Nog twee verdagtes in Tembisa-hospitaalkorrupsiesaak in die hof

Die korrupsieondersoek by die Tembisa-hospitaal duur voort. Twee verdere inhegtenisnemings plaas die beweerde misbruik van openbare gesondheidsfondse van R635 miljoen opnuut onder die soeklig.

Twee verdagtes het Dinsdag 17 November 2026 in die Palm Ridge-spesialishof vir handelsmisdade verskyn in verband met die beweerde R635 miljoen-korrupsieskandaal by die Tembisa-hospitaal.

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Valke het Ernest Dikagisho Monnakgotla, 59, en Zacharia Tshisele, 54, hul verskyning in die hof gemaak op aanklagte wat onder meer korrupsie, bedrog en geldwassery insluit. Die saak spruit voort uit ’n voortgesette ondersoek na beweerde tenderbedrog in die hospitaal se verkrygingsprosesse.

Die Valke sê die ondersoek hou verband met bewerings dat sekere hospitaalamptenare saam met diensverskaffers gewerk het om die versoek-vir-kwotasies-stelsel te manipuleer deur aankope doelbewus in kleiner bedrae te verdeel sodat dit onder die R500 000-drempel bly en formele tenderprosesse vermy word.

Tshisele is volgens die polisieverklaring ’n operasionele verpleegbestuurder waaroor daar reeds ’n ander korrupsiesaak in die spesialishof in Pretoria hangend is. Die verklaring sê ook hy is in daardie saak op borg vrygelaat en het reeds meer as R13 miljoen aan die Spesiale-ndersoekeenheid oorbetaal.

Die twee is elk op borg van R30 000 vrygelaat. Die saak is tot 1 Februarie 2027 uitgestel sodat die verdediging toegang tot die polisiedossier kan verkry.

Die SAPD het gesê die Valke sal voortgaan met hul ondersoek na almal wat moontlik by die beweerde korrupsie betrokke was. Die bewerings is nog nie in die hof getoets nie.

Bron: SAPD Mediaverklarings

Protes in Simonstad oor verskuiwing van bobbejane

Die verskuiwing van ’n trop bobbejane uit Simonstad na ’n wildopvangsentrum het hewige protes onder plaaslike inwoners en diereregte-aktiviste ontlok. Die Stad Kaapstad hou egter vol dat die stap noodsaaklik was om die toenemende konflik tussen mense en bobbejane te beperk.

Volgens The Guardian is die Waterfall-trop, wat uit 44 bobbejane bestaan, Vrydag en Saterdag gevang en verskuif. ’n Tweede, kleiner trop, bekend as die Seaforth-trop, sal ook verskuif word.

Die groeiende getalle mense en bobbejane in Kaapstad het die afgelope jare tot toenemende konflik gelei, waarin al hoe meer bobbejane omkom. Daar bestaan reeds geruime tyd meningsverskille tussen diegene wat glo dat mense en bobbejane vreedsaam kan saamleef en ander wat meen dat bobbejane in woongebiede aan te veel gevare blootgestel word en daarom verskuif moet word.

Sommige diereregte-aktiviste het die owerheid se hantering van die bobbejane selfs met apartheid vergelyk.

Tydens Vrydag se verskuiwing het woedende betogers probeer verhinder dat voertuie met die bobbejane vertrek. Volgens Daily Maverick het een van die betogers ’n brandblusser gebruik.

Ná die voorval het die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) betogers versoek om nie die vervoer van die bobbejane te probeer verhinder nie. Die vereniging het daarop gewys dat die vang en vervoer van die diere reeds groot spanning veroorsaak en dat enige vertraging hul verblyf in vervoerkratte onnodig verleng.

Die DBV het egter beklemtoon dat hy steeds teen die verskuiwing gekant is.

“Ons teenwoordigheid beteken nie dat ons die verskuiwing goedkeur nie. Ons inspekteurs is daar omdat die diere iemand nodig het wat na hul belange omsien,” het die vereniging verklaar.

Sondag het tientalle betogers in stilte buite die wildopvangsentrum bymekaargekom. Sommige het blomme aan die heining vasgebind. Volgens Daily Maverick het bobbejane van ’n ander trop ook by die omheining saamgedrom en na die gevange diere geroep.

Die Stad Kaapstad het Sondag in ’n verklaring gesê die verskuiwing het suksesvol verloop. Die bobbejane is deur veeartse ondersoek en word deurentyd dopgehou. Die wyfies het ook voorbehoedmiddels in die vorm van inplantings ontvang.

