Winnie lek glo inligting oor wapentransaksie

Die Kaapstadse burgemeester, Patricia de Lille, het haar gedistansieer van ‘n verklaring dat die ANC-veteraan, Winnie Madikizela-Mandela, inligting laat uitlek het.

Madikizela-Mandela was glo een van verskeie Parlementslede wat inligting oor die 1999 wapentransaksie gelek het.

Die inligting was vervat in die sogenaamde De Lille-dossier. Die vraag voor die kommissie het gehandel oor wie die dossier help opstel het.

‘n Teenstander van die wapentransaksie, Terry Crawford-Browne, het vroeër aan die Seritikommissie van Ondersoek gesê Madikizela-Mandela het getuienis oor moontlike bedrog en korrupsie met die wapentransaksie laat uitlek.

Crawford-Browne het gevra om die name aan Regter Seriti vertroulik te oorhandig, maar die regter het daarop aangedring dat hy die name in die openbaar noem. “Ek wil hê dat jy die name in die openbaar gee.”

De Lille sê sy het Crawford-Browne nooit vertel dat Madikizela-Mandela aan haar dokumente oorhandig het nie. Maar De Lille wou nie verdere vrae beantwoord oor of sy Madikizela-Mandela wel in die dossier noem nie.

De Lille was destyds ‘n Parlementslid van die PAC. De Lille het haar van verklarings deur Crawford-Browne gedistansieer.

Hy het vroeër aan die kommissie gesê inligting in die sogenaamde ” De Lille-dossier” is versamel deur intelligensie-agente van die ANC wat met LP’s saamgewerk het.

De Lille het vroeër vanjaar voor die kommissie getuig en haar dossier as getuienis ingedien.

Madikizela-Mandela wou nie navrae beantwoord nie.

Winnie sonder ‘n sent

Winnie en Graca
Winnie en Graca

Nelson Mandela se tweede vrou, Winnie Madikizela-Mandela het nie ‘n sent ontvang van die voormalige staatshoof nie.

Madikizela-Mandela en Mandela is geskei in 1996 na ‘n huwelik van 38 jaar.

Madikizela-Mandela het na bewering R20 miljoen, die helfte van Mandela se bates, geëis met die egskeiding, maar haar eis was onsuksesvol.

Die anti-apartheidsveteraan is heeltemal oorgesien Maandag deur die eksekuteurs wat die testament in Johannesburg voorgelees het.

Haar kinders en kleinkinders is die begunstigdes.

Mandela het R3 miljoen elk vir hul twee kinders Zenani Mandela-Dlamini en Zindzi Mandela geskenk voor sy dood en hulle sal voorts niks ontvang nie.

Daar is ook drie trusts waarin daar glo aansienlike bedrae geld is, baie meer as die R46 miljoen wat ivm Mandela se erflating genoem is.

Daar word vermoed dat die kinders sal probeer om die trusts tot niet te laat verklaar deur die howe om die geld in die hande te kry.

Prokureurs sê Graca Machel, Mandela se derde vrou, sal waarskynlik van haar reg om helfte van die Mandela-boedel afstand doen en vier eiendomme in Mosambiek en ander bates, insluitend motors en juweliersware ontvang.

As sy dit doen, sal die twee kinders van haar en die afgestorwe president Samora Machel R3 miljoen elk ontvang en ses kinders uit Samora Machel se vorige huwelik 100000 rand elk erf.

Wat die Mandela-dogters betref sal Zenani se kinders – Zinhle , Zaziwe en Zamaswazi – R100 000 elk ontvang.

Bambatha, Zondwa, Zwelabo en Zoleka – wat Zindzi se kinders is – sal ook R100 000 elk kry.

Mandela se agterkleinkind, Zozuko Mandela (Zamaswazi se kind) sal insgelyks R100 000 kry van die boedel.

Adjunk-Hoofregter Dikgang Moseneke het Maandag aan verslaggewers die inhoud van Mandela se testament voorgehou.

