
Prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, sê sy argument oor taal in onderwys is verdraai om ‘n mediabohaai te skep, sê
“Dit verbaas my steeds hoe ‘n versigtige argument oor taalinklusiwiteit ernstig verdraai kan word vir die maksimum mediabohaai,” twiet Jansen op Twitter in reaksie op ‘n berig oor ‘n lesing wat hy in September gelewer het.
Beeld het Woensdag berig Jansen het gesê blanke skole en universiteite wat eksklusief Afrikaans is, hou ’n ernstige gevaar in vir rasverhoudinge in Suid-Afrika.
Jansen se uitlatings is gemaak terwyl hy die English Academy of South Africa se Percy Baneshik-gedenklesing op 18 September gelewer het.
Volgens hom beteken dit “Engels, eerder as Afrikaans, sal die taal van versoening in hierdie land moet wees”.
Jansen het as oplossing vir swak prestasie deur die leerlinge wie se inheemse moedertaal swak onderrig word, voorgestel dat Engels as onderrigtaal ingestel word – van die grondslagfase tot op universiteitsvlak.
“Hier is een groot langtermynoplossing vir die onderwyskrisis: onderrig elke onderwyser en elke kind van dag een af in Engels, pleks daarvan om die las te verswaar wat veroorsaak word deur swak moedertaalonderrig in die grondslagfase.”
Hy het uitgewys moedertaalonderrig waarborg nie beter uitslae nie.
Jansen het verwys na ’n “revolusie” oor taalgebruik op die UV-kampus, waar “menseverhoudings uitgepluis is vóór taalverhoudings. Deur swart en wit studente saam te bring as mense… het die strak lyne rondom mededingende tale begin vervaag.” – Sapa
