Winnie lek glo inligting oor wapentransaksie

Die Kaapstadse burgemeester, Patricia de Lille, het haar gedistansieer van ‘n verklaring dat die ANC-veteraan, Winnie Madikizela-Mandela, inligting laat uitlek het.

Madikizela-Mandela was glo een van verskeie Parlementslede wat inligting oor die 1999 wapentransaksie gelek het.

Die inligting was vervat in die sogenaamde De Lille-dossier. Die vraag voor die kommissie het gehandel oor wie die dossier help opstel het.

‘n Teenstander van die wapentransaksie, Terry Crawford-Browne, het vroeër aan die Seritikommissie van Ondersoek gesê Madikizela-Mandela het getuienis oor moontlike bedrog en korrupsie met die wapentransaksie laat uitlek.

Crawford-Browne het gevra om die name aan Regter Seriti vertroulik te oorhandig, maar die regter het daarop aangedring dat hy die name in die openbaar noem. “Ek wil hê dat jy die name in die openbaar gee.”

De Lille sê sy het Crawford-Browne nooit vertel dat Madikizela-Mandela aan haar dokumente oorhandig het nie. Maar De Lille wou nie verdere vrae beantwoord oor of sy Madikizela-Mandela wel in die dossier noem nie.

De Lille was destyds ‘n Parlementslid van die PAC. De Lille het haar van verklarings deur Crawford-Browne gedistansieer.

Hy het vroeër aan die kommissie gesê inligting in die sogenaamde ” De Lille-dossier” is versamel deur intelligensie-agente van die ANC wat met LP’s saamgewerk het.

De Lille het vroeër vanjaar voor die kommissie getuig en haar dossier as getuienis ingedien.

Madikizela-Mandela wou nie navrae beantwoord nie.

Wapentransaksie: Fluitjieblaser kan onthullend wees

Richard Young
Richard Young

Die Seritikommissie van Ondersoek na die Wapentransaksie van 1999 is ‘n week lank uitgestel, het RSG berig.

Dit volg nadat getuienisleiers gesukkel het om dokumente in besit van ‘n wapenhandelaar, Richard Young, in die hande te kry.

Young is die fluitjieblaser wat die aanklagte van korrupsie in 2009 by die Valke ingedien het. Young het vermoedelik 15.000 dokumente in sy besit wat die kommissie en van die getuies in die verleentheid kan stel.

Die kommissie het ‘n bevel uitgereik waarvolgens Young verplig word om van die belangrikste dokumente beskikbaar te stel.

Die openbare verhore word Maandag hervat.

Chippy Shaik ook voor Seriti-kommissie

armsdealDie Seriti-kommissie wat ondersoek instel na die omstrede wapentransaksie is tot 14 Oktober uitgestel. ‘n Woordvoerder, William Baloyi, sê die besluit is geneem sodat sekere dokumente gedeklassifiseer kan word.

Die kommissie sal ook intussen persone wat tydens getuienis genoem is, raadpleeg.

Volgens berigte sal Chippy Shaik wat die hoof van verkrygings was vir die weermag tydens die wapentransaksie ook voor die kommissie gedaag sal word.

Shaik sal glo van Australië terugkeer om ondervra te word.

Die weermag se department vir militêre veterane, Krygkor, en die Tesourie sal na verwagting voorleggings doen oor die rasionaal agter die aankope.

Krygkor het vroeër vandeesweek gesê hulle was nie by die transaksie betrokke nie. – Sapa

Wapentransaksie-ondersoek uitgestel

armsdealDie voorsitter van die kommissie van ondersoek na die multi-miljard randse wapentransaksie, regter Willie Seriti het gesê hy gaan akkoord met die departement van verdediging oor die uitstel van die kommissie se werksaamhede tot 19 Augustus.

Die departement het sy kommer uitgespreek oor die deklassifikasie van dokumente by die kommissie.

Seriti sê die uitstel sal president Jacob Zuma ook die geleentheid gee om ‘n derde kommissaris aan te stel of die regulasies te verander sodat die kommissie met net twee kommissarisse kan voortgaan.

Regter Francis Legodi het verlede week bedank.