Tembustam maan Mandelas tot kalmte

Makaziwe Mandela
Makaziwe Mandela

Die AbaThembu koninklike familie het die Mandela-familie tot kalmte gemaan.

‘n Woordvoerder van die familie, Daludumo Mtirara, het ‘n verklaring uitgereik na ‘n vergadering in Qunu tussen die AbaThembu koninklikes en verteenwoordigers van die Mandela-familie.

Nelson Mandela se boedel sal eersdaags ter sprake kom.  Mtirara sê die familielede gevra om kalm te bly en die administrasieproses te eerbiedig sodat alle bates onaangetas bly totdat die boedel afgehandel is.

Dit volg op berigte dat lede onderling twis oor Madiba se erfgoed, en wil hê dat sy weduwee Graca Machel uit die huis gesit word wat sy en Madiba gedeel het.

Die lede van die koninklike familie het hul kommer uitgespreek oor die onstabiliteit in die Mandelahuis , het hy gesê.

Mtirara het op die vergadering waar Mandela se kleinseuns, Mandla en Ndaba was, weer bevestig dat Mandla, die oudste kleinseun, die hoof van die gesin is.

Kort na Mandela se dood, het sy eksvrou, Winnie Madikizela-Mandela verslae van ‘n hernude familietwis afgemaak as “skelm insinuasies” en “apartheidstyl-taktiek”.

Sy het vroeër ‘n verklaring uitgereik deur haar woordvoerder, Thato Mmereki , waarin sy gesê het dat die oudste dogter, Makaziwe Mandela, die familie sal lei en besluite sal neem met die ondersteuning van haar twee susters .

Mandla en Makaziwe is betrokke in ‘n bitter openbare twis oor die beheer van Mandela se nalatenskap.

Verlede week het Mtirara het gesê die Thembustam se hoof is ses jaar gelede deur Mandela aangewys en Mandela het self aan Mandla by dié geleentheid ‘n tradisionele spies oorhandig.

Sondag op die vergadering is ook besluit dat Madikizela-Mandela nie ‘n mandaat of die gesag het van die stamhoofde om hulle “kultuur, gebruike en tradisie in die media” te bespreek nie.

Mtirara het gesê tydens die vergadering kon geen harde bewyse gevind word dat Machel stief behandel is deur die familie nie.

“Sy moet gerespekteer word deur elke familielid as sy die enigste vrou van Madiba wat hom tot op die laaste oomblik ondersteun het,” het hy gesê. Hy het ook gesê Machel moet ingelig word van enigiets wat gebeur in Mvezo, Qunu en Houghton .

Mtirara het gesê by die vergadering is opgemerk dat Mandla en Ndaba nie tradisionele roulinte, wat bekend staan ​​as amaqhosha, dra nie.

Mtirara het gesê dit het aan die lig gekom dat ‘n familielid wat getaak is met die maak en verspreiding van die linte dit nie aan al die familielede uitgedeel het nie.

“Dit is onaanvaarbaar en teen ons tradisie en getuig van die isolasie van die kern van die Mandela-familie en ander lede van die familie.”

Dit is gelas dat alle familielede linte moet kry teen 4 Januarie, het hy gesê.

 

Mandela-fliek kry nog benoemings

harrisDie fliek wat Mandela se lewe weergee, Mandela: Long Walk to Freedom, het twee benoemings ontvang van die 34ste London Critics Circle-rolprenttoekennings.

Naomie Harris, wat die rol vertolk van Winnie Madikizela-Mandela, is as die beste ondersteunende aktrise van die jaar benoem asook die Britse aktrise van die jaar.

Die wenners sal op 2 Januarie aangekondig word.

Die Mandela-fliek het verlede week ook drie Golden Globe-benoemings ontvang.

Sommige kritici het die rolprent as ANC-propaganda afgemaak.

Rolprentresensent Tymon Smith het gesê die rolprent het nie genoegsaam gefokus op Mandela se politieke motiverings nie. Volgens hom is dit suiwer ANC-propaganda.

Die Sowetan meen die rolprent was eerder ‘n reeks sketse as wat dit ‘n volledige lewensverhaal van Mandela was.

