’n Suid-Afrikaanse dokter wat sowat ses jaar gelede saam met haar gesin Australië toe geëmigreer het, is glo deur haar man, ook ‘n medikus, in haar bed vermoor.
Haar twee tienerseuns het haar dood in haar bed in dié land aangetref, het Beeld berig.
Dr. Leonie Geldenhuys (46) se seuns van 13 en 18 jaar oud het die polisie ontbied. Haar man, Jacobus (54), se lyk is daarna op ’n nabygeleë erf aangetref.
Die Bathurst-polisie in Wolgan Valley in Nieu-Suid-Wallis, het in ’n verklaring gesê Geldenhuys se dood word as verdag beskou, maar nie haar man s’n nie.
Die polisie het dit as ’n selfmoord bestempel. Jacobus het vermoedelik sy vrou doodgesteek.
Dr. Geldenhuys was ’n algemene praktisyn, maar haar man het sedert sy emigrasie nooit sy lisensie om te praktiseer, hernu nie.
Die Geldenhuys-gesin het in Rustenburg gewoon voordat hulle Australië toe verhuis het. Leonie het as ’n algemene praktisyn by die Platinum Health-mediese sentrum gewerk en haar man by die provinsiale departement van gesondheid.
