Die departement van korrektiewe dienste het 29 kennisgewings van boetes aan die privaat sekuriteitsmaatskappy G4S beteken nadat voorvalle van geweld by die Mangaung-maksimumsekuriteitsgevangenis sedert 14 September voorgekom het.
Die gevangenis word privaat deur G4S Africa bedryf. G4S is ‘n Britse multinasionale sekuriteitsmaatskappy met sy hoofkwartier in Crawley, in die Verenigde Koninkryk. Dit is die wêreld se grootste sekuriteitsmaatskappy gemeet aan inkomste en is werksaam in ongeveer 125 lande.
Dié maatskappy is verlede jaar in die VK in ‘n openbare veldtog gekritiseer weens sy betrokkenheid by Israel.
Sedert die middel van September is verskeie voorvalle van geweld aangemeld. ‘n Vroulike beampte is verlede week deur vier gevangenes as gyselaar aangehou, berig Eyewitness News.
Die aantal voorvalle van geweld by die tronk het sedert verlede maand skerp toegeneem nadat meer as 300 lede van die polisievakbond Popcru afgedank is omdat hulle onwettig gestaak het.
Die maatskappy het sedert 14 September die terme en voorwaardes van sy kontrak 29 keer oortree en die boete vir elke voorval is R36 000. Indien die kennisgewings goedgekeur is, sal die maatskappy altesaam R1,44 miljoen se boetegeld aan die departement moet betaal.
Andy Baker, hoof van G4S Africa, het egter gesê elke voorval was ‘n ongeluk wat nie voorsien kon word nie.
