G4S neem weer beheer van Mangaung-gevangenis

Die Departement van Korrektiewe Dienste het die beheer van die Mangaung-gevangenis buite Bloemfontein weer aan die veiligheidsmaatskappy, G4S, oorhandig, het RSG berig.

Die departement het in Oktober verlede jaar die beheer van die privaat-beheerde gevangenis oorgeneem. Die kommissaris, Zach Modise, sê die probleme wat tot die beheeroorname gelei het, is opgelos.

Die streekspresident van G4S Africa, Andy Baker, sê die maatskappy het ingestem om die 326 werkers wat afgedank is, weer aan te stel.

`n Maand voor Korrektiewe Dienste die beheer oorgeneem het, het G4S `n groep van 330 lede van die vakbond, Popcru, afgedank omdat hulle na `n staking nie weer begin werk het nie.

Tydens die staking is `n vroulike bewaarder vir 13 uur deur die gevangenes aangehou.

G4S dalk swaar beboet oor geweld by tronk

g4sDie departement van korrektiewe dienste het 29 kennisgewings van boetes aan die privaat sekuriteitsmaatskappy G4S beteken nadat voorvalle van geweld by die Mangaung-maksimumsekuriteitsgevangenis sedert 14 September voorgekom het.

Die gevangenis word privaat deur G4S Africa bedryf. G4S is ‘n Britse multinasionale sekuriteitsmaatskappy met sy hoofkwartier in Crawley, in die Verenigde Koninkryk. Dit is die wêreld se grootste sekuriteitsmaatskappy gemeet aan inkomste en is werksaam in ongeveer 125 lande.

Dié maatskappy is verlede jaar in die VK in ‘n openbare veldtog gekritiseer weens sy betrokkenheid by Israel.

Sedert die middel van September is verskeie voorvalle van geweld aangemeld. ‘n Vroulike beampte is verlede week deur vier gevangenes as gyselaar aangehou, berig Eyewitness News.

Die aantal voorvalle van geweld by die tronk het sedert verlede maand skerp toegeneem nadat meer as 300 lede van die polisievakbond Popcru afgedank is omdat hulle onwettig gestaak het.

Die maatskappy het sedert 14 September die terme en voorwaardes van sy kontrak 29 keer oortree en die boete vir elke voorval is R36 000. Indien die kennisgewings goedgekeur is, sal die maatskappy altesaam R1,44 miljoen se boetegeld aan die departement moet betaal.

Andy Baker, hoof van G4S Africa, het egter gesê elke voorval was ‘n ongeluk wat nie voorsien kon word nie.

Popcru se beergreep op die SAPD

Niemand sal stry dat die beleërde Vrystaatse polisiehoof, Amon Mashigo, met sy aanstelling ‘n nuwe besem was wat skoongevee het nie. Hy was gereeld in die nuus oor hoe hy persoonlik by die bekamping van misdaad betrokke geraak het. Hy het in gloeiende nuusdekking gedy.

Sy aanstelling het gevolg op ‘n baie ongelukkige era waartydens verskeie vakbonde betrokke was oor ‘n skynbare skrikbewind wat Popcru in die Vrystaat – en ook elders – gevoer het. Polisiebeamptes wat nie lede van Popcru was nie, en as bestuurslede dissiplinêr teen Popcru-lede opgetree het, het dikwels die tweede beste daarvan afgekom.

In ‘n saak waar ‘n bevelvoerder weens die beweerde misbruik van verklikkersgeld krimineel vervolg is, het die staatsaanklaer later gedreig om hom aan die saak te onttrek omdat die destydse polisiehoof volstrek het om die aangeklaagde te skors of elders aan te wend om dit vir die staatsgetuies, polisiebeamptes onder sy bevel, moontlik te maak om sonder viktimisasie te getuig.

Die voorbeelde was legio, en het verskeie vakbondondersoeke en verslae tot gevolg gehad wat skynbaar net so onder die mat gevee is.

Toe kom Mashigo.

Dit het egter nie lank geduur nie of vreemde skorsings en die ontslag van nie-Popcru-lede het weer in die nuus begin beland, terwyl veral een geval van die teenoorgestelde aard ook die nuus begin haal het. In hierdie geval is ‘n polisiebeampte wat geskors was na hy ‘n kollega so erg aangerand het dat rekonstruktiewe chirurgie nodig was, se skorsing nie net opgehef nie, maar is hy ook bevorder terwyl verskeie regsprosesse nog in proses is. Na bewering is die Mashigo, en hierdie polisiebeampte wat ‘n lang lys van beweerde ongure optredes agter die blad het, huisvriende.

‘n Interessante tussenspel was dat die Vrystaatse polisie in opdrag van Mashigo alle kommunikasie met Volksblad opgeskort het, en ‘n klag by die Persombudsman ingedien het. Mashogo het die klag later laat vaar en die boikot opgehef – skynbaar na druk van bo.

Intussen het ‘n verslag van die Onafhanklike Klagtediretoraad oor beweerde optredes van Mashigo aan die pers gelek, en nou word ‘n ‘n forum van verontregtes gestig. Wit en swart lede en oud-lede van die SAPD is betrokke.

Die situasie ontvou terwyl die SAPD skynbaar ‘n ope uitnodiging aan oud-gediendes gerig het om na die SAPD terug te keer en sodoende die polisie se kapasiteit en kundigheidsvlakke te versterk. Solidariteit het intussen die SAPD daarvan beskuldig dat hy uit twee monde praat en gevalle genoem waaruit dit blyk asof hierdie ope uitnodiging nie werklik so oop is nie.

Solank Popcru egter ‘n beergreep op die SAPD het, so lank sal sake nie normaal kan verloop nie. ‘n Groot deel van die probleem is Popcru se affiliasie by Cosatu, en Cosatu se alliansie met die regerende ANC. Hierdeur is Popcru nie net wydsbeen deel van die staat se uitvoerende en wetgewende gesag nie, maar spesifiek in een van die gewapende magte – iets wat in ‘n normale demokrasie soos ‘n klip in die maag lê, en waarvan die gevolge net te veel gesien en gevoel word.

Pas het e-TV ‘n program – tot ontsteltenis van die SAPD – uitgesaai waarin misdadigers geen geheim daarvan maak nie dat hulle beplan om tydens die komende Fifa-toernooi, buitelandse besoekers te teiken nie. ‘n Tweede beste of gebrekkige polisieoptrede tydens die toernooi weens die onaantasbaarheid van vrot appels is nie in landsbelang nie.

 

детский магазин одессаФильчаков прокурор отзывы