Twee vermeende kinderverkragters vas

saps5Die polisie op Beaufort-Wes het twee vermeende verkragters van twee minderjariges in hegtenis geneem.

Die swart mans word verdink van die verkragting van ’n 10-jarige meisie en ’n 16-jarige seun. Hulle verskyn Donderdag in die hof.

’n Man van 20 en ’n tiener van 17 is Dinsdag in hegtenis geneem.

Kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, het gesê drie kinders het gevlug toe hul maats glo in die bosse langs Blythstraat in Beaufort-Wes verkrag is.

Die meisie het ernstige beserings opgedoen en is in die plaaslike hospitaal vir verdere mediese behandeling opgeneem

Volgens die kinders het hulle draad gesoek om draadkarre mee te bou. Die vermeende verkragters het honde by hulle gehad, en twee kinders is toe glo die veld in gedwing en verkrag.

Die polisie is na die toneel en die mans het gevlug. ’n Soektog is begin en die mans is in die woonbuurte Prins Valley en Rustdene in hegtenis geneem.