Amerikaanse Hooggeregshof beveel dat laat stembriewe in Pennsilvanië tersyde gehou en apart getel moet word

‘n Amerikaanse hooggeregshofregter het gelas dat die stembriewe in Pennsilvanië wat na die keerdatum van die verkiesingsdag ontvang is, afgesonder en apart getel moet word. President Trump het vroeër onreëlmatighede in die stemtelling beweer.

In ‘n tydelike bevel op Vrydag het die Amerikaanse hooggeregshofregter, Samuel Alito, beslis dat “alle verkiesingsrade” moet voldoen aan die riglyne van 28 Oktober en 1 November wat vereis dat alle stembriewe wat na 20:00 op die verkiesingsdag per pos ontvang word, “geskei moet word”. En geberg “in ‘n veilige en verseëlde houer, los van ander stembriewe.”

Laat stembriewe onderhewig aan die beslissing word dan “apart getel”, lui die bevel.

Terwyl die Demokrate Saterdag tot 14:00 (19:00 GMT) tyd het om op die besluit te reageer, kan die bevel dalk gesien word as ‘n simboliese oorwinning vir die veldtog van president Donald Trump, wat herhaaldelik beweer het dat die telproses met verskeie ongerymdhede besoedel is.

Trump se veldtog het Donderdag ‘n regsgeding aanhangig gemaak met die aantyging dat hul stemkontroleerders by ‘n tellingsentrum in Philadelphia verbied word.

Trump het self Pennsilvanië se verkiesingsbeamptes daarvan beskuldig dat hulle die fakkel vir die Demokratiese Party gedra het, en gesê dat “partydige Demokrate toegelaat het dat die stembriewe drie dae na die verkiesing ontvang word.”

 

Vaalseun Bush ver agter in nominasiestryd

Jeb Bush het vasgeval in die Republikeinse nominasieproses nadat sy kandidatuur in die Amerikaanse presidentsverkiesing ‘n ernstige knou gekry het, het AFP berig.

Bush was aanvanklik vol vertroue dat dit ‘n maklike stryd sou wees.

Om die seun van een en die broer van nog ‘n oudpresident te wees, blyk nie genoeg van ‘n aanbeveling te wees om sy sukkelende veldtog te red nie.

Hy loop ver agter die voorloper het na berig word 40 persent van sy verkiesingsbegroting wat vir personeel bestem is, gesny en selfs sy reiskoste ingeperk.

Bush is nou een van die aanspraakmakers wat hulle in die middel van die bondel bevind.

In die begin van die veldtog het die voormalige goewerneur van Florida, wat met ‘n bruin vrou getroud is, groot geld van ondersteuners gekry.

Bush het egter ‘n knou gekry met die enorme steun wat die miljardêr en tans voorloper, Donald Trump, geniet.

In ‘n poging om hernude lewe in die veldtog van Bush te blaas, het drie geslagte van sy bekende familie in Houston, Texas saamgetrek om skenkers die versekering te gee dat ‘n derde Bush-president meer as net ‘n skrale moontlikheid is.

Oudpres. George H.W. Bush en George W. Bush, onderskeidelik Jeb se pa en broer, was byderhand om blad te skud en saam met ondersteuners met dik beursies vir foto’s te poseer terwyl die 2016-kandidaat sy bes gedoen het om gemotiveerd te lyk vir die stryd wat voorlê.

Ondersteuners sê hulle glo Bush kan nog ‘n haas uit ‘n hoed trek, maar die prentjie lyk donker.

Teen die middel van Julie was Bush die voorloper met twee keer soveel steun as Trump. Vandag is die prentjie aansienlik anders met Trump wat meer as drie keer soveel steun as Bush geniet.

Met net 7% steun, loop die vaal Bush ook agter die afgetrede swart neurochirurg, Ben Carson – wat soos Trump nog nooit ‘n openbare amp beklee het nie – en senatore Marco Rubio en Ted Cruz.

Self Bush-ondersteuners gee toe dat hierdie eerste rondtes van die presidentsveldtog aansienlik anders is as in vorige jare. Gevolglik word die Republikeine se veldtogte, insluitende dié van Bush, heroorweeg.

Trump, wat gestand doen aan sy reputasie van skerp politieke stekies, het met Bush gespot en gesê hy “ontmoet vir mamma en pappa” in Houston.

Bush het intussen sy moedeloosheid met die toedrag van sake in die wedloop uitgeblaker.

“Ek het regtig baie ‘cool’ dinge wat ek kan doen, eerder as om rond te sit en teneergedruk te wees, na mense te luister wat my slegsê en verplig te voel om hulle weer sleg te sê. Verkies vir Trump as dit is wat julle wil hê.”

Trump loop los voor in benoemingstryd

Die voorloper onder Republi­keinse aanspraakmakers op die party se nominasie as presidentskandidaat, Donald Trump, voormalige goewerneur Jeb Bush, en die oud-sakevrou Carly Fiorina en ander voornemende presidentskandidate het in Woensdag se TV-debat mekaar gekarnuffel.

Die debat, wat veronderstel was om die kandidate se mening oor belangrike standpunte uit te lig, is hoofsaaklik deur Trump oorheers. Die ander Republikeinse kandidate is in hoek en probeer naarstiglik keer dat Trump die presidentskandidaatskap inpalm.

Woensdag was die eerste keer dat die Republikeinse Party se enigste vroulike kandidaat, Fiorina, op die debatsverhoog was. Haar gewildheid is besig om toe te neem ondanks die feit dat Trump haar onlangs beledig het en gesê het niemand sal vir “daardie gesig” stem nie.

Sy het Trump daaroor aangevat, maar hy het net vorentoe geleun en vir haar gesê sy is ’n mooi vrou. Fiorina het daarna opgemerk dat Trump se maatskappy al vier keer om bankrot­skap aansoek gedoen het.

“Waarom moet ons jou vertrou?” het sy gevra. Fiorina het egter vergeet dat Trump besonder goed van al vier terugslae herstel het.

‘n Meningspeiling deur Reuters/Ipsos toon dat Trump weliswaar met 32%-steun steeds voorloop. Die afgetrede neurochirurg Ben Carson is tweede met 15% en Bush is derde met 9% van die steun.

Daar was altesaam 11 kandidate op die verhoog vir die debat wat in die Ronald Reagan Presidential Library in Simi Valley gehou is. Die ander wat aan die hoofdebat deelgeneem het, was Scott Walker, Ted Cruz, Marco Rubio, Mike Huckabee, John Kasich en Chris Christie.

Een van die kandidate wat aan die “undercard”-debat deelgeneem het vir kandidate wat nie so gewild is nie, het die Republikeinse dilemma jeens Trump perfek opgesom.

Trump beskik oor geloofwaardigheid onder kiesers, terwyl nie een van die ander kandidate dieselfde kan sê nie. Die res van die Republikeinse aanspraakmakers is deur invloedsmouse gekoop.

Intussen het Rabbi Dov Zackheim Trump in die Joodse media aangeval as ‘n “onverkiesbare” kandidaat. Die rabbi het gesê alhoewel Trump ‘n reputasie het as filo-Semities, behoort Jode nie vir hom te stem nie.

Zakheim het tydens die ampstermyn van president George W. Bush as ondersekretaris van Verdediging gedien tussen 2001-2004.