Volgens die stadsraad is die Waterfall-trop verskuif weens die voortdurende konflik met inwoners van Simonstad, die beperkte beskikbaarheid van geskikte natuurlike habitat en kommer oor die veiligheid van mense sowel as bobbejane.

Die stadsraad beskryf die verskuiwing as ’n laaste uitweg nadat ander maatreëls oorweeg en as ontoereikend bevind is. Dit word ook as ’n alternatief beskou om die diere van kant te maak.

Prof. Justin O’Riain, ’n gedragsekoloog aan die Universiteit van Kaapstad, het aan The Guardian gesê die bestuursplan is oor ’n tydperk van twee jaar aan openbare oorleg onderwerp.

Hy het sy teleurstelling uitgespreek oor die optrede van sommige lede van die publiek en nieregeringsorganisasies wat volgens hom die veiligheid van mense en bobbejane in gevaar stel deur gewelddadig teen personeel op te tree en die vervoer van die diere te ontwrig.

Bron: The Guardian

Greta dryf die spot met Duitse kinders wat oor die klimaat staak

’n Virale videogreep uit Hubertus Koch se dokumentêr, Auf Panzern in die Klimakrise, het ontbloot hoe Greta Thunberg openlik die spot dryf met Berlyn se Fridays for Future-stakers. Toe daar vir haar gesê word dat die klimaatbetogings wat sy eens gelei het steeds plaasvind, lag sy spottend en vra: “Regtig? Doen hulle dit nog steeds?”

In die videogreep bars Thunberg – nou 23 en die stigter van die wêreldwye skoolstakingsbeweging wat sy in 2018 op 15-jarige ouderdom van stapel gestuur het – saam met ander aanwesiges uit in ’n skril gelag. Maar as sy haar flater besef, beduie sy na die kamera en roep: “Sny!” Die toneel is in Berlyn verfilm op dieselfde dag as ’n Fridays for Future-betoging.

Haar reaksie verteenwoordig ‘n duidelike bespotting van die jong aktiviste wat voortgaan met die skoolstakingsmodel wat sy gewild gemaak het ten nadele van hul eie opvoeding. Kommentators het opgemerk dat sy aanbeweeg het terwyl sy diegene belaglik maak wat steeds haar oorspronklike voorskrifte volg. Haar gelag was smalend, histeries, afwysend en minagtend teenoor die kinders.

Tydens die 2019 VN-beraad oor Klimaataksie in New York op 23 September 2019 het Thunberg ’n emosionele toespraak gelewer waarin sy wêreldleiers daarvan beskuldig het dat hulle jonger geslagte verraai deur nie op te tree teen klimaatsverandering nie. Haar opmerkings het wêreldwyd bekend geword vir haar herhaalde verwyt: “Hoe durf julle!”

Koch het probeer teëstribbel deur te verklaar dat Thunberg die geregistreerde betogings en skoolstakingstaktieke van haar tienerjare “ontgroei” het. Volgens hom beskou sy beroepe by goedgekeurde betogings en paneelbesprekings as “struktureel oneffektief”, en lê sy nou klem op burgerlike ongehoorsaamheid, regsgedinge en opposisionele aktivisme.

Die voorval het Thunberg se verskuiwende prioriteite en uiteindelik die lelike gesig van klimaatsverandering ontbloot.

VSA beweeg om Russiese gasvloei na Europa via Nord Stream te beheer

Te midde van stygende energiepryse, dui onderhandelinge agter die skerms tussen Washington en Moskou op ’n dramatiese verskuiwing in wêreldwye energiepolitiek: die Verenigde State posisioneer homself om as ’n tussenganger op te tree wat Russiese gaslewerings na Europa beheer.

Volgens berigte wat die Wall Street Journal en energie-ontleders aanhaal, beoog die Trump-administrasie om die hervatting van Russiese gasvloei — spesifiek deur Oekraïne en die oorblywende ongeskonde gedeelte van die Nord Stream-pypleiding — op die agenda vir potensiële trilaterale skietstilstandgesprekke te plaas.

