Nege regters van die Grondwethof het eenparig beslis dat artikels 15 en 16 van die Wet op Strafreg (Seksuele Oortredings en Verwante Aangeleenthede) ongrondwetlik is.
Konsensuele seks, soen en vry tussen kinders van 12 tot 16 jaar sal dus nie meer as misdade beskou word nie.
Die hof het bevind die artikels die waardigheid en privaatheid van vroeë adolessente aantas en dat dit ook nie die beste belange van sulke kinders bevorder nie, wat glo teen die Grondwet indruis.
Die artikels het vroeër konsensuele seksuele kontak, liefkosings, soene en vry tussen 12- tot 16-jariges (vroeë adolessente) tot ’n misdaad verklaar. Sedert die wet in werking getree het is verskeie kinders ingevolge daarvan aangekla.
Seksaktiviste het Jeff Radebe, minister van justisie, aangespoor om ’n moratorium op alle ondersoeke, inhegtenisnemings, vervolgings en strafregtelike prosesse in verband met art. 15 en 16 sover dit konsensuele vroeë adolessente betref, te plaas.
Women’s Legal Centre, een van die partye in die geding, het gesê daar is ’n baie hoë persentasie onbeplande tienerswangerskappe, maar dit is nou nie meer “ondergronds” nie.
Dié stelling is vreemd aangesien die staat se maatskaplike uitkerings aan vroeë adolessente wat swanger raak, nog nooit ondergronds was nie.
Prof. Tom Coetzee, strafregkenner van Potchefstroom, het aan Beeld gesê deur die twee artikels “het die wetgewer ’n eeue oue fase waardeur elke kind gaan, naamlik seksuele ontwaking, op ’n absurde en vreemde manier strafbaar gemaak.”

