterkste alliansie in die wêreld en deur die gewapende magte van die Verenigde State van Amerika, die mees kragtige militêre mag in die geskiedenis.”
Die ANC Jeugliga gaan vandag ‘n optog hou na die kantore van die Mail en Guardian-koerant in Rosebank.
Volgens die Liga is die koerant “een van die mediahuise wat bereid is om propaganda van ‘n teen-revolusie teen die ANC ter ondersteuning van die opposisie te bevorder”.
Die koerant se redakteur Angela Quintal het in reaksie gesê: “Net soos ons glo in die grondwetlik verskanste reg op vryheid van spraak, sal ons ook die reg van ‘n individu of organisasie verdedig om vreedsaam te protesteer. Dit is wat ons grondwetlike demokrasie is.”
Met die optog, noord van Johannesburg sal die Jeugliga hulle ontevredenheid te kenne te gee met die koerant se “eensydige” nuusdekking.
Die Jeugliga beskuldig die koerant daarvan dat hy sy beginsels van billikheid, objektiwiteit en akkurate verslaggewing versaak het.
Die koerant se nuusdekking in aanloop tot die verkiesing was glo eensydig was ten gunste van die opposisie, volgens die Liga.
Die Jeugliga se ondersteuners sal by Wyndham Park byeenkom vanwaar hulle na Rosebank sal stap. Verteenwoodigers van Cosas en die Jong Kommuniste Liga sal ook die skare toespreek.
Die Nasionale Kunsskool in Braamfontein het bevestig dat ‘n onderwyseres wat van rassisme beskuldig word, geskors is, het RSG berig.
Die Graad Agt geskiedenisonderwyseres het na bewering aan leerders gesê dat swartmense demone is, en dat die regering misluk omdat swartmense aan die hoof daarvan staan.
Die skool se beheerliggaam sê sy sal nie weer by die skool toegelaat word voordat ‘n interne ondersoek afgehandel is nie.
Die Gautengse Onderwysdepartement het gister ‘n beroep op die beheerliggaam gedoen om ‘n sterk standpunt in te neem teen die onderwyseres.
Die departement en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ondersoek ook die voorval.
Onder die DA-bewind in die Wes-Kaap is dwelmmisbruik kommerwekkend aan die toeneem en daarmee saam ook misdaad.
Terwyl Kinderbeskermingsweek landwyd gevier word, het dit aan die lig gekom dat dwelms die provinsie instroom.
Die Wes-Kaapse minister van Gemeenskapsveiligheid, Dan Plato, het sy ernstige kommer uitgespreek oor die verspreiding van dwelmmisbruik onder kinders in kleiner gemeenskappe.
Kinders op die platteland in die Wes-Kaap is skynbaar besig om in verslawing te verval.
Plato sê kleiner dorpe soos Bredasdorp, Worcester en Knysna het die teikenmark vir dwelmhandelaars geword.
Volgens die jongste berigte is daar weens ‘n skerp styging in die getal tikverslaafdes ‘n toename in misdade soos moorde, verkragtings en inbrake buite groot stedelike sentrums.
Plato sê sy departement sal die gebiede wat geraak word, binnekort besoek.
Teksboodskappe word tans in die SAR as ‘n veiligheidsbedreiging beskou.
Enige een wat ‘n teksboodskap in dié land probeer stuur, kry van Maandag af ‘n boodskap wat lui: “SMS verbode”.
Die regering van die Sentraal-Afrikaanse Republiek het selfoon-teksboodskappe verbied in ‘n poging om die konflik-geteisterde land te stabiliseer.
Volgens die telekommunikasie ministerie word teksboodskappe gebruik om betogings en opstande te reël. Premier Andre Nzapayeke sê ‘n algemene staking is deur selfone gereël.
Sedert verlede week bly mense weg van die werk wat die hoofstad verlam gelaat het. Die regering het mense Woensdag aangemoedig om terug te keer werk toe.
Die SAR is polities onstabiel sedert die Moslem Seleka-rebelle die regering van president Francois Bozize in Maart 2013 omver gewerp het.
Sowat 2000 Franse en 6500 Afrika-soldate probeer sektariese geweld in die land bekamp.
’n Suid-Afrikaanse dokter wat sowat ses jaar gelede saam met haar gesin Australië toe geëmigreer het, is glo deur haar man, ook ‘n medikus, in haar bed vermoor.
Haar twee tienerseuns het haar dood in haar bed in dié land aangetref, het Beeld berig.
Dr. Leonie Geldenhuys (46) se seuns van 13 en 18 jaar oud het die polisie ontbied. Haar man, Jacobus (54), se lyk is daarna op ’n nabygeleë erf aangetref.
Die Bathurst-polisie in Wolgan Valley in Nieu-Suid-Wallis, het in ’n verklaring gesê Geldenhuys se dood word as verdag beskou, maar nie haar man s’n nie.
Die polisie het dit as ’n selfmoord bestempel. Jacobus het vermoedelik sy vrou doodgesteek.
Dr. Geldenhuys was ’n algemene praktisyn, maar haar man het sedert sy emigrasie nooit sy lisensie om te praktiseer, hernu nie.
Die Geldenhuys-gesin het in Rustenburg gewoon voordat hulle Australië toe verhuis het. Leonie het as ’n algemene praktisyn by die Platinum Health-mediese sentrum gewerk en haar man by die provinsiale departement van gesondheid.