Hoewel die Europese Unie daartoe verbind bly om alle Russiese gasinvoere teen die einde van 2027 uit te faseer, neem ernstige voorsieningsdruk toe. Lae Duitse bergingsvlakke, Katarse afleweringsonderbrekings en hewige Asiatiese mededinging vir vloeibare aardgas (LNG) het Europese gaspryse tot sowat €100 per megawatt-uur opgestoot. Energiekonsultant Johannes Benigni merk op dat die heraktivering van Russiese pypleidings pryse tot €30 kan laat daal, hoewel beduidende wetlike en Duitse sertifiseringstruikelblokke steeds bestaan.

Ontleders meen dat Washington se strategie sowel winsgewend as geopolities is. Deur as ’n middelman op te tree en Russiese inkomste na borgrekeninge te kanaliseer, sal Amerikaanse beleggers wins maak terwyl hulle strategiese hefboomkrag oor Moskou verkry. Gevolglik loop Europa die risiko om afhanklik te bly van Russiese gas — terwyl hy in werklikheid beide Rusland en die VSA vir die voorsiening betaal.

Brittanje maak gereed vir dae van duisternis en chaos

Terwyl die staat hom agter geslote deure voorberei op algehele chaos en staatsbeheer, word burgers gewaarsku om te oorleef sonder krag, water of kommunikasie.

Die Britse staat berei die land openlik voor op dae lange duisternis, wateronderbrekings en algehele chaos — en sorg dat slegs sy eie stem oor die luggolwe weerklink die oomblik wat die kragnetwerk tot stilstand kom.

’n Geheimsinnige “Black Sky”-noodplan sluit 100 BBC-personeellede toe in ’n versterkte ondergrondse bunker met genoeg brandstof, kos en water vir minstens drie dae. Hul opdrag is duidelik: saai voorafgeskrewe regeringsbevele oor FM uit die oomblik dat die ligte, internet en selfoonnetwerke finaal ineenstort. Sendtorings is reeds tot oorlopens toe gevul met duisende liters diesel sodat die staat se amptelike boodskap nooit stil word nie.

Generaal sir Roly Walker (gebore 1970) het in Junie 2024 Hoof van die Generale Staf geword ná ‘n lang loopbaan wat die Ierse Wagte (Irish Guards), die Britse SAS, bevel oor die Grenadierwagte (Grenadier Guards) in Afganistan, en Adjunkhoof van Verdediging ingesluit het. Hy staar nou wydverspreide openbare teenkanting in die gesig oor sy dringende oproepe dat die Britse publiek opofferings moet maak. Beeld: BFBS Forces News

Terselfdertyd dwing die “Be Ready”-veldtog elke huishouding om drie dae se gebottelde water, kos, kontant en ’n opwenradio aan te skaf vir oorlewing. Eerste Minister Andy Burnham het die publiek gewaarsku dat onverwagte rampe “blykbaar meer algemeen word” en mense aangespoor om noodvoorrade gereed te hou “om jou deur daardie donker oomblikke te kry.”

Minister van Verdediging Wes Streeting het die waarskuwing verder gevoer deur te verklaar dat Brittanje ’n al hoe gevaarliker wêreld in die gesig staar en skaars 1 000 dae oor het voordat “teenstanders” kan toeslaan — en het geëis dat die nasie gereed moet wees “om te veg en te wen.” Senior weermaghoofde soos genl. Roly Walker, die professionele hoof van die Britse leër, berei die publiek reeds voor op die ergste: burgers moet bereid wees om “opofferings” te maak en vir hul land te sterf.

’n Langdurige kragonderbreking dompel nie net ’n land in duisternis nie. Dit sny die watertoevoer af en laat rioolstelsels vasvries. Hoewel amptenare volhou dat ’n totale ineenstorting van die kragnetwerk nog nooit plaasgevind het nie, onthul hulle nou openlik die presiese meganisme waarmee hulle ‘n ystergreep sal behou wanneer die land tot stilstand kom. Britse owerhede maak solank seker dat slegs die BBC vir sy burgers sal voorskryf wie verantwoordelik gehou sal word wanneer die groot ineenstorting aanbreek.

Pentagon beveel militêre basisse om kos en water op te gaar

WASHINGTON — Die Pentagon wil hê groot Amerikaanse militêre basisse moet hul noodsaaklike bedrywighede kan voortsit wanneer burgerlike krag-, water- en toevoernetwerke uitval. Volgens Fox News Digital maak interne dokumente voorsiening vir minstens 90 dae se bedrywighede sonder hulp van buite. Die Pentagon se openbare aankondiging noem geen tydperk nie.