Winnie tree tot Mandela-erfgename se geveg toe

Winnie Mandela het die standaard gestel wat kopdoeke betref, wat Koos Bekker en Piet Croucamp nou volg
Winnie Madikizela-Mandela

Winnie Madikizela-Mandela het tot die geveg tussen oudpresident Nelson Mandela erfgename toegetree deur haar steun aan Mandela se oudste dogter te verklaar.

Sy sê koerantberigte wat beweer daar is gevegte binne die Mandela-familie is van alle waarheid ontbloot.

Sy sê daar is “geen debat” oor opvolging in die Mandela-familie nie, in weerwil van talle bewyse dat die familie stry oor Mandela se nalatenskap.

Mandela se gewese vrou het haar steun aan Mandela se oudste dogter Makaziwe toegesê in die geveg tussen haar en Mandela se kleinseun.

Madikizela-Mandela het die media in ‘n verklaring beskuldig van insinuasies wat ontwerp is om die familie in oneer te bring.

Sy het gesê gewoontereg en tradisie bepaal dat Makaziwe die hoof van die familie word. Volgens Madikizela-Mandela sal Makaziwe besluite neem met die steun van haar susters Zenani en Zindzi.

Sy sê Mandela se oudste kleinseun Mandla is deel van die volgende generasie, en sal hom daarom moet hou by Makaziwe se besluite.

Span van 22 versorg Mandela

mandelahoughtonDie kamer waar hy behandel word in oudpres. Nelson Mandela se huis in Houghton, lyk soos ‘n hoësorgeenheid, het Winnie Madikizela-Mandela, sy gewese vrou, gesê.

Madikizela-Mandela het gesê die voormalige staatshoof is steeds siek, berig die Sunday Independent.

Sy het gesê Mandela kan ook weens die pype in sy mond nie meer praat nie. Dié pype word gebruik om vloeistof van sy longe af te hou.

“Hy kommunikeer met sy gesig, maar die dokters het gesê hulle hoop om weer sy stem terug te kry.”

Madikizela-Mandela het ontken dat die oudpresident aan lewensondersteuningsmasjiene gekoppel is.

Sy het gesê ‘n span van 22 dokters versorg Mandela.

Madikizela-Mandela het gesê dit is goed dat Mandela in ‘n “omgewing is wat hy ken”.

Dié kommentaar volg twee weke nadat die sakeman Tokyo Sexwale aan die media gesê het Mandela beskou nie homself as siek nie.

“Madiba sê oor sy gesondheid: ‘Ek is nie siek nie, ek is net oud’,” het Sexwale gesê.

Vroeër vanjaar is Mandela byna drie maande in die hospitaal behandel vir ‘n wederkerende longinfeksie. Hy is op 1 September ontslaan. – Sapa

Hou Winnie van wit en vet?

Naidoo en Reddy
Naidoo en Reddy

Radio en TV-persoonlikheid Sorisha Naidoo is nie vies vir Winnie Madikizela-Mandela se openbare kritiek oor haar vinnige gewigsverlies nie.

Madikizela-Mandela het die 300 gaste teenwoordig by die bekendstelling van ‘n boek hierdie week vertel Naidoo is “te maer”. Die “moeder van die nasie” het gesê dis nie die swart ideaal nie omdat swart mense in Afrika van vet vroue hou.

“Ek is net nie gelukkig dat my dogter so maer is nie … sy moet na Johannesburg kom vir ‘n week, sodat ons haar goed kan voed,” het sy gesê.

Die kommentaar is gemaak nadat Naidoo, die vrou van die omstrede sakeman Vivian Reddy, Winnie genooi het om te praat by die boekbekendstelling by Sibaya Casino Dinsdagaand.

Naidoo het voorheen kritiek gekry vir haar velbleikproduk, wat deur Madikizela-Mandela onderskryf word .

In reaksie hierop het sy gesê: “Wit mense kan sonbrand, maar daar is ‘n probleem wanneer swartes en Indiërs hul velle bleik?”