Minister weier om vraag oor wapenaankope te antwoord

arms2Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het geweier om ‘n vraag in die parlement te beantwoord oor die koste van die omstrede wapentransaksie.

Die minister het gesê sy kan nie die vraag beantwoord terwyl die verkrygingsproses deur die Seriti-kommissie ondersoek word nie.

Sy het in reaksie op ‘n vraag van die Vryheidsfront Plus gesê deur die getal bekend te maak, sal die departement van verdediging kan dalk die departement se getuienis voor die kommissie van ondersoek in gedrang bring.

David Maynier van die Demokratiese Alliansie het gesê hy het die minister twee keer dieselfde vraag gevra en sy het op albei geleenthede geweier om te reageer.

Die kommissie is in 2011 deur pres. Jacob Zuma aangestel om bewerings van korrupsie in die multimiljard-wapentransaksie te ondersoek. Die verhore is tot volgende week uitgestel. – Sapa

Chippy Shaik ook voor Seriti-kommissie

armsdealDie Seriti-kommissie wat ondersoek instel na die omstrede wapentransaksie is tot 14 Oktober uitgestel. ‘n Woordvoerder, William Baloyi, sê die besluit is geneem sodat sekere dokumente gedeklassifiseer kan word.

Die kommissie sal ook intussen persone wat tydens getuienis genoem is, raadpleeg.

Volgens berigte sal Chippy Shaik wat die hoof van verkrygings was vir die weermag tydens die wapentransaksie ook voor die kommissie gedaag sal word.

Shaik sal glo van Australië terugkeer om ondervra te word.

Die weermag se department vir militêre veterane, Krygkor, en die Tesourie sal na verwagting voorleggings doen oor die rasionaal agter die aankope.

Krygkor het vroeër vandeesweek gesê hulle was nie by die transaksie betrokke nie. – Sapa

Mbeki onttrek van Seriti-ondersoek weens geld

Thabo Mbeki
Thabo Mbeki

Max Boqwana, wat oudpres. Thabo Mbeki en sy voormalige kabinetministers by die Seriti-kommissie van ondersoek verteenwoordig, het hom aan die verrigtinge onttrek.

Die Kommissie sê die onttrekking van sy regsverteenwoordiger sal geen invloed op sy werksaamhede hê nie.

Woordvoerder vir die kommissie, William Baloyi, sê: “Eintlik is daar geen impak op die kommissie nie. Dit is nie verpligtend vir die getuies om hul regspanne te bring nie. Dit is net ‘n opsie.“

Mbeki het verduidelik dat hy onttrek hangende ‘n aansoek om geldelike hulp van die staat.

Mbeki se woordvoerder, Mukoni Ratshitanga, sê Mbeki se posisie sal hersien word as die regering ‘n besluit oor regshulp aan die voormalige president geneem het.

Adv. Tshepo Sibeko, getuienisleier, het bevestig dat daar vergaderings met Boqwana was.
“Ons het geen beswaar teen sy onttrekking nie.”
Regter Willie Seriti, voorsitter van die kommissie, het gesê die regsverteenwoordiging van getuies is buite die grense van die kommissie.
Getuies kan hul eie regsverteenwoordiging hê, waarvoor hulle self moet betaal.
Pres. Jacob Zuma het die kommissie in 2011 aangestel om beweerde korrupsie in die multimiljardrand-wapentransaksie van 1999 te ondersoek.