Die Amerikaanse minister van verdediging, Pete Hegseth, het die program, bekend as FORTRESS America, op 30 September by die Marinekorpsbasis Quantico in Virginië aangekondig. Die program beoog onder meer om groot basisse van onafhanklike kragvoorsiening te voorsien, toevoerkettings te versterk en strategiese reserwes op te bou. Die interne dokumente waaroor Fox News berig het, dek ook water, brandstof en kommunikasie.

Wat geld vir huishoudings?

Die berig oor die 90 dae het aanlyn vrae laat ontstaan oor hoeveel kos en water Amerikaanse huishoudings moet aanhou. Die Pentagon se program handel oor militêre installasies. Die Amerikaanse Federale Noodbestuursagentskap (FEMA) se algemene raad aan huishoudings is om minstens drie dae se niebederfbare kos en sowat 3,8 liter water per persoon per dag vir drinkwater en higiëne aan te hou. Die agentskap beveel ook ’n flits, ekstra batterye en ’n noodhulpkissie aan.

Die Britse regering het op 22 Oktober afsonderlik sy Be Ready-veldtog van stapel gestuur. Dié veldtog moedig huishoudings aan om vir tot drie dae se ontwrigting van noodsaaklike dienste voorbereid te wees, byvoorbeeld wanneer swaar weer krag- of watertoevoer onderbreek.

Derde beskuldigde in moordsaak van Knysna se oud-burgemeester

KNYSNA — ’n Man wat die polisie daarvan verdink dat hy die skote afgevuur het wat Knysna se voormalige burgemeester Aubrey Tsengwa gedood het, het Maandag in die Knysna-landdroshof verskyn. Die 44-jarige is as derde beskuldigde by die saak gevoeg en staan tereg op een aanklag van moord en drie van poging tot moord. Hy bly in aanhouding en sal na verwagting op 10 Desember saam met sy medebeskuldigdes in die hof verskyn.

Die polisie se taakspan vir politieke moorde het die man na Peddie in die Oos-Kaap opgespoor, waar hy Vrydag 6 November in hegtenis geneem is. Die taakspan lei die ondersoek na die skietvoorval van 19 Augustus in Joodsekamp, Knysna.

Tsengwa, wat ten tyde van sy dood raadslid vir wyk 8 was, was die aand op pad huis toe. Volgens die polisie se voorlopige weergawe het ’n man sy motor in Ngxalostraat genader, op die voertuig losgebrand en te voet gevlug. Die polisie is omstreeks 21:20 ontbied. Tsengwa is op die toneel dood verklaar. Al drie ander insittendes het die aanval oorleef.

Ondersoek duur voort

Die twee medebeskuldigdes, Vusumzi Gungu (46) en Thobelani Lakhe (39), is reeds in aanhouding. Die staat het in September die aanklagte teen Lonwabo Faleni, een van die drie mans wat aanvanklik in hegtenis geneem is, voorlopig teruggetrek. By die hofverskyning op 26 Oktober het staatsaanklaer Brandon Smith gesê die staat wag nog op ’n ballistiese verslag en selfoonrekords en -data.

Die nuwe beskuldigde staan ook tereg op ’n aanklag van moord en vyf van poging tot moord in verband met ’n afsonderlike voorval in Mosselbaai. Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het aan TimesLIVE gesê die man sal na verwagting Woensdag 11 November in die Mosselbaai-landdroshof oor dié aanklagte verskyn.

Tsengwa se broer, Thembile, het ná Maandag se hofverskyning aan die media gesê die familie wil weet waarom sy broer vermoor is en wie die opdrag gegee het. Die motief vir die aanval is nog nie in die openbaar bevestig nie.

Gaan DA van koalisies uitgesluit word?

JOHANNESBURG — Suid-Afrika se politieke landskap is besig om ingrypend te verander nadat ActionSA formele koalisiegesprekke met die African National Congress (ANC) begin het. Die doel is om stabiele regerings in verskeie sleutelmetro’s te vorm waar geen enkele party ‘n volstrekte meerderheid behaal het nie.

Die stap dui op ‘n dramatiese beleidsverskuiwing vir ActionSA, wat aanvanklik op ‘n sterk anti-ANC-platform gestig is. Ná die plaaslike regeringsverkiesing in November 2026, waarin verskeie groot ekonomiese sentrums sonder ‘n duidelike meerderheidswenner gelaat is, bevind ActionSA hom nou in die posisie van koningmaker.