Tien mense het Woensdagaand doodgebrand na ‘n botsing tussen ‘n bus, ‘n vragmotor en ‘n derde voertuig op die R40 naby Witrivier in Mpumalanga.
‘n Woordvoerder van die provinsie se Departement van Gemeenskapsveiligheid, Joseph Mabuza, sê tot dusver het die ondersoek daarop gedui dat die vragmotorbestuurder beheer oor sy voertuig verloor en teen ‘n bus en ‘n kleiner voertuig gebots het.
Die slagoffers is glo onherkenbaar verbrand in die ongeluk.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die bus was reeds in vlamme gehul toe noodwerkers op die toneel aankom en brandbestryders het lank gesukkel om die brande te blus.
Meiring het gesê 35 mense is beseer, waarvan 5 passasiers in ‘n kritieke toestand is.
Die beseerdes is na hospitale in die gebied geneem.
‘n Voorlopige ondersoek toon dat die vragmotorbestuurder beheer oor sy voertuig verloor het.
Die Mbombela-munisipaliteit in Mpumalanga het hulle meegevoel betuig met die familie van die slagoffers.
Familie van mense wat vermis word, is gevra om met die polisiestasie op Witrivier in verbinding te tree.
Die polisie op Beaufort-Wes het twee vermeende verkragters van twee minderjariges in hegtenis geneem.
Die swart mans word verdink van die verkragting van ’n 10-jarige meisie en ’n 16-jarige seun. Hulle verskyn Donderdag in die hof.
’n Man van 20 en ’n tiener van 17 is Dinsdag in hegtenis geneem.
Kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, het gesê drie kinders het gevlug toe hul maats glo in die bosse langs Blythstraat in Beaufort-Wes verkrag is.
Die meisie het ernstige beserings opgedoen en is in die plaaslike hospitaal vir verdere mediese behandeling opgeneem
Volgens die kinders het hulle draad gesoek om draadkarre mee te bou. Die vermeende verkragters het honde by hulle gehad, en twee kinders is toe glo die veld in gedwing en verkrag.
Die polisie is na die toneel en die mans het gevlug. ’n Soektog is begin en die mans is in die woonbuurte Prins Valley en Rustdene in hegtenis geneem.
Hul regsverteenwoordiger, die Israeli-egpaar en hul dogter
‘n Massiewe vuurwapenskandaal waarby ‘n egpaar uit die Oekraïene betrokke is, is tans besig om in die Johannesburgse landdroshof te ontvou.
Die skandaal sal na verwagting lei tot ‘n grootskaalse ondersoek na korrupte polisiemanne wat wapens en ammunisie aan misdadigers verskaf.
Duisende wapens is tydens die vuurwapenamnestie van 2009 aan die polisie oorhandig en geoormerk vir vernietiging.
Maandag, verlede week, het die polisie toegeslaan op die huis van die Oekraïense egpaar Emma Shmukler-Tishko en haar man Mark, en beslag gelê op 112 aanvalsgewere , handwapens, kommersiële plofstof en slagdoppies.
Hulle het die wapenopslagplek tydens ‘n klopjag in ‘n agterkamer gevind.
Shmukler-Tishko se man word daarvan verdink dat hy ‘n internasionale wapenhandelaar is wat wapens aan geharde misdadigers uitverhuur.
Haar man Mark, is ‘n voormalige Israeliese soldaat. Hulle Malawiese huishulp , Endi Nkhoma, is ook glo deel van die misdaadnes.
Die drie het glo kontant en wapens en plofstof aan kapers, transitobendes en OTM-aanvallers verskaf. Dit is nie duidelik of hulle ook wapens aan plaasmoordenaars uitverhuur het nie.
‘n Polisiebron het gesê die drie verdagtes is die onderwerp van ‘n hoë-vlak-ondersoek. Die egpaar en hul dogter het die aanklagte teen hulle ontken.
Hulle lyk soos ‘n normale bejaarde voorstedelike egpaar, maar militêre en paramilitêre wapens, sluipskuttergewere is by die huis gevind. ‘n Polisie-ondersoekbeampte het gesê dit is nie die soort wapens wat ‘n mens sommer by ‘n wapenwinkel kan koop nie.
‘n R1-geweer wat by die Roodepoort-polisiekantoor in April 2010, tydens die amnestie, ingehandig is, was een van die wapens waarop beslag gelê is by die egpaar se huis in Norwood, Johannesburg.
In Mei is dieselfde geweer amptelik geneem uit die stoorkamer vir vernietiging. Dit is nie bekend hoe dieselfde vuurwapen in die besit van die Oekraïeners gekom het nie.
Ondersoekbeamptes het die reeksnommers van ander vuurwapens wat ingehandig is by polisiestasies regoor die land.
Martin Hood, van die SA Gunowners Association, is woedend oor die vonds.
Hood het gesê dit is duidelik dat die polisie nie ‘ n behoorlike beheerstelsel van vuurwapens in hul stoorkamers het nie.
“Is die polisie korrup in die hantering van vuurwapens? Heeltemal,” het Hood gesê.
Hy het onthul dat ‘n pistool , ingehandig vir vernietiging by Tugela Ferry-polisiekantoor, in KwaZulu- Natal, gebruik is in die moord van ‘n Gauteng Spar-supermarkbestuurder .