Geweld in Sabie kelder dalk fietswedren

Gewelddadige betogings by Sabie in Mpumalanga het tot gevolg dat die naweek se Ashburton Nasionale Bergfietswedren moontlik van die baan is, het RSG berig.

Meer as 3000 fietsryers het vir die wedren ingeskryf.

Die polisie en die plaaslike munisipaliteit sê die situasie is in die stadium plofbaar en dit is nie wenslik dat die wedren voortgaan nie.

Raadslede en gemeenskapsleiers vergader weer vandag, waarna ‘n finale besluit geneem sal word.

Boer in Sabie doodgeskiet in plaasaanval

sabiePaul Mason (63) is Donderdag op sy plaas, Kruisfontein, by Sabie deur plaasaanvallers doodgeskiet.

Dié was die tweede aanslag op Mason, ‘n bosbouer, se lewe. Hy is in 2010 ook op sy plaas gewond.

Hy en sy vrou, Gwen (58), het vroegoggend van die huis vetrek om bosbou-spanne op die plaas te gaan besoek, berig Beeld.

Vier gewapende rowers het kort nadat die Mason-egpaar gery het toegang tot die perseel verkry deur ’n gat in die heiningdraad te knip.

Hulle het die bejaarde tuinwerker oorval, vasgebind en in ’n buitetoilet toegesluit.

Die tuinwerker het later aan die polisie gesê hy het sowat ’n uur later gehoor hoe die Masons terugkeer. Drie skote het geklap. Mason is twee keer in die bors en een keer in die onderlyf getref.