Die party se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, het bevestig dat ActionSA se afvaardiging reeds ‘n eerste ronde gesprekke met die ANC afgehandel het. Hy het die samesprekings as “produktief en wedersyds respekvol” beskryf.

Die onderhandelinge fokus hoofsaaklik op die politieke dooiepunte in Gauteng se drie grootste metropolitaanse munisipaliteite: Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni.

ActionSA-leier Herman Mashaba het die besluit verdedig teen kritiek dat die party sy oorspronklike beginsels versaak. Hy het verwys na die bestuursreëling in Tshwane, waar ActionSA saam met die ANC en die Economic Freedom Fighters (EFF) gehelp het om dr. Nasiphi Moya as burgemeester aan te wys. Volgens Mashaba bewys dié samewerking dat pragmatiese koalisies moontlik is wanneer dienslewering die gemeenskaplike doelwit is.

“Ons kiesers wil stabiele plaaslike regerings hê wat dienste lewer,” het Mashaba gesê.

Hy het beklemtoon dat ActionSA nie bloot bereid is om deel van koalisies te wees nie, maar ook ‘n leidende rol in hul uitvoerende strukture wil speel. Dit sal die party na sy mening in staat stel om as waghond op te tree, korrupsie teen te werk en koalisievennote tot verantwoording te roep.

Die toenadering tot die ANC beklemtoon terselfdertyd die diep verdeeldheid tussen ActionSA en die Demokratiese Alliansie (DA). Die voortslepende openbare stryd tussen Mashaba en Helen Zille, voorsitter van die DA se Federale Raad, het die vooruitsigte van ‘n sentrum-regse koalisie aansienlik verswak.

ActionSA se besluit om nou met die ANC te onderhandel, dui dus op ‘n pragmatiese heroriëntering van sy politieke strategie.

Hoewel geen formele koalisie-ooreenkomste nog onderteken is nie, kan ‘n gesamentlike stemblok tussen die ANC en ActionSA die magsbalans in Gauteng se ekonomiese kerngebiede ingrypend verander. Die uiteindelike uitkoms kan bepalend wees vir die bestuur van Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni oor die volgende vyf jaar.

Demokrate wen 47 setels in die Amerikaanse Kongres

Die Demokrate het in die Amerikaanse middeltermynverkiesing van 3 November 2026 netto 40 setels in die Huis, 7 setels in die Senaat en 5 goewerneurskappe gewen, volgens die beskikbare voorlopige uitslae. Hulle het daarmee beheer van albei kamers van die Kongres oorgeneem. Roll Call

VerkiesingNetto Demokratiese winsHoe dit opgebou is
Huis van Verteenwoordigers+40 setelsVolgens CQ Roll Call se telling op 5 November het die Demokrate 42 Republikeinse setels verower en twee aan die Republikeine afgestaan. Roll Call
Senaat+7 setelsIowa, Kansas, Maine, Noord-Carolina, Ohio, Suid-Carolina en Texas het van Republikeins na Demokraties oorgegaan. apnews.com
Goewerneurs+5 goewerneurskappeGeorgia, Iowa, Nevada, Ohio en Texas het van Republikeins na Demokraties oorgegaan. Interactive News

Die Huis-syfer kan nog verander. Polling Desk het vroeg op 8 November reeds 252 Demokratiese en 161 Republikeinse wenners getel, met 22 distrikte waar ’n wenner nog aangewys moes word.

Dis ‘n fees! Afrikaansdag by PRAAG gevier

Nadat PRAAG, die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, ‘n klompie jare gelede begin het om 14 Augustus as Afrikaanse taaldag te herdenk, het die idee allerweë byval gevind en word dit vandag landwyd deur organisasies, boekwinkels en selfs internasionaal gevier.

As deel van taaldag, verskyn Fransi Phillips se jongste roman, Die lemmingmense, vandag by Praag-uitgewery. Koop dit hier.

In die loop van die dag publiseer ons artikels, asook video-opnames en onderhoude in ‘n deurlopende virtuele byeenkoms in en rondom Afrikaans. Besoek dus gereeld vandag ons webblad, sosiale media en YouTube-kanaal vir verdere boeiende vrystellings!

Soos wyle Fanus Rautenbach gesê het: “Afrikaans is soos ‘n kurkprop in water — hoe meer jy hom ondertoe druk, hoe sterker spring hy weer boontoe.”